22 Maart 2020

Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?


Datum: 22 Mar. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni
Skriflesing: Mat. 14 v 22 - 36
Teksvers: Mat. 14 v 27 “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”




Hoe vind jy kalmte binne die gekheid van 'n storm?

Verlede Sondagaand het ons president 'n ramptoestand aangekondig en streng maatreëls aangekondig om te probeer keer dat die virus ongehinderd duisende mense infekteer.

Dit het 'n paniek onder mense laat ontstaan. Sommige mense het die volgende dag die winkels ingevaar en met paniek aankope winkelrakke leeggekoop. Dis inderdaad of mens 'n gees van vreesagtigheid by mense waarneem.

Dit is nie seker hoe hierdie situasie ons lewens gaan beïnvloed nie, maar kenners is dit eens, dit gaan ons lewens drasties verander. Ons kan inderdaad sê dat die Korona storm in Suid-Afrika losgebars het.

Dit is hier waar ons roeping as Christene, as kerk van ons Here intree om ligdraers te wees. Om perspektief te bring binne 'n wêreld wat in chaos gedompel word. Dis ons roeping om hoop te bring aan 'n wêreld wat in donkerte toegevou word. Dis ons roeping om ligdraers te wees.

Hoe doen ons dit wanneer ons self ook benoud is? Met hierdie verhaal van Jesus se dissipels in 'n storm gee die Here vir ons die perspektief hoe ons, verby ons vrees en benoudheid gaan kom, want as jy 'n ligdraer wil wees moet jy eers kalmte en rustigheid in jou eie gemoed vind. Dan kan jy uitgaan in die wêreld en uit jou innerlike vrede hoop en lig in die wêreld indra.

In hierdie verhaal is daar 'n paar dinge waarop ons moet let. Jesus se dissipels het hulself binne in 'n storm bevind wat erg genoeg was om hulle te oorweldig.

Hoekom was hulle binne in hierdie storm? Het hulle iets verkeerd gedoen? Nee, geliefdes. Hulle was binne in hierdie storm omdat Jesus hulle uitgestuur het en hulle Hom gehoorsaam het.

Die storms in jou lewe is nie altyd omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die Korona virus is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie. Die siekte waarmee jy geteister word is nie omdat jy iets verkeerd gedoen het nie.

Ons hoor in Mat. 14 v 22 dat Jesus sy dissipels uitgestuur het. Het Hy geweet dat hulle binne in 'n storm gaan beland wanneer hulle wegvaar? Ja, geliefdes Hy het geweet.

Maak dit jou bang dat ons Here jou soms in 'n storm gaan instuur? Maak dit jou bang dat die Here ons binne in hierdie Korona virus storm geplaas het?

Die dissipels het heel nag teen die storm gestoei. Mens kan jou net indink hoe benoud hulle was. Jesus was nie saam met hulle in die boot nie. Beteken dit dat Hy hulle aan hulle eie lot oorgelaat het? Nee, geliefdes. Dit wat daar met die dissipels gebeur het was nog steeds binne God se beheer. Soms lyk dit of God ons binne die chaos van ons lewens in die steek gelaat het. Ons voel nie sy teenwoordigheid, maar Hy is daar. Hy het ons immers belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

Nadat die dissipels die hele nag lank gestoei het, het Jesus met dagbreek die volgende oggend op die see na hulle toe aangeloop gekom. Was hulle bly toe hulle Jesus sien aankom? Nee, geliefdes, hulle het gedink Hy is 'n spook!

Sien jy vir Jesus raak binne die storms wat in jou lewe woed?

Was Jesus verontwaardig dat hulle Hom vir 'n spook aangesien het? Nee, geliefdes. Luister na wat Jesus vir die dissipels sê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.” Letterlik staan daar “Ek is” wat hier vertaal is met “dit is Ek.”

Dit is hoe God Homself in die Ou Testament aan Moses voorstel by die brandende braambos. “Ek is.” In die Nuwe Testament hoor ons hoe Jesus Homself noem “Ek is.” “Ek is die brood van die lewe. Ek is die Lig van die wêreld. Ek is die ingang na redding. Ek is die Goeie Herder wat na sy skape omsien. Ek is die opstanding en die lewe. Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Ek is die ware Wingerdstok. Julle is in My ingeënt.”

Jesus sê vir sy dissipels “Ek is.” Met ander woorde Hy sê vir hulle, Hy is almagtige God. Sien u raak dat die ewige almagtige God saam met u in die lewensstorm storm is?

Dan kom ons by daardie deel waar Petrus saam met Jesus op die water loop. Petrus het egter nie lank op die water geloop voordat hy begin sink het nie want hy het sy oë van Jesus afgehaal.

Hoekom het Petrus sy oë van Jesus afgehaal? Petrus antwoord Jesus se gerusstelling van “Ek is” met “Here, as dit regtig U is.....” Hoor u die ongeloof in Petrus se reaksie? Hy was nog nie oortuig dat Jesus werklik was wie Hy gesê het Hy is nie. Jesus bevestig Petrus se ongeloof nadat Hy hom gegryp het en hom sê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”  

Dis ongeloof wat maak dat ons in die golwe begin wegsink in die storms in ons lewens. God se genade is dat Hy ons nie maar net aan ons eie lot oorlaat nie. Jesus het Petrus se hand gegryp en hom in die boot in gehelp.

Glo jy dat Jesus die Seun van God is? Glo jy dat Hy aan 'n vervloekte kruishout gesterf het om vir jou sondes te betaal? Glo jy dat Hy die dood oorwin het en nou lewe? Glo jy dat Hy vir jou 'n nuwe lewe gee?

Christene leef vanuit hul geloof. Dit is hoekom Christene in die wêreld ingaan en 'n verskil gaan maak. Dit is hoekom gelowiges op praktiese maniere uitreik na hul naastes in krisis tye soos hierdie deur byvoorbeeld vir die wat afgesonder is en nie uit die huis mag uitgaan nie, te gaan inkopies doen. Dis hoekom gelowiges die nodige voorsorg maatreëls tref sodat hulle nie ander in gevaar stel nie. Christene doen hierdie dinge in geloof en nie uit paniek uit nie.

Geliefdes die verhaal sluit af waar die storm bedaar en die dissipels Jesus erken as Seun van God. Beteken dit dat hierdie storm met die korona virus gaan bedaar? Ja, dit gaan ook verbygaan.

Beteken dit dat dit nou binnekort gaan gebeur? Heel waarskynlik nie. Die dissipels het die hele nag lank in die storm gestoei. Die moontlikheid bestaan dat daar van ons ook deur die virus geïnfekteer gaan word.

Die moontlikheid bestaan dat daar van ons kan sterf as gevolg van die virus. Maar geliefdes selfs as dit sou gebeur hoef ons nie bang te wees nie, want Jesus belowe ons dat selfs die dood ons nie van sy liefde kan skei nie.

Onthou net dat dit steeds God is wat bepaal wanneer ons, ons laaste lewensasem gaan uitblaas. As dit jou tyd is, kan Hy moontlik die virus gebruik om jou te kom haal. As dit nie jou tyd is nie, kan geen virus hoe gevaarlik ook al, jou lewe neem nie, want jou lewe is binne God se hande.

Geliefdes, moenie dat hierdie pandemie u paniekerig en benoud maak nie. God is ook binne hierdie storm teenwoordig. Hou in geloof aan sy beloftes vas. Hou jou oë gerig op Jesus sodat jy nie in die golwe van vrees en wanhoop wegsink nie.
Amen 



1 opmerking:

  1. baie bemoedigende boodskap, veral ook in ons omstandighede. ons hou vas aan Jesus se woorde. Dankie ds George

    AntwoordVee uit