Wys tans plasings met die etiket Christus word mens' Jesus menswording. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Christus word mens' Jesus menswording. Wys alle plasings

10 Desember 2017

Jesus se menswording gee vir ons `n lewende hoop


10 Des 2017 GKE

2 Sam 7 v 1 – 16 teksverse 2 Sam 7 v11b & 16



Sing  °¯

Ps. 118-1 v 12 & 14

Ps. 130-1 v 1, 3 & 4

Ps. 119-2 v 10 & 26

Ps. 146 v 1 tot 3

 Wat is ware Bybelse hoop regtig?

Verlede week het ons gehoor hoe die mens se rebelse ongehoorsaamheid die hele mensdom se toekoms vooruitsigte in hopeloosheid gedompel het. Ons het ook gehoor van God se genade wat vir die mens hoop gee met die belofte dat daar iemand uit sy nageslag sal kom wat die bose gaan oorwin.

Hierdie belofte word dwarsdeur die Ou Testament herhaal. Abraham kry in Gen 12 v 3 die belofte dat sy nageslag ’n seën vir die wêreld sal wees. Daar is hoop. Die bose sal nie die laaste sê hê nie. Moses kry in Deut. 18 v 15 die belofte dat daar na ’n hom ’n profeet na vore sal kom wat soos die Here is. Hierdie is maar enkele voorbeelde van die belofte wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop.

In ons teks 2 Sam 7 v 11b en 16 hoor ons hoe die Here hierdie belofte van hoop ook aan Dawid maak.

Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig. ....

......... Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

Dit gaan nie oor wat die mens met sy godsdiens vir God wil doen nie, maar wel oor wat God vir die mens wil doen en dat die mens by God se wil moet inpas. God woon nie in ’n tempel nie, maar in die wel en wee van mense. Dawid wil vir die Here ’n huis bou, maar die Here sê vir Dawid nee. Ek het nie ’n rusplek nodig nie, maar ek gee vir jou ’n rusplek. Jy gaan nie vir my ’n huis bou nie, maar Ek gaan vir jou ’n koningshuis bou wat vir altyd gaan bestaan.

Hiermee sê die Here vir Dawid dat Hy vir hom ’n besondere nageslag gaan gee. In Hand 2:29 tot 31 hoor ons:

 “Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

“Hy is nie aan die doderyk oorgelaat nie, en sy liggaam het nie vergaan nie.”

Die belofte van koningshuis wat vir altyd sal bly bestaan wys na Jesus. Hy is die seun van Dawid, die Messias, die gesalfde van God wat vir altyd op die troon sal sit.

Hiermee herhaal die Here net weereens daardie belofte van hoop wat Hy reeds in Gen 3 gemaak het. Daar is hoop want daar sal iemand uit die nageslag kom wat die mensdom gaan verlos uit hul hopelose slawerny waarin die bose hulle vasgevang het.

Die vraag is nou: “wat presies is hierdie hoop?” Hoop is die verwagting dat die toekoms iets beters inhou. Wat is hierdie iets beters? Ons kan hier onderskei tussen wêreldse hoop en Bybelse hoop. Wêreldse hoop is die optimisme dat daar ’n kans is dat dinge vorentoe beter sal gaan. Die verwagting dat my omstandighede beter gaan word. Daar is egter nie ’n vaste basis wat kan waarborg dat dit sal gebeur of waarom dit sal gebeur nie. Daar is ’n moontlikheid dat dinge ook slegter kan word. Daar is dus geen waarborge nie.

Teenoor dit het ons die Bybelse hoop. Bybelse hoop is nie op omstandighede gebaseer nie. Die basis van Bybelse hoop is op God gebaseer. Die Hebreeuse woorde wat ons in die Ou Testament met hoop vertaal, beteken letterlik om te wag. Dit verwys na die spanning wat in ’n tou of lyn opbou wanneer jy dit trek totdat daardie spanning te veel word en die tou breek. Die afwagting in die spanning dat daar iets gaan gebeur. Hoop is dus om te wag met ’n verwagting.

Die vraag is: “waarvoor is die verwagting?” In Jesaja hoor ons hoe die volk in Ballingskap weggevoer is en hoe die profeet vir die volk sê dat die Here sy aangesig vir Israel verberg het, maar dat hulle enigste redding is om op God te hoop. Hulle omstandighede wys nie dat dit gaan beter word nie en daarom hoop hulle op God alleen want daar is niks anders waarop hulle, hul hoop kan plaas nie. Hulle wag op die Here.

Bybelse hoop is dus op God gefokus en nie op omstandighede nie. Die mense in die Bybel wat hoop, sien raak dat daar geen bewyse is dat jou omstandighede beter sal raak nie, maar hulle hoop in elk geval en daardie hoop is op God gevestig. Dit wat God in die verlede gedoen het, is die motivering vir die hoop in die toekoms. Ons kyk dus vorentoe deur terug te kyk na wat God reeds gedoen het. Bybelse hoop is net op God se karakter gevestig en op niks anders nie soos ons ook in Ps. 39:8 hoor.

Is daar nog hoop vir my, Here? U is my enigste hoop.

In die Nuwe Testament hoor ons ook hoe Jesus se volgelinge gehoop het. Jesus se geboorte, sy lewe, dood en opstanding is God se antwoord op ons verslawing van boosheid en dood.  
In 1 Pet 1 v 3 & 4 hoor ons:

Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

Bybelse hoop is gefokus op die persoon van Jesus. Dis die lewende hoop dat elkeen wat die goeie nuus oor Jesus Christus glo, as nuwe mense weergebore sal word. Bybelse hoop is op God, Vader Seun en Heilige Gees gevestig. Die Vader wat die Seun gestuur het. Die Seun wat gehoorsaam was en as mens gebore is met die hulp van die Heilige Gees. Die Heilige Gees wat geloof gee sodat ons dit wat Jesus op aarde gedoen het, geboorte, lewe, kruisiging en opstanding ons eie kan maak.

Dit is die belofte van hoop wat reeds in Genesis gemaak is en wat dwarsdeur die Ou Testament herhaal word. Dit is die hoop op dit wat God beplan vir die heelal, naamlik dat dit losgemaak gaan word van die verydeling en sondeslawerny waarin die mens dit gedompel het. Bybelse hoop, is die hoop dat dit wat met die sondeval gebreek is, weer herstel sal word. Die verhouding met God wat gebreek is, is weer deur Jesus Christus herstel omdat Hy as mens gebore is so bietjie meer as 2000 jaar gelede en wat in sy kruisiging en opstanding geëindig het.

Bybelse hoop is nie op optimisme van ’n onsekere kans dat omstandighede sal beter word, gevestig nie. Bybelse hoop is op God wat die bepaler van ons omstandighede is, gevestig. Daarom, selfs al is ons omstandighede nou nie baie goed nie en al is daar geen bewyse dat dinge gaan beter word nie, hoop ons nog steeds, want ons hoop is op God gevestig. Daarom vertrou ons dat God in beheer is en ons vertrou op sy tydsberekening.

Bybelse hoop beteken om te wag op die Here en daarom, geliefdes, wag op die Here!

Amen



12 Januarie 2014

Die ware blydskap van Kersfees: Die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

25 Des. 2013 (GKE) Luk. 2 v 1 - 20 Teksverse Luk. 2v10 & 11
Sing    Lofsang: Sb. 4-6 
           Na wet:    Sb. 16-1 v 1 (Laat julle kinders tot my nader – Sb 15 swart Ps.Boek)
           Na gebed Sb. 4-8-1 v 1 & 2
           Slotsang  Ps. 48-1 v 1 & 5
Hoekom is ons bly oor Kersfees? Is dit die lekker geskenke of is dit die vooruitsig van lekker partytjies saam met vriende? Vir sommige mense hou Kersfees net hartseer in en is daar geen blydskap nie. In ons teks sê die Here vir ons wat is die enigste bron van ware blydskap. Dit is die goeie boodskap ’n Verlosser vir wêreld gebore is. Hierdie Verlosser is die Koning van die Heelal soos ons hoor in Luk. 2v10 & 11:
10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Die ware blydskap van Kersfees is dat die Koning van die heelal vir my gebore is. Dit is juis die eenvoud van Christus se geboorte wat aan my die versekering gee dat Hy ook vir my persoonlik gebore is.

In Luk 2v1 & 2 hoor ons hoe God die belangrikste man van die destydse wêreld as sy dienskneg gebruik om die profesie van Miga 5v1 te laat plaasvind:
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!
Selfs die belangrikste mens op aarde is nie so belangrik dat hy nie deur God gebruik kan word nie, selfs al weet hy nie eers dat God hom gebruik nie.

Keiser Augustus het ’n bevel uitgevaardig dat daar ’n volkstelling gehou moes word. Die rede vir so ’n volkstelling was sodat die Romeinse ryk se belasting inkomste bereken en beplan kon word. Daardie sensus het egter anders as ons sensus gewerk. In plaas van dat die sensusopnemer na jou huis toe gekom het, is daar bepaal dat jy na jou vaderstad moes gaan, dit wil sê die plek waar jou familie vandaan gekom het. Josef het van Dawid afgestam en Dawid is in Betlehem gebore, daarom het Josef na Betlehem gegaan. Omdat Maria aan Josef verloof was, was sy reeds deel van sy familie en daarom het sy saam met Josef na Betlehem gegaan.

Kersfees word dikwels voorgestel as ’n stil en rustige tyd waar vrede heers. Daardie eerste Kersfees was egter alles behalwe stil en rustig. Stel jouself voor die besige chaos wat geheers het. Betlehem was oorlopens toe vol. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Na ’n lang en vermoeiende reis van ongeveer 85 km agter op ’n donkie kom Maria en Josef moeg en uitgeput in Betlehem aan. Dink net hoe moeg moes die arme swanger Maria gewees het. Dink net hoe moedeloos Josef moes gevoel het toe hy nie eens vir hulle ’n blyplek kon kry nie. Keer op keer moes hy hoor, jammer hier is nie meer plek nie.

Dit was vir seker vir hom en Maria nie ’n stil, rustige vredevolle tyd gewees nie. Toe hulle ten einde laaste wel ’n plekkie kry daar tussen die diere kom die volgende krisis! Ek dink die een ding wat Maria nie daardie aand wou gehad het nie, is dat die baba daar gebore moes word nie. Arme Josef, wat weet hy daarvan om ’n vrou te help wat ’n babatjie gaan kry. Dit was sekerlik nie ’n stil en rustige tydjie vir Josef en Maria nie. Maar ten spyte van al die chaos verloop die geboorte goed af en Maria draai die babatjie volgens die gebruik van daardie tyd styf in doeke toe.

Wat ’n teenstrydigheid. Die Verlosser van die wêreld is hulpeloos in doeke toegedraai. Die enigste plek vir die Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is, is in ’n bak waaruit diere geëet het. Nederiger kon dit nie. Die gebeure wat hier vir ons beskryf word kon net sowel die geboorte van die armste kind van destyds gewees het. Dit alles wys vir ons op die doodgewone aard van Jesus Christus se menswees. Dit is inderdaad Emmanuel, God met ons vir doodgewone mense soos ek en jy.

Verder kies God ook die heel eenvoudigste mense uit om hierdie blye boodskap uit te dra. In die tyd van Dawid was ’n skaapwagter ’n eervolle beroep, maar in die tyd van Jesus se geboorte, was dit nie meer so nie. Die enigste mense wat skaapwagters was, was daardie mense wat niks anders in die lewe kon vind om te doen nie. Skaapwagters was verag en as onbetroubaar beskou. Die woord van ’n skaapwagter is slegs aanvaar as dit deur iemand wat nie ’n skaapwagter is nie, bevestig kon word. Juis hulle wat deur die samelewing verwerp word, kies God om hierdie belangrike boodskap vir die eerste keer te gaan uitdra.

Hulle kry die boodskap dat ’n hulle ’n kind sal vind in ’n krip wat in doeke toegedraai is. Niks spesiaal nie. Maar tog is daardie kind die Koning van alle konings wat gekom het om die wêreld van hulle sonde te verlos. Die Griekse woord wat hier met goeie tyding vertaal is, word ook in Afrikaans as evangelie weergegee. Daardie Griekse woord is in daardie tyd gebruik om die koms van ’n koning te beskryf. Almal wat dus die boodskap van die evangelie in daardie tyd gehoor het sou dadelik verstaan dat hierdie doodgewone geboorte wat beskryf word, die geboorte van ’n Koning is. Daardeur wys die Here vir ons dat die goeie nuus oor Christus se geboorte vir alle mense bedoel is, selfs vir diegene wat deur die samelewing verwerp en verstoot word en wat as nikswerd beskou word.

Die vraag vanoggend is: “wat beteken hierdie geboorte wat ongeveer 2000 jaar gelede plaasgevind het vir ons hier aan die einde van 2011?” Die gebeure wat hier in Lukas 2 beskryf word gee vir ons alle rede om vol blydskap te wees. Veral as ek nie juis voel dat daar gedurende Kersfees enige rede vir my is om bly te voel nie. As my lewe in chaos is, of selfs net deurmekaar, dan sê die doodeenvoudige aard van Christus se geboorte dat Hy ook in my lewe ’n verskil kan maak. Hy sê dan vir ons in Mat 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee

Christus is die Koning van alle konings, maar tog het Hy tyd vir my. Jesus Christus kan my ook verlos uit die tronk van eensaamheid en verstotenheid. Al is my lewe in die grootste gemors ooit, dan sê hierdie geboorte van ’n eenvoudige kind vir my dat daar vir my ook plek is by die Koning van die heelal. Dalk is hierdie die eerste Kersfees wat ek sonder ’n geliefde moet deurbring of dalk herinner dit my aan ’n geliefde wat aan die dood afgestaan is. Dalk is my kinders daar ver in die vreemde en ek verlang na hulle. Dalk voel ek dankbaar oor die seëninge in my lewe dan weet ons dat Jesus Christus ons bron van blydskap is. Dan weet ons dat Jesus Christus my help om die verlange na ’n geliefde wat dood is of dalk ver is te verwerk. As ek sukkel met ’n lewe wat in Chaos gedompel is, dan weet ek dat Jesus Christus vir my ’n anker is die storm.

Geliefdes, kom ons maak Jesus Christus die ware bron van ons kersvreugde, want die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

Amen