Wys tans plasings met die etiket rots. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket rots. Wys alle plasings

12 November 2017

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan

22 Okt. 2017 (GKE)

Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33



Sing    Lofsang: Ps. 48-1  v 1 & 4
           Na wet:    Ps. 130-1 v 2
           Na gebed Ps. 86-1 v 3 & 6
           Slotsang  Ps. 18-1 v 1 & 14


Inleiding


Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.



Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.



Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.



As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.



Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.



Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.



Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?



Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”



As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.



Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.



Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”



Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.



Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.

Amen