Wys tans plasings met die etiket Bybelse hoop. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Bybelse hoop. Wys alle plasings

23 Augustus 2026

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

 

Psalm 42 & 43

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.

Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my lied. 

Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die dieptes van ons menswees. 

Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed. 

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  In hierdie Psalm sien ons hoe...

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens hierdie Psalm lees vind jy jouself so maklik in die gemoed van hierdie digter. 

Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?

Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42 (6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm gemaak. 

Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in geloofsvertroue en sing: “Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig van die Koragiete” is.  Die Koragiete was die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het.  Baie jare later sou Dawid die familie van Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41).  Hierdie diens het hulle tot lank na die ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).

As sangleier moes die digter dus baie keer die volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in verlustig.

Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot ellende begin.  Want hy is skierlik vêr van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.

Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.

Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)

Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle lewe. 

Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel van: God is so bitter vêr. 

ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te sê het nie;

ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie vier mure nie;

ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak. 

En dan die verlange, die terug dink na dae toe God so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.

En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die digter.  Die gevolg: al sy vyande spot hom en sê:  En waar is jou God nou?” (42:11).

Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God hom nie meer help nie?

My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”

Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?

God is so vêr,   Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling.   Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van ons spring dit vry nie.

Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.

Maar vir die gelowige? 

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die moeilikste omstandighede, al is daar baie rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n lewende hoop!

Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God

Hoop op God” moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van onsekerheid in. 

Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te wees. Om seker te wees van die dinge waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?

In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op dit wat God in die verlede gedoen het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom, weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk” (v. 9) . 

As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot hiertoe by ons gewees. 

Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe.  "Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God”  (v. 3-4).  Die digter het die sekerheid gehad dat God hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.

Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak.  Christus wat self gesê het: Ek is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12)

As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid, kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.

Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het nie.

Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).  Aan die kruis was Christus deur God verlaat.  Daardeur het Hy vir ons die weg gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in ewigheid in my Vader se woning sal wees

Die hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het hy gesien dat Hy weer by God sal wees.

Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n vaste sekerheid wat reeds gebeur het.

Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig by God sal wees.

Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)

Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en terugslae my laat dink dat God my vergeet het:

Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop

Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God

O my siel, waarom so onrustig?

       En wat buig jy jou in my?

       Vertrou op God, in Hom weer rustig!

       In sy lof sal ek my verlustig

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God! 

Amen


01 Maart 2020

Moenie moed verloor in die oorlog teen die kerk nie want God het die vyand klaar oorwin.


Datum: 1 Mar. 2020 GKE
Open. 12 v 1 - 17



Die lewe word al hoe moeiliker. Hoekom? Hoekom moet die lewe so swaar wees?

Die lewe is swaar want ons staan midde in 'n oorlog wat om ons heen woed. Dit is 'n oorlog wat begin het kort na die skepping en dit duur nog steeds voort.

Ons sien die verwoestende gevolge van hierdie oorlog om ons raak in die geestelike verval van die mensdom. Ons sien dit in die aanslag teen die kerk op al die verskillende terreine. Dwaalleer wat die kerk insypel, die swaarkry in die kerk. Mense wat afvallig word.

Die aanslag van die negatiewe en bloeddorstige magte van satan teen Christus en sy kerk is fel en meedoënloos. In hierdie bedeling totdat Christus weer kom op die wolke sal die kerk nie sonder stryd en volharding kan bestaan nie.

Hierdie verwoestende gevolge kan maklik daartoe lei dat ons moedeloos word en dat ons wil tou opgooi.

In Openbaring 12 bemoedig die Here ons met die troos dat ons nie moed moet verloor in die oorlog wat om ons woed nie want Hy het die vyand klaar oorwin.

Eie aan Openbaring, gebruik die Here hier ook beeldspraak om vir ons perspektief te gee op die gebeure rondom ons. Hierdie beskrywing begin met twee tekens.

'n Groot teken wat in die hemel verskyn, 'n verwagtende vrou. Die beskrywing van die heerlikheid van die vrou beklemtoon haar grootsheid omdat sy van God af kom. Die ander teken wat ondergeskik is aan die grootsheid van die vrou is die vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings. Hierdie twee tekens beskryf vir ons die magte wat hier teenoor mekaar staan in hierdie oorlogsstryd.

Dan volg daar 'n beskrywing van drie veldslae in hierdie oorlog.
Ø Die eerste is die stryd tussen die gebore Christuskind en die draak.
Ø Die tweede strydtoneel beskryf die oorlog in die hemel waar die aartsengel Migael teen die draak veg en ook die oorwinningslied wat volg op die draak se nederlaag.
Ø Die derde strydtoneel beskryf die oorlog op aarde wat die draak teen die vrou en haar nakomelinge voer.

Die vrou en die draak
Die beeld van die verwagtende vrou verteenwoordig die kerk oor die eeue heen. Reeds in die Ou Testament word Israel voorgehou as 'n vrou met geboortepyne, soos ons byvoorbeeld in Jes. 26:17, 66:7 en Miga 4:10 hoor. Uit die verbondsvolk Israel is die Messias gebore. Die kind aan wie die vrou geboorte skenk is Christus.

Haar pynkrete is simbolies van die vervolging en swaarkry wat die kerk van die begin af tot in die eindtyd op pad na Christus se wederkoms moet deurgaan. Dit sê vir ons dat voor die volmaakte kan aanbreek, die kerk eers die onvolmaakte aan eie lyf moet voel.

Die groot teken waarvan ons in Open. 12 v 1 hoor is dus die vervulling van Jes. 7 v 14 wat vertel van die jong vrou wat swanger is en 'n seun in die wêreld sal bring en Hom Immanuel, dit is God met ons, sal noem.

Die ander teken is die vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings. Hierdie veelkoppige draak is God se groot vyand en dit verwys ook terug na die slang van Gen. 3. In Joh. 8 v 44 hoor ons ook van die vuurrooi draak wat satan as menseslagter voorstel. Die draak verwys dus na die satan en 'n derde van die hemelwesens wat in opstand teen God gekom het.

Die eerste strydtoneel, die stryd tussen die gebore Christuskind en die draak.
Die draak staan gereed om die Kind te verslind sodra Hy gebore word. In hierdie atmosfeer van stryd laat die Vader sy enigste Seun in 'n voerkrip in Betlehem mens word. Maar terwyl die draak hom nog oorhaal om sy bose planne uit te voer om die Christuskind dood te maak, word die Kind weggeruk na God en na sy troon toe.

Die Griekse woord wat met weggeruk vertaal is, is 'n sterk woord wat dui op daadwerklike aksie en dit verwys na Jesus se opwekking uit die dood en sy hemelvaart.

Ons hoor hier egter niks van Jesus se aardse lewe, bediening, prediking of wonders nie want Openbaring fokus op sy heerskappy hier op aarde. Jesus se aardse bestaan word kort en kragtig opgesom in die titel “die Lam” wat 30 keer in Openbaring op Christus se dood en opstanding dui.

Een ding word egter al hoe duideliker. Die satan het sy aardse stryd teen Christus verloor. Christus het die vyand se grootste wapen oorwin. Hy het die mag van die dood gebreek.

En net soos God vir sy Seun gesorg het, sorg Hy ook vir sy kerk en die gelowiges. God het vir haar 'n plek in die woestyn gereed gemaak en Hy gee vir haar arendsvlerke om haar daarnatoe te dra weg van die vyand wat gereed staan om haar te verslind.

In die woestyn wat woes en leeg is waar niks of niemand jou kan help nie sorg God vir die vrou dit wil sê die kerk. Dit is net God se sorg wat haar onderhou. Hierdie versorging en voeding is geestelik van aard. Verlede week byvoorbeeld het God ons geloof gevoed met die gebruik van Nagmaal. Die 1260 dae wat hier genoem word verwys simbolies na tyd van felle vervolging

Die tweede strydtoneel: die oorlog in die hemel tussen Migael en die draak.
In Daniel 10 v 13, 21 en 12 v 1 hoor ons dat Migael een van die vernaamste engele, die hoofprins van die hemelse leër is. Ook in hierdie stryd het die satan die onderspit gedelf. Hy en sy volgelinge is uit die hemel uitgegooi en God word nou as alleenheerser in die hemel erken. Al is die satan die sogenaamde god van hierdie wêreld, is hy 'n verslane god.

Oor hierdie oorwinning hoor ons 'n hemelse koorlied waar daar gejubel word oor die redding wat God gebring het. Die oorwinning is anders as wat mens sou verwag, nie met die swaard behaal nie. Deur sy liefde het die Lam met sy bloed, dit wil sê met die kruisgebeure, die satan oorwin. Wat op die oogaf na 'n nederlaag lyk is eintlik een van die grootste oorwinnings oor alle tye.

Die gelowiges deel in hierdie oorwinning deur hulle klere geestelik in die bloed van die Lam te was, dit wil sê deur hul geloof in die evangelie en daarom moet hulle ook getuig van hierdie oorwinning.

Prakties beteken dit dat ons deel in Christus se oorwinning oor die bose by Golgota en deur die leë graf deur ons belydenis, getuienis en leefstyl. Die troos wat hier na vore kom is dat nie nodig het om die bose weer te oorwin nie. Al wat ons moet doen is om deur ons getuienis Christus se oorwinning op elke lewensterrein te proklameer.

Die effektiwiteit van ons getuienis lê egter daarin dat dit nie net 'n mondelinge belydenis is nie, maar dat dit ook in ons alledaagse lewe na vore moet kom.

Ons lewenstaak is nie net oorlewing nie, maar oorwinning, al kos dit ons ook martelaarskap, want die vervolging en dreigemente van die bose raak nie minder op die pad na die finale einde toe nie.

Aan die een kant juig ons oor die oorwinning, maar aan die ander kant moet ons ook weet dat die stryd nog nie verby is nie.

Die derde strydtoneel beskryf die oorlog op aarde wat die draak teen die vrou en haar nakomelinge voer.
Die satan gee eenvoudig nie moed op nie. Hy en sy volgelinge is uit die hemel uit gegooi en nou draai sy woede en wraak teen die vrou dit wil sê die kerk en haar nakomelinge. Die kerk is die kerk van alle eeue en haar nakomelinge is die plaaslike kerke wat nou bestaan.

Die vrou vlug na die woestyn toe met arendsvlerke wat die Here vir haar gegee het. In sy woede spoeg die slang, dit wil sê die satan 'n vloedgolf water agter die vrou aan, sodat sy deur die stroom meegesleur kon word. Hierdie stroom water stel die vloedgolf vervolging en slinksheid van die slang, die satan voor.

Dit is hier waar ons die oorlog van die bose aan eie lyf voel. Ons sien dit in die vervolging van die kerk dwarsoor die wêreld. Ons moet egter nie die slinksheid van die satan onderskat nie, want hy is ook besig om ons op 'n baie subtiele manier aan te val. Die satan beheer jou nie met sy bytmerke aan jou lyf nie, maar met die leuens wat hy in jou hart plaas.

Al die verleidelikhede van die wêreld. Die lewe raak so besig dat ons nie meer tyd het vir die Here nie. Die kerk is nie meer belangrik nie. Daar’s nie meer tyd om te stil te word in God se teenwoordigheid nie. Die gejaagdheid van die lewe put ons uit en oorlaai ons. Dis waar depressie vandaan kom. Waarom ons moedeloos word oor die lewe en daar soveel onmin in ons lewens is.

Soms voel dit of ons in die woestyn is waar daar niks of niemand is wat kan help nie. Dit voel of jy gestraf word, maar soms is dit nodig dat jy tyd in die woestyn moet deurbring. Want al wat jy in die woestyn het is Jesus en dit is eers dan dat jy agterkom dat dit al is wat jy nodig het. Wanneer jy op die Here staatmaak sal jy sien dat die stroom wat die satan agter jou aan spoeg jou nie kan bereik nie.

As jy die aanslag van die satan in eie krag probeer veg, is jy verlore. Dis net nie moontlik om hom in eie krag te oorwin nie. As jy so na al die swaarkry om jou kyk, die afvalligheid wat dit laat lyk of die kerk nie gaan oorleef nie. Die twyfel in jou eie hart. Moenie moedeloos word nie.

Moenie teen die woede van die draak vaskyk nie. Hou vas aan die getuienis van Jesus met die sekere wete dat God die vyand klaar oorwin het en dat die uitkoms van hierdie laaste stryd ook verseker is. Die bose sal ons nie wen nie want God is aan ons kant. Hy het die vyand reeds oorwin.
Amen

10 Desember 2017

Jesus se menswording gee vir ons `n lewende hoop


10 Des 2017 GKE

2 Sam 7 v 1 – 16 teksverse 2 Sam 7 v11b & 16



Sing  °¯

Ps. 118-1 v 12 & 14

Ps. 130-1 v 1, 3 & 4

Ps. 119-2 v 10 & 26

Ps. 146 v 1 tot 3

 Wat is ware Bybelse hoop regtig?

Verlede week het ons gehoor hoe die mens se rebelse ongehoorsaamheid die hele mensdom se toekoms vooruitsigte in hopeloosheid gedompel het. Ons het ook gehoor van God se genade wat vir die mens hoop gee met die belofte dat daar iemand uit sy nageslag sal kom wat die bose gaan oorwin.

Hierdie belofte word dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Abraham kry in Gen 12 v 3 die belofte dat sy nageslag ’n seën vir die wêreld sal wees. Daar is hoop. Die bose sal nie die laaste sê hê nie. Moses kry in Deut. 18 v 15 die belofte dat daar na ’n hom ’n profeet na vore sal kom wat soos die Here is. Hierdie is maar enkele voorbeelde van die belofte wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop.

In ons teks 2 Sam 7 v 11b en 16 hoor ons hoe die Here hierdie belofte van hoop ook aan Dawid maak.

Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. ....

......... Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Dit gaan nie oor wat die mens met sy godsdiens vir God wil doen nie, maar wel oor wat God vir die mens wil doen en dat die mens by God se wil moet inpas. God woon nie in ’n tempel nie, maar in die wel en wee van mense. Dawid wil vir die Here ’n huis bou, maar die Here sê vir Dawid nee. Ek het nie ’n rusplek nodig nie, maar ek gee vir jou ’n rusplek. Jy gaan nie vir my ’n huis bou nie, maar Ek gaan vir jou ’n koningshuis bou wat vir altyd gaan bestaan.

Hiermee sê die Here vir Dawid dat Hy vir hom ’n besondere nageslag gaan gee. In Hand 2:29 tot 31 hoor ons:

 “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.”

Die belofte van koningshuis wat vir altyd sal bly bestaan wys na Jesus. Hy is die seun van Dawid, die Messias, die gesalfde van God wat vir altyd op die troon sal sit.

Hiermee herhaal die Here net weereens daardie belofte van hoop wat Hy reeds in Gen 3 gemaak het. Daar is hoop want daar sal iemand uit die nageslag kom wat die mensdom gaan verlos uit hul hopelose slawerny waarin die bose hulle vasgevang het.

Die vraag is nou: “wat presies is hierdie hoop?” Hoop is die verwagting dat die toekoms iets beters inhou. Wat is hierdie iets beters? Ons kan hier onderskei tussen wêreldse hoop en Bybelse hoop. Wêreldse hoop is die optimisme dat daar ’n kans is dat dinge vorentoe beter sal gaan. Die verwagting dat my omstandighede beter gaan word. Daar is egter nie ’n vaste basis wat kan waarborg dat dit sal gebeur of waarom dit sal gebeur nie. Daar is ’n moontlikheid dat dinge ook slegter kan word. Daar is dus geen waarborge nie.

Teenoor dit het ons die Bybelse hoop. Bybelse hoop is nie op omstandighede gebaseer nie. Die basis van Bybelse hoop is op God gebaseer. Die Hebreeuse woorde wat ons in die Ou Testament met hoop vertaal, beteken letterlik om te wag. Dit verwys na die spanning wat in ’n tou of lyn opbou wanneer jy dit trek totdat daardie spanning te veel word en die tou breek. Die afwagting in die spanning dat daar iets gaan gebeur. Hoop is dus om te wag met ’n verwagting.

Die vraag is: “waarvoor is die verwagting?” In Jesaja hoor ons hoe die volk in Ballingskap weggevoer is en hoe die profeet vir die volk sê dat die Here sy aangesig vir Israel verberg het, maar dat hulle enigste redding is om op God te hoop. Hulle omstandighede wys nie dat dit gaan beter word nie en daarom hoop hulle op God alleen want daar is niks anders waarop hulle, hul hoop kan plaas nie. Hulle wag op die Here.

Bybelse hoop is dus op God gefokus en nie op omstandighede nie. Die mense in die Bybel wat hoop, sien raak dat daar geen bewyse is dat jou omstandighede beter sal raak nie, maar hulle hoop in elk geval en daardie hoop is op God gevestig. Dit wat God in die verlede gedoen het, is die motivering vir die hoop in die toekoms. Ons kyk dus vorentoe deur terug te kyk na wat God reeds gedoen het. Bybelse hoop is net op God se karakter gevestig en op niks anders nie soos ons ook in Ps. 39:8 hoor.

Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop.

In die Nuwe Testament hoor ons ook hoe Jesus se volgelinge gehoop het. Jesus se geboorte, sy lewe, dood en opstanding is God se antwoord op ons verslawing van boosheid en dood.  
In 1 Pet 1 v 3 & 4 hoor ons:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Bybelse hoop is gefokus op die persoon van Jesus. Dis die lewende hoop dat elkeen wat die goeie nuus oor Jesus Christus glo, as nuwe mense weergebore sal word. Bybelse hoop is op God, Vader Seun en Heilige Gees gevestig. Die Vader wat die Seun gestuur het. Die Seun wat gehoorsaam was en as mens gebore is met die hulp van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat geloof gee sodat ons dit wat Jesus op aarde gedoen het, geboorte, lewe, kruisiging en opstanding ons eie kan maak.

Dit is die belofte van hoop wat reeds in Genesis gemaak is en wat dwarsdeur die Ou Testament herhaal word. Dit is die hoop op dit wat God beplan vir die heelal, naamlik dat dit losgemaak gaan word van die verydeling en sondeslawerny waarin die mens dit gedompel het. Bybelse hoop, is die hoop dat dit wat met die sondeval gebreek is, weer herstel sal word. Die verhouding met God wat gebreek is, is weer deur Jesus Christus herstel omdat Hy as mens gebore is so bietjie meer as 2000 jaar gelede en wat in sy kruisiging en opstanding geëindig het.

Bybelse hoop is nie op optimisme van ’n onsekere kans dat omstandighede sal beter word, gevestig nie. Bybelse hoop is op God wat die bepaler van ons omstandighede is, gevestig. Daarom, selfs al is ons omstandighede nou nie baie goed nie en al is daar geen bewyse dat dinge gaan beter word nie, hoop ons nog steeds, want ons hoop is op God gevestig. Daarom vertrou ons dat God in beheer is en ons vertrou op sy tydsberekening.

Bybelse hoop beteken om te wag op die Here en daarom, geliefdes, wag op die Here!

Amen