Wys tans plasings met die etiket Blydskap. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Blydskap. Wys alle plasings

03 Mei 2020

Ontdek die ware Bron van blydskap


Datum:3 Mei 2020 GKE
Skriflesing: Joh. 6 v 25 - 35
Teksvers: Joh. 6 v 35 
Die preek is in video formaat beskikbaar op ons 
Facebook blad Gereformeerde Kerk Empangenie



Sing
Ps. 32-1 v 1
Ps. 33-1 v 1 & 11

Iets wat my opgeval het oor hierdie inperking, is dat mense in hierdie tyd vol ontevredenheid is. Mense is gefrustreerd oor ons situasie. Daar is inderdaad sommige van die regulasies wat net nie sin maak nie en mense raak geïrriteerd daarmee. Hierdie inperking is egter vir sommige nie net ongemaklik nie. Dit is inderdaad besig om mense te verarm wat geen inkomste kry nie.

Is hierdie inperking besig om jou lewensvreugde te steel?

Dikwels soek ons lewens-tevredenheid op verkeerde plekke. Binne in elke mens is daar 'n soeke na iets meer. Mens kan dit 'n geestelike honger noem. Dis 'n soeke na blydskap en tevredenheid in die lewe.

As jou omstandighede maak dat jy iesegrimmig raak omdat dit nie op die oomblik verloop soos wat jy dit graag wil hê nie, sê dit vir jou dat jy dalk op die verkeerde goed vertrou vir lewensvreugde.

Nadat Jesus die mense op 'n wonderbaarlike wyse gevoed het met twee vissies en vyf garsbroodjies het sy dissipels in 'n skuit geklim om na die oorkant van die meer te vaar. Hulle het in 'n storm beland, maar Jesus het hulle gered nadat Hy op die water na hulle toe aangeloop gekom het.

Die volgende môre het Jesus saam met sy dissipels by Kapernaum aangekom. Die mense het Jesus en sy dissipels soontoe gevolg. Toe hulle by Jesus kom vra hulle: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

Jesus se antwoord aan hulle is baie insiggewend om 'n antwoord te kry op die vraag: “wat is die ware bron van lewensvreugde en blydskap?”
Joh. 6 v 26 & 27a:
“Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee.”

Jesus weet dat hulle Hom gevolg het om die geestelike honger in hul lewens te voed, maar dat hulle dit met die verkeerde voedsel wil voed. Moenie werk vir voedsel wat vergaan nie.

Die probleem wanneer jy jou geestelike honger met dinge van hierdie wêreld wil versadig, is dat jy dit nie gaan regkry nie. Mense soek lewensgeluk en blydskap in wêreldse dinge. Geld, status, besittings, verhoudings.

Al hierdie dinge gaan jou teleurstel. As jy jou hoop op jou lewensmaat en/of kinders plaas om jou gelukkig te maak, dan gaan jy hulle op die uiteinde vernietig, want hulle sal nooit aan die verwagting kan voldoen nie.

As jy jou geluk op die dinge van hierdie wêreld bou, gaan jy teleurgesteld word. Wanneer dit goed gaan, dan kom jy nie agter dat jy besig is om jou lewensvreugde te voed met voedsel wat sal vergaan nie. Want, wanneer dinge begin skeefloop soos tans die geval is en hierdie dinge waarop jy jou geluk gebou het weggeneem word, dan tuimel jou lewensvreugde ineen.

Die ironie is dat hierdie dinge nie noodwendig slegte dinge is nie. Jou vrou, jou kinders, jou werk waarmee jy jou brood verdien is nie slegte dinge in jou lewe nie. Die probleem kom in wanneer jy liewer vir hierdie dinge is as wat jy vir God is.

Die oplossing is egter nie net so eenvoudig dat jy jouself moet voorneem om liewer vir God te wees nie. Die probleem is dat jy dit nie kan doen nie omdat jy vanweë jou sondige natuur geneig is om God en jou naaste te haat.

In Joh. 6 v 27b hoor ons dat jy nie iets daaraan kan doen nie, maar dat God uit genade vir jou dit gee, want Jesus sê verder dat Hy vir jou die voedsel sal gee wat ewige lewe gee:
“Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Hoe kry jy deel aan die voedsel wat nie vergaan nie en ewige lewe gee? In Joh. 6 v 29 sê Jesus:
“Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”
Jy moet in Jesus Christus glo.

Met hierdie beeld van brood verduidelik Jesus waarom Hy wat God is, mens geword het en aarde toe gekom het. Jesus sê nie vir die skare, Ek sal vir julle die brood van die lewe gee nie. Hy sê vir hulle: “Ek IS die brood wat lewe gee.”

Alles wat jy eet het doodgegaan sodat jy dit kan eet. Die graan waarmee brood gebak is, is fyngemaal. Wanneer jy die brood wat gebak is wil eet, moet dit eers in stukke gebreek word.

Wanneer Jesus se “Ek is die brood wat lewe gee,” dan sê Hy daarmee: “Ek is God wat breekbaar geword het. Ek is God wat kwesbaar geword het. Die Vader het My gestuur om vir jou aan die kruis te sterf. Ek het mens geword sodat jy kan lewe.”

Soos wat brood jou liggaam voed en vir jou lewe gee, so voed Jesus se soenoffer aan die kruis jou geestelike lewe. Wanneer Jesus sê dat Hy die Brood van die lewe is, sê Hy daarmee: “Ek het gekom om gebreek te word, sodat jy kan lewe.”

Wanneer iets verkeerd gedoen is, is daar 'n verlies en iemand moet die verlies dra. As jy 'n baie waardevolle item van iemand breek, dan moet jy die prys betaal om die eienaar daarvoor te vergoed. As daardie eienaar vir jou sê: “toemaar jy hoef nie te betaal nie, ek sal self die skade dra,” dan betoon daardie persoon genade aan jou. Jy ontvang iets wat jy nie verdien het nie.

Die prys wat betaal moet word vir die opstand en verwerping van God, is die dood, want daar is geen lewe sonder God nie. God se genade is dat Hy sy Seun stuur om die prys te betaal sodat jy dit nie hoef te betaal nie. Jesus het vir jou aan die kruis gesterf. Hy het die dood oorwin en sy opstanding is die bewys daarvan. Omdat Hy die dood oorwin het, kan Hy vir jou die ewige lewe gee.

Om die ewige lewe te ontvang moet jy glo dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy kan lewe. Selfs die geloof wat God vra gee Hy ook vir jou. Die Heilige Gees gee dit vir jou sodat jy daarmee kan vashou aan God se genade en dat jy daarmee kan weet dat jy deel in die ewige lewe.

Wat is jou natuurlike reaksie wanneer jy iets groots ontvang? Jy is dankbaar. Wat is jou reaksie wanneer jy gered word van die dood? Jy is lief vir die persoon wat vir jou, jou lewe terug gegee het. Jy reageer op God se liefde en sy liefde verander jou sodat jy die liefde wat Hy vir jou gegee het, uitdeel. Jy kan liefhê, want God het jou eerste liefgehad.

In Joh. 6 v 35b sê Jesus:
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Deur jou geloof in Jesus word jou geestelike honger gevoed. Dit bring jou na die Bron van blydskap en lewensvreugde0. God wat vir jou lewe gee is die enigste bron van ware lewensvreugde.

Wanneer God in jou lewe teenwoordig is, dan kan tydelike moeilikheid soos hierdie Covid19 pandemie en die gepaardgaande inperkings ongerief nie jou lewensvreugde steel nie.

Kom in geloof na Jesus toe en ontdek die ware Bron van blydskap.
Amen

22 April 2020

6 Dagstukkies - Soek jou vrede by God wanneer bekommernis, vrees en spanning jou wil oorweldig


Dag 1 Dinsdag 14 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies



Skriflesing: PSALMS 23:4
Selfs al gaan ek deur donker dieptes,
sal ek nie bang wees nie,
want U is by my.
In u hande is ek veilig.

Ons is nou amper in die helfte van die verlengde inperkingstyd. Hierdie inperking bied inderdaad baie redes vir spanning, bekommernis en selfs om bang te wees.

In hierdie volgende klompie daaglikse dagstukkies gaan ons stilstaan hoe om deur die donker diepte van ons inperking te kom. Hierdie inperking hou verwoestende gevolge in waar besighede bankrot kan speel en baie mense hul werk en inkomste kan verloor.

Die moontlikheid dat dit verleng kan word, is ook nie uitgesluit nie. Derhalwe is dit belangrik dat ons geestelik sterk moet wees om nie in die greep van angs vasgevang te word nie, want dit is juis in sulke omstandighede wat ons so kwesbaar is dat die ou duiwel sy kans gebruik om jou aan te val.

In Psalm 23 v 4 hoor ons dat ons nie bang hoef te wees wanneer ons deur donker dieptes gaan nie. Die rede daarvoor is dat ons nie alleen daardeur gaan nie. Ons loop nie hierdie pad alleen nie. God loop saam met ons en Hy dra ons wanneer die pad te moeilik raak.

Ons het hierdie afgelope naweek weer die kruisiging en opstanding van Jesus Christus herdenk. Aan die kruis het Jesus die angste van die hel deurgaan en sy uitroep van bange God verlatenheid: “My God, My God, waarom het U my verlaat” gee vir ons die troos dat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

Daarom kan ons ook vir seker weet dat God ook saam met ons deur die donker vallei van hierdie inperking gaan.

In die volgende paar dagstukkies gaan ons dan ook stilstaan by praktiese maniere hoe om hierdie pad saam met God te stap sonder vrees.

Moenie dat die hierdie inperking en die gevolge daarvan jou met vrees en bekommernisse lamlê nie.
Amen
Dag 2 – Verbly jou in die Here

Dinsdag 15 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 3 v 1
Verder, my broers, wees bly in die Here!
Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie,
en vir julle gee dit sekerheid.
Fil. 4 v 4
Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

Soos wat die tyd aanstap begin hierdie inperking op jou gemoed werk. As jy nie oppas nie, kan jy maklik in donkerte vasgevang word.

Ons loop hierdie pad egter nie alleen nie. In Joh. 14 net kort voor Jesus se kruisiging belowe Hy dat die Heilige Gees in sy plek sal kom as Trooster om ewig by ons te bly. Aan die kruis net kort voor sy dood het Jesus in bange Godverlatenheid uitgeroep: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Dit gee vir ons die sekerheid dat ons nooit alleen is in hierdie lewe nie.

In hierdie brief aan die gemeente in Filippie sê die Here vir ons hoe om die pad saam Hom te stap, veral in tye wanneer ons onder beproewing staan.

Paulus skryf hierdie brief terwyl hy in die tronk is. Hy was baie meer ingeperk met baie minder vryhede as wat ons het, selfs te midde van ons eie inperking. Sy kern boodskap in hierdie brief is om in alle omstandighede bly te wees in die Here.

Dis maklik om bly te wees wanneer jy voorspoed in jou lewe geniet. Paulus se opdrag: “verbly jou in die Here” is nie bedoel dat jy bly moet wees omdat dit goed gaan met jou nie. Sy opdrag is juis om jou aan te moedig om te midde van aanvegtinge, verdrukking en swaarkry bly te wees. Dit gaan nie daaroor dat jy die beproewings maar net moet verduur nie, maar dat jy midde in dit blydskap vind.

Die sleutel tot hierdie blydskap is dat jy dit in die Here moet vind. “Verbly jou in die Here.” Met ander woorde draai jou fokus weg van jou omstandighede af na die Here toe.

Die bron van jou blydskap is dat God in Jesus jou so lief het dat Hy ALLES gedoen het om jou te red van die ewige dood. Jesus het vir jou gesterf en Hy het vir jou opgestaan uit die dood sodat jy kan lewe.

Die ou duiwel se doelwit is om jou fokus weg van God af te draai op jou omstandighede. Toe Petrus op die water na Jesus toe geloop het, het hy op die wind en golwe om hom begin fokus en weggekyk van Jesus af. Daarom het hy begin sink en dit is wat met sal gebeur wanneer jy op jou omstandighede fokus, eerder as op ons Here.

As hierdie inperking jou gemoed begin donker maak, draai jou aandag weg van jou omstandighede terug na die Here toe. Die Heilige Gees is by jou. Bid dat Hy al die seëninge wat God vir jou gegee het waarvoor jy dankbaar kan wees, sal wys.

Bid dat Hy jou negatiewe gedagtes oor die sleg van die inperking sal vervang met positiewe gedagtes van dankbaarheid vir al die seëninge in jou lewe. 'n Verder praktiese manier is om te gaan sit en 'n lys te maak van alles waarvoor jy dankbaar moet wees.

Moenie dat hierdie tyd van inperking jou met donkerte vul nie.

Verbly jou in die Here!
Amen

Dag 3 – Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Woensdag 16 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skriflesing: Fil. 4 v 6-8 Fokusvers: 8
6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
8Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Verder, my broers, wees bly in die Here!

In ons dagstukkies het ons gehoor dat God belowe dat ons nie alleen deur Corona Covid19 krisis gaan nie. Hy stap die pad saam met ons. Die Heilige Gees is by jou elke sekonde van elke dag. Die Heilige Gees is jou Trooster in hierdie lewe. Die Heilige Gees wek in jou die behoefte op om die pad saam met God te stap.

In Fil. 4 v 6 & 7 hoor ons dat jy in met jou vrese, bekommernisse en dankbaarheid in gebed tot God moet nader met die troosvolle belofte dat sy vrede wat alle verstand te bowe gaan, jou lewe sal vul. Daar is egter iets BAIE belangrik wat jy nie moet miskyk nie. Vers 7 sluit af met die woorde: “in Christus Jesus.”

Die enigste manier wat jy kan deel in die troos dat God die pad saam met stap en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie, is dat jy die evangelie moet glo. Jy moet glo dat jy 'n kind van God is omdat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf. Jy moet glo dat Jesus die dood oorwin het en dat sy opstanding die waarborg is dat jy nou 'n nuwe lewe ontvang het.

In hierdie brief aan die Filippense hoor ons hoe om prakties voete op die grond die pad saam met God te stap. Hoe jy hierdie nuwe lewe wat jy ontvang het moet leef.

In Fil. 4 v 8 hoor ons dat jy op die waarheid moet fokus. Dit is hoe jy positief gaan bly in hierdie virus storm waarin ons vasgevang is. Dis negatiewe gedagtes oor wat moontlik verkeerd kan gaan wat jou in die donkerte intrek. Dit is hierdie spiraal van negatiewe gedagtes wat jou sag maak om al die snert en fopnuus te glo wat op leuens gegrond is en dit vul jou gemoed met net nog meer donkerte. So beland jy in 'n bose spiraal wat jou net al hoe dieper in die donkerte intrek.

Moenie op die negatiewe van alles wat moontlik verkeerd kan loop fokus nie. Fokus op die positiewe wat is en nie op die negatiewe wat mag wees nie.
Amen

Dag 4: - Die Here gee vir jou die krag en genade om vandag se probleme te kan hanteer. Môre gee Hy weer krag vir môre se probleem.



Vrydag 17 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies
Skrif: Mat. 6:34; Heb. 4:16

Ons het baie bekommernisse oor wat gaan gebeur as gevolg van hierdie virus en wat die gevolge gaan wees van hierdie inperkingstyd. Dit is reeds eenkeer verleng en die moontlikheid is glad nie uitgesluit dat dit nog verder verleng kan word nie.

Daar is aanduidings dat dit nie heeltemal opgehef gaan word nie, maar dat dit op een of ander manier gaan voortduur na 30 April. Wat gaan die gevolge daarvan wees? Niemand kan verseker sê nie, maar wat almal eens is, is dat dit nie goed gaan wees nie.

Ons natuurlike reaksie is om te bid “Here asb. tog, neem net al hierdie slegte goed van ons af weg. Here laat die lewe asb. tog net weer na normaal terugkeer.”

En dit is nie net met hierdie Korona krisis die geval nie. Dit is eintlik maar met elke moeilikheid wat oor ons pad kom.

Die harde werklikheid is egter dat die Here nie noodwendig die probleme en die gevolge wat daarmee gepaard gaan, wat oor ons pad kom, wegneem nie. Hy kan en doen dit soms, maar meestal neem Hy dit nie weg nie.

Die troos wat die Here wel vir ons gee is dat selfs al word jou grootste vrese bewaarheid, dat jy nie alleen daar deur hoef te gaan nie. Dis hoekom Christus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy nooit weer deur God verlaat sal word nie. Jy is nie alleen in hierdie stryd nie en ons as Christene glo dit.

Tog word ons soms nog steeds oorweldig deur die krisisse wat oor ons pad kom. Die rede daarvoor is dat ons die hele krisis op een slag wil aanvat. Daarmee saam gaan haal ons ook die bobbejaan agter die bult uit met vrese oor goed wat moontlik mag gebeur, wat dalk tog nie sal gebeur nie.

Die Here gee vir ons krag en genade om deur die uitdagings wat Hy oor ons pad bring te oorleef. Hy gee egter net genoeg krag vir dit wat jy vandag moet hanteer. En dit is ons probleem. Ons is so geneig om te wil bekommer oor wat môre ook gaan gebeur.

Luister na wat die Here vir ons in Mat. 6 v 34 hieroor sê:
“Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”
Die Here gee vir ons krag en genade om vandag se probleem te hanteer.

In Heb. 4 v 16 hoor ons:
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Gaan vra vir krag en genade om die moeilikhede te hanteer en vertrou die Here dat Hy vir jou krag en genade sal gee om elke probleem op sy eie tyd te hanteer.

Hoe eet mens 'n olifant op? Stukkie vir stukkie. Die Here gee vir jou genoeg krag om vandag se stukkie olifant op te eet. Môre sal Hy weer vir jou krag gee om môre se stukkie olifant op te eet.

Moenie jou siek maak met bekommernisse oor alles wat kan gebeur nie. Fokus op vandag. Vra vir die Here krag en genade om van dag te hanteer. Môre sal Hy vir jou weer krag gee om môre se probleme te hanteer.

Amen

Dag 5: - Is jy bereid om op die Here te vertrou?

Dinsdag 21 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Gen. 12 v 1 - 4; Ps. 37 v 5

Een van die redes hoekom hierdie tyd van inperking so moeilik is, is omdat ons nie beheer het daaroor nie. 'n Mens wil in beheer van sy lewe wees. Ek wil self besluit waarheen my lewe op pad is en wat daarmee gaan gebeur.

In ons moderne samelewing word klem gelê op onafhanklikheid. Ons wil self besluit wat in ons lewens gaan gebeur en ons wil nie voorgesê word wat om te doen nie. Die probleem wat hiermee egter gepaard gaan is dat ons so onafhanklik raak dat ons dink dat ons God nie meer nodig het nie. Is dit nie dalk hoekom so baie mense wegraak uit die kerk uit nie?

In Psalm 37 v 5 hoor ons “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.” Tot watter mate het ons strewe na beheer ons vertroue op die Here in die wiele gery?

In hierdie tyd van inperking is dit juis hierdie strewe van ‘ek wil in beheer wees’, wat van ons af weggeneem is. Nou word ons voorgesê wat ons mag, en nie mag doen nie. Byvoorbeeld, wanneer jy in die supermark kom, is daar nou skielik sekere items wat jy nie meer mag koop nie. Dis nie dat die items nie meer beskikbaar is nie, maar omdat daar nou 'n regulasie is wat dit verbied. Jy word voorgesê waarheen jy mag gaan en nie mag gaan nie. Ons is nie meer in beheer nie.

Hierdie pandemie het dit wat bekend was in ons lewens omgekeer en die pad vorentoe lyk onbekend. Ons weet nie werklik wat wag nie en waarheen is ons op pad nie. Ons is nie in beheer nie!

In Gen. 12 v 1 hoor ons van Abraham wat ook op pad was die onbekende in.
“Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys.”

In Gen. 12 v 4 hoor ons dat Abraham toe weggetrek het die vreemde in. Wat het hom sover gebring om die Here te vertrou en te gehoorsaam? Hy het vertrou dat die Here sy belofte van seën sou nakom.

Abraham se vertroue in die Here het die wêreld geskiedenis verander. Uit sy nageslag is Jesus gebore wat gekom het om die wêreld van hulle sondeslawerny te verlos. Die Here het sy belofte van: “In jou sal die volke van die aarde geseën wees,” nagekom.

Is jy bereid om die Here te vertrou? As jy in Jesus glo dan moet jy weet dat die Here saam met jou die onbekende toekoms ingaan. Die sekerhede wat ons gehad het, was eintlik maar net 'n illusie, want daar is niemand wat met sekerheid kan sê wat die toekoms inhou nie. Met hierdie pandemie het die Here net weer die waarheid daarvan bevestig.

Is jy bereid om God te vertrou met die pad wat Hy vir jou uitgelê het? As jy in Jesus glo, kan jy verseker weet dat die Here net jou beste belang op die hart dra en dat Hy jou sal dra deur die onsekerhede van wat die toekoms inhou, want as jy in Jesus glo is jy 'n kind van die Here. Dit is jou geloof in Jesus, (dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan word,) wat die fondament van jou vertroue op die Here is.

Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Amen

Dag 6: - Wanneer vrees en onsekerheid dreig om jou te oorweldig, onthou dat God jou liefhet en dat Hy vir jou sorg.

Woensdag 22 Apr. 2020 GKE Covet19 dagstukkies


Skrif: Mat. 10 v 29 – 31; 1 Joh. 4 v 9

Hierdie tyd van inperking is vol onsekerhede en onsekerheid voed vrees. Dit is 'n natuurlike neiging om te verwag dat iets slegs gaan gebeur en in tye van onsekerheid kom hierdie verwagting soveel te meer na vore.

Die bron van hierdie geneigdheid lê daarin dat ons vergeet van God se goedheid en sorg. Voel jy vandag onseker en bang oor wat die toekoms gaan inhou? Kom luister dan net weer hoe kosbaar jy vir God is en hoe besorgd Hy oor jou is:
Mat. 10 v 29 - 31
“Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Dit is nodig dat ons gereeld herinner word aan hoe lief God ons werklik het. Net soos wat jy gereeld vir jou geliefde sal sê en wys deur jou optrede dat jy hulle lief het, herinner God ons deur sy Woord hoe lief Hy ons het. Daarom is dit nodig dat jy elke dag tyd saam met God spandeer om uit sy Woord te hoor hoe lief Hy jou het. Luister bietjie weer na 1 Joh. 4 v 9:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Wanneer vrees en onsekerhede jou wil oorweldig, onthou dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur het om vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout te sterf sodat jy kan lewe. Met sy oorwinning oor die dood gee Jesus vir elkeen wat in Hom glo die ewige lewe. Al wat jy moet doen om die ewige lewe te ontvang is om in Jesus te glo, te glo dat Hy vir jou sondes gesterf het sodat jy weer met God versoen kan wees.

Wanneer ons van die ewige lewe hoor dan dink ons eerste daaroor dat dit beteken dat ons in die hiernamaals ewig saam met God gaan wees waar daar geen hartseer, trane, pyn of dood meer sal wees nie. Dis 'n lewende hoop waaraan ons moet vashou.

Die probleem kom dikwels in dat ons vergeet dat die ewige lewe baie meer as dit is. Die ewige lewe beteken ook dat God reeds in hierdie lewe saam met jou is en dat Hy vir jou meer nog sorg as wat Hy vir die mossies sorg. Die ewige lewe gaan nie bloot net daaroor om vas te klou aan die hoop en vrede wat ons eendag sal hê nie. Dit gaan om aanváárding van hoe geliefd ons nou is.

As die vrees en bekommernis in hierdie inperkingstyd dreig om jou te oorweldig, onthou God se liefde en sorg, want sy volmaakte liefde dryf alle vrees uit.
Amen

12 Januarie 2014

Die ware blydskap van Kersfees: Die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

25 Des. 2013 (GKE) Luk. 2 v 1 - 20 Teksverse Luk. 2v10 & 11
Sing    Lofsang: Sb. 4-6 
           Na wet:    Sb. 16-1 v 1 (Laat julle kinders tot my nader – Sb 15 swart Ps.Boek)
           Na gebed Sb. 4-8-1 v 1 & 2
           Slotsang  Ps. 48-1 v 1 & 5
Hoekom is ons bly oor Kersfees? Is dit die lekker geskenke of is dit die vooruitsig van lekker partytjies saam met vriende? Vir sommige mense hou Kersfees net hartseer in en is daar geen blydskap nie. In ons teks sê die Here vir ons wat is die enigste bron van ware blydskap. Dit is die goeie boodskap ’n Verlosser vir wêreld gebore is. Hierdie Verlosser is die Koning van die Heelal soos ons hoor in Luk. 2v10 & 11:
10 Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.
11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!
Die ware blydskap van Kersfees is dat die Koning van die heelal vir my gebore is. Dit is juis die eenvoud van Christus se geboorte wat aan my die versekering gee dat Hy ook vir my persoonlik gebore is.

In Luk 2v1 & 2 hoor ons hoe God die belangrikste man van die destydse wêreld as sy dienskneg gebruik om die profesie van Miga 5v1 te laat plaasvind:
Maar jy, Betlehem-Efrata, jy is klein onder die families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede!
Selfs die belangrikste mens op aarde is nie so belangrik dat hy nie deur God gebruik kan word nie, selfs al weet hy nie eers dat God hom gebruik nie.

Keiser Augustus het ’n bevel uitgevaardig dat daar ’n volkstelling gehou moes word. Die rede vir so ’n volkstelling was sodat die Romeinse ryk se belasting inkomste bereken en beplan kon word. Daardie sensus het egter anders as ons sensus gewerk. In plaas van dat die sensusopnemer na jou huis toe gekom het, is daar bepaal dat jy na jou vaderstad moes gaan, dit wil sê die plek waar jou familie vandaan gekom het. Josef het van Dawid afgestam en Dawid is in Betlehem gebore, daarom het Josef na Betlehem gegaan. Omdat Maria aan Josef verloof was, was sy reeds deel van sy familie en daarom het sy saam met Josef na Betlehem gegaan.

Kersfees word dikwels voorgestel as ’n stil en rustige tyd waar vrede heers. Daardie eerste Kersfees was egter alles behalwe stil en rustig. Stel jouself voor die besige chaos wat geheers het. Betlehem was oorlopens toe vol. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Na ’n lang en vermoeiende reis van ongeveer 85 km agter op ’n donkie kom Maria en Josef moeg en uitgeput in Betlehem aan. Dink net hoe moeg moes die arme swanger Maria gewees het. Dink net hoe moedeloos Josef moes gevoel het toe hy nie eens vir hulle ’n blyplek kon kry nie. Keer op keer moes hy hoor, jammer hier is nie meer plek nie.

Dit was vir seker vir hom en Maria nie ’n stil, rustige vredevolle tyd gewees nie. Toe hulle ten einde laaste wel ’n plekkie kry daar tussen die diere kom die volgende krisis! Ek dink die een ding wat Maria nie daardie aand wou gehad het nie, is dat die baba daar gebore moes word nie. Arme Josef, wat weet hy daarvan om ’n vrou te help wat ’n babatjie gaan kry. Dit was sekerlik nie ’n stil en rustige tydjie vir Josef en Maria nie. Maar ten spyte van al die chaos verloop die geboorte goed af en Maria draai die babatjie volgens die gebruik van daardie tyd styf in doeke toe.

Wat ’n teenstrydigheid. Die Verlosser van die wêreld is hulpeloos in doeke toegedraai. Die enigste plek vir die Koning wat uit die geslag van Dawid gebore is, is in ’n bak waaruit diere geëet het. Nederiger kon dit nie. Die gebeure wat hier vir ons beskryf word kon net sowel die geboorte van die armste kind van destyds gewees het. Dit alles wys vir ons op die doodgewone aard van Jesus Christus se menswees. Dit is inderdaad Emmanuel, God met ons vir doodgewone mense soos ek en jy.

Verder kies God ook die heel eenvoudigste mense uit om hierdie blye boodskap uit te dra. In die tyd van Dawid was ’n skaapwagter ’n eervolle beroep, maar in die tyd van Jesus se geboorte, was dit nie meer so nie. Die enigste mense wat skaapwagters was, was daardie mense wat niks anders in die lewe kon vind om te doen nie. Skaapwagters was verag en as onbetroubaar beskou. Die woord van ’n skaapwagter is slegs aanvaar as dit deur iemand wat nie ’n skaapwagter is nie, bevestig kon word. Juis hulle wat deur die samelewing verwerp word, kies God om hierdie belangrike boodskap vir die eerste keer te gaan uitdra.

Hulle kry die boodskap dat ’n hulle ’n kind sal vind in ’n krip wat in doeke toegedraai is. Niks spesiaal nie. Maar tog is daardie kind die Koning van alle konings wat gekom het om die wêreld van hulle sonde te verlos. Die Griekse woord wat hier met goeie tyding vertaal is, word ook in Afrikaans as evangelie weergegee. Daardie Griekse woord is in daardie tyd gebruik om die koms van ’n koning te beskryf. Almal wat dus die boodskap van die evangelie in daardie tyd gehoor het sou dadelik verstaan dat hierdie doodgewone geboorte wat beskryf word, die geboorte van ’n Koning is. Daardeur wys die Here vir ons dat die goeie nuus oor Christus se geboorte vir alle mense bedoel is, selfs vir diegene wat deur die samelewing verwerp en verstoot word en wat as nikswerd beskou word.

Die vraag vanoggend is: “wat beteken hierdie geboorte wat ongeveer 2000 jaar gelede plaasgevind het vir ons hier aan die einde van 2011?” Die gebeure wat hier in Lukas 2 beskryf word gee vir ons alle rede om vol blydskap te wees. Veral as ek nie juis voel dat daar gedurende Kersfees enige rede vir my is om bly te voel nie. As my lewe in chaos is, of selfs net deurmekaar, dan sê die doodeenvoudige aard van Christus se geboorte dat Hy ook in my lewe ’n verskil kan maak. Hy sê dan vir ons in Mat 11v28:
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee

Christus is die Koning van alle konings, maar tog het Hy tyd vir my. Jesus Christus kan my ook verlos uit die tronk van eensaamheid en verstotenheid. Al is my lewe in die grootste gemors ooit, dan sê hierdie geboorte van ’n eenvoudige kind vir my dat daar vir my ook plek is by die Koning van die heelal. Dalk is hierdie die eerste Kersfees wat ek sonder ’n geliefde moet deurbring of dalk herinner dit my aan ’n geliefde wat aan die dood afgestaan is. Dalk is my kinders daar ver in die vreemde en ek verlang na hulle. Dalk voel ek dankbaar oor die seëninge in my lewe dan weet ons dat Jesus Christus ons bron van blydskap is. Dan weet ons dat Jesus Christus my help om die verlange na ’n geliefde wat dood is of dalk ver is te verwerk. As ek sukkel met ’n lewe wat in Chaos gedompel is, dan weet ek dat Jesus Christus vir my ’n anker is die storm.

Geliefdes, kom ons maak Jesus Christus die ware bron van ons kersvreugde, want die Koning van die heelal is as ’n eenvoudige Mens vir my gebore!

Amen