Wys tans plasings met die etiket Corona. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Corona. Wys alle plasings

01 April 2020

Soek jou beskerming by God wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig.


Covid19 Afsondering bemoediging

Tema: Soek jou beskerming by God wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig.
Skrif: Ps. 57 v 2
Wees my genadig, o God! Wees my genadig,
want by U soek ek skuiling.
Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.



Soos wat die tyd van afsondering aanstap begin die werklikheid van daarvan tot jou deurdring. Wanneer mens jouself in 'n situasie bevind waar jy nie eintlik in beheer is nie, kan dit meebring dat jy gevoelens van wanhoop en moedeloosheid begin ervaar. Veral wanneer die werklikheid van hoe hierdie situasie jou negatief gaan beïnvloed begin deurdring.

Daar is baie van ons wat heeltemal alleen is in hierdie tyd en dit kan tot gevolg hê dat jy eensaam en uitgesluit voel.

Waar kry jy krag vandaan om op te staan en die lewe in die oë te kyk wanneer dit vir jou voel of alles donker is om jou? Daar is baie bemoedigende boodskappe wat basies daarop neerkom dat jy beheer moet neem van jou lewe. Jy moet opstaan en die lewe in die oë kyk. Jy is die stuurman wat die rigting van jou lewensreis bepaal.

Die probleem kom in wanneer jy nie die krag of moed het om op te staan om die lewe in die oë te kyk nie. Wanneer dit vir jou voel of hierdie situasie jou in 'n donker gat gegooi het waaruit jy nie op jou eie kan uitklim nie.

Dit is nou maar eenmaal in die lewe so dat wanneer jy net op jouself staatmaak, sal jy vind dat jy een of ander tyd op 'n punt kom waar jy net nie meer kan nie. Op die uiteinde kort jy 'n bron van krag wat groter as jyself is.

Waar vind jy hierdie bron van krag?
Luister na wat sê die Here vir ons in Ps.  57 v 2
Wees my genadig, o God! Wees my genadig,
want by U soek ek skuiling.
Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.

Die psalmdigter maak gebruik van die beeld van 'n voël wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm wanneer gevaar dreig. Net so beskerm God jou wanneer jy by Hom gaan skuiling soek.

Deur jou geloof in Jesus Christus as jou enigste Verlosser en Saligmaker kry jy die reg om by God skuiling te soek. Soek jou beskerming by God wanneer die lewe dreig om jou te oorweldig.
Amen

29 Maart 2020

Wees 'n ligbaken van hoop in donker onsekere tye


Datum: 29 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni

Sluit gerus by ons uitsaai dienste aan op die Gereformeerde Kerk Empangeni se FaceBook blad Sondagoggende om 9h00

Skriflesing: Mat. 14 v 13 tot 21; Mark 6 v 35 tot 44; Luk. 9 v 10 – 17;Joh. 6 v 1 tot 15
Teksvers: Mat. 14 v 16


Ons is tans in 'n situasie waarin die meeste van ons nog nooit was nie. Regte wat ons as vanselfsprekend ervaar is skielik opgehef. Baie onsekerhede oor wat ons mag en nie mag doen nie. Onsekerheid oor hoe toekoms gaan lyk en hoe dit ons ekonomies gaan affekteer. Baie mense ly groot finansiële verliese.

Dit maak mense benoud. Ander is kwaad daaroor. Mense is onseker en dit maak hulle bang en angstig. Ek dink elkeen van ons is so bietjie bekommerd.

Ons skrifgedeelte pas baie goed in by hierdie situasie waarin ons verkeer. Hierin gee die Here vir ons leiding oor hoe ons moet optree.

Dit is 'n baie bekende verhaal waar Jesus en sy dissipels na 'n afgesonderde plek toe gegaan het en hoe 'n skare van meer as 5 000 mense hulle gevolg het. Jesus het omgesien na die skare en hulle ook begin leer.

Hier teen die einde van die dag is die mense honger. Hulle is op 'n afgesonderde plek waar hulle nie maklik kos in die hande kon kry nie.

Dan verrig Jesus 'n wonderwerk. Met net twee vissies en vyf broodjies gee Jesus vir die skare kos.

Dit is inderdaad 'n indrukwekkende verhaal, maar wat het daardie gebeure van so bietjie meer as 2000 jaar gelede met ons situasie waar ons nou by die huis ingeperk is te doen?

In hierdie verhaal is 'n paar dinge wat baie relevant is vir ons in hierdie situasie waarin ons, ons nou bevind.

Die verhaal begin waar Jesus sy dissipels na 'n afgesonderde plek neem nadat hulle gehoor dat Koning Herodus Johannes die Doper laat onthoof het.

Toe hulle daar aankom was daar egter 'n groot klomp mense reeds daar. Was Jesus geïrriteerd omdat die mense sy rus kom verstoor het? Nee, geliefdes. Ons hoor dat Jesus hulle innig jammer gekry het en die siekes onder hulle gesond gemaak het.

Ons kan die mense wat daar saam met Jesus was in twee groepe verdeel. Aan die eenkant was daar die hulpelose en verdwaalde skare wat agter Jesus aangeloop het en aan die ander kant sy dissipels wat Hom in dit wat Hy gedoen het nagevolg het.

In 'n sekere sin val ons in beide kategorieë. Aan die een kant is ons ook soos die hulpelose skare wat sorg en vertroosting nodig het. Aan die ander kant is ons egter ook kerk van die Here wat Hy gebruik om uit te gaan in die wêreld en hoop te bring.

In 'n sekere sin is ons wat nou ingeperk is ook soos daardie skare wat vir Jesus ingewag het. Die Here troos ons met die wete dat Hy ons ook innig jammer kry. Dat Hy ons ook van die siekte van God vervreemding wil genees, want dit is die grootste nood wat daar in die wêreld is.

Om van God vervreemd te wees is om hulpeloos en verdwaald in hierdie wêreld te wees. Jesus kry elkeen wat van God vervreem is innig jammer. Daarom nooi Hy jou ook uit :
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Gaan lees gerus Mat. 11 v 25 – 30.

Jesus het jou so lief dat Hy bereid was om met sy lewe te betaal sodat Jy weer met God versoen kan wees. Het jy vrymoedigheid om tot God te nader? Neem Jesus se uitnodiging aan.

Die troos wat ons daarin vind is dat jy as God se kind tot Hom kan nader wanneer die lewe jou druk. Jy kan na God toe gaan wanneer jy bekommerd en benoud is oor al die onsekerhede wat ons nou so teister.

Wanneer jy Jesus se uitnodiging aanneem dan verander jou status van iemand wat net agter Jesus aanloop na 'n dissipel, dit wil sê wat Jesus navolg. Dan word jy iemand wat Hy gebruik om 'n verskil in die wêreld te maak.

In hierdie verhaal hoor ons dan ook dat Jesus se dissipels 'n probleem raaksien. Dit raak laat en omdat hulle op 'n afgeleë plek is, is daar nie kos vir die mense nie.

Die dissipels is pro aktief en stel 'n oplossing voor. Hulle oplossing is om die mense na die dorpe terug te stuur sodat hulle vir hulself kan gaan kos koop. Hierdie plan val egter nie met God se plan saam nie.

Luister na hoe Jesus sy dissipels antwoord:
“Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

In hierdie tyd van onsekerheid het mense hoop nodig meer as ooit. Die maklike oplossing is om vir die Here te vra: “Here, neem tog asb. net die probleem weg sodat die lewe tot normaal kan terugkeer.”

En dan antwoord die Here: “hierdie virus gaan vir eers by julle bly. Julle gaan die volgende 21 dae in afsondering moet bly. Die lewe gaan vir eers nie na normaal terugkeer nie, maar julle wat my dissipels is, gee vir die mense hoop!”

Heel moontlik gaan ons ook net soos die dissipels protesteer soos ons in Markus se weergawe van die verhaal hoor:
“Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”
Dink so daaraan, dis 2 derdes van hulle jaarlikse inkomste wat hulle op een slag moet uitgee om vir die mense kos te koop!

“Here U vra te veel, ons kan nie!” Voel dit vir jou ook of die Here nou te veel van jou vra?

Al wat die dissipels gehad het was twee vissies en vyf broodjies. Dit was genoeg om vir so ongeveer 15 mense kos te gee en nou vra Jesus dat hulle meer as 5000 mense daarmee kos moet gee!

Hier beleef ons egter die grootheid van God se genade. Hy verwag nie van die dissipels om die onmoontlike te doen nie. Hy verwag ook nie van jou om die onmoontlike te doen nie!

Hy vat dit wat hulle het en dank God daarvoor en dan maak Hy die onmoontlike moontlik! Dis wat Jesus ook in hierdie tyd vir jou vra. Bring wat jy het na Hom toe. Dank God vir die bietjie wat jy het en Hy sal dit genoeg maak om mee te doen wat Hy van jou vra.

Hoe lyk ons twee vissies en vyf broodjies? Ons het in die volgende drie weke tyd. Die meeste van ons het selfone en internet sodat ons op verskeie maniere met mekaar kan kommunikeer. Ons het God se liefde in ons harte. Bring dit na die Here toe en Hy sal dit seën.

Nadat Jesus God gedank het en Hy die broodjies en die vissies geseën het, het Jesus dit vir die dissipels terug gegee om uit te deel. Jesus gebruik sy kerk om sy werk te doen.

Reik uit na mense. Begin by die mense wat saam met jou in die huis is. Maak tyd vir mekaar. Met die lewe wat so gejaagd is, leef ons so maklik by mekaar verby. Nou het die Here vir ons geleentheid gegee om om weer bietjie by mekaar te kom.

Gaan dan na jou vriende en kennisse en die en jou bure, jou broers en susters in die gemeente. Hoor hoe dit gaan. Dink aan praktiese maniere om mekaar te help.

Vir die wat Jesus nie ken nie, vertel vir hulle die goeie nuus omtrent Hom, dat Hy sy lewe gegee het en aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Dat Hy die dood oorwin het en opgestaan het. Dat Hy vir jou 'n nuwe lewe saam met God gee. Vertel vir hulle hoe Jesus jou lewe verander het.

Al is dit net een of twee dan maak jy 'n verskil. As elkeen van ons na twee of drie mense uitreik in hierdie tyd sal ons 'n groot verskil in hierdie wêreld maak.

As jy nog net deel is van die skare wat agter Jesus aanloop, neem sy uitnodig aan. Kom na Hom toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Hy sal vir jou rus gee.

As jy ’n dissipel is, dit wil sê 'n navolger van Jesus is, bring jou twee vissies en vyf broodjies na Jesus toe om dit te seën. Gaan deel dit dan uit aan mense wat Hoop nodig het.

Wees 'n ligbaken van hoop in donker onsekere tye.
Amen


22 Maart 2020

Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?


Datum: 22 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni
Skriflesing: Mat. 14 v 22 - 36
Teksvers: Mat. 14 v 27 “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”




Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?

Verlede Sondagaand het ons president 'n ramptoestand aangekondig en streng maatreëls aangekondig om te probeer keer dat die virus ongehinderd duisende mense infekteer.

Dit het 'n paniek onder mense laat ontstaan. Sommige mense het die volgende dag die winkels ingevaar en met paniek aankope winkelrakke leeggekoop. Dis inderdaad of mens 'n gees van vreesagtigheid by mense waarneem.

Dit is nie seker hoe hierdie situasie ons lewens gaan beïnvloed nie, maar kenners is dit eens, dit gaan ons lewens drasties verander. Ons kan inderdaad sê dat die Korona storm in Suid-Afrika losgebars het.

Dit is hier waar ons roeping as Christene, as kerk van ons Here intree om ligdraers te wees. Om perspektief te bring binne 'n wêreld wat in chaos gedompel word. Dis ons roeping om hoop te bring aan 'n wêreld wat in donkerte toegevou word. Dis ons roeping om ligdraers te wees.

Hoe doen ons dit wanneer ons self ook benoud is? Met hierdie verhaal van Jesus se dissipels in 'n storm gee die Here vir ons die perspektief hoe ons, verby ons vrees en benoudheid gaan kom, want as jy 'n ligdraer wil wees moet jy eers kalmte en rustigheid in jou eie gemoed vind. Dan kan jy uitgaan in die wêreld en uit jou innerlike vrede hoop en lig in die wêreld indra.

In hierdie verhaal is daar 'n paar dinge waarop ons moet let. Jesus se dissipels het hulself binne in 'n storm bevind wat erg genoeg was om hulle te oorweldig.

Hoekom was hulle binne in hierdie storm? Het hulle iets verkeerd gedoen? Nee, geliefdes. Hulle was binne in hierdie storm omdat Jesus hulle uitgestuur het en hulle Hom gehoorsaam het.

Die storms in jou lewe is nie altyd omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die Korona virus is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die siekte waarmee jy geteister word is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.

Ons hoor in Mat. 14 v 22 dat Jesus sy dissipels uitgestuur het. Het Hy geweet dat hulle binne in 'n storm gaan beland wanneer hulle wegvaar? Ja, geliefdes Hy het geweet.

Maak dit jou bang dat ons Here jou soms in 'n storm gaan instuur? Maak dit jou bang dat die Here ons binne in hierdie Korona virus storm geplaas het?

Die dissipels het heel nag teen die storm gestoei. Mens kan jou net indink hoe benoud hulle was. Jesus was nie saam met hulle in die boot nie. Beteken dit dat Hy hulle aan hulle eie lot oorgelaat het? Nee, geliefdes. Dit wat daar met die dissipels gebeur het was nog steeds binne God se beheer. Soms lyk dit of God ons binne die chaos van ons lewens in die steek gelaat het. Ons voel nie sy teenwoordigheid, maar Hy is daar. Hy het ons immers belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

Nadat die dissipels die hele nag lank gestoei het, het Jesus met dagbreek die volgende oggend op die see na hulle toe aangeloop gekom. Was hulle bly toe hulle Jesus sien aankom? Nee, geliefdes, hulle het gedink Hy is 'n spook!

Sien jy vir Jesus raak binne die storms wat in jou lewe woed?

Was Jesus verontwaardig dat hulle Hom vir 'n spook aangesien het? Nee, geliefdes. Luister na wat Jesus vir die dissipels sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Letterlik staan daar “Ek is” wat hier vertaal is met “dit is Ek.”

Dit is hoe God Homself in die Ou Testament aan Moses voorstel by die brandende braambos. “Ek is.” In die Nuwe Testament hoor ons hoe Jesus Homself noem “Ek is.” “Ek is die brood van die lewe. Ek is die Lig van die wêreld. Ek is die ingang na redding. Ek is die Goeie Herder wat na sy skape omsien. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is die ware Wingerdstok. Julle is in My ingeënt.”

Jesus sê vir sy dissipels “Ek is.” Met ander woorde Hy sê vir hulle, Hy is almagtige God. Sien u raak dat die ewige almagtige God saam met u in die lewensstorm storm is?

Dan kom ons by daardie deel waar Petrus saam met Jesus op die water loop. Petrus het egter nie lank op die water geloop voordat hy begin sink het nie want hy het sy oë van Jesus afgehaal.

Hoekom het Petrus sy oë van Jesus afgehaal? Petrus antwoord Jesus se gerusstelling van “Ek is” met “Here, as dit regtig U is.....” Hoor u die ongeloof in Petrus se reaksie? Hy was nog nie oortuig dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy is nie. Jesus bevestig Petrus se ongeloof nadat Hy hom gegryp het en hom sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”  

Dis ongeloof wat maak dat ons in die golwe begin wegsink in die storms in ons lewens. God se genade is dat Hy ons nie maar net aan ons eie lot oorlaat nie. Jesus het Petrus se hand gegryp en hom in die boot in gehelp.

Glo jy dat Jesus die Seun van God is? Glo jy dat Hy aan 'n vervloekte kruishout gesterf het om vir jou sondes te betaal? Glo jy dat Hy die dood oorwin het en nou lewe? Glo jy dat Hy vir jou 'n nuwe lewe gee?

Christene leef vanuit hul geloof. Dit is hoekom Christene in die wêreld ingaan en 'n verskil gaan maak. Dit is hoekom gelowiges op praktiese maniere uitreik na hul naastes in krisis tye soos hierdie deur byvoorbeeld vir die wat afgesonder is en nie uit die huis mag uitgaan nie, te gaan inkopies doen. Dis hoekom gelowiges die nodige voorsorg maatreëls tref sodat hulle nie ander in gevaar stel nie. Christene doen hierdie dinge in geloof en nie uit paniek uit nie.

Geliefdes die verhaal sluit af waar die storm bedaar en die dissipels Jesus erken as Seun van God. Beteken dit dat hierdie storm met die korona virus gaan bedaar? Ja, dit gaan ook verbygaan.

Beteken dit dat dit nou binnekort gaan gebeur? Heel waarskynlik nie. Die dissipels het die hele nag lank in die storm gestoei. Die moontlikheid bestaan dat daar van ons ook deur die virus geïnfekteer gaan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar van ons kan sterf as gevolg van die virus. Maar geliefdes selfs as dit sou gebeur hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus belowe ons dat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie.

Onthou net dat dit steeds God is wat bepaal wanneer ons, ons laaste lewensasem gaan uitblaas. As dit jou tyd is, kan Hy moontlik die virus gebruik om jou te kom haal. As dit nie jou tyd is nie, kan geen virus hoe gevaarlik ook al, jou lewe neem nie, want jou lewe is binne God se hande.

Geliefdes, moenie dat hierdie pandemie u paniekerig en benoud maak nie. God is ook binne hierdie storm teenwoordig. Hou in geloof aan sy beloftes vas. Hou jou oë gerig op Jesus sodat jy nie in die golwe van vrees en wanhoop wegsink nie.
Amen