Wys tans plasings met die etiket dieptepunt van sonde. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket dieptepunt van sonde. Wys alle plasings

24 April 2016

Voordat jy nie die diepte van jou eie sondigheid raaksien nie, sal jy nie die grootsheid van God se genade ken nie!

Simon Petrus



24 Apr. 2016 GKE
Luk. 22:31-34 & Mat 26:31-35 & Mark 14:27–31
Luk. 22:54-62
Joh. 21:15-19
Teksverse Mat. 26 v 33; Luk 22. v 62 & Joh. 21 v 19

Sing:
Ps. 118-1 : 1 & 9
Sb. 9-3:1 & 2
Ps. 119-1 : 1, 52, 62 & 63
Ps. 130-1 : 1 – 4

Petrus is een van die interessante persone in die Bybel. Hy was ’n man van durf en daad. ’n Man wat die bul by die horings gepak het. ’n Leier en voorloper. Hy was saam met Andreas, Johannes en Jakobus een van die binnekring van Jesus se dissipels. Hy was die een wat gewoonlik namens die ander gepraat het. Sommige sal hom selfs as voortvarend beskryf as iemand wat bietjies te voor op die wa was. Iemand wat eers gedoen het en dan gedink het.

Hoe jy ook al oor hom dink, een ding staan uit. Hy was baie selfversekerd. Ons hoor in Luk 22 v 33 hoe hy Jesus antwoord nadat Jesus vir hulle vertel het dat Hy doodgemaak gaan word en dat almal Hom in die steek sal laat sodat Hy alleen staan:
Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Hy het ook nogal gedink dat hy so ’n bietjie beter en meer getrou as die ander dissipels was soos ons hoor in Mat 26:33
“Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.”

Jesus se antwoord in Luk 22:34 moes vir Petrus en die ander dissipels seker ’n skok gewees het.
“Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”
In Mar 14:31 hoor ons dat Petrus egter voet by stuk gehou het
Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” En al die ander het dieselfde gesê.
So leer ons Petrus ken, seker van homself en vasberade. Hy weet waar hy staan in die lewe.

Ek moet sê dat wanneer ek so terugkyk oor my lewe, dan sien ek so ’n stukkie van Petrus in my lewe raak. Ons het vanoggend in ons sang (daar waar ons as gemeente ook met die Here praat) met Ps. 18 begin: “Ek het U hartlik lief o Heer.......” En wanneer ons dit sing, dan bedoel ons dit opreg. Petrus was ook opreg in dit wat hy Jesus belowe het. Hy het nie maar net voorgegee om ander te beïndruk nie. Dit was sy vaste voorneme soos ons ook verder aan sien.

Nadat hulle Jesus gevange geneem en die ander dissipels inderdaad gevlug het, hoor ons in Luk 22:54 & 55
54Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op ’n afstand agterna gekom. 55In die middel van die binneplaas was daar ’n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.
Aanvanklik het Petrus sy gelofte gestand gedoen. Hy was vasbeslote om Jesus by te staan soos hy gesê het. Hy het saamgegaan en daar in die hoëpriester se binneplaas by die vuur gestaan terwyl hulle binne besig was om Jesus te verhoor.

Maar dan kom daar ’n oomblik van waarheid in sy lewe. Hy kom voor ’n toets te staan wat vir hom sou wys wie hy regtig was. Hy was nie heeltemal hierdie goeie mens wat hy gedink het hy was nie. Ons hoor hoe hy drie keer ontken dat hy Jesus geken het of dat hy een van sy volgelinge was. In Mat 26:74 hoor ons dat hy selfs gevloek en gesweer het dat hy Jesus nie ken nie! Van sy bravade was daar nou niks meer te sprake nie.

En dan kom die oomblik van waarheid! Toe Petrus opkyk, kyk hy in die oë van Jesus vas met die haan se gekraai wat in sy ore weergalm. Dit herinner hom aan Jesus se woorde “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”

Petrus se reaksie wys vir ons dat dit nie ’n lekker plek is om te wees nie.
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Wanneer jy as te ware voor die spieël staan en jy kyk in die dieptes van jou siel in en dit wat jy daar sien strook nie met dit wie jy gedink het jy was nie. Daardie gevoel wat by jou opkom: “Nee, dit kan nie waar wees nie!” Jy wil eerder wegdraai, maar jy kan nie.

Petrus het bitterlik gehuil. Die Griekse woord wat met bitterlik vertaal word beskryf vir ons ’n toestand van onbeheerbare trane wat in wanhoop en foltering gestort word. ’n Toestand van intense geestelike lyding. Petrus was by die dieptepunt van sy eie sondige natuur. Hy het op daai oomblik besef dat hy ’n lafaard was, maar nog erger as dit, hy was ’n verraaier! Dit is nie wie hy wou wees nie. Dis nie wie hy gedink het hy was nie, maar hy was nou op daardie punt waar hy gesien het, “ek is nie die goeie mens wie ek gedink het ek is nie.”

Geliefdes, het u al uitgegaan en bitterlik gehuil? Dit is eers nadat Petrus in die oë van Jesus gekyk het dat hy daar gekom het. Dit is eers wanneer jy in die teenwoordigheid van die Here is dat jy werklik op hierdie punt kan kom. Dit is eers wanneer jy jouself sien in ver gelyking met die Heilige God dat jy werklik by die dieptepunt van jou sonde uitkom.

Is dit dalk hoekom soveel mense wegskram van die Here af? Want dit is beslis nie ’n lekker plek om te wees nie, maar as jy nie by die dieptepunt van jou sonde uitkom nie, sal jy nooit die grootsheid van God se genade en liefde leer ken nie. Voordat jy nie daar uitgekom het nie, kyk jy nog oppervlakkig na God se liefde. Dan verval mens so maklik in die vangstrik van die redenasie wat sê “aag dis nie so erg as ek sonde doen nie, Jesus het mos vir my sonde gesterf, God het my mos vergewe.”

Wanneer ons Petrus weer ontmoet is dit daar op die strand van die See van Tiberias. Jesus het daar weer aan ’n paar van sy dissipels verskyn. Hulle het heel aand probeer visvang, maar het niks gekry nie. Toe hulle terugkom na die vrugtelose nag was Jesus daar op die strand, maar hulle het Hom nie dadelik herken nie. Eers nadat hulle op sy bevel die nette weer aan die regterkant van die skuit uitgegooi het en hulle soveel vis gevang het dat hulle nette wou skeur dat hulle besef het, dit is Jesus. Petrus het teruggekeer na sy ou lewe toe, Jesus bring hom terug na sy roeping toe.

Nadat hulle ontbyt saam met Jesus geëet het, neem Jesus Petrus een kant toe. Daar was geen verwyte nie. Jesus sê nie vir Petrus, sien jy nou. Ek het mos gesê dat jy my gaan verraai. Nee. Hy vra of Petrus Hom liefhet? Drie maal vra Jesus na sy liefde. Met hierdie drie vrae bevestig Jesus dat Hy Petrus in sy swakheid lief het. Drie maal het Petrus vir Jesus verloën. Drie maal kry hy geleentheid om sy liefde vir die Here te bevestig.

Geliefdes, wanneer ons die Here dien en in ons ywer ons liefde teenoor Hom verklaar, is ons opreg, maar ons verklaar ons liefde in swakheid. Die Here het ons lief, nie omdat ons sulke goeie en getroue Christene is nie. Inteendeel as ons werklik voor die spieël staan moet ons erken dat dit allermins is wie ons is. Maar tog het die Here ons lief. In Rom. 5:8 hoor ons:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Petrus het Jesus verraai. Hy het ontken dat hy Jesus geken het. Tog het Jesus vir hom ook gesterf. God se liefde is groter as ons sonde.

God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief om ons daar te los. Hy het iets beter vir ons in gedagte. Sy drie opdragte aan Petrus, “Laat my lammers wei, Pas my skape op en Laat my skape wei.” is hoe Jesus vir Petrus weer oprig en hom versterk sodat hy weer kan uitgaan en ander versterk. Hy bevestig weer Petrus se ware roeping. Petrus is nie meer net ’n gewone visserman nie. Nee, hy is nou ’n visser van mense!

Ons is ook geroep om uit te gaan en die evangelie te verkondig. Sommige voltyds, ander deeltyds. Jesus gee nie die opdrag aan iemand wat dit verdien nie. Hy gee nie die opdrag aan Petrus omdat Petrus so getrou was nie. Inteendeel dit is Petrus wat Hom verraai het. Dit is egter nie meer Petrus wat daar langs die vuur gestaan en vloek en skel het nie. Dit is ’n Petrus wat deur God se liefde nuutgemaak is. En dan gee Jesus sy finale opdrag aan Petrus: “Volg My!”

Geliefdes, wanneer jy eers die diepte van jou eie sondigheid raakgesien het, sal jy die grootsheid van God se genade leer ken. Kom na die Here toe en ervaar sy liefde en genade. Luister na sy opdrag: “Volg My!”

Amen