Wys tans plasings met die etiket Lukas 17:11-19. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Lukas 17:11-19. Wys alle plasings

09 November 2025

Ware geloof erken God se genade en reageer met dankbare aanbidding

 

Skrif: Lukas 17:11-19

Teksverse: Luk. 17:15,16 & 19

Die HERE wys weer vandag vir ons met Nagmaal hoe lief Hy ons werklik het. Hy het ons gered van die ewige dood deurdat Hy sy lewe in ons plek gegee het.

Die indringende vraag wat Here vandag vir ons met sy  woordverkondiging vra is: “Hoe verander dit jou lewe?”

Verstaan ons nog die diepere betekenis van dit wat Jesus vir ons gedoen het?

God gee sy seëninge aan alle mense, maar nie alle mense word gered nie. Ons hoor in Mat. 7:11

“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

In hierdie verhaal wat Lukas vertel hoor ons dat net een persoon uit tien gered was daardie dag!

Dis ’n eenvoudige verhaal. Terwyl Jesus en sy dissipels op pad was na Jerusalem het Jesus die mense wat hulle teëgekom het geleer van die Koninkryk van God en wat dit beteken om ware burgers van die Koninkryk te wees.

En terwyl hulle op pad was na ’n sekere dorpie toe het hulle tien mans teëgekom wat melaats was. Iemand wat melaats was moes hulself afskei van die samelewing en daarom was hierdie tien buite die dorp. Terwyl hulle nog op ’n afstand was het hulle om hulp geroep.

Jesus se reaksie wys sy deernis en dat Hy omgee. Hy beveel hulle om hulself aan die priester te gaan wys, want dis net ’n priester wat kon verklaar dat ’n melaatse genees is. Jesus het nie eers gevra dat hulle een of ander voorwaarde moes nakom nie. Hy het hulle dadelik genees en beveel dat hulle na die priester toe moes gaan sodat die priester bevestig dat hulle genees is. En dis hoe God se genade werk. Hy gee vrylik sonder om iets te vra.

Maar om die volle rykdom van God se genade te ontvang vra geloof. Geloof is die hande waarmee jy die volle rykdom van God se genade jou eie maak. Ware geloof erken God se genade en reageer met dankbare aanbidding daarop.

Hier is tien mans wat smeek om hulp en elkeen ontvang uiterlike genesing. Net een van die mans, ’n Samaritaan ontvang egter iets meer.

Wat is die verskil tussen die Samaritaan en die ander nege?

Die nege Jode ontvang God se seën en gaan aan met hul lewens. Die Samaritaan draai terug en aanbid God in dankbaarheid. Hy sien God se genade raak en reageer met dankbare aanbidding.

Geliefdes, hoe dikwels is ons lewens nie ook maar net soos die nege Jode wat nie terug gedraai het nie? Wanneer daar ’n krisis is, bid ons tot God en wanneer God ons daardeur help, gaan ons aan met ons lewens asof God nie bestaan nie.

Dis maklik om noodwiel gebede te bid en meeste mense doen dit dikwels, selfs ongelowiges doen dit van tyd tot tyd. Hoe werk ’n noodwiel? Terwyl jou bande reg is en jy ry met jou motor dink jy nie eens aan die noodwiel in jou kattebak nie.

Maar wanneer jy ’n pap band het, onthou jy van jou noodwiel en vir die kort tydjie dat jy dit gebruik is dit baie belangrik vir jou. Daarna gaan jy weer met jou lewe aan sonder om daaraan te dink totdat jy dit weer nodig kry. Hoe dikwels maak ons nie ook maar so met God nie?

Teenoor die nege is die Samaritaan egter totaal anders. Jesus sê vir hom:

“Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”

Die Griekse woord wat ons met gered vertaal beteken meer as die fisiese genesing wat hy ontvang het. Dit sluit ook geestelike redding in. Met ander woorde sy verhouding met God is herstel en dit bring hom daartoe om God in sy lewe te erken.

Hoe erken mens God in jou lewe? Jy sien raak waar Hy in jou lewe besig is. Jy sien sy hand van genade raak en dank Hom daarvoor. Jy gebruik Hom nie net soos ’n noodwiel om die probleme in die lewe te systap nie.

Ons leef nie in ’n perfekte wêreld nie. Ons voel nog elke dag die gevolge van die sonde aan die lyf. Maar dit is ook so dat selfs te midde van dit is God se seën teenwoordig. Sê jy nog elke dag vir God dankie vir die mooi en die goed in jou lewe?

Sê jy vir Hom dankie dat Hy daar is vir jou wanneer die lewe jou op ’n grondpad neem? Eer en dank jy God nog as die Almagtige Skepper wat moeite met jou maak? Is jy nog intens bewus van wat Jesus vir jou aan die kruis gedoen het?

Hoe verander dit jou lewe? Waarvoor bid jy wanneer jy in moeilike omstandighede beland? Bid jy net dat God dit moet wegvat of vra jy ook dat die Heilige Gees vir jou die geduld gee om dit te hanteer? Het jy darem nog ’n vriendelike woord vir die persoon agter die toonbank nadat jy vir twee ure in die tou gestaan het?

Skel jy net die trokdrywer met wraakgedagtes wat so amper in jou vasgery het of bid jy dat die Here sy gesindheid op die pad verander? Met ander woorde dra jy hom ook aan die Here op? Vra jy die Here om jou ook te help om te vergewe?.

Ons hoor in Luk. 17:16 dat die Samaritaan voor die voete van Jesus neergeval het en Hom gedank het. Dan word daar baie pertinent genoem dat hy ’n Samaritaan was. Vir die Jode wat hierdie verhaal gehoor het was dit ’n skokkende onthulling, want hulle het neergesien op die Samaritane.

Wat die Here hier vir ons sê is dat dit nie jou afkoms is of wie jy is wat vir jou redding gee nie. Ons val so maklik in die slaggat dat ons dink dat omdat ons naam op die lidmaatregister is, dat dit genoeg is. Die Jode het gedink, ek is mos ’n Jood, ’n afstammeling van Abraham. Ek is mos ’n Christin. Ek behoort mos aan ’n kerk, maar in my dag tot dag bestaan lyk ek niks anders as die wêreld daarbuite nie. Die vraag is egter, is ek net ’n inskrywing op ’n lidmaatregister, of is ek ’n aktiewe lidmaat in die gemeente?

Die Here wys hier vir ons dat dit net geloof is wat jou red. Geloof wat God se genade erken en met dankbare aanbidding daarop reageer.

Ons gaan nou aansit by die tafel van die Here. Kom ons kyk met nuwe oë na dit wat Jesus vir ons gedoen het. Kom ons sien weer raak dat sy liggaam vir ons gebreek was en dat sy bloed vir ons uitgegiet is.

Kom ons antwoord in geloof daarop deur God se genade te erken en met dankbare aanbidding daarop te reageer.

Amen