18 Januarie 2026

Jesus bring hoop vir moedelose en gebroke mense

Op die pad van geloofsgroei deur die vuur van beproewing


 Lees:

Jesaja 42:1-9 & 2 Korintiërs 12:7-10

Ons leef in ’n wêreld wat nie baie geduld met swakheid het nie. As jy nie meer funksioneer soos daar van jou verwag word nie, word jy eenkant toe gestoot en weggegooi, want daar is nie tyd of plek vir swakheid nie. Daar word van jou verwag om sterk te wees. Die wêreldse standaard is: Moenie vir die wêreld wys dat jy kwesbaar is nie. Maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie, sorg dat jy glimlag.

Daarom kry ons ook sulke motiverende spreekwoorde soos: “maak nie saak hoe jy voel nie, staan op, trek aan en veg vir wat joune is” of “wat ook al die lewe na jou kant toe bring, selfs as dit seermaak, wees net sterk en maak of alles goed en reg is. Onthou sterk mure skud, maar hulle val nie om nie.”

Dit klink alles baie mooi, maar eintlik skuil daar ’n troostelose boodskap agter sulke mooi klinkende spreekwoorde. Wat sê dit eintlik vir jou? Moenie vir die wêreld jou swaarkry wys nie, want niemand gee om nie! Sorteer jou probleme by jouself uit en moenie ander daarmee pla nie!

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik. Hulle wat nie die paal haal nie word eenkant toe gestoot. Die wêreld het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. Die probleem is egter dat die dat wêreld vol is van stukkende en moedelose mense.

God het gelowiges geroep om as sy kerk sy lig in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie, in te dra. Die probleem is egter dat elkeen van ons ook maar een of ander stukkie seer het wat ons met ons saamdra. Hoe kan ons God se troos aan ’n moedelose en stukkende wêreld bring wanneer ons self ook soms stukkend en moedeloos is?

As ons volgens wêreldse maatstawe meet is ons nie goed genoeg nie, maar God werk egter anders as die wêreld. Sy werk word gedoen deur gebroke mense, mense wat die nood en seerkry van die wêreld verstaan omdat hulle self daardeur gaan. In Jes. 42 leer die Here ons dat Hy deur middel van ons gebrokenheid en onvolmaaktheid sy wil met die wêreld bereik.

Jesaja 40 – 66 is geskryf om die Israeliete wat daar in die vreemde van Babilon in gevangenskap is, te bemoedig. Vir hierdie klein hopelose klompie Israeliete sê God deur sy profeet Jesaja: “daar IS hoop is vir die toekoms!”

Die boodskap van hoop is nie net in die verlossing van Israel uit ballingskap nie. Dit is veel groter want God wil deur die swak, nederige, magtelose groepie ballinge sy verlossingswerk laat uitkring tot aan die uithoeke van die aarde. God gee aan hulle die spesiale taak om sy wil aan al die nasies bekend te maak en om die moedelose mense te inspireer om weer lig te sien soos ons hoor in Jes.42:1-9.

Die beginsel dat God deur gebrokenheid sy wil met die wêreld bereik, word vir ons duidelik gewys deur die lewe en werk van Jesus Christus. In Hom kry die “onlogiese” logika van God prakties gestalte. God bereik sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid en selfs die dood heen.

God roep ons ook in ons gebrokenheid om sy wil aan die wêreld bekend te maak. Die troos wat ons het is dat Hy ons met sy Gees toerus om die werk te doen waartoe Hy ons geroep het. Volgens die voorbeeld wat Christus gestel het toe Hy sy werk gedoen het, moet ons ook sagkens werk en deernis betoon aan dié wat gebroke en moedeloos is. Ons moet omgee vir ons broers en susters wat swaar trek. Ons kan dit doen omdat God met ons ook sagkens werk en dat Hy vol deernis is vir ons gebrokenheid soos ons hoor in Jes. 42:3

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.

Die beeld van ’n lamppit wat dof brand, is dalk nie so bekend in ons moderne tyd nie. 'n Lamp in die Bybelse tyd was 'n kleinerige kleipotjie wat met olie gevul was. Aan die voorpunt was daar 'n gaatjie waarin 'n stukkie tou gedruk is wat van vlas gemaak is. Wanneer die olie min raak, brand die lont al hoe flouer en gee byna geen lig af nie terwyl dit begin rook. So 'n lamp het nie eintlik meer nut om lig te gee nie.

Is dit nie hoe ons ook maar baie maal voel nie? ’n Vlammetjie wat so flou en rokerig brand dat die geringste windjie dit sal uitblaas. Elkeen van ons het elkeen maar sy eie bekommernisse en seerkry wat ons met ons saamdra. Dikwels voel dit vir ons dat ons nie eens genoeg lig het om ons eie donkerte in die lewe te verlig nie, wat nog daarvan om ’n lig te wees vir ander?

Jes. 42 v 3 wys dan profeties heen na Jesus wat nie die laaste gloeiende kooltjie van hoop sal uitdoof nie, want dit is juis dan wanneer ons bruikbaar is soos ons ook hoor in 2 Kor. 12:9a

My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

Wanneer ons nie meer krag het om aan te gaan nie is dit juis Christus se krag wat ons dra soos ons hoor in 2 Kor. 12:9b & 10

Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Die Here sê hier vir ons dat ons nie in eie krag die lewe moet aanpak nie, maar dat ons, ons krag in Hom alleen moet vind. Die wêreldse standaard sê vir jou dat jy moet sterk wees, maak nie saak hoe swaar dit gaan nie. Teenoor dit sê die Here sê vir ons: “jy hoef nie sterk te wees nie, want Ek is jou sterkte.”

Die wêreld is in nood omdat sonde veroorsaak dat die mens se verhouding met God deur sonde vernietig is. Dit het meegebring dat mense se onderlinge verhoudings ook beskadig is. In Jes. 42:6 & 7 hoor ons dat God vir Christus as sy dienaar geroep het om die gebroke verhouding tussen God en die mens en tussen mense onderling te herstel.

Ek is die Here. Omdat Ek getrou is aan my verbond, het Ek jou geroep. Ek hou jou vas, Ek beskerm jou en Ek maak jou my verbond met my volk, my lig vir die nasies. Jy sal blindes laat sien, jy sal gevangenes uit die tronk bevry; wie in die donkerte van die gevangenis sit, sal jy laat uitgaan.

God se verbond is ’n vaste ooreenkoms wat Hy reeds met Abraham gemaak het met die belofte dat daardie verbond ook vir sy nageslag van krag sal wees en telkemale het Hy dit weer bevestig met die gelowiges wie Hy uitverkies het. Die Bybel leer ons dat elkeen wat in Jesus Christus glo ook die nageslag van Abraham is en dat God se verbond ook vir hulle bedoel is.

Die inhoud van daardie verbond / ooreenkoms is dat Hy onderneem om ons God te wees en dat ons sy volk moet wees. Met ander woorde God onderneem om die gebroke verhouding wat deur ons sonde veroorsaak is te herstel. In Jes. 42:7 hoor ons dat Hy sy verbond deur Jesus Christus wat sy Kneg is, bekragtig.

Jesus Christus het met sy offer aan die kruis die gebroke verhouding tussen God en die mense kom herstel. Dit is die goeie nuus, dit wil sê die evangelie wat ons aan die wêreld moet uitdra. Jesus laat mense wat deur sonde verblind word vir God se liefde, weer sien dat God liefde is. Dit is die goeie nuus dat mense wat deur sonde vasgevang is daarvan bevry kan word.

Jesus het sy kerk (d.w.s elkeen wat in Hom glo) geroep om hierdie goeie nuus aan die wêreld uit te dra. Hierdie werk van God word in ons gebrokenheid gedoen en ons kan dit doen omdat ons krag in Jesus Christus gesetel is.

Die wonderlike troos hierin is dat Jesus nie net vir ons sondes in die verlede gesterf het nie. Hy het ook gesterf vir alles wat ons nou in die lewe moet deurmaak omdat Jesus hoop bring vir moedelose en gebroke mense.

Die wêreld is ingestel op dit wat mens kan bereik en het nie tyd of plek vir moedelose en stukkende mense nie. In Jesus Christus bereik God sy wil met die wêreld nie deur magsvertoon en bloedvergieting nie. Nie deur konings en wêreldbeheersers nie, maar deur gebrokenheid selfs die dood heen.

Geliefdes, As die lewe jou moedeloos gemaak het. As jy uitgeput en oorlaai is weet dat jy nie nodig het om in eie krag die lewe hoef aan te durf nie. Kom na Jesus toe. Hy is jou krag en sterkte en Hy sal jou rus gee.

Amen

 


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking