Wys tans plasings met die etiket storms. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket storms. Wys alle plasings

22 Maart 2020

Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?


Datum: 22 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni
Skriflesing: Mat. 14 v 22 - 36
Teksvers: Mat. 14 v 27 “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”




Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?

Verlede Sondagaand het ons president 'n ramptoestand aangekondig en streng maatreëls aangekondig om te probeer keer dat die virus ongehinderd duisende mense infekteer.

Dit het 'n paniek onder mense laat ontstaan. Sommige mense het die volgende dag die winkels ingevaar en met paniek aankope winkelrakke leeggekoop. Dis inderdaad of mens 'n gees van vreesagtigheid by mense waarneem.

Dit is nie seker hoe hierdie situasie ons lewens gaan beïnvloed nie, maar kenners is dit eens, dit gaan ons lewens drasties verander. Ons kan inderdaad sê dat die Korona storm in Suid-Afrika losgebars het.

Dit is hier waar ons roeping as Christene, as kerk van ons Here intree om ligdraers te wees. Om perspektief te bring binne 'n wêreld wat in chaos gedompel word. Dis ons roeping om hoop te bring aan 'n wêreld wat in donkerte toegevou word. Dis ons roeping om ligdraers te wees.

Hoe doen ons dit wanneer ons self ook benoud is? Met hierdie verhaal van Jesus se dissipels in 'n storm gee die Here vir ons die perspektief hoe ons, verby ons vrees en benoudheid gaan kom, want as jy 'n ligdraer wil wees moet jy eers kalmte en rustigheid in jou eie gemoed vind. Dan kan jy uitgaan in die wêreld en uit jou innerlike vrede hoop en lig in die wêreld indra.

In hierdie verhaal is daar 'n paar dinge waarop ons moet let. Jesus se dissipels het hulself binne in 'n storm bevind wat erg genoeg was om hulle te oorweldig.

Hoekom was hulle binne in hierdie storm? Het hulle iets verkeerd gedoen? Nee, geliefdes. Hulle was binne in hierdie storm omdat Jesus hulle uitgestuur het en hulle Hom gehoorsaam het.

Die storms in jou lewe is nie altyd omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die Korona virus is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die siekte waarmee jy geteister word is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.

Ons hoor in Mat. 14 v 22 dat Jesus sy dissipels uitgestuur het. Het Hy geweet dat hulle binne in 'n storm gaan beland wanneer hulle wegvaar? Ja, geliefdes Hy het geweet.

Maak dit jou bang dat ons Here jou soms in 'n storm gaan instuur? Maak dit jou bang dat die Here ons binne in hierdie Korona virus storm geplaas het?

Die dissipels het heel nag teen die storm gestoei. Mens kan jou net indink hoe benoud hulle was. Jesus was nie saam met hulle in die boot nie. Beteken dit dat Hy hulle aan hulle eie lot oorgelaat het? Nee, geliefdes. Dit wat daar met die dissipels gebeur het was nog steeds binne God se beheer. Soms lyk dit of God ons binne die chaos van ons lewens in die steek gelaat het. Ons voel nie sy teenwoordigheid, maar Hy is daar. Hy het ons immers belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

Nadat die dissipels die hele nag lank gestoei het, het Jesus met dagbreek die volgende oggend op die see na hulle toe aangeloop gekom. Was hulle bly toe hulle Jesus sien aankom? Nee, geliefdes, hulle het gedink Hy is 'n spook!

Sien jy vir Jesus raak binne die storms wat in jou lewe woed?

Was Jesus verontwaardig dat hulle Hom vir 'n spook aangesien het? Nee, geliefdes. Luister na wat Jesus vir die dissipels sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Letterlik staan daar “Ek is” wat hier vertaal is met “dit is Ek.”

Dit is hoe God Homself in die Ou Testament aan Moses voorstel by die brandende braambos. “Ek is.” In die Nuwe Testament hoor ons hoe Jesus Homself noem “Ek is.” “Ek is die brood van die lewe. Ek is die Lig van die wêreld. Ek is die ingang na redding. Ek is die Goeie Herder wat na sy skape omsien. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is die ware Wingerdstok. Julle is in My ingeënt.”

Jesus sê vir sy dissipels “Ek is.” Met ander woorde Hy sê vir hulle, Hy is almagtige God. Sien u raak dat die ewige almagtige God saam met u in die lewensstorm storm is?

Dan kom ons by daardie deel waar Petrus saam met Jesus op die water loop. Petrus het egter nie lank op die water geloop voordat hy begin sink het nie want hy het sy oë van Jesus afgehaal.

Hoekom het Petrus sy oë van Jesus afgehaal? Petrus antwoord Jesus se gerusstelling van “Ek is” met “Here, as dit regtig U is.....” Hoor u die ongeloof in Petrus se reaksie? Hy was nog nie oortuig dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy is nie. Jesus bevestig Petrus se ongeloof nadat Hy hom gegryp het en hom sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”  

Dis ongeloof wat maak dat ons in die golwe begin wegsink in die storms in ons lewens. God se genade is dat Hy ons nie maar net aan ons eie lot oorlaat nie. Jesus het Petrus se hand gegryp en hom in die boot in gehelp.

Glo jy dat Jesus die Seun van God is? Glo jy dat Hy aan 'n vervloekte kruishout gesterf het om vir jou sondes te betaal? Glo jy dat Hy die dood oorwin het en nou lewe? Glo jy dat Hy vir jou 'n nuwe lewe gee?

Christene leef vanuit hul geloof. Dit is hoekom Christene in die wêreld ingaan en 'n verskil gaan maak. Dit is hoekom gelowiges op praktiese maniere uitreik na hul naastes in krisis tye soos hierdie deur byvoorbeeld vir die wat afgesonder is en nie uit die huis mag uitgaan nie, te gaan inkopies doen. Dis hoekom gelowiges die nodige voorsorg maatreëls tref sodat hulle nie ander in gevaar stel nie. Christene doen hierdie dinge in geloof en nie uit paniek uit nie.

Geliefdes die verhaal sluit af waar die storm bedaar en die dissipels Jesus erken as Seun van God. Beteken dit dat hierdie storm met die korona virus gaan bedaar? Ja, dit gaan ook verbygaan.

Beteken dit dat dit nou binnekort gaan gebeur? Heel waarskynlik nie. Die dissipels het die hele nag lank in die storm gestoei. Die moontlikheid bestaan dat daar van ons ook deur die virus geïnfekteer gaan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar van ons kan sterf as gevolg van die virus. Maar geliefdes selfs as dit sou gebeur hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus belowe ons dat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie.

Onthou net dat dit steeds God is wat bepaal wanneer ons, ons laaste lewensasem gaan uitblaas. As dit jou tyd is, kan Hy moontlik die virus gebruik om jou te kom haal. As dit nie jou tyd is nie, kan geen virus hoe gevaarlik ook al, jou lewe neem nie, want jou lewe is binne God se hande.

Geliefdes, moenie dat hierdie pandemie u paniekerig en benoud maak nie. God is ook binne hierdie storm teenwoordig. Hou in geloof aan sy beloftes vas. Hou jou oë gerig op Jesus sodat jy nie in die golwe van vrees en wanhoop wegsink nie.
Amen 



12 November 2017

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan

22 Okt. 2017 (GKE)

Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33



Sing    Lofsang: Ps. 48-1  v 1 & 4
           Na wet:    Ps. 130-1 v 2
           Na gebed Ps. 86-1 v 3 & 6
           Slotsang  Ps. 18-1 v 1 & 14


Inleiding


Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.



Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.



Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.



As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.



Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.



Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.



Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?



Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”



As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.



Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.



Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”



Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.



Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.

Amen












17 April 2016

Jesus is lief vir jou. Glo jy dit?

17 Apr. 2016 GKE
Mar 4:35-41 teksvers 37
Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.
Sing:
Ps. 147-1: 1 & 2
Sb. 9-1 : 1 & 11
Sb. 15-7:4

Ps. 31-1 v 1 - 3

Jesus het ’n lang dag agter die rug waarin hy die skare deur gelykenisse geleer het. Aan die einde van die dag versoek Jesus sy dissipels om na die oorkant van die meer te vaar. Hy was heel waarskynlik moeg na die lang dag en daarom het Hy agter in die skuit aan die slaap geraak terwyl hulle na die oorkant toe gevaar het. In die ligte laatmiddag briese het hulle daar weg weggevaar. Toe hulle ongeveer in die middel van die meer was het daar skielik ’n storm opgesteek.

Die see van Galilea is daarvoor bekend dat storms skielik sonder waarskuwing opsteek. Die rede daarvoor is omdat dit in die skeurvallei waarin die Jordaanrivier afvloei geleë is. Die meer is ongeveer 213m onder seevlak met berge aan weerskante van die meer wat tot 600m hoog is aan die oostekant. Die koel droë lug van bo-op die bergtoppe sak dan af in die vallei waar dit met die warm vogtige lug van die meer in kontak kom. Dit veroorsaak lugdruk verskille en omdat die berge weerskante ’n tregter effek het kan daar baie vinnig ’n baie sterk windstorm oor die see opsteek. Die meer is ongeveer 21 km lank en 13 km breed. Dit is dus ’n groot wateroppervlak waar die wind groot golwe kan opwek. En dit is wat daardie dag gebeur het.


Hierdie storm gee vir die dissipels die geleentheid om toets of hulle dit wat hulle van Jesus geleer het kan toepas in hulle lewens? Die laaste gelykenis wat Jesus daardie dag vertel het was die gelykenis van die mosterdsaad. Die Koninkryk van God word in die gelykenis voorgestel as ’n klein mosterdsaadjie wat groei tot dit ’n groot boom is. Met ander woorde dit is die klein groepie dissipels wat die begin is van die koninkryk wat die magtigste op aarde gaan word. Nou kry die dissipels die geleentheid om te toets of hulle glo dat die Here hul gaan bewaar om hierdie belofte te verwesentlik, want daar is ’n storm wat sê “nee, dit is nie so nie.”

Ons hoor in die verhaal wie Jesus werklik is en wat Hy vir sy volgelinge kan doen. Die verhaal begin met ’n groot storm. Daarna volg daar ’n groot stilte en die verhaal eindig met ’n groot ontsag.

Die groot storm.

 Ons hoor hoe Jesus ’n groot storm gebruik om ons geloof te toets. in Mar. 4:35 hoor ons hoe Jesus vir sy dissipels sê: “Kom ons vaar oorkant toe.” Hulle het in die storm beland omdat Jesus vir hulle gesê het om weg te vaar. As Jesus nie dit vir hulle gesê het nie, sou hulle nooit in die storm beland het nie. Die dissipels het in die storm beland omdat hulle gehoorsaam was. Hulle het nie in die storm beland omdat hulle iets verkeerd gedoen het nie! Nee, hulle het daar beland juis omdat hulle iets reg gedoen het!

In Mar. 4: 37 hoor ons:
Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het.
Hierdie was nie maar net ’n gewone storm nie. Die Griekse woord wat as groot vertaal word is “mega”. Dit is ’n woord wat in Afrikaans en Engels ook al gebruik word om die grootsheid van iets te beskryf. Dit beskryf iets meer as net groot. As ons storms op ’n skaal moet plaas van gewoon aan die onderkant en baie hewig aan die bokant, dan beskryf “mega” die bopunt van daardie skaal. Dit was ’n storm wat meer was as wat hulle kon hanteer. In Luk 4:23 hoor ons dat hulle lewens inderdaad in gevaar was. Toe hulle weggevaar het was daar geen teken dat daar ’n storm sou wees nie. Toe hulle in die middel van die meer kom het daar skielik ’n storm opgesteek.

In Mar 4:40 vra Jesus die vraag “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” M.a.w. hierdie storm is ’n gelooftoets vir die dissipels en in die verhaal hoor ons wat die eienskappe van so ’n gelooftoets is.

Die eerste eienskap vir so ’n geloofstoets is ’n situasie wat menslik gesproke onmoontlik is om te hanteer. ’n Megastorm. Jesus plaas jou in ’n situasie wat jy nie alleen kan hanteer nie. ’n Situasie waar jy nie uitkoms van kan sien nie. Dit is nogal iets waarmee ons, ons kan vereenselwig want ervaring het ons geleer dat ons nie vrygeskeld word van die storms in die lewe nie. Christene beland in onmoontlike storms juis omdat hulle christene is! Jesus het sy dissipels beveel om weg te vaar.

Net soos daardie storm op die see van Galilea onstaan ons storms net so skielik uit die bloute. Die een oomblik is alles nog reg en dan ontvang jy die oproep, daar was ’n ongeluk. Alles verloop nog glad by die werk, dan word daar afgekondig dat die maatskappy herstruktureer moet word om koste te bespaar. Die gesprek met die dokter: “die resultate van die biopsie het positief vir kanker getoets.” Die ekonomie is nog redelik en dan word daar ’n politieke aankondiging gemaak wat veroorsaak dat daar in die loop van die naweek R500 biljoen se waarde op die aandelebeurs vernietig word en dat die wisselkoers van die rand teenoor buitelandse geldeenhede met 25% verswak. Dit tesame met die voortslepende droogte raak net te veel en besighede word gedwing om deure toe te maak.

Dit is die tipe situasies waarin ons beland. Die skuit is besig om vol water te word, die wind is oorweldigend. Al wat ons sien is die golwe wat bokant die skuit uittoring. Hierdie storm is besig om die oorhand te kry en dit lyk of ons dit nie gaan maak nie.

Christene word nie vrygeskeld van die storms in die lewe nie. Die Here plaas ons in hierdie storms om ons geloof te toets. Jesus het die dissipels beveel om te gaan, maar Hy het hulle nie alleen laat gaan nie. Hy het saam gegaan. Jesus was saam met die dissipels in die skuit en net so is die Heilige Gees saam met ons, ook wanneer ons midde in die megastorms van die lewe beland.

Die eerste eienskap van ’n geloofstoets is ’n onmoontlike situasie, maar daar is ook ’n tweede eienskap, naamlik Jesus wat stilbly. Ek bevind myself in ’n onmoontlike situasie en wanneer ek omdraai is Jesus aan die slaap agter in die boot! Wat moet ek doen wanneer ek in die storm van lewe is en die Here antwoord my nie? Is dit nie hoe ons dikwels voel nie? Ek bid en daar is nie antwoorde nie. Ek bid en my geliefde word nie gesond nie. Ek bid en ek kry nie die werk nie. Ek bid en die persoon vir wie ek bid word nie gelowig nie. Dan begin mens wonder, Here waarom slaap U?

Geloof word nie getoets wanneer dit mooiweer is nie. Vertrou jy Jesus in die storm? Vertrou jy sy stilte? Vertrou jy wanneer jy nie die antwoorde ontvang wat jy verwag nie? Vertrou jy wanneer die omstandighede nie is soos wat jy dink dit behoort te wees nie? Vertrou jy wanneer jy net die oorweldigende golwe om jou sien? Vertrou jy wanneer jou boot vol water begin word en Jesus is aan die slaap agter in die boot? Vertrou jy dat die Here vir jou omgee wanneer dit lyk of alles in die lewe teen jou is?

Let op wat die dissipels gesê het. Die megastorm tesame met Jesus se stilte het die ware toestand van die dissipels se geloof blootgelê. Die dissipels gaan nie Jesus en vra, Here doen iets nie. Nee in Mar. 4:38 hoor ons:
“Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”
Die dissipels bevraagteken nie die mag van Jesus nie. Nee, hulle bevraagteken sy liefde!

Dit is die dieptepunt van ’n geloofskrisis. Ons glo dat die Here in staat is om te help, maar ons bevraagteken of Hy wil help! Gee Hy werklik om? Sien die Here ooit raak waardeur ek gaan? Ek dien die Here al solank. Ek bid gereeld. Ek probeer werklik om na die beste van my vermoë volgens die wil van God te leef. Het die Here van my vergeet?

Luister hoe beantwoord Jesus hierdie aantyging van die dissipels “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?” Met ander woorde “hoe is dit dat julle My nog nie vertrou nie? Hoe is dit dat julle My liefde bevraagteken? Dink julle werklik dat Ek nie omgee nie?” Geloof is die vaste vertroue dat die Here werklik vir my omgee en dat Hy my onvoorwaardelik liefhet.

Ons moet verstaan dat die Here aan geloofstoetse onderwerp omdat Hy ons liefhet. In Jak 1:2-4 hoor ons dat ons aan geloofstoetse onderwerp word sodat ons tot volle geestelike rypheid kom sonder enige tekortkominge. Net soos ’n spier sterk word wanneer jy dit oefen word ons geloof sterker deur gelooftoetse. God het ons te lief om jou met ’n twyfelende geloof te los. Hy wil hê dat jy deur jou geloof die werklike diepte van sy liefde leer ken. Hy wil hê dat ons in geloof moet groei sodat ons kan leer wie Hy werklik is.

Die groot stilte
Na die groot storm kom die groot stilte. Dieselfde woord wat gebruik word om die groot storm word in vers 39 gebruik om die groot stilte te omskryf. ’n Megastorm en nou ’n Megastilte. Dit is nie net ’n gewone stilte of kalmte nie. Dit is ’n buitengewone kalmte wat daar na die storm neerdaal.

Dit is belangrik om te verstaan dat die storm dadelik gekalmeer het. Jesus het die storm beveel “Hou op! Bedaar!” en dadelik het die wind gaan lê en die golwe kalmeer. Dit was nie ’n geleidelik afskaal van die storm nie. Dit wys vir ons op die almag van Jesus. As die storm maar net natuurlik bedaar het sou dit nog ’n lang ruk geduur het. Die golwe het egter dadelik bedaar en dit is net God wat dit kan doen. Dit bevestig absoluut dat Jesus God is.

Die groot ontsag.
En dit het sy dissipels met ’n groot ontsag vervul. Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat hierdie magsvertoon nie net is om te bewys dat Jesus God is nie. Dit is ’n magsvertoon na aanleiding van die dissipel se vraag: “Meester, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” Jesus word nie wakker en bestraf die dissipels nie. Hy bestraf die wind as ’n antwoord op hulle vraag, “ja Ek gee om vir julle.” Hy gebruik sy almag om vir sy dissipels te wys hoeveel Hy werklik vir hulle omgee om hulle te verlos. Hiermee wys Hy nie net vir sy dissipels hoe groot sy mag is nie, maar hoe groot sy liefde is. Later het Hy die grote van sy liefde aan die kruis bevestig en die grote van sy mag met sy oorwinning oor die dood. Dit is die evangelie, die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons te red uit die grootste storm wat daar in ’n mens se lewe kan wees. Die storm van God se toorn en wraak oor ons sonde.

In hierdie verhaal sê Jesus vir jou: 

“Ek is lief vir jou. 

Glo jy dit?”
Amen