03 Mei 2020

Ontdek die ware Bron van blydskap


Datum:3 Mei 2020 GKE
Skriflesing: Joh. 6 v 25 - 35
Teksvers: Joh. 6 v 35 
Die preek is in video formaat beskikbaar op ons 
Facebook blad Gereformeerde Kerk Empangenie



Sing
Ps. 32-1 v 1
Ps. 33-1 v 1 & 11

Iets wat my opgeval het oor hierdie inperking, is dat mense in hierdie tyd vol ontevredenheid is. Mense is gefrustreerd oor ons situasie. Daar is inderdaad sommige van die regulasies wat net nie sin maak nie en mense raak geïrriteerd daarmee. Hierdie inperking is egter vir sommige nie net ongemaklik nie. Dit is inderdaad besig om mense te verarm wat geen inkomste kry nie.

Is hierdie inperking besig om jou lewensvreugde te steel?

Dikwels soek ons lewens-tevredenheid op verkeerde plekke. Binne in elke mens is daar 'n soeke na iets meer. Mens kan dit 'n geestelike honger noem. Dis 'n soeke na blydskap en tevredenheid in die lewe.

As jou omstandighede maak dat jy iesegrimmig raak omdat dit nie op die oomblik verloop soos wat jy dit graag wil hê nie, sê dit vir jou dat jy dalk op die verkeerde goed vertrou vir lewensvreugde.

Nadat Jesus die mense op 'n wonderbaarlike wyse gevoed het met twee vissies en vyf garsbroodjies het sy dissipels in 'n skuit geklim om na die oorkant van die meer te vaar. Hulle het in 'n storm beland, maar Jesus het hulle gered nadat Hy op die water na hulle toe aangeloop gekom het.

Die volgende môre het Jesus saam met sy dissipels by Kapernaum aangekom. Die mense het Jesus en sy dissipels soontoe gevolg. Toe hulle by Jesus kom vra hulle: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?”

Jesus se antwoord aan hulle is baie insiggewend om 'n antwoord te kry op die vraag: “wat is die ware bron van lewensvreugde en blydskap?”
Joh. 6 v 26 & 27a:
“Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee.”

Jesus weet dat hulle Hom gevolg het om die geestelike honger in hul lewens te voed, maar dat hulle dit met die verkeerde voedsel wil voed. Moenie werk vir voedsel wat vergaan nie.

Die probleem wanneer jy jou geestelike honger met dinge van hierdie wêreld wil versadig, is dat jy dit nie gaan regkry nie. Mense soek lewensgeluk en blydskap in wêreldse dinge. Geld, status, besittings, verhoudings.

Al hierdie dinge gaan jou teleurstel. As jy jou hoop op jou lewensmaat en/of kinders plaas om jou gelukkig te maak, dan gaan jy hulle op die uiteinde vernietig, want hulle sal nooit aan die verwagting kan voldoen nie.

As jy jou geluk op die dinge van hierdie wêreld bou, gaan jy teleurgesteld word. Wanneer dit goed gaan, dan kom jy nie agter dat jy besig is om jou lewensvreugde te voed met voedsel wat sal vergaan nie. Want, wanneer dinge begin skeefloop soos tans die geval is en hierdie dinge waarop jy jou geluk gebou het weggeneem word, dan tuimel jou lewensvreugde ineen.

Die ironie is dat hierdie dinge nie noodwendig slegte dinge is nie. Jou vrou, jou kinders, jou werk waarmee jy jou brood verdien is nie slegte dinge in jou lewe nie. Die probleem kom in wanneer jy liewer vir hierdie dinge is as wat jy vir God is.

Die oplossing is egter nie net so eenvoudig dat jy jouself moet voorneem om liewer vir God te wees nie. Die probleem is dat jy dit nie kan doen nie omdat jy vanweë jou sondige natuur geneig is om God en jou naaste te haat.

In Joh. 6 v 27b hoor ons dat jy nie iets daaraan kan doen nie, maar dat God uit genade vir jou dit gee, want Jesus sê verder dat Hy vir jou die voedsel sal gee wat ewige lewe gee:
“Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Hoe kry jy deel aan die voedsel wat nie vergaan nie en ewige lewe gee? In Joh. 6 v 29 sê Jesus:
“Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”
Jy moet in Jesus Christus glo.

Met hierdie beeld van brood verduidelik Jesus waarom Hy wat God is, mens geword het en aarde toe gekom het. Jesus sê nie vir die skare, Ek sal vir julle die brood van die lewe gee nie. Hy sê vir hulle: “Ek IS die brood wat lewe gee.”

Alles wat jy eet het doodgegaan sodat jy dit kan eet. Die graan waarmee brood gebak is, is fyngemaal. Wanneer jy die brood wat gebak is wil eet, moet dit eers in stukke gebreek word.

Wanneer Jesus se “Ek is die brood wat lewe gee,” dan sê Hy daarmee: “Ek is God wat breekbaar geword het. Ek is God wat kwesbaar geword het. Die Vader het My gestuur om vir jou aan die kruis te sterf. Ek het mens geword sodat jy kan lewe.”

Soos wat brood jou liggaam voed en vir jou lewe gee, so voed Jesus se soenoffer aan die kruis jou geestelike lewe. Wanneer Jesus sê dat Hy die Brood van die lewe is, sê Hy daarmee: “Ek het gekom om gebreek te word, sodat jy kan lewe.”

Wanneer iets verkeerd gedoen is, is daar 'n verlies en iemand moet die verlies dra. As jy 'n baie waardevolle item van iemand breek, dan moet jy die prys betaal om die eienaar daarvoor te vergoed. As daardie eienaar vir jou sê: “toemaar jy hoef nie te betaal nie, ek sal self die skade dra,” dan betoon daardie persoon genade aan jou. Jy ontvang iets wat jy nie verdien het nie.

Die prys wat betaal moet word vir die opstand en verwerping van God, is die dood, want daar is geen lewe sonder God nie. God se genade is dat Hy sy Seun stuur om die prys te betaal sodat jy dit nie hoef te betaal nie. Jesus het vir jou aan die kruis gesterf. Hy het die dood oorwin en sy opstanding is die bewys daarvan. Omdat Hy die dood oorwin het, kan Hy vir jou die ewige lewe gee.

Om die ewige lewe te ontvang moet jy glo dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het sodat jy kan lewe. Selfs die geloof wat God vra gee Hy ook vir jou. Die Heilige Gees gee dit vir jou sodat jy daarmee kan vashou aan God se genade en dat jy daarmee kan weet dat jy deel in die ewige lewe.

Wat is jou natuurlike reaksie wanneer jy iets groots ontvang? Jy is dankbaar. Wat is jou reaksie wanneer jy gered word van die dood? Jy is lief vir die persoon wat vir jou, jou lewe terug gegee het. Jy reageer op God se liefde en sy liefde verander jou sodat jy die liefde wat Hy vir jou gegee het, uitdeel. Jy kan liefhê, want God het jou eerste liefgehad.

In Joh. 6 v 35b sê Jesus:
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Deur jou geloof in Jesus word jou geestelike honger gevoed. Dit bring jou na die Bron van blydskap en lewensvreugde0. God wat vir jou lewe gee is die enigste bron van ware lewensvreugde.

Wanneer God in jou lewe teenwoordig is, dan kan tydelike moeilikheid soos hierdie Covid19 pandemie en die gepaardgaande inperkings ongerief nie jou lewensvreugde steel nie.

Kom in geloof na Jesus toe en ontdek die ware Bron van blydskap.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking