21 Januarie 2018

Struikelblokke op ons pad van geloofsgroei – Ondankbaarheid


Luk. 17 v 11 tot 19 teksverse Luk 17 v 17 & 19

21 Jan 2018 GKE

Wanneer dink jy aan jou noodwiel? Net wanneer jy dit nodig het. In jou dag tot dag lewe is jou noodwiel nie juis iets wat voor in jou gedagtes is nie. Jy is wel bewus dat daar een in jou motor is, maar verder dink jy nie aktief daaraan nie. Wanneer jy egter in ’n krisis is met ’n pap band wat keer dat jy verder kan ry onthou jy baie gou van jou noodwiel.

Hoe dikwels gebruik ons God nie ook maar net soos ’n noodwiel nie? Solank dit goed gaan in my lewe is ek so besig dat ek nie regtig by God uitkom nie. My lewe is so besig dat ek selfs nie eers tyd het om op ’n Sondag saam met my broers en susters na Hom kan kom luister nie.

Wanneer daar egter ’n krisis oor my pad kom, dan onthou ek baie gou van God en is ek vinnig om in gebed tot Hom te nader. Die hoofsaak van hierdie gebed is dan ook :”Here vat tog asseblief hierdie moeilikheid uit my pad uit.” Wat is my reaksie wanneer Jesus die klip uit my pad rol? Is dit dankbaarheid of is dit dat ek maar net weer my noodwiel bere tot ’n volgende krisis oor my pad kom?

In hierdie verhaal leer ons hoe dankbaarheid ons nader aan God bring. Ons leer dat dankbaarheid ons help om in geloof te groei.

Ons hoor hier die verhaal van tien mans wat melaats was. Melaatsheid was ’n verskriklike siekte wat jou vel en jou senuwee stelsel aangetas het. In die gevorderde fase van die siekte het jy van jou ledemate begin verloor en begin blind word.

Wat hierdie siekte ook baie erg gemaak het was nie net die fisiese gevolge daarvan nie, maar ook dat dit jou sosiaal geïsoleer het. Volgens Moses se wet (Num 5 v 2 – 3 ; Lev 13: 45 – 46) moes jy jouself afsonder en mag jy nie naby iemand gekom het wat gesond was nie. As iemand nader gekom het moes jy daardie persoon waarsku deur hard te skree “onrein, onrein.”

Dit was hoekom hierdie mans op ’n afstand gebly het en geroep het. Hulle was inderdaad midde in ’n groot krisis en daarom het hulle gevra dat Jesus Hom oor hulle moes ontferm.

Jesus weet wat hulle behoefte is en daarom stuur Hy hulle sonder omhaal van woorde na die priester wat volgens Moses se opdragte in Levitikus 13 en 14 die enigste instansie was wat sulke mense weer rein kon verklaar en dan hoor ons dat ’n wonder plaasgevind het deurdat hulle op pad na die priester genees is.

In hierdie verhaal is daar nie baie detail oor die wonder self nie, want die hoofsaak is nie die wondergenesing opsigself nie. Die hoofsaak is die mans se reaksie op die weldaad wat Jesus vir hulle gedoen het. Ons hoor dat daar net een van die tien mans terug gedraai het en God geloof het en vir Jesus kom dankie sê het. Bowendien was hy nie eers ’n Jood nie, maar ’n Samaritaan! Die Jode was die uitverkore volk, maar hier sien ons dat God se genade vir alle mense bedoel is.

Die feit dat hy omgedraai het om Jesus te dank wys vir ons dat Jesus se wonders tekens is dat Hy God is en dat die man dit erken het deur om te draai. Hy loof God en sê vir Jesus dankie en dit bind hom persoonlik aan Jesus. Dit is juis sy dankbaarheid wat hom nader aan Jesus bring. Hy bind homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in Jesus iemand sien wat meer as net ’n blote wonderdoener is. Hy sien Jesus nie net as ’n spaarwiel nie.

In Jesus se reaksie sien ons dat daar ’n verskil is tussen die nege ondankbares en die dankbare man se eindbestemming. Die nege wat nie omgedraai het nie is wel ook genees, maar hulle kom nie by die dieper band met Jesus uit nie. Vir hulle was Jesus maar net ’n noodwiel.

Ons hoor so ’n stukkie hartseer in Jesus se vraag: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?” Dit is hartseer wanneer mens die nabyheid van God ontbeer. Hulle ondankbaarheid was nie die oorsaak dat hulle nie ’n band met Jesus opgebou het nie. Dit was maar slegs ’n simptoom van ’n dieper liggende probleem.

Jesus se antwoord aan die een wat omgedraai het wys vir ons dat ongeloof die oorsaak van hulle ondankbaarheid was. Jesus sê nie vir hom jou geloof het jou gesond gemaak nie. Ons geloof is nie die oorsaak van God se genade nie. God gee sy genade onverdiend uit sonder dat jy iets moet doen om dit te ontvang.

Jesus se antwoord was: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.” Jesus sien die dieper nood raak wat by hierdie man teenwoordig was. Hy het nie net nodig gehad om gesond gemaak te word nie, maar ook dat hy gered moes word. Sy dankbaarheid was maar net die gevolg. Sy geloof het gemaak dat hy dankbaar was.

Geliefdes, jou dankbaarheid is een van die maatstawwe wat jy kan gebruik om te meet of jy in geloof gegroei het. Het jy sedert Januarie 2017 in jou verhouding nader aan God beweeg? Hoe lyk jou dankbaarheid teenoor God? Gee jy aan God die eer vir alles wat jy in die lewe het? Gee jy aan God die eer dat Hy jou deur daardie krisis wat oor jou pad gekom het gedra het? Of het jy God maar net as ’n noodwiel gebruik en Hom weer weggebêre totdat die volgende krisis oor jou pad kom?

Hoe lyk jou gebede? Is dit wat jy vra baie meer en meer prominent as dit waarvoor jy dankie sê? In die Onse Vader is daar maar net een sinnetjie wat vra dat God in ons daaglikse behoeftes moet voorsien. Waarvoor het jy die afgelope week vir God dankie gesê?

Wat maak jy wanneer jy agterkom dat jy God maar eintlik net vir ’n noodwiel gebruik het?

Die antwoord is nie dat jy jou dankbaarheids-sokkies moet optrek nie!

Beweeg in geloof nader aan God. Beleef die wonder van die evangelie in jou lewe en jy sal vind dat jy groei in jou dankbaarheid teenoor God. Geloof maak jou bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe en dan sal jy Hom dank vir dit wat Hy in jou lewe doen. Werk aan jou verhouding met God. Luister na sy stem in sy Woord. Spandeer tyd saam met Hom in gebed waar jy jou verwonder oor God se genade in jou lewe. Groei in geloof.

Amen










Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking