Wys tans plasings met die etiket Korona. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Korona. Wys alle plasings

29 Maart 2020

Wees 'n ligbaken van hoop in donker onsekere tye


Datum: 29 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni

Sluit gerus by ons uitsaai dienste aan op die Gereformeerde Kerk Empangeni se FaceBook blad Sondagoggende om 9h00

Skriflesing: Mat. 14 v 13 tot 21; Mark 6 v 35 tot 44; Luk. 9 v 10 – 17;Joh. 6 v 1 tot 15
Teksvers: Mat. 14 v 16


Ons is tans in 'n situasie waarin die meeste van ons nog nooit was nie. Regte wat ons as vanselfsprekend ervaar is skielik opgehef. Baie onsekerhede oor wat ons mag en nie mag doen nie. Onsekerheid oor hoe toekoms gaan lyk en hoe dit ons ekonomies gaan affekteer. Baie mense ly groot finansiële verliese.

Dit maak mense benoud. Ander is kwaad daaroor. Mense is onseker en dit maak hulle bang en angstig. Ek dink elkeen van ons is so bietjie bekommerd.

Ons skrifgedeelte pas baie goed in by hierdie situasie waarin ons verkeer. Hierin gee die Here vir ons leiding oor hoe ons moet optree.

Dit is 'n baie bekende verhaal waar Jesus en sy dissipels na 'n afgesonderde plek toe gegaan het en hoe 'n skare van meer as 5 000 mense hulle gevolg het. Jesus het omgesien na die skare en hulle ook begin leer.

Hier teen die einde van die dag is die mense honger. Hulle is op 'n afgesonderde plek waar hulle nie maklik kos in die hande kon kry nie.

Dan verrig Jesus 'n wonderwerk. Met net twee vissies en vyf broodjies gee Jesus vir die skare kos.

Dit is inderdaad 'n indrukwekkende verhaal, maar wat het daardie gebeure van so bietjie meer as 2000 jaar gelede met ons situasie waar ons nou by die huis ingeperk is te doen?

In hierdie verhaal is 'n paar dinge wat baie relevant is vir ons in hierdie situasie waarin ons, ons nou bevind.

Die verhaal begin waar Jesus sy dissipels na 'n afgesonderde plek neem nadat hulle gehoor dat Koning Herodus Johannes die Doper laat onthoof het.

Toe hulle daar aankom was daar egter 'n groot klomp mense reeds daar. Was Jesus geïrriteerd omdat die mense sy rus kom verstoor het? Nee, geliefdes. Ons hoor dat Jesus hulle innig jammer gekry het en die siekes onder hulle gesond gemaak het.

Ons kan die mense wat daar saam met Jesus was in twee groepe verdeel. Aan die eenkant was daar die hulpelose en verdwaalde skare wat agter Jesus aangeloop het en aan die ander kant sy dissipels wat Hom in dit wat Hy gedoen het nagevolg het.

In 'n sekere sin val ons in beide kategorieë. Aan die een kant is ons ook soos die hulpelose skare wat sorg en vertroosting nodig het. Aan die ander kant is ons egter ook kerk van die Here wat Hy gebruik om uit te gaan in die wêreld en hoop te bring.

In 'n sekere sin is ons wat nou ingeperk is ook soos daardie skare wat vir Jesus ingewag het. Die Here troos ons met die wete dat Hy ons ook innig jammer kry. Dat Hy ons ook van die siekte van God vervreemding wil genees, want dit is die grootste nood wat daar in die wêreld is.

Om van God vervreemd te wees is om hulpeloos en verdwaald in hierdie wêreld te wees. Jesus kry elkeen wat van God vervreem is innig jammer. Daarom nooi Hy jou ook uit :
Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Gaan lees gerus Mat. 11 v 25 – 30.

Jesus het jou so lief dat Hy bereid was om met sy lewe te betaal sodat Jy weer met God versoen kan wees. Het jy vrymoedigheid om tot God te nader? Neem Jesus se uitnodiging aan.

Die troos wat ons daarin vind is dat jy as God se kind tot Hom kan nader wanneer die lewe jou druk. Jy kan na God toe gaan wanneer jy bekommerd en benoud is oor al die onsekerhede wat ons nou so teister.

Wanneer jy Jesus se uitnodiging aanneem dan verander jou status van iemand wat net agter Jesus aanloop na 'n dissipel, dit wil sê wat Jesus navolg. Dan word jy iemand wat Hy gebruik om 'n verskil in die wêreld te maak.

In hierdie verhaal hoor ons dan ook dat Jesus se dissipels 'n probleem raaksien. Dit raak laat en omdat hulle op 'n afgeleë plek is, is daar nie kos vir die mense nie.

Die dissipels is pro aktief en stel 'n oplossing voor. Hulle oplossing is om die mense na die dorpe terug te stuur sodat hulle vir hulself kan gaan kos koop. Hierdie plan val egter nie met God se plan saam nie.

Luister na hoe Jesus sy dissipels antwoord:
“Hulle hoef nie weg te gaan nie. Gee julle vir hulle iets om te eet.”

In hierdie tyd van onsekerheid het mense hoop nodig meer as ooit. Die maklike oplossing is om vir die Here te vra: “Here, neem tog asb. net die probleem weg sodat die lewe tot normaal kan terugkeer.”

En dan antwoord die Here: “hierdie virus gaan vir eers by julle bly. Julle gaan die volgende 21 dae in afsondering moet bly. Die lewe gaan vir eers nie na normaal terugkeer nie, maar julle wat my dissipels is, gee vir die mense hoop!”

Heel moontlik gaan ons ook net soos die dissipels protesteer soos ons in Markus se weergawe van die verhaal hoor:
“Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”
Dink so daaraan, dis 2 derdes van hulle jaarlikse inkomste wat hulle op een slag moet uitgee om vir die mense kos te koop!

“Here U vra te veel, ons kan nie!” Voel dit vir jou ook of die Here nou te veel van jou vra?

Al wat die dissipels gehad het was twee vissies en vyf broodjies. Dit was genoeg om vir so ongeveer 15 mense kos te gee en nou vra Jesus dat hulle meer as 5000 mense daarmee kos moet gee!

Hier beleef ons egter die grootheid van God se genade. Hy verwag nie van die dissipels om die onmoontlike te doen nie. Hy verwag ook nie van jou om die onmoontlike te doen nie!

Hy vat dit wat hulle het en dank God daarvoor en dan maak Hy die onmoontlike moontlik! Dis wat Jesus ook in hierdie tyd vir jou vra. Bring wat jy het na Hom toe. Dank God vir die bietjie wat jy het en Hy sal dit genoeg maak om mee te doen wat Hy van jou vra.

Hoe lyk ons twee vissies en vyf broodjies? Ons het in die volgende drie weke tyd. Die meeste van ons het selfone en internet sodat ons op verskeie maniere met mekaar kan kommunikeer. Ons het God se liefde in ons harte. Bring dit na die Here toe en Hy sal dit seën.

Nadat Jesus God gedank het en Hy die broodjies en die vissies geseën het, het Jesus dit vir die dissipels terug gegee om uit te deel. Jesus gebruik sy kerk om sy werk te doen.

Reik uit na mense. Begin by die mense wat saam met jou in die huis is. Maak tyd vir mekaar. Met die lewe wat so gejaagd is, leef ons so maklik by mekaar verby. Nou het die Here vir ons geleentheid gegee om om weer bietjie by mekaar te kom.

Gaan dan na jou vriende en kennisse en die en jou bure, jou broers en susters in die gemeente. Hoor hoe dit gaan. Dink aan praktiese maniere om mekaar te help.

Vir die wat Jesus nie ken nie, vertel vir hulle die goeie nuus omtrent Hom, dat Hy sy lewe gegee het en aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Dat Hy die dood oorwin het en opgestaan het. Dat Hy vir jou 'n nuwe lewe saam met God gee. Vertel vir hulle hoe Jesus jou lewe verander het.

Al is dit net een of twee dan maak jy 'n verskil. As elkeen van ons na twee of drie mense uitreik in hierdie tyd sal ons 'n groot verskil in hierdie wêreld maak.

As jy nog net deel is van die skare wat agter Jesus aanloop, neem sy uitnodig aan. Kom na Hom toe almal wat uitgeput en oorlaai is en Hy sal vir jou rus gee.

As jy ’n dissipel is, dit wil sê 'n navolger van Jesus is, bring jou twee vissies en vyf broodjies na Jesus toe om dit te seën. Gaan deel dit dan uit aan mense wat Hoop nodig het.

Wees 'n ligbaken van hoop in donker onsekere tye.
Amen