Wys tans plasings met die etiket dood. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket dood. Wys alle plasings

06 Oktober 2019

Christus se sterwe en begrafnis is ons versekering van die ewige lewe


6 Okt. 2019 GKE
Mat 27 v 45 - 66  Teksverse Mat 27 v 46 & 50



Heidelbergse Kategismus
SONDAG 16
40  Vraag:  Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?
Antwoord:  Weens die geregtigheid en waarheid van God (a) kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie (b).
(a) Gen 2:17.  (b) Rom 8:3, 4;  Heb 2:14, 15.
41  Vraag:  Waarom is Hy begrawe?
Antwoord:  Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het (a).
(a) Hand 13:29;  Matt 27:59, 60;  Luk 23:53;  Joh 19:38.
42  Vraag:  As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?
Antwoord:  Ons dood is nie 'n betaling vir ons sondes nie (a), maar slegs 'n afsterwe van die sondes en 'n deurgang tot die ewige lewe (b).
(a) Mark 8:37;  Ps 49:8.  (b) Fil 1:23;  Joh 5:24;  Rom 7:24.
43  Vraag:  Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis?
Antwoord:  Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe (a).  Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, (b) maar kan ons onsself as 'n dankoffer aan Hom toewy (c).
(a) Rom 6:6.  (b) Rom 6:6, 12.  (c) Rom 12:1.
44  Vraag:  Waarom volg daar:  en neergedaal het na die hel?
Antwoord:  Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het (a).  Hierdie verlossing het Hy bewerk deur sy onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking (b) wat Hy ook aan sy siel deur sy hele lewe, maar veral aan die kruis gely het.
(a) Jes 53:5.  (b) Ps 18:5, 6;  116:3;  Matt 26:38;  27:46 Heb 5:7

Inleiding

“Eli, Eli, lemá sabagtani !” Dis 'n hulproep van Godverlatenheid! 

My God, my God, waarom het U my verlaat! 

Het u al gevoel of God u verlaat het? Sien u die prentjie van Christus se bange uitroep, “Eli, Eli, lemá sabagtani”, daar waar Hy aan die kruis hang? Die fisiese pyn wat Hy ervaar het was niks in vergelyking met die Godverlatenheid wat Hy ervaar het nie. 

Nadat Christus sy laaste asem uitgeblaas het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde het geskud, en die rotse het uitmekaar gebars. Grafte het oopgegaan, en baie gelowiges wat dood was, is opgewek, en hulle het uit hulle grafte uitgegaan.

Kan u uself indink wat daardie dag gebeur het? 

Ons het nog so ’n idee van Christus se fisiese lyding, maar ons sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. Altans elkeen wat bely dat Jesus Christus die Seun van God is wat vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het, sal nooit werklik weet wat dit beteken om deur God verlaat te word nie. 

Wanneer ons bely dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het, bely ons dat ons nooit sal nodig hê om daardie Godverlatenheid te ervaar nie.

In Sondag 16 is daar twee hoofgedagtes wat in ons belydenis na vore kom.
1.    Die eerste is Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewigheid saam met God waar daar geen hartseer, pyn, lyding of dood sal wees nie (vrg en antw 40-43)
2.    en die tweede is Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg en antwoord 44).

In die eerste plek dan wat beteken ons belydenis dat:

Christus sterf in ons plek sodat ons dood net ’n deurgang is na die ewige lewe (vrg. en antw. 40-43)

In Mat. 27 v 50 hoor ons:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.

Wat beteken dit werklik vir ons? 
Maak dit regtig saak of Jesus gesterf het of nie? 

Geliefdes, die Christelike geloof staan of val by Jesus se sterwe en opstanding! Jesus hét gesterf. Sy begrafenis is die versekering, die bewys, dat Hy werklik gesterf het. Jesus se sterwe hou vir ons ’n wonderlike troos in. Dit is waarmee Christene mekaar troos wanneer hulle voor ’n oop graf staan, want vir ’n Christen is die liggaamlike dood nie die einde nie. Dit is die Christelike hoop waaraan ons vashou. Die dood hou vir ons geen verskrikking meer in nie.

Ons dood is geen betaling vir sondes nie, maar ’n afsterwing daarvan. Ons dood is ’n deurgang na die ewige heerlikheid saam met God. 

Ons leef nog in ’n wêreld wat deur sonde geteister word. Ons voel dit daagliks aan die lyf. Ons word nog kwaad. Ons vertel soms nog leuens. Ons voer ’n ewige stryd met sonde in ons lewens en ons ly nog as gevolg van ons eie sondige keuses en die sondige keuses van mense om ons. Christus se dood hou vir ons die troos in dat ons van hierdie gevolge van die sonde verlos gaan word. In die nuwe Jerusalem sondig ons as gelowiges nie meer nie.

Dit is dan finaal en vir altyd en volkome verby met ons sondes en ons sondige geaardheid. Dit beteken dat ons nie meer aan die lyding van misdaad blootgestel gaan wees nie. Dit beteken dat ons kwaadwillige geneigdheid waarteen ons so moet stry in hierdie lewe, nie meer daar gaan wees nie. 

Christus se dood beteken ook dat ons in hierdie lewe teen die sonde kan stry en ook oorwin. Dit beteken dat jy nie tevergeefs teen die sonde stry nie.

Hierdie belydenis van ons begin prakties iets beteken wanneer ons met die dood gekonfronteer word. Dit gee vir ons die vrede wanneer ons met ons eie sterflikheid gekonfronteer word. Geliefdes wanneer mens die dood in die oë staar is dit ’n wonderlike troos om aan vas te hou. Dit gee ook vir ons die troos dat ons nie moedeloos hoef te word in ons stryd teen die sonde nie.

In die tweede plek

Christus ly helse angs en pyn om ons daarvan te verlos (vrg. en antw. 44)

Het u al ooit in die lewe gevoel dat almal u in die steek gelaat het?
Het dit al ooit vir u gevoel of u nie weet watter kant toe nie? 

In ons belydenis dat Christus die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het, lê ’n onuitspreeklike troos. Dit is die anker waaraan ons vashou wanneer alles rondom ons ineenstort. Wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het, dan is dit die troos waaraan jy moet vashou.

In ons kategismus bely ons dat ons Here Jesus onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking gely het. 

In Mat 27 v 46 hoor ons hoe Jesus se smarte en angste ’n hoogtepunt bereik:
Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

Hiermee verseker Jesus jou dat jy nooit daardie doodsbenoudheid hoef te verduur nie.

Wat beteken dit prakties vir ons? 

In die kategismus bely ons: 
"Sodat ek in my swaarste aanvegtinge verseker kan wees en myself volkome kan vertroos dat my Here Jesus Christus my van die hel se benoudheid en pyn verlos het.”

Dit beteken dat wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het, dat jy nie alleen staan nie. Mense kan jou in die steek laat, maar God sal jou nooit in die steek laat nie. 

Hierdie belydenis van ons word so mooi bevestig in Rom. 8 v 35-39:
35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.” 37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Dis die wonderlike troos en betekenis van Jesus Christus se lyde en sterwe. Mense kan ons in die steek laat, hulle kan alles van ons wegvat, selfs ons lewe, maar hulle kan ons nooit uit die hand van God ruk nie.

Ons belydenis in Sondag 16 oor die sterwe en begrafnis van Jesus Christus beteken vir ons dat ons nie vir die dood hoef bang te wees nie omdat ons liggaamlike dood slegs ’n deurgang is na die ewige heerlikheid saam met God.

Christus het deur sy hele lewe op aarde helse smart en pyn gely wat ’n hoogtepunt op die kruis bereik het toe Hy in Godverlatenheid uitgeroep het 

“My God, My God waarom het U My verlaat?” 

Hy het dit vir ons gedoen sodat ons verseker kan wees dat ons nooit deur God verlaat sal word nie. 

Alles kan van my af weggeneem word, selfs my lewe, maar niks of niemand kan my uit God se hand ruk nie.

Amen

03 Desember 2017

Jesus het mens geword sodat ons in oorvloed kan lewe.



3 Des 2017 GKE



Gen 3 Teksvers Gen 3 v 20

¯ Sing ¯

Sb. 3-3 v 1 & 6
Sb. 2-4 v 1 & 3
Sb. 3-4 v 1 & 5
Sb. 1-3 v 1



Die jaar snel ten einde en ons is al weer by daardie tyd van die jaar waar ons begin regmaak vir Kersfees. Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense. Met Kersfees onthou Christene dat God mens geword het toe Jesus so bietjie meer as 2000 jaar gelede gebore is.



So tussen deur die regmaak en beplanning vir al die feestelikhede is dit goed dat ons net so bietjie stil word om na te dink wat Christus se geboorte vir ons beteken. Daarmee saam om ook net weer te besef wat se verskil dit aan ons lewe maak.



Om werklik die betekenis te verstaan van dit wat ons met Kersfees herdenk gaan ons vandag eers weer terug na daardie gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom wat dit nodig gemaak het dat God in Jesus Christus mens geword het.



Wanneer ons aan Genesis 3 dink dan haak ons so maklik vas by die vrug en die slang en die gebeure rondom dit. Vandag gaan ons so bietjie besin oor wat die implikasies was van daardie hap aan die vrug.



In Gen 2 v 16 & 17 hoor ons dat God die mens ’n opdrag gee en wat die gevolge sal wees indien die mens nie gehoorsaam is aan daardie opdrag nie.

16Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, 17maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”



Ongehoorsaamheid hou baie ernstige gevolge in. Met ongehoorsaamheid word lewe vir dood verruil. In Gen 3 hoor ons dan ook die hartseer verhaal hoe die mens en sy vrou die lewe vir dood verruil het.

En die vrou het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.

God het vir hulle gesê hulle moenie, maar hulle het besluit hulle wil en toe het hulle die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet.



Die gevolge van hierdie daad het verrykende gevolge vir hulle en hul nageslag ingehou. Hulle het lewe verruil vir dood. Van daardie oomblik af was hulle liggame onderwerp aan aftakeling wat op die uiteinde tot liggaamlike dood lei, nie net vir hulle nie, maar vir hulle hele nageslag.



Verder ook het hulle hele bestaan nou moeite geword soos ons hoor in Gen 3:16-19:

16Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry

met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.

Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”

17Vir die mens het die Here God gesê: “Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,

is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ’n bestaan maak, jou lewe lank; 18die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Die leefwêreld van die mens wat vir hulle vreugde verskaf het, het verander in ’n omgewing wat moeite en lyding veroorsaak.



Die ergste is dat daar ’n vervreemding tussen God en die mens ingetree het. Liefde in hul verhouding met God het nou plek gemaak vir vrees. Die mens het bang vir God geword en daarom het hulle probeer wegkruip toe God hoor naderkom.



As die verhaal hiermee geëindig het, sou dit inderdaad ’n baie droewige hartseer verhaal gewees het. Dan het dood die laaste sê gehad. Dood het egter nie die laaste sê nie, want verweef binne in die verhaal tussen al die hartseer gebeure, is ’n boodskap van hoop.



Ons hoor dit reeds in Gen 3 v 15 met ’n belofte van vyandskap tussen die nageslag van die mens en die bose. Die vyandskap bring verwydering tussen die mens en die bose en daarmee saam ook die belofte dat die bose oorwin gaan word. Die bose het nie die laaste sê nie.



In Gen 3 v 20 hoor ons hoe die man hierdie boodskap van hoop aangryp. Tot nou toe is daar na die mense in hierdie verhaal net verwys as man en vrou. Nou gee die man vir sy vrou ’n naam. “Die mens het sy vrou Eva genoem.” Die betekenis van die Hebreeuse woord wat in ons Bybel met Eva vertaal is, beteken lewe. En dan bevestig die verteller van die verhaal dat daar inderdaad lewe vanuit die vrou voortgevloei het. “sy was die moeder van al die mense.”



En dan sluit die verhaal af met nog ’n boodskap van hoop op lewe. Ons hoor hoedat hulle uit die tuin verban was sodat hulle nie toegang tot die boom van lewe sou verkry het nie. Op die oog af klink dit of dit deel is van hulle straf, maar dit is nie. Dit vertel vir ons van God se genade. Hy keer hiermee dat hulle in hul sondige toestand van die boom van die lewe eet en so vir ewig in hul sondige toestand vasgevang sou word.



As hulle op daardie stadium van die boom van die lewe sou eet sou dit nie lewe gee nie, maar dood waar hulle vir ewig van God vervreem sou wees vanweë hulle sonde. Deur hulle uit die tuin te verban, maak God dit moontlik dat die beloftes wat Hy gegee het dat die bose oorwin sal word, waar word.



Wat beteken hierdie verhaal uit ons oeroue geskiedenis vir ons vandag en hoe pas dit in by Kersfees? In Joh. 10 v 10 hoor ons die volgende woorde van Jesus:

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Hiermee bevestig Jesus die belofte van lewe wat ons reeds in Gen 3 gehoor het. Hy het mens geword uit die nageslag van EVA wat lewe beteken en hier bevestig Hy dat Hy gekom het om lewe te bring. Met Kersfees herdenk ons dat Jesus wat God is, as mens gebore is. Hy is as mens gebore sodat die belofte van lewe in Gen 3 waar kon word. Dit is egter nie net gewone lewe wat Jesus bring nie. Dit is lewe in oorvloed! Dit beteken dat elkeen wat die belofte van lewe in Jesus Christus met geloof omhels, deel in daardie lewe van oorvloed wat Jesus gebring het.



Wat beteken Kersfees dus prakties vir ons, geliefdes? Dit beteken dat die vloek van ’n doodsbestaan nie meer die laaste sê het in ons lewens nie. Dit is waar dat ons nog nie heeltemal bevry is van die gevolge van die sonde nie. Ons lewens is nie nou van terugslae vrygeskeld nie, maar die terugslae het nie die laaste sê nie. Midde in die terugslae en swaarkry beleef ons God se liefdevolle teenwoordigheid en ons beleef hoe Hy ons daardeur dra.



Die belofte van lewe in Gen 3 wat deur Jesus waar geword het, beteken dat die vervreemding wat sonde tussen jou en God gebring het, nie meer daar is nie. Jy kan reeds in hierdie lewe die oorvloed van God se liefde beleef, veral hoe Hy jou dra deur ’n lewe wat nie perfek is nie. Ek is seker dat elkeen van ons kan terugkyk hoe God ons gedra het deur die stampe en die stote van die lewe. Ons sien ook uit na die belofte dat die swaarkry in hierdie lewe net tydelik is. Ons het ’n lewende hoop op ’n ewigdurende lewe saam met God sonder hartseer trane of pyn.



Kersfees herinner ons net weer dat God ons ook in die toekoms sal dra deur die stampe en die stote van die lewe. Kersfees herinner ons dat die swaarkry van hierdie lewe net tydelik is en dat ons op pad is na ’n ewige heerlikheid saam met God sonder hartseer trane of pyn. Kersfees sê vir ons dat Jesus mens geword het sodat ons in oorvloed kan lewe.

Amen








07 Junie 2015

Jesus Christus IS die pad na die hemel toe

17 Mei 2015
Joh. 14 v 1 – 14 tv’e 2 , 6 , 12 & 14
Sb 4-6
Sb 9-3 v 1 & 2
Sb 10-1 v 1 - 4
Sb 18-7 v 1, 3, 11 & 12

Inleiding
Wat maak mens wanneer jy op ’n reis gaan na ’n bestemming waarheen jy nog nie tevore was nie? Jy beplan, jy raadpleeg ’n padkaart en doen navorsing om jou voor te berei vir die pad, want as jy dit nie doen nie, gaan jy heel moontlik verdwaal op die pad en by ’n verkeerde bestemming uitkom. Ons is op pad na ’n bestemming waarheen ons nog nooit was nie. Ons is besig met ons lewensreis en ons eindbestemming is die ewige heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, pyn of dood meer sal wees nie. Hierdie bestemming staan ook as die hemel bekend. Ons padkaart na hierdie bestemming is ons Bybels.

In Joh. 14 is daar baie belangrike inligting wat ons help met die voorbereiding op ons lewensreis na ons ewige bestemming toe. In Joh. 14v1 hoor ons wat die sleutel is om te verseker dat ons op die regte pad is.
Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My.
Geloof is die sleutel. Met ander woorde ons moet Jesus vertrou en ons moet God vertrou wat Jesus gestuur om ons op die pad te help.

Wanneer iets vir jou onbekend is, is dit natuurlik dat daar ’n bekommernis of ’n onrustigheid by jou daaroor sal wees. Hoe groter die onsekerheid, hoe groter is die bekommernis. Ons weet nie waar ons eindbestemming van ons lewensreis is nie en ons weet ook nie hoe dit daar gaan wees nie of wanneer ons daar gaan aankom nie. Gaan daar vir elkeen van ons plek wees daar? Jesus sê vir ons om nie daaroor bekommerd te wees. Ons moet Hom net vertrou en dan gee Hy ook vir ons die versekering oor ons eindbestemming.
In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het

In hierdie teksgedeelte hoor ons hoe om veilig by die eindbestemming van ons lewensreis te kom. In die eerste plek verseker Jesus ons dat Hy vooruit gaan om die pad te beveilig. Dan sê Hy in die tweede plek presies watter pad ons moet volg sodat ons daar sal kom. Laastens verseker Hy ons ook dat ons veilig op hierdie lewensreis van ons sal wees.

Jesus gaan vooruit.
Die pad waarlangs ons, ons lewensreis moet aflê is ’n baie gevaarlike pad, en daarom gee Jesus vir ons die versekering dat Hy vooruit gaan om die pad te beveilig.
Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Joh 14:2-3

Jesus gaan vooruit om vir ons plek gereed te maak en om die toegangsprys te betaal. Die toegangsprys is baie duurder as wat ons ooit in staat sal wees om te betaal, soos ons in Gen. 2:17 hoor
“Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy.”
Jesus het vooruitgegaan en die volle prys betaal. Die gesprek in Joh. 14 met Jesus se dissipels het plaasgevind kort voor sy kruisiging. Deel van sy voorbereiding wat Hy gaan tref het was om die prys te betaal met sy eie lewe. Daarmee het Hy vir ons die reg verkry om by die eindbestemming te mag ingaan.

Jesus het vooruitgegaan, maar hoe weet ons watter pad ons moet volg?
Tomas vra die vraag wat elkeen van ons ook wil vra, maar nie altyd die moed het om te vra nie:
“Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”
Joh. 14:5

Jesus bevestig met sy antwoord aan Tomas dat daar net een weg is om by die ewige lewe uit te kom soos ons in Joh. 14 v 6 hoor:
Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.
Wat bedoel Jesus wanneer Hy sê dat Hy die weg en die waarheid en die lewe is?

Gestel jy kom in ’n vreemde dorp aan en jy vra vir iemand padaanwysings en die persoon antwoord: “gaan twee blokke aan en draai dan regs. Na die volgende blok draai links en loop vir nog drie blokke tot by die fontein. Draai dan regs en dadelik weer links ...............” en so gaan die instruksies aan. Vergelyk dit nou met iemand wat vir jou sê: “Ek sal jou na jou bestemming toe vat. Loop net saam met my.” In die eerste geval vertel die persoon jou net van die roete, maar in die tweede geval word hy as te ware die roete want hy loop die pad saam met jou. Hy is jou waarborg dat jy die regte pad sal loop en dat jy BESLIS by die regte plek sal uitkom. Jesus IS die
weg, die waarheid en die lewe.

En dan hoor ons in Joh. 14 v 6 tot 11 hoe Filipus twyfel. Dit is soos om vir die persoon wat nou net aangebied het om jou na jou bestemming te neem, te vra of hy seker is dat hy die pad ken. Jesus se antwoord bevestig wat Hy in die begin gesê het: “glo in my”. Met ander woorde vertrou my, ek ken die pad.

Die persoon wat egter nie vir Jesus vertrou nie, dit wil sê nie in Jesus glo nie gaan by ’n verkeerde bestemming uitkom. In plaas daarvan om by die ewige lewe saam met God uit te kom gaan daardie persoon by die ewige dood uitkom.

Jesus verseker ons dat ons veilig op ons lewenspad sal wees, wanneer ons Hom volg.
Jesus het belowe dat Hy sal terugkom om ons te kom haal. Hy het ook belowe dat ons nie alleen op die pad sal wees terwyl Hy weg is om sy voorbereidings te tref nie. In Joh. 14 v 16 belowe Hy:
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Na Jesus se hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort net nadat Hy na die hemel opgevaar het en sedertdien is die Heilige Gees permanent saam met elke gelowige.

Die Heilige Gees help ons om die pad te stap waarop Jesus vooruitgegaan het. Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons begin twyfel om steeds te glo, met ander woorde om Jesus steeds te bly vertrou.

Verder gee Jesus ook die belofte dat Hy net ’n gebedsoproep ver is wanneer ons Hom nodig het.
Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
Joh. 14:13-14
Ons moenie hierdie belofte van Jesus misverstaan om te dink dat ek nou maar enige selfsugtige versoek kan maak soos byvoorbeeld dat ek nou ’n Ferarie wil hê en dat God dit moet gee nie.

Wat Hy hier belowe is dat God al ons gebede verhoor, maar dit moet ons ook weet. God gee nie altyd wat ons vra nie, maar Hy gee ALTYD wat ons nodig het. Soms is dit nodig dat Hy sê nee. As ’n kleuter vir sy ma ’n mes vra om mee te speel, sal sy beslis vir sê nee! Soms moet ons so bietjie wag en tevrede wees wanneer God vir ons sê “later.” Ander kere sê Hy ja. Wat ons wel verseker kan weet is dat God al ons gebede verhoor.

Samevatting
Alhoewel ons nie presies weet waar die eindbestemming van ons lewensreis is of hoe dit presies daar gaan lyk nie, kan ons rustig wees. Ons hoef nie daaroor te bekommer nie. Ons moet Jesus net vertrou en in Hom glo dat Hy al die voorbereidings sal tref wat nodig is en dat Hy reeds die prys betaal het sodat ons daar mag wees. Ons moet glo en vertrou dat die Gees ons veilig sal ly op die pad totdat Hy weer kom om ons na Hom te neem waar ons ewig saam met Hom sal wees. Wanneer ons benoud raak langs die pad kan ons verseker weet dat God net ’n gebedsoproep ver is en dat Hy AL ons gebede verhoor.

Met Jesus se hemelvaart het Hy vooruit gegaan om vir ons plek voor te bery. Wanneer jou lewensreis moeilik raak, glo in Hom. Vertrou Hom dat Hy alles gedoen het om te verseker dat ons veilig by ons eindbestemming sal uitkom waar ons ewig saam met God sal wees, daar waar daar geen trane, hartseer, pyn of dood meer sal wees nie.
Amen


06 Oktober 2013

Dood vir die sonde, maar lewend vir God

6 Okt. 2013 GKE
Skriflesing Rom. 6 teksvers Rom. 6:23
Liturgie
na Votum        Ps. 111-2 v 1 & 4  (NAB)
Na Wet            Ps. 1-1 v 1 & 3  (OAB)
Na gebed         Ps. 119-2 v 14 , 18 & 27  (NAB)
Slotsang          SB. 14-1 v 1 , 2 & 3
Inleiding
As jy voor die keuse gestel moet word waar die een alternatief lewe is en die ander dood, wat sal jy kies? Ek is seker dat elkeen van ons lewe sal kies. Die probleem is egter dat die keuse van lewe ’n prys het. ’n Prys wat so duur is dat dit onmoontlik is om daardie prys te betaal soos byvoorbeeld R100 biljoen rand. As ons nie die prys kan betaal nie is die enigste oorblywende keuse die dood.

Genade en genade alleen
Terwyl jy oppad is om tereggestel te word kom iemand en sê vir jou: “jy is vry want ek sal in jou plek tereggestel word. Moenie bekommer nie, want ek neem jou identiteit aan.” Wanneer hulle my doodmaak sal dit net so goed wees dat hulle jou doodgemaak het. Met ander woorde die persoon wat tereggestel moet word en die Redder het in so mate plekke omgeruil dat hulle as te ware identiteite omruil. Dit is wat Christus vir ons kom doen het. Dit is wat die Here in Rom. 6:5 vir ons sê dat as met Hom een geword het ons ook in sy dood met Hom een is. Christus se sterwe aan die kruis is asof ons self aan die kruis vasgespyker was en die prys vir die sonde betaal het soos ons ook in Rom. 6:6 hoor:
Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word.

As iemand in bogenoemde voorbeeld dus na die tyd sou navraag doen by daai tronk waar die teregstelling plaasgevind het om na ons te verneem sal hulle sê: “Jammer daardie persoon is nie meer met ons nie. Hy/sy is dood!” Iemand wat vir ’n oortreding doodgemaak is, kan tog nie aanhou om daardie oortreding te begaan nie, soos ons hoor in Rom. 8:7:
Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde.

Die logiese gevolg hiervan is dat ons lewe in plaas van om dood te wees. Net soos wat ons een is met Christus in sy dood deel ons ook in die lewe wat Hy met sy opstanding verkry het soos wat ons hoor in Rom. 6:5:
Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.
Christus het die prys ten volle betaal. Hy het die mag van die sonde gebreek daarom gee Hy aan ons die lewe.

Om een te wees met Christus in sy sterwe en opstanding is dat dit net so goed is asof onsself doodgemaak is en die dood oorwin het. Hoe word ons een met Christus sodat ons een met Hom kan wees in sy dood en opstanding? Alleen maar deur die geloof wat die Heilige Gees verniet aan ons gee. Dit is wat God se genade is. In plaas van die dood kry ons die lewe sonder dat ons iets hoef te doen of gee om dit te verdien.

Wat beteken dit vir ons? Ons staan nie meer onder die wet nie soos ons in Rom. 6:15 hoor omdat een van die funksies van die wet is om ons te wys wat ons sonde is soos ons hoor in Rom. 5:20
Die wet het bygekom om die oortredinge nog meer te maak; en hoe meer die sonde geword het, hoe oorvloediger het die genade geword.
Omdat ons deel in die genade is ons nie meer onderworpe aan die oordeel van die wet nie en daarom staan ons nie meer onder die wet nie. Dit beteken dat dit nie meer van my pogings om die wet te onderhou afhang of ek vir God aanvaarbaar is nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sy liefde verdien nie. Met ander woorde, my gehoorsaamheid aan die wet bepaal nie hoe lief God my het nie!

Maar wat van die wet?
Bogenoemde boodskap van genade laat die vraag ontstaan: “maak dit nie van ons onverskillige en lui Christene nie? Ek kan mos maar sonde doen, God vergewe my mos. Dit is ’n vraag wat twee keer in ons teksgedeelte gevra word soos ons hoor in Rom. 6:1
Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?
En ook weer in Rom. 6:15
Wat beteken dit? Kan ons nou maar sonde doen omdat ons nie onder die wet van Moses staan nie maar onder die genade?

Die antwoord hierop is baie duidelik soos ons hoor in Rom. 6:2
Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe?
En ook weer in Rom. 6:16
Beslis nie. Julle weet tog: as julle, julle aan iemand onderwerp om hom as slawe te gehoorsaam, is julle die slawe van dié een aan wie julle gehoorsaam is. As dit die sonde is, beteken dit vir julle die dood; as dit gehoorsaamheid aan God is, beteken dit vryspraak en lewe.
Die Griekse woorde wat met “beslis nie” vertaal is, beteken letterlik dat dit nie kan gebeur nie. Daar staan nie dat dit nie moet gebeur nie of nie behoort te gebeur nie. Dit KAN NIE, met ander woorde dit is onmoontlik! ’n Vuur wat brand is warm. ’n Vlam kan nie koud wees nie!

Die beeld wat hier gebruik word om dit te verduidelik is die van ’n slaaf. ’n Slaaf kan nie anders as om aan sy meester gehoorsaam te wees nie. Hy het geen vryheid nie en MOET doen wat sy baas vir hom sê om te doen. As daardie slaaf dan sy vryheid ontvang is hy nie meer gebonde aan daardie slawemeester nie. Jesus het ons juis kom verlos van die slawerny van die sonde. Om terug te keer na ons beeld van die gevange wat van die doodstraf bevry is. As jy bevry is van ’n lot waar jy doodgemaak sou word gaan jy tog nie vrywillig weer terugkeer en aanmeld by daardie tronk nie! As jy uit ’n rioolput gered is en jy is skoongewas en jou siektes wat jy daar opgedoen is genees gaan mens tog nie weer vrywillig in daardie rioolput terugklim nie!

Dis wat God vir ons sê in ons teksvers Rom. 6:23:
Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.
Met ander woorde: “Ek het jou bevry van die dood en gee aan jou die lewe. Leef nou die nuwe lewe wat jy ontvang het.” Ons roeping is om roeping is om vir God te leef, nie vir die sonde nie.

Wat beteken dit prakties? Beteken dit dat ons nie meer sonde doen nie? Nee, geliefdes, want die Here sê ook baie duidelik vir ons in 1 Joh. 1:8:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
Wat dit wel beteken is dat ek nie meer verskoning soek vir my sonde nie. Dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van my sonde omdat ek al hoe meer sensitief raak vir die Heilige Gees wat besig is met God se heiligmakingsproses in my lewe. Dit beteken dat ek besef dat dit God se genade is daar waar ek wel gehoorsaam word aan sy liefdesopdrag. Dit beteken dat ek nie meer op myself nie, maar wel op God se genade roem. Dit beteken dat ek die vreugde begin smaak om aan God gehoorsaam te wees. Dit beteken dat ek God se teenwoordigheid in my lewe begin raak sien en dat sonde al hoe meer afstootlik word vir my. Met ander woorde ek sien nie sonde as iets lekkers wat ek moet prysgee nie, maar dat dit iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie.

Iemand wat nog nie rêrig bewus is van sy eie sondegebrokenheid nie is nog ver van God se genade af. Iemand wat die houding het van: “ag God gee mos sy genade aan my so dit maak nie saak of ek in die sonde volhard of nie” verstaan nog niks van God se genade nie!

Wat doen ek met die sonde wat nog deel is van my lewe? Die Here sê vir ons in 1 Joh. 1:9:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Slot
Beteken God se genade dat ons nou maar ’n roekelose lewe kan ly want God vergewe ons mos? Nee geliefdes, dit beteken dat ek al hoe meer bewus raak van sonde in my lewe en my afhanklikheid van God om dit te oorwin. Dit beteken dat sonde nie meer vir my iets lekker is waarvan ek my moet weerhou nie, maar wel dat sonde vir my iets afstootlik is wat ek nie meer wil doen nie. Dit beteken dat ek al hoe meer verlang na God se teenwoordigheid in my lewe deur opnuut weer bewus te word van sy genade in Jesus Christus. Dit beteken dat ek al hoe meer besef dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Geliefdes kom ons wy ons lewens aan God want die loon wat die sonde gee, is die dood, maar die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Amen