26 April 2020

Jy hoef nie bang te wees nie, want God beskerm jou - Ps 91


Datum:26 Apr. 2020 GKE ds. J.G. van der Walt
Skriflesing: Ps. 91
Teksvers: Ps. 91 v 14 & 15
Sing
Ps. 91-1 v 1 & 8
Ps. 119-2 v 10 & 11

In hierdie tyd het ons hoop nodig, want sonder hoop gaan ons nie deur hierdie pandemie kom nie. Soos ons gehoor het gaan hierdie onderstebo wêreld nie op 1 Mei 2020 skielik weer reg wees nie. Die virus is nog steeds met ons en gaan nog steeds ons wêreld negatief beïnvloed.

Ons het hoop nodig. Christene soek hulle hoop by God en vind dit in sy Woord. Ps. 91 is een van die Psalms waaraan Christene vashou wanneer ons deur moeilike tye gaan. Die probleem is egter dat indien ons die Psalm nie reg verstaan nie, kan ons valse hoop daaruit haal.

Daar is drie afdelings in die Psalm: Eerstens vind ons in Ps. 91 v 1 – 4 die belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar. Tweedens is daar dan in Ps. 91 v 5 – 13 'n paar voorbeelde wat verduidelik hoe die belofte werk en laastens hoor ons in Ps. 91 v 14 – 16 hoe jy die belofte moet verstaan om daarin te kan deel.

1 Belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar
Die belofte behels basies dat indien jy God vertrou, sal Hy jou beskerm wanneer jy in gevaar verkeer. Die Here gebruik twee beelde om te verduidelik hoe Hy jou sal beskerm.

Die eerste is die beeld van 'n veilige vesting, 'n fort wat jou veilig bewaar wanneer jy deur 'n vyand bedreig word. Die tweede beeld is die van 'n voël wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm wanneer gevaar dreig.

Die boodskap hier is dat jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.

2) Hoe moet ons hierdie belofte verstaan?
In Ps. 91 v 5 – 13 hoor ons nou 'n paar voorbeelde van hoe God jou beskerm. Jy sal beskerm word wanneer 'n vyand jou met geweld bedreig.

Dan is daar ook die voorbeeld wat nogal baie relevant is in ons huidige situasie. Jy hoef nie bang te wees vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Geen plaag sal naby jou woonplek kom nie.

Die Here sal sy engele opdrag gee dat jy selfs nie eers jou voet teen 'n klip stamp nie. Jy hoef nie vir wilde gediertes wat jou lewe bedreig bang te wees nie.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Die populêre verklaring wat so sag op die oor val en wat ons so graag aan wil vashou, is dat jy God net genoeg moet vertrou en dan sal niks slegs met jou gebeur nie.

In hierdie tyd sal ons graag aan die belofte wil vashou dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dan sal jy nie siek word van hierdie virus wat ons lewens so omver gooi nie. Ek is seker dat as ek vanoggend hierdie boodskap met oortuiging so sou oordra, dat daar baie mense sal wees wat baie daarvan sal hou! Ons wil nie siek word van hierdie virus nie en hier is nou die oplossing wat ons gaan beskerm.

Daar is egter so 'n klein probleempie met bogenoemde boodskap. Christene en nie Christene word siek van die virus. Hoe moet ons nou verklaar dat Christene ook siek word van die virus en dat daar selfs Christene is wat sterf as gevolg van die virus?

Die logiese verklaring wat uit bogenoemde boodskap voortvloei is dat die Christene wat deur die virus geïnfekteer word God nie genoeg vertrou en hul geloof nie sterk genoeg is nie. Watse troos lê daar in so 'n boodskap? Kan ons werklik sê dat die Christin wat siek word se geloof nie sterk genoeg is nie?

Die ander ding wat net so relevant is vandag, is die geweldsmisdade teen die plaasboere. Beteken dit dat daardie boere wat aangeval word se geloof nie sterk genoeg is nie? Nee ons kan nie so sê nie !!!!!!!!!!

Dit is wel waar dat God ons beskerm teen onheil en gevaar, maar dit is ook waar dat Hy soms toelaat dat onheil en gevaar oor ons pad kom. Wanneer Hy dit toelaat is dit ook nie noodwendig omdat ons iets verkeerd gedoen het nie.

Dink maar aan Job. Sy drie vriende het hom beskuldig dat hy iets verkeerd gedoen het en dat dit die oorsaak was vir die rampe wat hom getref het. Hulle verklaring was egter nie waar nie en God het hulle bestraf daaroor.

Die ou satan wil graag hê dat ons moet glo dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dat niks slegs met jou sal gebeur nie. Want hy weet dat daar êrens op jou pad 'n tyd gaan kom waar iets slegs met jou gaan gebeur en as jy bogenoemde boodskap glo gaan dit jou vertroue in God skade aandoen.

Dis dieselfde strategie wat hy gevolg het toe Jesus in die woestyn versoek is. Hy het Ps. 91 v 11 en 12 aangehaal toe hy met die derde versoeking Jesus uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring soos ons in Luk. 4 hoor. Jesus se antwoord dat jy die Here jou God nie op die proef mag stel nie, maak dit baie duidelik dat die satan se interpretasie verkeerd is.

Die satan se strategie met die versoeking was om Jesus sover te kry om nie die pad van die kruis te loop nie, want as Jesus nie die pad van lyding deur die kruis heen gevolg het nie, sou die hele mensdom verlore gewees het.

Jesus het egter nie vir die satan se versoeking geval nie en Hy het die pad van lyding deur die kruis gevolg. Jesus het helse smart, pyn en God verlatenheid deurgemaak ter wille van jou en my. Hy weet wat dit beteken om te ly. Hy weet wat dit beteken om deur die satan versoek te word.

Jesus verstaan waardeur ons gaan wanneer ons swaarkry. Hy was daar, Hy weet want Hy was self deur nog swaarder lyding as wat enige mens op aarde ooit sal verduur.

3) Hoe moet ons dan die belofte verstaan sodat ons daarin kan deel?
In Ps. 91 v 14 hoor ons:
“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

Soos wat 'n voel haar kuikens onder haar vlerke beskerm so beskerm die Here die wat Hom liefhet. 'n Voel sal selfs haar lewe gee terwyl haar kuikens veilig onder vlerke beskerm word. Jesus het met sy lewe betaal om ons te beskerm.

Hoe kan ons die Here liefhê? In 1 Joh. 4 v 19 hoor ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het en in 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons dat God sy Seun gestuur het omdat Hy ons liefhet. Die bron van ons liefde vir God is Jesus wat vir ons sondes gesterf het. Jou liefde vir God kom na vore wanneer jy glo dat Hy sy Seun gestuur het om te sterf sodat jy kan lewe.

In Ps. 91 v 15 hoor ons die sleutel hoe om die belofte van Ps. 91 te verstaan.
in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red
Die Here sê nie hier dat daar nooit slegte dinge oor jou pad sal kom nie. Wat Hy wel vir ons hier sê, is dat wanneer daar slegte dinge oor jou pad kom, sal Hy daar wees vir jou. Hy sal die pad saam met jou stap.

Deur lyding word ons gevorm om al hoe meer gelykvormig aan Jesus te word. Die belofte is dat self lyding jou nie van die ewige lewe kan weerhou nie, want selfs as jy sou sterf as gevolg van jou lyding hier op aarde, sal jy steeds bly lewe. Die bose sal nie sy doel bereik om jou van God te vervreem nie.

In Ps. 91 v 16 hoor ons dat God vir die wat Hom liefhet 'n baie lang lewe sal gee. Elkeen wat in Jesus Christus glo ontvang die ewige lewe.

Weet daarom dat selfs binne in hierdie lyding wat die pandemie oor ons pad gebring het, dat jy nie alleen is nie. God stap saam met jou en Hy hou jou vas. Niks sal jou van die ewige lewe kan beroof nie.

Onthou dat ook in hierdie krisis, jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking