24
Apr. 2016 GKE
Luk. 22:31-34 & Mat
26:31-35 & Mark 14:27–31
Luk. 22:54-62
Joh. 21:15-19
Teksverse Mat. 26
v 33; Luk 22. v 62 & Joh. 21 v 19
Sing:
Ps.
118-1 : 1 & 9
Sb.
9-3:1 & 2
Ps.
119-1 : 1, 52, 62 & 63
Ps.
130-1 : 1 – 4
Petrus is een van die
interessante persone in die Bybel. Hy was ’n man van durf en daad. ’n Man wat
die bul by die horings gepak het. ’n Leier en voorloper. Hy was saam met
Andreas, Johannes en Jakobus een van die binnekring van Jesus se dissipels. Hy
was die een wat gewoonlik namens die ander gepraat het. Sommige sal hom selfs
as voortvarend beskryf as iemand wat bietjies te voor op die wa was. Iemand wat
eers gedoen het en dan gedink het.
Hoe jy ook al oor hom
dink, een ding staan uit. Hy was baie selfversekerd. Ons hoor in Luk 22 v 33
hoe hy Jesus antwoord nadat Jesus vir hulle vertel het dat Hy doodgemaak gaan
word en dat almal Hom in die steek sal laat sodat Hy alleen staan:
Here, ek
is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Hy het ook nogal gedink
dat hy so ’n bietjie beter en meer getrou as die ander dissipels was soos ons
hoor in Mat 26:33
“Al sal
hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”
Jesus se antwoord in Luk
22:34 moes vir Petrus en die ander dissipels seker ’n skok gewees het.
“Petrus,
Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën
het deur te sê dat jy My nie ken nie.”
In Mar 14:31 hoor ons dat
Petrus egter voet by stuk gehou het
Maar
Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie
verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê.
So leer ons Petrus ken,
seker van homself en vasberade. Hy weet waar hy staan in die lewe.
Ek moet sê dat wanneer ek
so terugkyk oor my lewe, dan sien ek so ’n stukkie van Petrus in my lewe raak.
Ons het vanoggend in ons sang (daar waar ons as gemeente ook met die Here
praat) met Ps. 18 begin: “Ek het U hartlik lief o Heer.......” En wanneer
ons dit sing, dan bedoel ons dit opreg. Petrus was ook opreg in dit wat hy
Jesus belowe het. Hy het nie maar net voorgegee om ander te beïndruk nie. Dit
was sy vaste voorneme soos ons ook verder aan sien.
Nadat hulle Jesus gevange
geneem en die ander dissipels inderdaad gevlug het, hoor ons in Luk 22:54 &
55
54Hulle het Jesus toe
gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring.
Petrus het op ’n afstand agterna gekom. 55In die middel van die
binneplaas was daar ’n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het
tussen hulle gaan sit.
Aanvanklik het Petrus sy
gelofte gestand gedoen. Hy was vasbeslote om Jesus by te staan soos hy gesê
het. Hy het saamgegaan en daar in die hoëpriester se binneplaas by die vuur
gestaan terwyl hulle binne besig was om Jesus te verhoor.
Maar dan kom daar ’n
oomblik van waarheid in sy lewe. Hy kom voor ’n toets te staan wat vir hom sou
wys wie hy regtig was. Hy was nie heeltemal hierdie goeie mens wat hy gedink
het hy was nie. Ons hoor hoe hy drie keer ontken dat hy Jesus geken het of dat
hy een van sy volgelinge was. In Mat 26:74 hoor ons dat hy selfs gevloek
en gesweer het dat hy Jesus nie ken nie! Van sy bravade was daar nou niks meer
te sprake nie.
En dan kom die oomblik van
waarheid! Toe Petrus opkyk, kyk hy in die oë van Jesus vas met die haan se
gekraai wat in sy ore weergalm. Dit herinner hom aan Jesus se woorde “Voordat
die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”
Petrus se reaksie wys vir
ons dat dit nie ’n lekker plek is om te wees nie.
En
Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Wanneer jy as te ware voor
die spieël staan en jy kyk in die dieptes van jou siel in en dit wat jy daar
sien strook nie met dit wie jy gedink het jy was nie. Daardie gevoel wat by jou
opkom: “Nee, dit kan nie waar wees nie!” Jy wil eerder wegdraai, maar jy kan
nie.
Petrus het bitterlik
gehuil. Die Griekse woord wat met bitterlik vertaal word beskryf vir ons ’n
toestand van onbeheerbare trane wat in wanhoop en foltering gestort word. ’n
Toestand van intense geestelike lyding. Petrus was by die dieptepunt van sy eie
sondige natuur. Hy het op daai oomblik besef dat hy ’n lafaard was, maar nog
erger as dit, hy was ’n verraaier! Dit is nie wie hy wou wees nie. Dis nie wie
hy gedink het hy was nie, maar hy was nou op daardie punt waar hy gesien het,
“ek is nie die goeie mens wie ek gedink het ek is nie.”
Geliefdes, het u al
uitgegaan en bitterlik gehuil? Dit is eers nadat Petrus in die oë van Jesus
gekyk het dat hy daar gekom het. Dit is eers wanneer jy in die teenwoordigheid
van die Here is dat jy werklik op hierdie punt kan kom. Dit is eers wanneer jy
jouself sien in ver gelyking met die Heilige God dat jy werklik by die
dieptepunt van jou sonde uitkom.
Is dit dalk hoekom soveel
mense wegskram van die Here af? Want dit is beslis nie ’n lekker plek om te
wees nie, maar as jy nie by die dieptepunt van jou sonde uitkom nie, sal jy
nooit die grootsheid van God se genade en liefde leer ken nie. Voordat jy nie
daar uitgekom het nie, kyk jy nog oppervlakkig na God se liefde. Dan verval
mens so maklik in die vangstrik van die redenasie wat sê “aag dis nie so erg as
ek sonde doen nie, Jesus het mos vir my sonde gesterf, God het my mos vergewe.”
Wanneer ons Petrus weer
ontmoet is dit daar op die strand van die See van Tiberias. Jesus het daar weer
aan ’n paar van sy dissipels verskyn. Hulle het heel aand probeer visvang, maar
het niks gekry nie. Toe hulle terugkom na die vrugtelose nag was Jesus daar op
die strand, maar hulle het Hom nie dadelik herken nie. Eers nadat hulle op sy
bevel die nette weer aan die regterkant van die skuit uitgegooi het en hulle
soveel vis gevang het dat hulle nette wou skeur dat hulle besef het, dit is
Jesus. Petrus het teruggekeer na sy ou lewe toe, Jesus bring hom terug na sy
roeping toe.
Nadat hulle ontbyt saam
met Jesus geëet het, neem Jesus Petrus een kant toe. Daar was geen verwyte nie.
Jesus sê nie vir Petrus, sien jy nou. Ek het mos gesê dat jy my gaan verraai.
Nee. Hy vra of Petrus Hom liefhet? Drie maal vra Jesus na sy liefde. Met
hierdie drie vrae bevestig Jesus dat Hy Petrus in sy swakheid lief het. Drie
maal het Petrus vir Jesus verloën. Drie maal kry hy geleentheid om sy liefde
vir die Here te bevestig.
Geliefdes, wanneer ons die
Here dien en in ons ywer ons liefde teenoor Hom verklaar, is ons opreg, maar
ons verklaar ons liefde in swakheid. Die Here het ons lief, nie omdat ons sulke
goeie en getroue Christene is nie. Inteendeel as ons werklik voor die spieël
staan moet ons erken dat dit allermins is wie ons is. Maar tog het die Here ons
lief. In Rom. 5:8 hoor ons:
Maar God
bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons
nog sondaars was.
Petrus het Jesus verraai.
Hy het ontken dat hy Jesus geken het. Tog het Jesus vir hom ook gesterf. God se
liefde is groter as ons sonde.
God het ons lief net soos
ons is, maar Hy het ons te lief om ons daar te los. Hy het iets beter vir ons
in gedagte. Sy drie opdragte aan Petrus, “Laat my lammers wei, Pas my skape
op en Laat my skape wei.” is hoe Jesus vir Petrus weer oprig en hom
versterk sodat hy weer kan uitgaan en ander versterk. Hy bevestig weer Petrus
se ware roeping. Petrus is nie meer net ’n gewone visserman nie. Nee, hy is nou
’n visser van mense!
Ons is ook geroep om uit
te gaan en die evangelie te verkondig. Sommige voltyds, ander deeltyds. Jesus
gee nie die opdrag aan iemand wat dit verdien nie. Hy gee nie die opdrag aan
Petrus omdat Petrus so getrou was nie. Inteendeel dit is Petrus wat Hom verraai
het. Dit is egter nie meer Petrus wat daar langs die vuur gestaan en vloek en
skel het nie. Dit is ’n Petrus wat deur God se liefde nuutgemaak is. En dan gee
Jesus sy finale opdrag aan Petrus: “Volg My!”
Geliefdes, wanneer jy eers
die diepte van jou eie sondigheid raakgesien het, sal jy die grootsheid van God
se genade leer ken. Kom na die Here toe en ervaar sy liefde en genade. Luister
na sy opdrag: “Volg My!”
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking