22 Okt. 2017 (GKE)
Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33
Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33
Sing
Lofsang: Ps. 48 -1 v 1 & 4
Na
wet: Ps. 130-1 v 2
Na
gebed Ps. 86 -1 v 3 & 6
Slotsang Ps.
18 -1 v 1 & 14
Rom 8:37-39
Inleiding
Hoekom moet hierdie ramp my tref?
Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae
wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my
lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?”
Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33
In die wêreld sal
julle dit moeilik hê.
Die Griekse woord wat met moeilik
vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te
word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies
wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per
ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes,
dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die
grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat
hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so
swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.
Hoe kan ons staande bly wanneer die
storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind
orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat
deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.
24“Elkeen dan
wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n
verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het
geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan
geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.
As daardie huis se fondament op die
rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker
gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit
is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker
moet word.
Wanneer die vloedwaters en die
stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die
vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die
pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na
aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie
angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein
is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n
egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n
loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters
en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.
Dit is net die Rots Jesus Christus
wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor
ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.
Dit sê Ek vir
julle, sodat julle vrede kan vind in My.
Is dit moontlik om vrede te vind
wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die
vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou
aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.
Jesus verduidelik egter ook wat
gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek
bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand
wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my
vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die
storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)
26En elkeen
wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word
met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het
geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan
geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”
As ek my vertroue op iemand of iets
anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.
Hoe kan ek staande bly as die storms
van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus
Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike
beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog
stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die
rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk
nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om
iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?
Is dit nie wat ons so dikwels in ons
geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe
aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid
nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken
nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God
soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot
God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die
slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my
omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom
tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar
die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17
Julle het die Here
moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:
“Waarmee het ons
Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is
almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra
het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”
As ek egter reeds my fondament op
die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl
dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan
in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin
het. (vgl Joh. 16v33c)
maar hou moed : Ek
het die wêreld klaar oorwin.”
Dan kan ek staande bly wanneer die
storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)
Ek het die goeie wedloop
afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.
Maar wat dan nou as die lewe my
omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op
my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of
Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit
is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3
vir ons sê:
’n Geknakte riet
sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.
Hou vas aan Jesus Christus se
uitnodiging in Mat 11v28-30
28 “Kom na My
toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem
my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en
julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is
lig.”
Dan moet ons soveel te meer vashou
aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die
versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer
dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes
gestand doen nie, maar sy genade en liefde:
37Maar in al
hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan
is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of
toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders
in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is
in Christus Jesus ons Here.
Geliefdes, wanneer die storms van
die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want
Saam met
Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking