Wys tans plasings met die etiket angstigheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket angstigheid. Wys alle plasings

08 Maart 2020

Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig?

Datum: 8 Mar. 2020 GKE
Lees:       Ps. 46
Teksvers: Ps. 46 v 11


Waar vind jy skuilplek wanneer die lewensstorms dreig om jou te oorweldig? Dwarsdeur die eeue het gelowiges hul troos in die Psalms gevind. Ons bely dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy met ons praat. In die Psalms vind ons ook die stem gelowiges wat God antwoord by monde van die Psalmdigters.

In die Psalms word gelowiges se diepste emosies en versugtinge verwoord. Ons hoor hoe hul God loof en prys, maar ons hoor ook hoe hulle, hul diepste smart en vertwyfeling teenoor God uitstort. In die Psalms word God se Woord persoonlik, intiem, naby.

Ook hier in Psalm 46 vind ons 'n geweldige troos wat God se teenwoordigheid in jou lewe 'n werklikheid maak. Dit is een van die Sionsliedere. Psalms 46, 48, 76, 87 en 122 vorm deel van hierdie groep Psalms. Die tema van hierdie groep Psalms is die sentrale plek van Jerusalem in die volk se godsdiens en God se redding en bystand aan sy volk in hulle geskiedenis.

In Psalm 46 hoor ons dan ook hierdie lofsang wat verwoord hoe God sy volk beskerm en dat hulle veilig is by Hom. Die eerste reël van die berymde Psalm sê dit dan ook so treffend:
       God is 'n toevlug in die nood....

Hier teen die einde van die Psalm in vers 11 vind ons egter 'n reël wat so half in kontras is met die res van die lofsange in die Psalm:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.
In al die verse behalwe in vers 11 is dit die gelowige wat aan die woord is, maar hier in vers 11 praat God. Dit klink so amper asof Hy vermaan. Dit klink asof dit by 'n Psalm hoort waar die gelowige sy bekommernis en angs teenoor die Here bekla.

In hierdie antwoord van die Here spreek Hy 'n baie belangrike saak aan. Wanneer dit swaar gaan sal gelowiges dikwels bely dat God almagtig is en dat Hy in beheer is. Die probleem kom egter in by wat ek in my hart voel. Hier diep binne in my twyfel ek of God Homself regtig bemoei met my probleme. Ek is angstig en die bekommernis vreet my op.

'n Ander probleem is dat ons dikwels in ons versugtinge by die Here aandring dat Hy die moeilike tye van ons moet wegneem. Dat Hy die gesukkel met die finansies moet laat ophou. Dat Hy asseblief tog hierdie siekte moet wegneem.

Soms doen die Here dit ook inderdaad en neem Hy die oorsaak van my kommer weg en verander die situasie. Dit is egter ook so dat Hy baiekeer nie die probleem wegneem nie en dit juis dan dat die kommer ons begin opvreet.

Dink daaraan. Daar is een of ander omstandigheid in u lewe wat u bekommer en angstig maak. Elkeen van ons weet maar alte goed wat dit vir ons persoonlik is. En nou lees u Psalm 46.
God is vir ons ’n toevlug en ’n beskerming;
Hy was nog altyd bereid om te help in nood.
Hoe vind u troos in die woorde?

Kan u met eerlikheid saam met die Psalmdigter sê?
Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad,
al skuif die berge tot in die dieptes van die see,
al druis en skuim die waters van die see,
al skud die berge deur sy onstuimigheid.
Kan u met eerlikheid sê “daarom is ek nie bang nie?”

Die probleem is dat as u dit nie met eerlikheid kan sê nie, dan is daar geen troos in hierdie Psalm nie! Dan is dit eintlik maar net leë woorde.

Daarom is vers 11 so 'n belangrike deel van hierdie Psalm. Luister mooi na wat die Here antwoord op die lofsange van die Psalmdigter:
Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.

Die Hebreeuse woord wat met bedaar vertaal is, beteken letterlik, “los dit, laat gaan, hou op daarmee.”

Wat sê die Here hier vir ons? Hy sê vir ons “los jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou.” Hy sê dat Hy as almagtige ware God ook jou bekommernisse kan hanteer.

En dan voeg Hy by “erken dat Ek God is, hoog bo die nasies,
hoog bo die aarde.” Hy sê vir ons dat Hy almagtig is. Hy is die enigste ware God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het.

Daarom antwoord die Psalmdigter ook in vers 12 met:
Die Here, die Almagtige, is by ons,
die God van Jakob is vir ons ’n beskutting.

Kan u saam met die Psalmdigter bely dat die Here die Almagtige by u is? Hoekom sou ons dit kon sê? Op grond waarvan sal ons so 'n aanspraak kon maak?

Jy kan so 'n aanspraak maak op grond van God se liefde want Hy sê vir ons in Joh. 3 v 16-18:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie.
Glo jy dat God jou so lief het dat Hy sy enigste Seun gestuur sodat jy die ewige lewe kan hê?

Geliefdes as jy dit glo, dan is die woorde van Psalm 46 nie maar net leë woorde nie. Dan kan jy met oortuiging sê dat God vir jou ook 'n toevlug in die nood is want die verhouding tussen jou en God wat as gevolg van sonde gebreek was, is nou herstel. Jy mag nou vir God sê Vader en daarom vertrou jy Hom ook.

Jy vertrou dat selfs as Hy jou nie uit die situasie haal wat jou so bekommer nie, dat Hy jou ook nie in die steek sal laat nie. Jy vertrou dat Hy jou daardeur sal dra selfs as die aarde pad gee en die berge tot in die dieptes van die see skuif, selfs al druis en skuim die waters van die see en al skud die berge deur sy onstuimigheid.


Jy vertrou dat God jou deur die lewensstorm sal dra wat hier om jou woed. Jy vertrou dat Hy jou sal dra deur die moeilike finansies. Jy vertrou dat Hy die pad saam met jou sal stap deur die siekte heen. Jy glo dat Hy daar is vir jou.

Jy glo dat selfs die dood jou nie van die liefde van Christus sal skei nie en dat die dood daarom vir jou geen verskrikking inhou nie.

Geliefdes, weet dat God vir jou 'n toevlug in die nood is. Weet dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie. los daarom jou bekommernis, laat dit gaan, hou op om te bekommer, bedaar nou, want die Here die Almagtige is by jou. Die God van Jakob is vir jou 'n beskutting.

Amen