Wys tans plasings met die etiket moedeloosheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket moedeloosheid. Wys alle plasings

27 September 2020

JESUS BRING HOOP VIR MOEDELOSE EN GEBROKE MENSE

 Jes. 42:1-9 & 2 Kor. 12:7-10

27 Sep. 2020

 


Hierdie oordenking is ook op video beskikbaar by:

1) Youtube

2) Facebook 

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi. Daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie.

  Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag. Daarom kry ons ook sulke motiverende spreukwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

  Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreukwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie! Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

  God het gelowiges geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld in te dra wat Hom nie ken. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is? As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan.. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

  Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”

  Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

  Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid en selfs die dood heen.

  God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die manier wat Christus sy werk gedoen het moet ons ook sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

 

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te gee nie.

 Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander?

  Jes. 42 v 3 wys dan profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

  Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

  Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.

Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

  God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het en telkemale weer bevestig het met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die inhoud van daardie ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus bekragtig.

  Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde, weer sien dat God liefde is. Dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

 Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense. Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

 Geliefdes, As die lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is kom na Jesus toe en Hy sal julle rus gee.

Amen

07 Junie 2020

Tema: - Moenie moed verloor nie

Datum: 7 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: 2 Kor. 4 v 7 - 18

Teksvers: 2 Kor. 4 v 17

 Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Facebook - Volledige erediens 2) YouTube - Preek alleen


Sing

Ps. 23-1 v 1 & 3

Ps. 20-1 v 1 & 4

Die lewe is vol moeilikhede. Dis een ding wat hierdie jaar sover net weereens beklemtoon het. Iemand het nou die dag gesê: “kan ons nie maar net 2020 se ‘reset’ knoppie druk sodat ons weer kan oor begin nie?” As ons net teen al ons probleme bly vaskyk, kan ons maklik moed verloor. Die Here gee vir ons vanoggend perspektief uit sy Woord om ons te help om nie moed te verloor nie.

Paulus gebruik hier 'n beeld uit die leefwêreld van Nuwe Testament. Die mense van destyds het kleipotte as alledaagse houers gebruik om goed in te bêre net soos wat ons deesdae gebruik maak van blikke of plastiese en glas houers. Net soos wat 'n glas houer sal breek as jy dit hard stamp of laat val, was die kleipotte ook maar breekbaar. Die beeld sluit ook iets kosbaars in wat binne in hierdie alledaagse kleipotte gebêre word.

Wat beteken hierdie beeld? Die skat is die kennis van die heerlikheid van God. Kennis van God se verlossingsplan in Jesus Christus om verlore mense weer met Hom te versoen. Elkeen wat glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dat jy die ewige lewe ontvang het omdat Jesus die dood oorwin het word 'n draer van hierdie skat.

Die kleipotte waarin hierdie skat is, is dan ook die gewone alledaagse feilbare mense wat in Jesus glo. Wanneer jy die evangelie as skat ontvang, ontvang daarmee saam ook die opdrag om daarmee uit te gaan en dit uit te deel. Dit is egter nie jy wat mense oortuig om in die evangelie te glo nie. Dit is God wat mense tot bekering bring. Die fokus is dus op die krag van die evangelie in mense se lewens.

Dan bevestig Paulus net weereens die waarheid dat die feit dat jy 'n Christin is nie beteken dat jy nie meer moeilikhede in hierdie wêreld gaan hê nie. Ons hoor nou wat dit beteken om 'n kleipot te wees wat die skat van die evangelie in hom dra. 2 Kor. 4 v 8 & 9:

In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Te midde van aanslae van die lewe sal jy deur die krag van God staande bly.

Wanneer jy 'n draer van hierdie skat is, deel jy in die lyding en sterwe van Jesus. En daardeur word die lewe van Jesus in jou sigbaar.

In ons teksverse gee die Here vir ons hoop sodat ons nie moedeloos moet word nie. Ons kry hier so 'n stukkie perspektief van God se groter ewige raadsplan. Ons kry swaar. Hierdie lewe is nie maklik nie. Ons moet baie uitdagings in die gesig staar.

Die verwysing in vers 16 na die uiterlike wat besig is om te vergaan is ons sterflike liggame (die kleipotte). Soos wat ons ouer word, gaan ons liggame agteruit totdat ons uiteindelik sterf. Die lewe is egter meer as net ons fisiese liggame. Die skat van die evangelie wat ons in ons dra gee vir ons die krag om deur dit te kom.

Die rede vir ons hoop vind ons in ons teksvers: 2 Kor. 4 v 17:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

In ons teksvers vind ons drie teenoorgesteldes wat met 'n werkwoord aan mekaar verbind word.

Die eerste is: “Ons swaarkry in hierdie lewe.” Dit sê vir ons dat dit alle swaarkry insluit soos byvoorbeeld wanneer jou oë swakker word, jy sukkel om te hoor, die algemene agteruitgang wat met ouderdom gepaard gaan, siektes soos hartprobleme, kanker. Verder is dit ook duidelik dat dit verwys na ons totale lewensduur hier op aarde waar ons ly. Elkeen weet wat jou swaarkry is en vir dit gee die Here vandag vir ons troos.

Teenoor hierdie swaarkry is die belofte van die heerlikheid van God wat so mooi deur Openbaring 21 v 3 & 4 uitgespel word:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Die tweede is dat die swaarkry maar gering is. En die derde is dat dit verby gaan. Teenoor dit is die heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat vir ewig bly.

Dit klink amper verkeerd! Hoe kan 'n hele lewe se swaarkry gering wees? Binne God se ewigheids-perspektief is ons tyd op aarde byna niks. As jy 'n lyn moes trek wat van die eenkant van die heelal na die anderkant strek, dan is ons tyd hier op aarde kleiner as 'n potloodpunt merkie op daardie lyn.

Die Griekse werkwoord wat hierdie groep teenoorgesteldes aan mekaar bind, is in Afrikaans vertaal met “loop vir ons uit.” Die letterlike betekenis van hierdie woord is, produseer, veroorsaak, berei voor. Ons sou dit dus ook kon vertaal met voorberei.

Die tydelike swaarkry wat gering en verbygaande is, berei ons voor vir heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Die swaarkry berei ons voor sodat dit uitloop op die ewige heerlikheid.

In ons swaarkry deel ons in die lyding van Christus toe Hy hier op aarde was en hierdie tydelike swaarkry berei ons voor vir 'n ewige heerlikheid saam met God.

Wanneer jy midde in moeilike omstandighede staan, lyk die prentjie donker. God troos ons vandag met sy Woord en Hy sê vir jou: “Moenie moed verloor nie.” In vergelyking met die heerlikheid; waar jy ewig saam met God sal wees; is hierdie swaarkry gering wat net vir 'n kort tydjie duur.

Die troos wat die Here ook hiermee saam gee, is dat ons nie alleen staan in ons swaarkry in die lewe nie. Daar waar jy met soveel moeite teen jou siekte stoei is God saam met jou. Hy hou jou vas terwyl Hy jou voorberei vir die ewige heerlikheid wat wag. Ons het nou reeds 'n voorsmakie van dit wat veel beter sal wees as wat ons ooit kan dink of droom.

Geliefdes, jy is nie alleen in jou swaarkry nie. God is by jou en Hy loop die pad saam met jou.

Moenie moed verloor nie.

Amen

 


08 Maart 2020

Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig?

Datum: 8 Mar. 2020 GKE
Lees:       Ps. 46
Teksvers: Ps. 46 v 11


Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig? Dwarsdeur die eeue het gelowiges hul troos in die Psalms gevind. Ons bely dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy met ons praat. In die Psalms vind ons ook die stem gelowiges wat God antwoord by monde van die Psalmdigters.

In die Psalms word gelowiges se diepste emosies en versugtinge verwoord. Ons hoor hoe hul God loof en prys, maar ons hoor ook hoe hulle, hul diepste smart en vertwyfeling teenoor God uitstort. In die Psalms word God se Woord persoonlik, intiem, naby.

Ook hier in Psalm 46 vind ons 'n geweldige troos wat God se teenwoordigheid in jou lewe 'n werklikheid maak. Dit is een van die Sionsliedere. Psalms 46, 48, 76, 87 en 122 vorm deel van hierdie groep Psalms. Die tema van hierdie groep Psalms is die sentrale plek van Jerusalem in die volk se godsdiens en God se redding en bystand aan sy volk in hulle geskiedenis.

In Psalm 46 hoor ons dan ook hierdie lofsang wat verwoord hoe God sy volk beskerm en dat hulle veilig is by Hom. Die eerste reël van die berymde Psalm sê dit dan ook so treffend:
       God is 'n toevlug in die nood....

Hier teen die einde van die Psalm in vers 11 vind ons egter 'n reël wat so half in kontras is met die res van die lofsange in die Psalm:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
In al die verse behalwe in vers 11 is dit die gelowige wat aan die woord is, maar hier in vers 11 praat God. Dit klink so amper asof Hy vermaan. Dit klink asof dit by 'n Psalm hoort waar die gelowige sy bekommernis en angs teenoor die Here bekla.

In hierdie antwoord van die Here spreek Hy 'n baie belangrike saak aan. Wanneer dit swaar gaan sal gelowiges dikwels bely dat God almagtig is en dat Hy in beheer is. Die probleem kom egter in by wat ek in my hart voel. Hier diep binne in my twyfel ek of God Homself regtig bemoei met my probleme. Ek is angstig en die bekommernis vreet my op.

'n Ander probleem is dat ons dikwels in ons versugtinge by die Here aandring dat Hy die moeilike tye van ons moet wegneem. Dat Hy die gesukkel met die finansies moet laat ophou. Dat Hy asseblief tog hierdie siekte moet wegneem.

Soms doen die Here dit ook inderdaad en neem Hy die oorsaak van my kommer weg en verander die situasie. Dit is egter ook so dat Hy baiekeer nie die probleem wegneem nie en dit juis dan dat die kommer ons begin opvreet.

Dink daaraan. Daar is een of ander omstandigheid in u lewe wat u bekommer en angstig maak. Elkeen van ons weet maar alte goed wat dit vir ons persoonlik is. En nou lees u Psalm 46.
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Hoe vind u troos in die woorde?

Kan u met eerlikheid saam met die Psalmdigter sê?
Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Kan u met eerlikheid sê “daarom is ek nie bang nie?”

Die probleem is dat as u dit nie met eerlikheid kan sê nie, dan is daar geen troos in hierdie Psalm nie! Dan is dit eintlik maar net leë woorde.

Daarom is vers 11 so 'n belangrike deel van hierdie Psalm. Luister mooi na wat die Here antwoord op die lofsange van die Psalmdigter:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.

Die Hebreeuse woord wat met bedaar vertaal is, beteken letterlik, “los dit, laat gaan, hou op daarmee.”

Wat sê die Here hier vir ons? Hy sê vir ons “los jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou.” Hy sê dat Hy as almagtige ware God ook jou bekommernisse kan hanteer.

En dan voeg Hy by “erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.” Hy sê vir ons dat Hy almagtig is. Hy is die enigste ware God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het.

Daarom antwoord die Psalmdigter ook in vers 12 met:
Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Kan u saam met die Psalmdigter bely dat die Here die Almagtige by u is? Hoekom sou ons dit kon sê? Op grond waarvan sal ons so 'n aanspraak kon maak?

Jy kan so 'n aanspraak maak op grond van God se liefde want Hy sê vir ons in Joh. 3 v 16-18:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
Glo jy dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur sodat jy die ewige lewe kan hê?

Geliefdes as jy dit glo, dan is die woorde van Psalm 46 nie maar net leë woorde nie. Dan kan jy met oortuiging sê dat God vir jou ook 'n toevlug in die nood is want die verhouding tussen jou en God wat as gevolg van sonde gebreek was, is nou herstel. Jy mag nou vir God sê Vader en daarom vertrou jy Hom ook.

Jy vertrou dat selfs as Hy jou nie uit die situasie haal wat jou so bekommer nie, dat Hy jou ook nie in die steek sal laat nie. Jy vertrou dat Hy jou daardeur sal dra selfs as die aarde pad gee en die berge tot in die dieptes van die see skuif, selfs al druis en skuim die waters van die see en al skud die berge deur sy onstuimigheid.


Jy vertrou dat God jou deur die lewensstorm sal dra wat hier om jou woed. Jy vertrou dat Hy jou sal dra deur die moeilike finansies. Jy vertrou dat Hy die pad saam met jou sal stap deur die siekte heen. Jy glo dat Hy daar is vir jou.

Jy glo dat selfs die dood jou nie van die liefde van Christus sal skei nie en dat die dood daarom vir jou geen verskrikking inhou nie.

Geliefdes, weet dat God vir jou 'n toevlug in die nood is. Weet dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie. los daarom jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou, want die Here die Almagtige is by jou. Die God van Jakob is vir jou 'n beskutting.

Amen

12 November 2017

Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?


12 Nov 2017 GKE
Rom 7:12 – 25 Teksverse Rom. 7:15, 19, 24 & 25


Die lewe is ’n stryd en dit is nie altyd maklik nie. Een van die moeilikste dinge in die lewe is wanneer die lewe my voor ’n spieël plaas waar ek myself onder die soeklig moet plaas. Dis nie ’n lekker plek om te wees nie, daarom kyk ek eerder na wat by my buurman aangaan. Dit is maklik om na iemand anders te kyk en uit te wys wat verkeerd is in sy lewe. Dit is nie so maklik om na my eie lewe te kyk en vas te stel waar ek te kort skiet nie.

In ons teks ontmoet ons Paulus waar hy voor die spieël staan en kyk na sy eie lewe. Hy deel hier met ons ’n hartsgeheim, naamlik dat hy ook stoei met sonde in sy lewe. Dit is nie maklik om te erken dat daar nog steeds sonde in jou lewe teenwoordig is nie. En tog is dit wat die Here van ons verwag.

Ons vier volgende week as die Here wil die heilige Nagmaal en Nagmaal vra van ons dat ons moet voorberei. Voorbereiding vra dat ek voor die spieël gaan staan en my lewe onder die soeklig plaas. Ek moet ’n antwoord op die vraag kry: “Is ek waardig om te kom aansit by die tafel van die Here?” Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry moet ek eerlik na myself kyk en my lewe onder die soeklig plaas.

Dit help nie dat ek oneerlik is en probeer afmaak dat daar by my nie probleme is nie, want ek kan niks vir God weggesteek nie. Verder is dit ook so dat as ek nie eerlik is met myself nie, dan hou Nagmaal ook nie werklik betekenis vir my in nie. Om werklik die diepere betekenis van Nagmaal te beleef, moet ek eerlik met myself wees in die proses van self ondersoek.

In ons teks wys die Here vir ons deur middel van die lewe van Paulus hoe om opreg en in diepte selfondersoek te doen. Ons hoor hier dat die wet heilig is en dat die wet sonde uitwys en veroordeel. Die wet is dus die maatstaf waaraan ek my lewe moet meet. Dit is wat Paulus gedoen het en hy kom tot die gevolgtrekking dat hy nie die toets geslaag het nie.

Hy vind in sy lewe hierdie geweldige tweestryd. Hy weet wat reg is. Daar is selfs by hom die begeerte om te doen wat reg is, maar...... en hier begin sy stryd, hy doen nie wat hy homself voorneem om te doen nie. Inteendeel hy doen net mooi die teenoorgestelde. Dit wat hy haat, juis dit doen hy!
Rom 7:15
Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

Is dit nie maar ook ons probleem nie? Ek weet ek moenie kwaad word nie, maar ek doen. Ek weet ek moenie iets sê wat sal seermaak nie, maar voor ek my kan kry het ek dit gesê. Ek is seker elkeen van ons kan aan verskeie sulke voorbeelde in ons lewe dink.

Dit bring ons ook by die verdere vraag: “Ek glo dat ek verlos is, maar hoekom sukkel ek dan nog met hiermee?” Dit kan so maklik gebeur dat hierdie stryd my moedeloos maak en dit is net wat die duiwel wil hê. Hy wil hê dat jy moedeloos word en dat daar geloofstwyfel by jou moet wees. Dit is die strategie wat hy van die begin af daar in die Paradys ingespan het en hy gebruik dit nog steeds, want dit werk so goed! Sy hoofdoel is om jou te oortuig dat jy God nie kan vertrou nie! Hy wil hê dat jy moet glo jy is nie goed genoeg vir God nie.

Dit is op hierdie punt waar Paulus dan ook die noodroep uiter: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Want hy weet wat die wet bepaal, naamlik dat sonde met die dood gestraf moet word. Hy weet dit is nie die wet wat jou doodmaak nie, maar dat dit sonde is.

En dit is dan ook hierdie geweldige stryd waarmee elkeen van ons daagliks worstel. Dit is amper asof daar twee persone tegelyk hier in my liggaam teenwoordig is. My kop sê vir my wat reg is en wat ek nie moet doen nie, en dan kom hierdie ander outjie in my en hy laat my net mooi doen wat my kop vir my sê ek nie moet doen nie. En dan kom koggel die ou duiwel my. Sien jy wat jy gedoen het? Wys jou net, jy is nie goed genoeg vir God nie. En dit maak my moedeloos, want ek weet dat die straf vir sonde die ewige dood is, vir ewig sonder God. Dit is juis hierdie moedeloosheid waarna Paulus verwys wanneer hy vra “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”


Die antwoord op hierdie vraag is gebore uit hoop. Die lewende hoop wat elke Christen koester.
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Dit is die hoop wat die Nagmaal bevestig. Daar waar ons op ’n sigbare wyse deur die tekens van brood en wyn sien hoe die evangelie werk. Daar sien ons dat die moedeloosheid van dood in die sonde deur Christus Jesus gebreek is. Hy het sy lewe gegee en daarmee het hy die vloek van die sonde gebreek. Met sy opstanding het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee.

Rom. 7:25 sluit af met:
So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.
Dit is ’n opsomming van hierdie sondestryd waarmee ons daagliks sukkel. Dit sê vir ons dat die stryd nog nie klaar is nie, maar ook dat daar hoop is om te wen. Dit sê vir jou dat dit waarvan die duiwel jou probeer oortuig nie waar is nie. Jy is nie ’n hopelose sondaar wat nie goed genoeg vir God is nie. Jy is ’n Koningskind wat vir God oneindig kosbaar is. So kosbaar dat Hy sy lewe vir jou neergelê het sodat jy kan lewe.

Dit sê ook vir jou dat die stryd nie verby is nie. Solank Ons in die wêreld is, is dit ’n daaglikse stryd. Dit is egter nie die stryd van ’n verlore sondaar met geen hoop op oorwinning nie. Dit is die stryd van ’n Koningskind wat in die krag van God teen die sonde stry en wat die sonde kan oorwin.

Wat beteken dit prakties? Dit beteken dat jy jou stryd, jou twyfel, na God toe kan bring. Vir God is niks te ver, te verlore, te groot om te herstel nie. God is nie bang vir jou twyfel, jou vrae of jou woede nie. Jesus het mens geword sodat jy die versekering kan hê dat Hy weet waardeur jy gaan en waarmee jy stoei. As mens het Hy ook daarmee gestoei. Wat God nie van hou nie is wanneer jy probeer om hierdie stryd op jou eie te voer.

Dit is die duiwel se doelwit om jou van God te vervreem. Moenie in sy valstrik trap nie. Bring jou onsekerheid, jou hartseer, die struikelblokke in jou lewe, daardie onmoontlike saak na God toe. Bring jou sonde na God toe en Hy sal jou rus gee, want Hy weet waardeur jy gaan. Hy wil vir jou lewe gee i.p.v. die doodsbestaan waarin sonde jou dompel. Bring jou onsekerheid na God toe en ervaar die vrede wat net Hy kan gee.
Amen