01 Maart 2020

Moenie moed verloor in die oorlog teen die kerk nie want God het die vyand klaar oorwin.


Datum: 1 Mar. 2020 GKE
Open. 12 v 1 - 17



Die lewe word al hoe moeiliker. Hoekom? Hoekom moet die lewe so swaar wees?

Die lewe is swaar want ons staan midde in 'n oorlog wat om ons heen woed. Dit is 'n oorlog wat begin het kort na die skepping en dit duur nog steeds voort.

Ons sien die verwoestende gevolge van hierdie oorlog om ons raak in die geestelike verval van die mensdom. Ons sien dit in die aanslag teen die kerk op al die verskillende terreine. Dwaalleer wat die kerk insypel, die swaarkry in die kerk. Mense wat afvallig word.

Die aanslag van die negatiewe en bloeddorstige magte van satan teen Christus en sy kerk is fel en meedoënloos. In hierdie bedeling totdat Christus weer kom op die wolke sal die kerk nie sonder stryd en volharding kan bestaan nie.

Hierdie verwoestende gevolge kan maklik daartoe lei dat ons moedeloos word en dat ons wil tou opgooi.

In Openbaring 12 bemoedig die Here ons met die troos dat ons nie moed moet verloor in die oorlog wat om ons woed nie want Hy het die vyand klaar oorwin.

Eie aan Openbaring, gebruik die Here hier ook beeldspraak om vir ons perspektief te gee op die gebeure rondom ons. Hierdie beskrywing begin met twee tekens.

'n Groot teken wat in die hemel verskyn, 'n verwagtende vrou. Die beskrywing van die heerlikheid van die vrou beklemtoon haar grootsheid omdat sy van God af kom. Die ander teken wat ondergeskik is aan die grootsheid van die vrou is die vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings. Hierdie twee tekens beskryf vir ons die magte wat hier teenoor mekaar staan in hierdie oorlogsstryd.

Dan volg daar 'n beskrywing van drie veldslae in hierdie oorlog.
Ø Die eerste is die stryd tussen die gebore Christuskind en die draak.
Ø Die tweede strydtoneel beskryf die oorlog in die hemel waar die aartsengel Migael teen die draak veg en ook die oorwinningslied wat volg op die draak se nederlaag.
Ø Die derde strydtoneel beskryf die oorlog op aarde wat die draak teen die vrou en haar nakomelinge voer.

Die vrou en die draak
Die beeld van die verwagtende vrou verteenwoordig die kerk oor die eeue heen. Reeds in die Ou Testament word Israel voorgehou as 'n vrou met geboortepyne, soos ons byvoorbeeld in Jes. 26:17, 66:7 en Miga 4:10 hoor. Uit die verbondsvolk Israel is die Messias gebore. Die kind aan wie die vrou geboorte skenk is Christus.

Haar pynkrete is simbolies van die vervolging en swaarkry wat die kerk van die begin af tot in die eindtyd op pad na Christus se wederkoms moet deurgaan. Dit sê vir ons dat voor die volmaakte kan aanbreek, die kerk eers die onvolmaakte aan eie lyf moet voel.

Die groot teken waarvan ons in Open. 12 v 1 hoor is dus die vervulling van Jes. 7 v 14 wat vertel van die jong vrou wat swanger is en 'n seun in die wêreld sal bring en Hom Immanuel, dit is God met ons, sal noem.

Die ander teken is die vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings. Hierdie veelkoppige draak is God se groot vyand en dit verwys ook terug na die slang van Gen. 3. In Joh. 8 v 44 hoor ons ook van die vuurrooi draak wat satan as menseslagter voorstel. Die draak verwys dus na die satan en 'n derde van die hemelwesens wat in opstand teen God gekom het.

Die eerste strydtoneel, die stryd tussen die gebore Christuskind en die draak.
Die draak staan gereed om die Kind te verslind sodra Hy gebore word. In hierdie atmosfeer van stryd laat die Vader sy enigste Seun in 'n voerkrip in Betlehem mens word. Maar terwyl die draak hom nog oorhaal om sy bose planne uit te voer om die Christuskind dood te maak, word die Kind weggeruk na God en na sy troon toe.

Die Griekse woord wat met weggeruk vertaal is, is 'n sterk woord wat dui op daadwerklike aksie en dit verwys na Jesus se opwekking uit die dood en sy hemelvaart.

Ons hoor hier egter niks van Jesus se aardse lewe, bediening, prediking of wonders nie want Openbaring fokus op sy heerskappy hier op aarde. Jesus se aardse bestaan word kort en kragtig opgesom in die titel “die Lam” wat 30 keer in Openbaring op Christus se dood en opstanding dui.

Een ding word egter al hoe duideliker. Die satan het sy aardse stryd teen Christus verloor. Christus het die vyand se grootste wapen oorwin. Hy het die mag van die dood gebreek.

En net soos God vir sy Seun gesorg het, sorg Hy ook vir sy kerk en die gelowiges. God het vir haar 'n plek in die woestyn gereed gemaak en Hy gee vir haar arendsvlerke om haar daarnatoe te dra weg van die vyand wat gereed staan om haar te verslind.

In die woestyn wat woes en leeg is waar niks of niemand jou kan help nie sorg God vir die vrou dit wil sê die kerk. Dit is net God se sorg wat haar onderhou. Hierdie versorging en voeding is geestelik van aard. Verlede week byvoorbeeld het God ons geloof gevoed met die gebruik van Nagmaal. Die 1260 dae wat hier genoem word verwys simbolies na tyd van felle vervolging

Die tweede strydtoneel: die oorlog in die hemel tussen Migael en die draak.
In Daniel 10 v 13, 21 en 12 v 1 hoor ons dat Migael een van die vernaamste engele, die hoofprins van die hemelse leër is. Ook in hierdie stryd het die satan die onderspit gedelf. Hy en sy volgelinge is uit die hemel uitgegooi en God word nou as alleenheerser in die hemel erken. Al is die satan die sogenaamde god van hierdie wêreld, is hy 'n verslane god.

Oor hierdie oorwinning hoor ons 'n hemelse koorlied waar daar gejubel word oor die redding wat God gebring het. Die oorwinning is anders as wat mens sou verwag, nie met die swaard behaal nie. Deur sy liefde het die Lam met sy bloed, dit wil sê met die kruisgebeure, die satan oorwin. Wat op die oogaf na 'n nederlaag lyk is eintlik een van die grootste oorwinnings oor alle tye.

Die gelowiges deel in hierdie oorwinning deur hulle klere geestelik in die bloed van die Lam te was, dit wil sê deur hul geloof in die evangelie en daarom moet hulle ook getuig van hierdie oorwinning.

Prakties beteken dit dat ons deel in Christus se oorwinning oor die bose by Golgota en deur die leë graf deur ons belydenis, getuienis en leefstyl. Die troos wat hier na vore kom is dat nie nodig het om die bose weer te oorwin nie. Al wat ons moet doen is om deur ons getuienis Christus se oorwinning op elke lewensterrein te proklameer.

Die effektiwiteit van ons getuienis lê egter daarin dat dit nie net 'n mondelinge belydenis is nie, maar dat dit ook in ons alledaagse lewe na vore moet kom.

Ons lewenstaak is nie net oorlewing nie, maar oorwinning, al kos dit ons ook martelaarskap, want die vervolging en dreigemente van die bose raak nie minder op die pad na die finale einde toe nie.

Aan die een kant juig ons oor die oorwinning, maar aan die ander kant moet ons ook weet dat die stryd nog nie verby is nie.

Die derde strydtoneel beskryf die oorlog op aarde wat die draak teen die vrou en haar nakomelinge voer.
Die satan gee eenvoudig nie moed op nie. Hy en sy volgelinge is uit die hemel uit gegooi en nou draai sy woede en wraak teen die vrou dit wil sê die kerk en haar nakomelinge. Die kerk is die kerk van alle eeue en haar nakomelinge is die plaaslike kerke wat nou bestaan.

Die vrou vlug na die woestyn toe met arendsvlerke wat die Here vir haar gegee het. In sy woede spoeg die slang, dit wil sê die satan 'n vloedgolf water agter die vrou aan, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word. Hierdie stroom water stel die vloedgolf vervolging en slinksheid van die slang, die satan voor.

Dit is hier waar ons die oorlog van die bose aan eie lyf voel. Ons sien dit in die vervolging van die kerk dwarsoor die wêreld. Ons moet egter nie die slinksheid van die satan onderskat nie, want hy is ook besig om ons op 'n baie subtiele manier aan te val. Die satan beheer jou nie met sy bytmerke aan jou lyf nie, maar met die leuens wat hy in jou hart plaas.

Al die verleidelikhede van die wêreld. Die lewe raak so besig dat ons nie meer tyd het vir die Here nie. Die kerk is nie meer belangrik nie. Daar’s nie meer tyd om te stil te word in God se teenwoordigheid nie. Die gejaagdheid van die lewe put ons uit en oorlaai ons. Dis waar depressie vandaan kom. Waarom ons moedeloos word oor die lewe en daar soveel onmin in ons lewens is.

Soms voel dit of ons in die woestyn is waar daar niks of niemand is wat kan help nie. Dit voel of jy gestraf word, maar soms is dit nodig dat jy tyd in die woestyn moet deurbring. Want al wat jy in die woestyn het is Jesus en dit is eers dan dat jy agterkom dat dit al is wat jy nodig het. Wanneer jy op die Here staatmaak sal jy sien dat die stroom wat die satan agter jou aan spoeg jou nie kan bereik nie.

As jy die aanslag van die satan in eie krag probeer veg, is jy verlore. Dis net nie moontlik om hom in eie krag te oorwin nie. As jy so na al die swaarkry om jou kyk, die afvalligheid wat dit laat lyk of die kerk nie gaan oorleef nie. Die twyfel in jou eie hart. Moenie moedeloos word nie.

Moenie teen die woede van die draak vaskyk nie. Hou vas aan die getuienis van Jesus met die sekere wete dat God die vyand klaar oorwin het en dat die uitkoms van hierdie laaste stryd ook verseker is. Die bose sal ons nie wen nie want God is aan ons kant. Hy het die vyand reeds oorwin.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking