18 November 2018

Toets jou geloof – Voorbereiding

Son 18 Nov. 2018 GKE

2 Kor. 13 v 1 – 13 Teksvers 2 Kor. 13 v 5

Sb. 12-3 v 1 & 2
Ps. 119-1 v 3
Ps. 25-2 v 1 & 2
Ps. 119-2 v 1 & 27

Wat is die een ding in jou lewe wat belangriker is as enige iets anders? Wat is dit wat absoluut onontbeerlik is? Dit is dat God in jou lewe moet wees. Dat jy met God versoen moet wees en dat God in beheer van jou lewe moet wees, want as jy nie met God versoen is nie, staar die ewige verdoemenis jou in die gesig.

Dit is net ware geloof wat jou met God kan versoen. Daarom is dit belangrik dat jy moet stry vir ware geloof, want as jou geloof nie ware geloof is nie, kan jy nie met God versoen word nie. Ware geloof is die Evangelie van Jesus Christus. Dit is ook belangrik dat nadat jy met God versoen is om Hom beter te leer ken en daarom moet jy groei in geloof.

Jy moet ook jou geloof toets om seker te maak dat jy op die regte pad bly, want as jy op die verkeerde pad is, dan stuur jy op ʼn ramp af. In sy briewe aan die gemeente in Korinte waarsku Paulus hulle om terug te draai van ʼn verkeerde pad waarop hulle beland het.

Alhoewel hierdie brief as 2 Korintiërs bekend staan is daar goeie aanduiding uit die brief self dat dit nie die tweede brief is wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het nie. Ons hoor in Handelinge 18 dat Paulus die gemeente in Korinte gestig het en nadat hy daarvandaan weg is het hy berig ontvang van sekere probleme in die gemeente. 1 Korintiërs is die brief wat Paulus aan die gemeente geskryf het om daardie probleme aan te spreek.

Daar was egter heelwat mense in die gemeente wat dit wat Paulus in sy brief geskryf het, verwerp het. Hulle het inderdaad Paulus se gesag verwerp. Daarna het Paulus weer die gemeente besoek, maar dit was nie ʼn goeie besoek nie. Soos ons in 2 Kor. 2:1 hoor het die besoek op droefheid uitgeloop. Na hierdie besoek het Paulus sy “tranebrief” aan hulle geskryf soos ons hoor in 2 Kor. 1:3-4 en 7:8-12 waarna die meeste van die mense wat teen Paulus was hul fout besef het en weer met hom versoen.

Paulus skryf die brief wat ons as 2 Korintiërs ken om die gemeente te verseker van sy liefde en toewyding aan hulle. In hoofstukke 1 tot 7 versterk hy sy versoening met hulle en verseker hy hulle dat hy hulle vergewe het en dat hy nog steeds lief is vir hulle. In hoofstukke 8 en 9 herinner Paulus hulle om geld te spaar vir hulp aan die gemeente in Jerusalem wat in armoede verval het. In hoofstukke 10 tot 13 daag hy diegene uit wat nog steeds teen hom gekant is.

Nadat Paulus weg is by die gemeente weg is, het daar ander leiers gekom wat volgens die Korintiërs meer indrukwekkend was. In vergelyking met Paulus was hulle ryk en indrukwekkende leiers wat baie welsprekend was teenoor Paulus wat arm was, sy lewe dmv handearbeid verdien het. Hy het baie gely en was dikwels haweloos. Verder was hy ook glad nie welsprekend nie. Derhalwe het hulle minder van Paulus gedink en hulself eintlik vir hom geskaam.

Diegene wat teen Paulus was het sy apostelskap bevraagteken en selfs sover gegaan om aanbevelingsbriewe te eis wat sy apostelskap sou bevestig. Nou in hierdie slotgedeelte van die brief verhang Paulus die bordjies. Hy daag hulle uit om hulself te beproef eerder as om heeltyd die vinger na hom toe te wys. Hy roep hul op om die egtheid van hulle verlossing te ondersoek eerder as om die egtheid van Paulus se apostelskap te bevraagteken soos ons hoor in 2 Kor. 13:5
Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Hierdie persone was so selfvoldaan dat hulle nie raakgesien het hoe ver hulle van God was nie. Om seker te maak dat ons nie ook so selfvoldaan is soos daardie persone wat teen Paulus was nie, is dit belangrik dat ons hierdie oproep tot selfondersoek ter harte neem. In 1 Kor. 10:12 waarsku Paulus die gemeente:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Dit is ʼn waarskuwing wat ons ook ter harte moet neem.

Voor Nagmaal moet ons selfondersoek doen, maar dit mag nie net tot Nagmaalsvoorbereiding beperk word nie. Dit is iets wat jy aanhoudend moet doen sodat jy kan groei in die geloof en al hoe nader aan God beweeg sodat jy volwasse kan word in jou geloof. Toets jou geloof, want as jou geloof nie die toets deurstaan nie is die gevolge ondenkbaar. Stel jouself op die proef om die ware stand van jou geloof te bepaal deur dit aan ʼn toets te onderwerp. Die proef waarmee jy jouself moet toets is: “ondersoek julleself of julle in die geloof lewe”.

Hoe doen jy hierdie ondersoek? Vra jouself af of
ü jy vas en seker glo dat jy in lewe en in sterwe aan Jesus Christus behoort wat jou met sy bloed van die ewige verdoemenis losgekoop het? Verdiep jouself in God se genade en dink weer na oor sy liefde en alles wat Jesus vir jou opgeoffer het.
ü jy jou hele lewe as ʼn getroue dienaar aan God toewy?
ü jy jouself verloën en buig voor sy wil?
ü jy met alles wat in jou is stry teen die sonde?
ü jy ʼn absolute verlange het om ewig saam met God te wees?

Paulus vra dan verder: “Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie?” Met ander woorde, is Christus se teenwoordigheid in jou lewe sigbaar? Sien mense die vrug van die Gees, nl. liefde in my lewe raak? Word my lewe gekenmerk deur vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing? As Christus nie in my lewe sigbaar is nie het ek nie die toets deurstaan nie.

As ons eerlik is, hoe dikwels is die praktyke van ons sondige natuur eerder nog in ons lewens sigbaar? Hoe dikwels kom vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring en afguns in my lewe na vore? Dit is juis dit wat so kenmerkend was in die lewens van diegene wat so gekant was teen Paulus.

Paulus wys ook die valsheid uit van ʼn rede wat dikwels gegee word om sonde te regverdig. in 2 Kor. 13:7b hoor ons:
Ons wil hê dat júlle die goeie doen, selfs al sou dit lyk asof ons die toets nie deurstaan het nie.
Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons sê, “maar almal doen dit of julle doen dit, daarom is daar nie ʼn probleem as ons dit doen nie? Iemand anders se sondige optrede is nie regverdiging dat jyself ook sonde doen nie.

Maar hoe nou gemaak as ek sien dat ek nie die toets deurstaan nie? Christus en sy liefde kan alleen sigbaar in my lewe wees wanneer Christus in my is. Christus kan alleen deur geloof in die evangelie in my wees. Dit is alleen moontlik deur die Heilige Gees en daarom moet ek bly bid vir die Gees, bly bid dat die Heilige Gees vir my wys waar in my lewe ek nie die toets deurstaan nie. Bid dat die Heilige Gees my laat groei in die geloof sodat ek al hoe stywer aan die evangelie van Jesus Christus en God se genade kan vashou.

Ons herdenk DV volgende week weer die Heilige Nagmaal waar die Here vir ons deur die sigbare tekens van brood en wyn wys hoe Christus in jou is. Daarom geliefdes, Stel julle self op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe.

Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking