21 Jan 2018 GKE
Wanneer dink jy aan jou noodwiel? Net wanneer jy dit
nodig het. In jou dag tot dag lewe is jou noodwiel nie juis iets wat voor in
jou gedagtes is nie. Jy is wel bewus dat daar een in jou motor is, maar verder
dink jy nie aktief daaraan nie. Wanneer jy egter in ’n krisis is met ’n pap
band wat keer dat jy verder kan ry onthou jy baie gou van jou noodwiel.
Hoe dikwels gebruik ons God nie ook maar net soos ’n
noodwiel nie? Solank dit goed gaan in my lewe is ek so besig dat ek nie regtig
by God uitkom nie. My lewe is so besig dat ek selfs nie eers tyd het om op ’n
Sondag saam met my broers en susters na Hom kan kom luister nie.
Wanneer daar egter ’n krisis oor my pad kom, dan onthou
ek baie gou van God en is ek vinnig om in gebed tot Hom te nader. Die hoofsaak
van hierdie gebed is dan ook :”Here vat tog asseblief hierdie moeilikheid uit
my pad uit.” Wat is my reaksie wanneer Jesus die klip uit my pad rol? Is dit
dankbaarheid of is dit dat ek maar net weer my noodwiel bere tot ’n volgende
krisis oor my pad kom?
In hierdie verhaal leer ons hoe dankbaarheid ons nader
aan God bring. Ons leer dat dankbaarheid ons help om in geloof te groei.
Ons hoor hier die verhaal van tien mans wat melaats was.
Melaatsheid was ’n verskriklike siekte wat jou vel en jou senuwee stelsel
aangetas het. In die gevorderde fase van die siekte het jy van jou ledemate
begin verloor en begin blind word.
Wat hierdie siekte ook baie erg gemaak het was nie net
die fisiese gevolge daarvan nie, maar ook dat dit jou sosiaal geïsoleer het.
Volgens Moses se wet (Num 5 v 2 – 3 ; Lev 13 : 45
– 46 ) moes jy jouself afsonder en mag jy nie naby iemand gekom het
wat gesond was nie. As iemand nader gekom het moes jy daardie persoon waarsku
deur hard te skree “onrein, onrein.”
Dit was hoekom hierdie mans op ’n afstand gebly het en
geroep het. Hulle was inderdaad midde in ’n groot krisis en daarom het hulle
gevra dat Jesus Hom oor hulle moes ontferm.
Jesus weet wat hulle behoefte is en daarom stuur Hy hulle
sonder omhaal van woorde na die priester wat volgens Moses se opdragte in
Levitikus 13 en 14 die enigste instansie was wat sulke mense weer rein kon
verklaar en dan hoor ons dat ’n wonder plaasgevind het deurdat hulle op pad na
die priester genees is.
In hierdie verhaal is daar nie baie detail oor die wonder
self nie, want die hoofsaak is nie die wondergenesing opsigself nie. Die
hoofsaak is die mans se reaksie op die weldaad wat Jesus vir hulle gedoen het.
Ons hoor dat daar net een van die tien mans terug gedraai het en God geloof het
en vir Jesus kom dankie sê het. Bowendien was hy nie eers ’n Jood nie, maar ’n
Samaritaan! Die Jode was die uitverkore volk, maar hier sien ons dat God se
genade vir alle mense bedoel is.
Die feit dat hy omgedraai het om Jesus te dank wys vir
ons dat Jesus se wonders tekens is dat Hy God is en dat die man dit erken het
deur om te draai. Hy loof God en sê vir Jesus dankie en dit bind hom persoonlik
aan Jesus. Dit is juis sy dankbaarheid wat hom nader aan Jesus bring. Hy bind
homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in
Jesus iemand sien wat meer as net ’n blote wonderdoener is. Hy sien Jesus nie
net as ’n spaarwiel nie.
In Jesus se reaksie sien ons dat daar ’n verskil is
tussen die nege ondankbares en die dankbare man se eindbestemming. Die nege wat
nie omgedraai het nie is wel ook genees, maar hulle kom nie by die dieper band
met Jesus uit nie. Vir hulle was Jesus maar net ’n noodwiel.
Ons hoor so ’n stukkie hartseer in Jesus se vraag: “Was
daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?” Dit is
hartseer wanneer mens die nabyheid van God ontbeer. Hulle ondankbaarheid was
nie die oorsaak dat hulle nie ’n band met Jesus opgebou het nie. Dit was maar
slegs ’n simptoom van ’n dieper liggende probleem.
Jesus se antwoord aan die een wat omgedraai het wys vir
ons dat ongeloof die oorsaak van hulle ondankbaarheid was. Jesus sê nie vir hom
jou geloof het jou gesond gemaak nie. Ons geloof is nie die oorsaak van God se
genade nie. God gee sy genade onverdiend uit sonder dat jy iets moet doen om
dit te ontvang.
Jesus se antwoord was: “Staan op en gaan huis toe. Jou
geloof het jou gered.” Jesus sien die dieper nood raak wat by hierdie man
teenwoordig was. Hy het nie net nodig gehad om gesond gemaak te word nie, maar
ook dat hy gered moes word. Sy dankbaarheid was maar net die gevolg. Sy geloof
het gemaak dat hy dankbaar was.
Geliefdes, jou dankbaarheid is een van die maatstawwe wat
jy kan gebruik om te meet of jy in geloof gegroei het. Het jy sedert Januarie
2017 in jou verhouding nader aan God beweeg? Hoe lyk jou dankbaarheid teenoor
God? Gee jy aan God die eer vir alles wat jy in die lewe het? Gee jy aan God
die eer dat Hy jou deur daardie krisis wat oor jou pad gekom het gedra het? Of
het jy God maar net as ’n noodwiel gebruik en Hom weer weggebêre totdat die
volgende krisis oor jou pad kom?
Hoe lyk jou gebede? Is dit wat jy vra baie meer en meer
prominent as dit waarvoor jy dankie sê? In die Onse Vader is daar maar net een
sinnetjie wat vra dat God in ons daaglikse behoeftes moet voorsien. Waarvoor
het jy die afgelope week vir God dankie gesê?
Wat maak jy wanneer jy agterkom dat jy God maar eintlik
net vir ’n noodwiel gebruik het?
Die antwoord is nie dat jy jou dankbaarheids-sokkies moet optrek nie!
Beweeg in geloof nader aan God. Beleef die wonder van die
evangelie in jou lewe en jy sal vind dat jy groei in jou dankbaarheid teenoor
God. Geloof maak jou bewus van God se teenwoordigheid in jou lewe en dan sal jy
Hom dank vir dit wat Hy in jou lewe doen. Werk aan jou verhouding met God.
Luister na sy stem in sy Woord. Spandeer tyd saam met Hom in gebed waar jy jou
verwonder oor God se genade in jou lewe. Groei in geloof.
Amen