Wat
is lewe? Wat is ware lewe? Wat is dood en wat veroorsaak die dood? Lewe, dood,
twee begrippe wat onlosmaaklik deel is van elke mens se bestaan. Met hierdie
verhaal van Lasarus verduidelik die Here vir ons wat dit beteken om waarlik te
leef en wat veroorsaak dood.
Jesus
was besig om die mense te leer toe Hy die ontstellende berig ontvang dat sy
goeie vriend Lasarus siek is. By die aanhoor van die nuus tree Jesus baie
vreemd op. Hy verklaar dat die siekte nie op die dood sal uitloop nie, en Hy is
ook nie juis haastig om na Lasarus toe gaan nie!
Wanneer
Jesus uiteindelik by Lasarus en sy susters uitkom groet Marta met so half
verwytend: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. Maar
selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.” Sy glo, maar
tog is dit nog net ’n teoretiese abstrakte geloof wat nog nie werklik ’n impak
op haar lewe het nie. Toe Jesus die graf wou oopmaak waarsku sy: “Here, hy
ruik al, want dit is al die vierde dag.” Vir haar is die opstanding van
haar broer net ’n teoretiese geloofsaak wat nie praktiese implikasies in haar
lewe het nie.
Voel
ons nie ook dikwels so nie? Ons bid tot die Here en dan wag ons en ons wag. Dit
is dan wanneer ons die fout maak om te dink dat God nie omgee nie. Soms sê ons
ook dat ons God vertrou, maar dit bly maar net ’n teoretiese saak wat nie
werklik ’n impak op ons lewens het nie.
Dit
is dan wanneer ons moet verstaan dat God besig is met iets wat beter is as wat
ons nou vra en dat ons ook moet vertrou dat Hy wel uitkoms sal gee. Ons moenie
vra en dan dink dit sal nie gebeur nie. Soms moet ons wag op die Here met die
wete dat sy vertragings met sy seën gepaardgaan. Toe Jesus die berig van
Lasarus se siekte ontvang het Hy vir sy dissipels gesê
“Hierdie
siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die
wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan
word.”
Hiermee
verduidelik Jesus dat die opwekking van Lasarus wys op die betekenis van sy se
eie opstanding uit die dood. Sy dissipels het gehoor dat Lasarus se dood ’n
groter doel gehad het, maar Marta en Maria het dit nie geweet nie. Hulle moes
net vertrou en geduldig op die Here wag.
Wanneer
Jesus by Marta kom verstaan sy nog steeds nie toe Hy vir haar vertel dat
Lasarus gaan opstaan uit die dood nie. Sy glo in ’n opstanding wat eendag daar
ver teen die einde gaan plaasvind. Jesus sê vir haar egter vir haar dat dit nou
gaan gebeur, maar nog steeds verstaan sy nie. Dan sê Jesus vir haar:
“Ek is die
opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen
wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”
Hierin
lê ’n geweldige troos vir elke gelowige met die versekering dat ek sal lewe al
het ek gesterwe as ek in Jesus Christus glo. Dit sê ook vir my dat as ek eers
die ewige lewe ontvang het, dat ek dit nooit in alle ewigheid weer sal verloor
nie.
Jesus
se “Ek is” uitspraak is baie belangrik. Marta se stelling dat sy in die
opstanding glo is vir haar nog net ’n abstrakte begrip sonder dat dit nog
werklik betekenis vir haar het. Jesus stel dit as ’n feit wat met Hom as
persoon geïdentifiseer word. Hy sê nie dat Hy die dooies sal laat opstaan nie.
Hy IS die opstanding want Hy is die lewe. Hy beklemtoon dat die mens alleen
onsterflik kan wees deur onlosmaaklik in geloof aan Hom verbind te wees.
Teenoor die Fariseërs wat die opstanding aan die einde verkondig, kom sê Jesus
nou ook dat ons deur Hom die opstanding en lewe in die hede kan ervaar. Dit kan
nie deur die dood vernietig kan word nie. Lewe bly gebonde aan Jesus Christus
deur geloof. Elkeen wat glo in Jesus, betree die ewige lewe en sal geestelik in
alle ewigheid nooit sterwe nie.
Voordat
Jesus vir Lasarus opwek gebeur daar egter eers iets baie belangriks. Jesus
huil! Die Jode wat daar was het gedink dat Jesus hartseer was omdat Lasarus
gesterf het. Maar dit is nie hoekom Jesus gehuil het nie. Hy het tog geweet dat
Hy binnekort vir Lasarus gaan opwek. Jesus se trane wys vir ons dat Hy omgee
vir ons hartseer en pyn in die lewe. Hy is nie ongevoelig vir ons swaarkry in
die lewe nie.
Jesus
huil oor die sonde wat soveel ellende in die lewe veroorsaak. Hy huil oor die
sonde wat ons so maklik in ’n doodloopstraat laat beland. Jesus huil oor my
sondes! Jesus huil omdat Hy mens geword het en dat Hy daarom weet wat se
hartseer ons in die lewe ervaar. Jesus huil vir ons en ook saam met ons!
Dan
bewerk Jesus die wonderwerk van Lasarus se opstanding toe Hy met ’n harde stem
roep” “Lasarus kom uit!” Die wonder lê nie daarin dat Hy Lasarus wat al
vier dae dood was weer lewend gemaak het nie, want Lasarus sou tog weer
liggaamlik sterf.
Die
wonder is dat Jesus die mag het om die ewige lewe te gee aan elkeen wat in Hom
glo. Vir die ongelowige beteken die dood die einde, maar iemand wat in Jesus
glo, bly lewe al het hy ook fisiek gesterf.
Omdat
Jesus vir ons sê “Ek is die opstanding en die lewe” kan elkeen wat in Hom glo
sê:
· Ek is vergewe
· Ek is weer
heel gemaak
· Ek is weer
herstel as God se kind
· Ek is weer
vry van die slawebande van die sonde
· Ek is weer
lewendig en ek lewe ’n lewe van oorvloed
· Ek is beskerm
· Ek is geliefd
· Ek is
voorspoedig
· Ek is ’n
oorwinnaar
· Ek is geseënd
en
· Ek is ’n seën
vir ander.
In
die plek van hopeloosheid het ek hoop vir die toekoms omdat ek weet dat die
toekoms in God se hand is. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet
dat God my nooit alleen sal laat nie. God sal my nooit eenkant gooi en van my
vergeet nie. Die tydelike hartseer wat ek in hierdie lewe ervaar sal verander
in vreugde omdat ek weet dat ek ewig saam met God is.
Die
opwekking van Lasarus wys op die betekenis van Jesus se eie opstanding uit die
dood en die groot betekenis wat dit vir ons het wat in Jesus Christus glo. By
Jesus is dood nie regtig dood nie en daarom kan ek ook lewe. Solank as wat dit
egter net ’n teoretiese geloof is, hou dit nog nie veel troos in nie. Kom ons
gryp Jesus se verlossing met geloof aan sodat die lewe wat daar in Hom en sy
opstanding is prakties deel van my lewe kan word want by Jesus is dood nie
regtig dood nie.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking