Jes. 42:1-9 & 2 Kor. 12:7-10
27 Sep. 2020
Hierdie oordenking is ook op video beskikbaar by:
1) Youtube
2) Facebook
Ons leef in ’n wêreld
wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar
van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi. Daar is nie
tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Moenie
vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie.
Maak nie saak hoe
moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag. Daarom kry ons ook sulke motiverende
spreukwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg
vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit
seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure
skud, maar hulle val nie om nie.”
Dit klink alles baie
mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi
klinkende spreukwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou
swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit
en moenie ander daarmee pla nie! Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik.
Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie
tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter die dat
wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.
God het gelowiges
geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld in te dra wat Hom nie ken. Die
probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat
ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende
wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is? As ons volgens
wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders
as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en
seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan.. In Jes. 42
leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy
wil met die wêreld bereik.
Jesaja 40 – 66 is
geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap
is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy
profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”
Die boodskap van hoop
is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter
want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy
verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan
hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die
moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.
Die beginsel dat God
deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik word vir ons duidelik gewys deur
die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God
prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en
bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur
gebrokenheid en selfs die dood heen.
God roep ons ook in
ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het
is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het.
Volgens die manier wat Christus sy werk gedoen het moet ons ook sagkens werk en
deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons kan dit doen omdat God
met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons
hoor in Jes. 42:3
’n
Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie
uitdoof nie.
Die beeld van ’n
lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in
die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die
voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak
is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen
lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te
gee nie.
Is dit nie hoe ons
ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou brand dat die geringste
windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse
wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig
het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te
wees vir ander?
Jes. 42 v 3 wys dan
profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof
nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor.
12:9a
My
krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.
Wanneer ons nie meer
krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons
hoor in 2 Kor. 12:9b & 10
Daarom
sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting
kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en
moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
Die wêreld is in nood
omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig
is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In
Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die
gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.
Ek
is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou
vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die
nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in
die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.
God se verbond is ’n
vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het en telkemale weer bevestig
het met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die inhoud van daardie ooreenkoms
is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander
woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is
te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus
bekragtig.
Jesus Christus het
met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom
herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld
moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde,
weer sien dat God liefde is. Dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan
bevry kan word. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan
dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.
Die wonderlike troos
hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy
het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus
hoop bring vir moedelose en gebroke mense. Die wêreld is ingestel op dit wat
mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In
Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en
bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur
gebrokenheid selfs die dood heen.
Geliefdes, As die
lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is kom na Jesus toe en
Hy sal julle rus gee.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking