12 Nov 2017 GKE
Die lewe is
’n stryd en dit is nie altyd maklik nie. Een van die moeilikste dinge in die
lewe is wanneer die lewe my voor ’n spieël plaas waar ek myself onder die
soeklig moet plaas. Dis nie ’n lekker plek om te wees nie, daarom kyk ek eerder
na wat by my buurman aangaan. Dit is maklik om na iemand anders te kyk en uit
te wys wat verkeerd is in sy lewe. Dit is nie so maklik om na my eie lewe te
kyk en vas te stel waar ek te kort skiet nie.
In ons teks
ontmoet ons Paulus waar hy voor die spieël staan en kyk na sy eie lewe. Hy deel
hier met ons ’n hartsgeheim, naamlik dat hy ook stoei met sonde in sy lewe. Dit
is nie maklik om te erken dat daar nog steeds sonde in jou lewe teenwoordig is
nie. En tog is dit wat die Here van ons verwag.
Ons vier
volgende week as die Here wil die heilige Nagmaal en Nagmaal vra van ons dat
ons moet voorberei. Voorbereiding vra dat ek voor die spieël gaan staan en my
lewe onder die soeklig plaas. Ek moet ’n antwoord op die vraag kry: “Is ek
waardig om te kom aansit by die tafel van die Here?” Om ’n antwoord op hierdie
vraag te kry moet ek eerlik na myself kyk en my lewe onder die soeklig plaas.
Dit help nie
dat ek oneerlik is en probeer afmaak dat daar by my nie probleme is nie, want ek
kan niks vir God weggesteek nie. Verder is dit ook so dat as ek nie eerlik is
met myself nie, dan hou Nagmaal ook nie werklik betekenis vir my in nie. Om
werklik die diepere betekenis van Nagmaal te beleef, moet ek eerlik met myself
wees in die proses van self ondersoek.
In ons teks
wys die Here vir ons deur middel van die lewe van Paulus hoe om opreg en in
diepte selfondersoek te doen. Ons hoor hier dat die wet heilig is en dat die
wet sonde uitwys en veroordeel. Die wet is dus die maatstaf waaraan ek my lewe
moet meet. Dit is wat Paulus gedoen het en hy kom tot die gevolgtrekking dat hy
nie die toets geslaag het nie.
Hy vind in sy
lewe hierdie geweldige tweestryd. Hy weet wat reg is. Daar is selfs by hom die
begeerte om te doen wat reg is, maar...... en hier begin sy stryd, hy doen nie
wat hy homself voorneem om te doen nie. Inteendeel hy doen net mooi die
teenoorgestelde. Dit wat hy haat, juis dit doen hy!
Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.
Is dit nie
maar ook ons probleem nie? Ek weet ek moenie kwaad word nie, maar ek doen. Ek
weet ek moenie iets sê wat sal seermaak nie, maar voor ek my kan kry het ek dit
gesê. Ek is seker elkeen van ons kan aan verskeie sulke voorbeelde in ons lewe
dink.
Dit bring ons
ook by die verdere vraag: “Ek glo dat ek verlos is, maar hoekom sukkel ek dan nog
met hiermee?” Dit kan so maklik gebeur dat hierdie stryd my moedeloos maak en
dit is net wat die duiwel wil hê. Hy wil hê dat jy moedeloos word en dat daar
geloofstwyfel by jou moet wees. Dit is die strategie wat hy van die begin af
daar in die Paradys ingespan het en hy gebruik dit nog steeds, want dit werk so
goed! Sy hoofdoel is om jou te oortuig dat jy God nie kan vertrou nie! Hy wil
hê dat jy moet glo jy is nie goed genoeg vir God nie.
Dit is op
hierdie punt waar Paulus dan ook die noodroep uiter: “Wie sal my van hierdie
doodsbestaan verlos?” Want hy weet wat die wet bepaal, naamlik dat sonde met
die dood gestraf moet word. Hy weet dit is nie die wet wat jou doodmaak nie,
maar dat dit sonde is.
En dit is dan
ook hierdie geweldige stryd waarmee elkeen van ons daagliks worstel. Dit is
amper asof daar twee persone tegelyk hier in my liggaam teenwoordig is. My kop
sê vir my wat reg is en wat ek nie moet doen nie, en dan kom hierdie ander
outjie in my en hy laat my net mooi doen wat my kop vir my sê ek nie moet doen
nie. En dan kom koggel die ou duiwel my. Sien jy wat jy gedoen het? Wys jou
net, jy is nie goed genoeg vir God nie. En dit maak my moedeloos, want ek weet
dat die straf vir sonde die ewige dood is, vir ewig sonder God. Dit is juis
hierdie moedeloosheid waarna Paulus verwys wanneer hy vra “Ek, ellendige
mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”
Die antwoord
op hierdie vraag is gebore uit hoop. Die lewende hoop wat elke Christen
koester.
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Dit is die
hoop wat die Nagmaal bevestig. Daar waar ons op ’n sigbare wyse deur die tekens
van brood en wyn sien hoe die evangelie werk. Daar sien ons dat die moedeloosheid
van dood in die sonde deur Christus Jesus gebreek is. Hy het sy lewe gegee en
daarmee het hy die vloek van die sonde gebreek. Met sy opstanding het Hy vir
ons ’n nuwe lewe gegee.
So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in
my doen en late die wet van die sonde.
Dit is ’n opsomming
van hierdie sondestryd waarmee ons daagliks sukkel. Dit sê vir ons dat die
stryd nog nie klaar is nie, maar ook dat daar hoop is om te wen. Dit sê vir jou
dat dit waarvan die duiwel jou probeer oortuig nie waar is nie. Jy is nie ’n
hopelose sondaar wat nie goed genoeg vir God is nie. Jy is ’n Koningskind wat
vir God oneindig kosbaar is. So kosbaar dat Hy sy lewe vir jou neergelê het
sodat jy kan lewe.
Dit sê ook
vir jou dat die stryd nie verby is nie. Solank Ons in die wêreld is, is dit ’n
daaglikse stryd. Dit is egter nie die stryd van ’n verlore sondaar met geen
hoop op oorwinning nie. Dit is die stryd van ’n Koningskind wat in die krag van
God teen die sonde stry en wat die sonde kan oorwin.
Wat beteken
dit prakties? Dit beteken dat jy jou stryd, jou twyfel, na God toe kan bring.
Vir God is niks te ver, te verlore, te groot om te herstel nie. God is nie bang
vir jou twyfel, jou vrae of jou woede nie. Jesus het mens geword sodat jy die
versekering kan hê dat Hy weet waardeur jy gaan en waarmee jy stoei. As mens
het Hy ook daarmee gestoei. Wat God nie van hou nie is wanneer jy probeer om
hierdie stryd op jou eie te voer.
Dit is die
duiwel se doelwit om jou van God te vervreem. Moenie in sy valstrik trap nie.
Bring jou onsekerheid, jou hartseer, die struikelblokke in jou lewe, daardie
onmoontlike saak na God toe. Bring jou sonde na God toe en Hy sal jou rus gee,
want Hy weet waardeur jy gaan. Hy wil vir jou lewe gee i.p.v. die doodsbestaan
waarin sonde jou dompel. Bring jou onsekerheid na God toe en ervaar die vrede
wat net Hy kan gee.
Amen