Wys tans plasings met die etiket bang. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket bang. Wys alle plasings

21 Januarie 2021

Moenie bang wees nie

Jes. 43 v 1 - 4

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder. Ek gee Egipte as losprys vir jou, Kus en Seba in jou plek. Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe.

 This devotional is also available in English



Moenie bang wees nie. Dit is 'n gerusstelling wat soos 'n goue draad deur die Bybel loop. Wanneer engele aan mense verskyn is hulle eerste woorde gewoonlik: “Moenie bang wees nie.” Dink maar aan die engel Gabriel se verskyning aan Maria. Direk nadat hy haar gegroet het, sê hy: “Moenie bang wees nie.”

 

Die HERE sê vir ons dat ons nie moet bang wees wanneer dit lyk of die wêreld op sy kop gedraai het nie. Moenie bang wees wanneer Covid soos 'n veldbrand versprei nie. Moenie bang wees as jyself deur Covid aangesteek word nie. Moenie bang wees wanneer die gebeure rondom jou soos 'n orkaan verwoed alles deurmekaar waai nie.

 

Dit is belangrik dat ons moet raaksien dat die HERE nie sê dat Hy die onstuimigheid gaan wegneem nie. Wat Hy wel sê is dat wanneer jy deur die rivier met sy bruisende waters moet gaan of jy deur die vuur moet gaan, dat Hy daar is vir jou. Jy is nie alleen nie.

 

Die HERE vat nie altyd die storms weg nie, maar Hy gee vir ons die versekering dat wanneer ons deur die storm moet gaan dat Hy aan jou sy is omdat jy as sy kind vir Hom kosbaar is. Selfs wanneer jy deur die vallei van die dood moet gaan sal Hy jou nie alleen laat nie. Daar is niks wat jou van die liefde van Christus kan skei nie, selfs nie eens die dood nie.

 

Die HERE gee hierdie belofte egter net aan sy kinders. Net diegene wat in Jesus Christus glo as hul enigste Verlosser en Saligmaker is kinders van God. Is jy 'n kind van God? Glo in Jesus Christus. Bely jou sonde en erken dat jy as gevolg daarvan verlore is. Glo dat Jesus jou daarvan verlos het met sy kruisiging en opstanding. Vertrou op God en moenie bang wees nie.

 

Kinders van God, moenie bang wees wanneer die lewensstorms soos 'n verwoede orkaan rondom jou woed nie.

Amen

26 April 2020

Jy hoef nie bang te wees nie, want God beskerm jou - Ps 91


Datum:26 Apr. 2020 GKE ds. J.G. van der Walt
Skriflesing: Ps. 91
Teksvers: Ps. 91 v 14 & 15
Sing
Ps. 91-1 v 1 & 8
Ps. 119-2 v 10 & 11

In hierdie tyd het ons hoop nodig, want sonder hoop gaan ons nie deur hierdie pandemie kom nie. Soos ons gehoor het gaan hierdie onderstebo wêreld nie op 1 Mei 2020 skielik weer reg wees nie. Die virus is nog steeds met ons en gaan nog steeds ons wêreld negatief beïnvloed.

Ons het hoop nodig. Christene soek hulle hoop by God en vind dit in sy Woord. Ps. 91 is een van die Psalms waaraan Christene vashou wanneer ons deur moeilike tye gaan. Die probleem is egter dat indien ons die Psalm nie reg verstaan nie, kan ons valse hoop daaruit haal.

Daar is drie afdelings in die Psalm: Eerstens vind ons in Ps. 91 v 1 – 4 die belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar. Tweedens is daar dan in Ps. 91 v 5 – 13 'n paar voorbeelde wat verduidelik hoe die belofte werk en laastens hoor ons in Ps. 91 v 14 – 16 hoe jy die belofte moet verstaan om daarin te kan deel.

1 Belofte dat God ons sal beskerm in tye van gevaar
Die belofte behels basies dat indien jy God vertrou, sal Hy jou beskerm wanneer jy in gevaar verkeer. Die Here gebruik twee beelde om te verduidelik hoe Hy jou sal beskerm.

Die eerste is die beeld van 'n veilige vesting, 'n fort wat jou veilig bewaar wanneer jy deur 'n vyand bedreig word. Die tweede beeld is die van 'n voël wat haar kuikens onder haar vlerke beskerm wanneer gevaar dreig.

Die boodskap hier is dat jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.

2) Hoe moet ons hierdie belofte verstaan?
In Ps. 91 v 5 – 13 hoor ons nou 'n paar voorbeelde van hoe God jou beskerm. Jy sal beskerm word wanneer 'n vyand jou met geweld bedreig.

Dan is daar ook die voorbeeld wat nogal baie relevant is in ons huidige situasie. Jy hoef nie bang te wees vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Geen plaag sal naby jou woonplek kom nie.

Die Here sal sy engele opdrag gee dat jy selfs nie eers jou voet teen 'n klip stamp nie. Jy hoef nie vir wilde gediertes wat jou lewe bedreig bang te wees nie.

Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Die populêre verklaring wat so sag op die oor val en wat ons so graag aan wil vashou, is dat jy God net genoeg moet vertrou en dan sal niks slegs met jou gebeur nie.

In hierdie tyd sal ons graag aan die belofte wil vashou dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dan sal jy nie siek word van hierdie virus wat ons lewens so omver gooi nie. Ek is seker dat as ek vanoggend hierdie boodskap met oortuiging so sou oordra, dat daar baie mense sal wees wat baie daarvan sal hou! Ons wil nie siek word van hierdie virus nie en hier is nou die oplossing wat ons gaan beskerm.

Daar is egter so 'n klein probleempie met bogenoemde boodskap. Christene en nie Christene word siek van die virus. Hoe moet ons nou verklaar dat Christene ook siek word van die virus en dat daar selfs Christene is wat sterf as gevolg van die virus?

Die logiese verklaring wat uit bogenoemde boodskap voortvloei is dat die Christene wat deur die virus geïnfekteer word God nie genoeg vertrou en hul geloof nie sterk genoeg is nie. Watse troos lê daar in so 'n boodskap? Kan ons werklik sê dat die Christin wat siek word se geloof nie sterk genoeg is nie?

Die ander ding wat net so relevant is vandag, is die geweldsmisdade teen die plaasboere. Beteken dit dat daardie boere wat aangeval word se geloof nie sterk genoeg is nie? Nee ons kan nie so sê nie !!!!!!!!!!

Dit is wel waar dat God ons beskerm teen onheil en gevaar, maar dit is ook waar dat Hy soms toelaat dat onheil en gevaar oor ons pad kom. Wanneer Hy dit toelaat is dit ook nie noodwendig omdat ons iets verkeerd gedoen het nie.

Dink maar aan Job. Sy drie vriende het hom beskuldig dat hy iets verkeerd gedoen het en dat dit die oorsaak was vir die rampe wat hom getref het. Hulle verklaring was egter nie waar nie en God het hulle bestraf daaroor.

Die ou satan wil graag hê dat ons moet glo dat as jy God net genoeg vertrou en jou geloof sterk genoeg is, dat niks slegs met jou sal gebeur nie. Want hy weet dat daar êrens op jou pad 'n tyd gaan kom waar iets slegs met jou gaan gebeur en as jy bogenoemde boodskap glo gaan dit jou vertroue in God skade aandoen.

Dis dieselfde strategie wat hy gevolg het toe Jesus in die woestyn versoek is. Hy het Ps. 91 v 11 en 12 aangehaal toe hy met die derde versoeking Jesus uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring soos ons in Luk. 4 hoor. Jesus se antwoord dat jy die Here jou God nie op die proef mag stel nie, maak dit baie duidelik dat die satan se interpretasie verkeerd is.

Die satan se strategie met die versoeking was om Jesus sover te kry om nie die pad van die kruis te loop nie, want as Jesus nie die pad van lyding deur die kruis heen gevolg het nie, sou die hele mensdom verlore gewees het.

Jesus het egter nie vir die satan se versoeking geval nie en Hy het die pad van lyding deur die kruis gevolg. Jesus het helse smart, pyn en God verlatenheid deurgemaak ter wille van jou en my. Hy weet wat dit beteken om te ly. Hy weet wat dit beteken om deur die satan versoek te word.

Jesus verstaan waardeur ons gaan wanneer ons swaarkry. Hy was daar, Hy weet want Hy was self deur nog swaarder lyding as wat enige mens op aarde ooit sal verduur.

3) Hoe moet ons dan die belofte verstaan sodat ons daarin kan deel?
In Ps. 91 v 14 hoor ons:
“Omdat hy My liefhet, sal Ek hom red,” sê die Here,
“omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm.

Soos wat 'n voel haar kuikens onder haar vlerke beskerm so beskerm die Here die wat Hom liefhet. 'n Voel sal selfs haar lewe gee terwyl haar kuikens veilig onder vlerke beskerm word. Jesus het met sy lewe betaal om ons te beskerm.

Hoe kan ons die Here liefhê? In 1 Joh. 4 v 19 hoor ons dat ons kan liefhê omdat God ons eerste liefgehad het en in 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons dat God sy Seun gestuur het omdat Hy ons liefhet. Die bron van ons liefde vir God is Jesus wat vir ons sondes gesterf het. Jou liefde vir God kom na vore wanneer jy glo dat Hy sy Seun gestuur het om te sterf sodat jy kan lewe.

In Ps. 91 v 15 hoor ons die sleutel hoe om die belofte van Ps. 91 te verstaan.
in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red
Die Here sê nie hier dat daar nooit slegte dinge oor jou pad sal kom nie. Wat Hy wel vir ons hier sê, is dat wanneer daar slegte dinge oor jou pad kom, sal Hy daar wees vir jou. Hy sal die pad saam met jou stap.

Deur lyding word ons gevorm om al hoe meer gelykvormig aan Jesus te word. Die belofte is dat self lyding jou nie van die ewige lewe kan weerhou nie, want selfs as jy sou sterf as gevolg van jou lyding hier op aarde, sal jy steeds bly lewe. Die bose sal nie sy doel bereik om jou van God te vervreem nie.

In Ps. 91 v 16 hoor ons dat God vir die wat Hom liefhet 'n baie lang lewe sal gee. Elkeen wat in Jesus Christus glo ontvang die ewige lewe.

Weet daarom dat selfs binne in hierdie lyding wat die pandemie oor ons pad gebring het, dat jy nie alleen is nie. God stap saam met jou en Hy hou jou vas. Niks sal jou van die ewige lewe kan beroof nie.

Onthou dat ook in hierdie krisis, jy nie bang hoef te wees nie, want God beskerm jou.
Amen

06 Oktober 2019

Christus se sterwe en begrafnis is ons versekering van die ewige lewe


6 Okt. 2019 GKE
Mat 27 v 45 - 66  Teksverse Mat 27 v 46 & 50



Heidelbergse Kategismus
SONDAG 16
40  Vraag:  Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord:  Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a) Gen 2:17.  (b) Rom 8:3, 4;  Heb 2:14, 15.
41  Vraag:  Waarom is Hy begrawe?
Antwoord:  Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a) Hand 13:29;  Matt 27:59, 60;  Luk 23:53;  Joh 19:38.
42  Vraag:  As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord:  Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8:37;  Ps 49:8.  (b) Fil 1:23;  Joh 5:24;  Rom 7:24.
43  Vraag:  Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord:  Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a).  Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a) Rom 6:6.  (b) Rom 6:6, 12.  (c) Rom 12:1.
44  Vraag:  Waarom volg daar:  en neergedaal het na die hel?
Antwoord:  Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a).  Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
(a) Jes 53:5.  (b) Ps 18:5, 6;  116:3;  Matt 26:38;  27:46 Heb 5:7

Inleiding

“Eli, Eli, lemá sabagtani !” Dis 'n hulproep van Godverlatenheid! 

My God, my God, waarom het U my verlaat! 

Het u al gevoel of God u verlaat het? Sien u die prentjie van Christus se bange uitroep, “Eli, Eli, lemá sabagtani”, daar waar Hy aan die kruis hang? Die fisiese pyn wat Hy ervaar het was niks in vergelyking met die Godverlatenheid wat Hy ervaar het nie. 

Nadat Christus sy laaste asem uitgeblaas het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan.

Kan u uself indink wat daardie dag gebeur het? 

Ons het nog so ’n idee van Christus se fisiese lyding, maar ons sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. Altans elkeen wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is wat vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het, sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. 

Wanneer ons bely dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het, bely ons dat ons nooit sal nodig hê om daardie Godverlatenheid te ervaar nie.

In Sondag 16 is daar twee hoofgedagtes wat in ons belydenis na vore kom.
1.    Die eerste is Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewigheid saam met God waar daar geen hartseer, pyn, lyding of dood sal wees nie (vrg en antw 40-43)
2.    en die tweede is Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg en antwoord 44).

In die eerste plek dan wat beteken ons belydenis dat:

Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg. en antw. 40-43)

In Mat. 27 v 50 hoor ons:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

Wat beteken dit werklik vir ons? 
Maak dit regtig saak of Jesus gesterf het of nie? 

Geliefdes, die Christelike geloof staan of val by Jesus se sterwe en opstanding! Jesus hét gesterf. Sy begrafenis is die versekering, die bewys, dat Hy werklik gesterf het. Jesus se sterwe hou vir ons ’n wonderlike troos in. Dit is waarmee Christene mekaar troos wanneer hulle voor ’n oop graf staan, want vir ’n Christen is die liggaamlike dood nie die einde nie. Dit is die Christelike hoop waaraan ons vashou. Die dood hou vir ons geen verskrikking meer in nie.

Ons dood is geen betaling vir sondes nie, maar ’n afsterwing daarvan. Ons dood is ’n deurgang na die ewige heerlikheid saam met God. 

Ons leef nog in ’n wêreld wat deur sonde geteister word. Ons voel dit daagliks aan die lyf. Ons word nog kwaad. Ons vertel soms nog leuens. Ons voer ’n ewige stryd met sonde in ons lewens en ons ly nog as gevolg van ons eie sondige keuses en die sondige keuses van mense om ons. Christus se dood hou vir ons die troos in dat ons van hierdie gevolge van die sonde verlos gaan word. In die nuwe Jerusalem sondig ons as gelowiges nie meer nie.

Dit is dan finaal en vir altyd en volkome verby met ons sondes en ons sondige geaardheid. Dit beteken dat ons nie meer aan die lyding van misdaad blootgestel gaan wees nie. Dit beteken dat ons kwaadwillige geneigdheid waarteen ons so moet stry in hierdie lewe, nie meer daar gaan wees nie. 

Christus se dood beteken ook dat ons in hierdie lewe teen die sonde kan stry en ook oorwin. Dit beteken dat jy nie tevergeefs teen die sonde stry nie.

Hierdie belydenis van ons begin prakties iets beteken wanneer ons met die dood gekonfronteer word. Dit gee vir ons die vrede wanneer ons met ons eie sterflikheid gekonfronteer word. Geliefdes wanneer mens die dood in die oë staar is dit ’n wonderlike troos om aan vas te hou. Dit gee ook vir ons die troos dat ons nie moedeloos hoef te word in ons stryd teen die sonde nie.

In die tweede plek

Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg. en antw. 44)

Het u al ooit in die lewe gevoel dat almal u in die steek gelaat het?
Het dit al ooit vir u gevoel of u nie weet watter kant toe nie? 

In ons belydenis dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het, lê ’n onuitspreeklike troos. Dit is die anker waaraan ons vashou wanneer alles rondom ons ineenstort. Wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het, dan is dit die troos waaraan jy moet vashou.

In ons kategismus bely ons dat ons Here Jesus onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking gely het. 

In Mat 27 v 46 hoor ons hoe Jesus se smarte en angste ’n hoogtepunt bereik:
Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Hiermee verseker Jesus jou dat jy nooit daardie doodsbenoudheid hoef te verduur nie.

Wat beteken dit prakties vir ons? 

In die kategismus bely ons: 
"Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het.”

Dit beteken dat wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het, dat jy nie alleen staan nie. Mense kan jou in die steek laat, maar God sal jou nooit in die steek laat nie. 

Hierdie belydenis van ons word so mooi bevestig in Rom. 8 v 35-39:
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Dis die wonderlike troos en betekenis van Jesus Christus se lyde en sterwe. Mense kan ons in die steek laat, hulle kan alles van ons wegvat, selfs ons lewe, maar hulle kan ons nooit uit die hand van God ruk nie.

Ons belydenis in Sondag 16 oor die sterwe en begrafnis van Jesus Christus beteken vir ons dat ons nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat ons liggaamlike dood slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Christus het deur sy hele lewe op aarde helse smart en pyn gely wat ’n hoogtepunt op die kruis bereik het toe Hy in Godverlatenheid uitgeroep het 

“My God, My God waarom het U My verlaat?” 

Hy het dit vir ons gedoen sodat ons verseker kan wees dat ons nooit deur God verlaat sal word nie. 

Alles kan van my af weggeneem word, selfs my lewe, maar niks of niemand kan my uit God se hand ruk nie.

Amen