25 Januarie 2026

Op die pad van geloofsgroei

Lees:

Inleiding

Wat verwag die HERE van ons? Dit is ’n vraag waarmee ons as gelowiges dikwels stoei. Wat wil die HERE hê dat ons moet doen? Verwag Hy dat ek gereeld kerk toe moet kom? Verwag Hy dat ek ten minste 2 ure per dag Bybellees? Verwag Hy dat ek dat ek ten minste 3 ure per dag moet bid? Hierby kan ons nog ’n hele string moets en moenies byvoeg? Wat verwag die HERE van ons?

Ons kan op hierdie vraag baie maklik allerlei menslike voorskrifte voorhou, maar dan maak ons maar net soos die Fariseërs van ouds. Dit is inderdaad ook dikwels wat gebeur. Ons moenie dink dat die Fariseërs net in Jesus se tyd bestaan het nie. Hulle is nou nog steeds by ons teenwoordig. Ons hoef nie baie ver te gaan soek nie geliefdes. Ek hoef nie eers na die persoon langs my te kyk nie, want ek vind die Fariseër sommer hier in my eie hart. Ek is dikwels die persoon wat allerlei menslike voorskrifte aan die HERE se wil koppel.

Ons hoef egter nie baie te wonder oor wat die HERE van ons verwag nie, want Hy sê dit baie duidelik in sy Woord vir ons. Hier in Deut. 10 sê die HERE vir Israel wat Hy van hulle verwag wanneer hulle die beloofde land binnegaan. In Gen 12 v 3 & 4 hoor ons dat die HERE aan Abraham belowe het dat hy ’n groot nageslag gaan hê en dat hulle ’n land gaan kry om in te woon.

Dit is nou ongeveer 430 jaar later waar die nageslag van Abraham op die punt staan om die beloofde land binne te gaan. Israel is verlos van die slawerny in Egipte en nou nadat hulle 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, staan hulle gereed om die beloofde land binne te gaan. Hulle is tans aan die oostekant van die Jordaanrivier. Aan die westekant tussen die Jordaanrivier en die Middellandse see lê Kanaän, die beloofde land. Moses is besig om die volk voor te berei oor hoe hulle moet leef wanneer hulle in die beloofde land woon. Hier in Deut. 10v12 & 13 vind ons ’n samevatting van wat die HERE van Israel verwag. In hierdie samevatting sê die HERE ook vir ons wat Hy van ons verwag.

12“En nou, Israel, die Here jou God vra net dat jy Hom moet eer , sy wil moet gehoorsaam , Hom moet liefhê en dien met hart en siel. 13Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee. Dit sal tot jou voordeel wees.

Hier sê die HERE vir ons:

    i.        Wat Hy van ons verwag

   ii.        Hoe ons dit moet doen en

 iii.        Hoekom die HERE dit van ons verwag.

Wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag van ons dat ons Hom moet eer en dat ons Hom moet liefhê en dien met hart en siel. In die Ou Vertaling is die woord wat in die Nuwe vertaling met eer vertaal is met vrees vertaal. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie. Ons praat dikwels in die kerk daarvan dat ons die HERE moet vrees en dit kan maklik misverstaan word omdat die betekenis van vrees in Afrikaans verander het van eerbied na bang wees.

Die betekenis van die Hebreeuse woord dui daarop dat dit verwys na heilige eerbied vir die HERE. Met ander woorde dit beteken dat ons aan die HERE die nodige erkenning moet gee vir wie Hy is. In Deut. 10v14 hoor ons:

Die hemel, selfs, die hoogste hemel, behoort aan die Here jou God, ook die aarde en alles daarop.

Ons moet die Here erken vir wie Hy is, naamlik die enigste ware God wat die Hemel en die aarde uit niks geskep het. Dit beteken egter nie dat ons vir die HERE moet bang wees nie, maar dat ons aan Hom moet eer bewys en daarom is dit in die nuwe vertaling met eer vertaal.

Hoe eer ons die HERE? Ons eer die HERE wanneer ons vir Hom lief is deur Hom te dien met hart en siel. Ons die ’n die HERE wanneer Hy die no. 1 prioriteit in ons lewe is. Ons het die HERE lief vir wat Hy vir ons gedoen het en vir wie Hy is. In Deut. 10v15 sê die HERE vir ons:

En tog het Hy sy liefde net aan jou voorvaders betoon en vir julle, hulle nageslag, uit al die volke uitgekies. Dit is nou nog so.

Die God wat hemel en die aarde geskep het buig Homself neer na ons as nietige mense. Hy het Israel uitverkies as sy volk. Uit Israel is die Messias gebore. Net soos Israel van ouds uit die slawekettings van Egipte verlos is, verlos Jesus Christus vandag nog God se uitverkore kinders uit die slawerny van die sonde. Israel het vooruit gekyk na die liefde van God se verlossing deur die voorbeeld van hul verlossing uit Egipte. Ons kyk vandag terug na God se liefde vir ons in Jesus Christus soos Hy ook so duidelik in 1 Joh. 4v9&10 vir ons sê.

9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Op grond van God se uitverkiesende liefde wat Hy in Jesus Christus se kruisoffer en oorwinning oor dood aan ons bewys het kan ons die HERE eer. Ons eer die HERE wanneer ons Hom alleen erken as die enigste God en ons is lief vir Hom en dien Hom met ons hele wese wanneer ons NIKS of NIEMAND in sy plek stel nie.

Hoe moet ons die HERE liefhê en dien met ons hele wese?

In Deut. 10v13a sê die HERE vir ons:

Gehoorsaam die gebooie en voorskrifte wat die Here jou vandag deur my gee.

Hierdie gebooie en voorskrifte is die wet van die HERE wat Moses net kort tevore vir ’n tweede keer aan die volk gegee het. Dit is dikwels op hierdie punt waar ons die gevaar loop om Fariseërs te word. Hoe word ons Fariseërs? Ons word Fariseërs wanneer ons die HERE se voorskrifte vervang met ons eie godsdienstige reëls. Wanneer ons verder hierdie reëls van ons voorhou as voorwaarde om vir die HERE aanvaarbaar te wees. As jy nie hierdie reëls nakom nie, dan kan jy nie ’n kind van die HERE wees nie en so span ons die kar voor die perde.

En tog is die wet van die HERE eintlik baie eenvoudig. Jesus som die wet op met liefde. Liefde vir God bo alles en liefde vir jou naaste soos Hy dit in Mat 22v37-40 vir ons sê:

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Dit is ook nie iets nuuts wat Jesus uit die lug gryp nie. Hy haal maar eintlik net die Ou Testament aan wanneer Hy dit sê. Liefde vir God uit Deut. 5v6 en liefde vir jou naaste uit Lev. 19v18. In wese kom hierdie selfde opsoming ook in Deut. 10 voor. In Deut. 10v16 sê die HERE vir ons:

16“Wy jou aan Hom en moenie hardkoppig wees nie.

17Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Wat is dit anders as dat jy die HERE jou God met jou hele hart en jou hele verstand bo alles moet liefhê?

In Deut. 10v18 sê Hy vir ons:

18“Hy laat reg geskied aan die weeskind en die weduwee. Hy het die vreemdeling lief en gee vir hom kos en klere. 19Jy moet ook die vreemdelinge liefhê, want jy was self ’n vreemdeling in Egipte.

In wese sê die HERE hier vir ons dat ons vir mekaar moet omgee. Ons moet dus nie in selfsug net op onsself gefokus wees nie. Ons moet mekaar liefhê deur mekaar se belange op die hart te dra.

Ons dien die HERE wanneer ons Hom bo alles liefhet en wanneer ons, ons naaste net soos onsself liefhet. Die HERE sê egter nie net vir ons wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen nie. Hy sê ook vir ons hoekom ons dit moet doen.

Waarom moet ons die gebooie en voorskrifte van die HERE nakom?

Ons sê so maklik dat ons die HERE se gebooie en voorskrifte moet nakom omdat die HERE so sê. Dit sou seker genoeg motivering wees, maar die HERE verduidelik ook in sy liefde vir ons hoekom dit nodig is. Die HERE gee nie sy voorskrifte om die lewe vir ons moeilik te maak nie. Hy gee dit vir ons met ’n baie spesifieke rede. Die rede wat die HERE gee is eintlik baie eenvoudig. in Deut. 10v13 sê Hy eenvoudig vir ons:

Dit sal tot jou voordeel wees.

Ons verstaan hierdie ook so dikwels verkeerd. Ons dink so maklik dat die voordeel daarin lê dat as ons God se gebooie en voorskrifte nakom dan vermy ons sy straf. Ek moet luister wat die HERE sê anders gaan Hy my straf. As dit ons siening is, dan verstaan ons egter nog bitter min van die HERE se liefde vir ons. Die HERE verwag dat ons mekaar moet liefhê omdat dit in ons eie belang is dat ons dit doen.

Die HERE weet hoe afbrekend selfsug en kritiek is. Hy weet hoe haat en bitterheid ons van ons lewensvreugde beroof. Hy weet hoe eensaam ons word wanneer ons, ons in selfsug van ons naaste afsonder. Wanneer die HERE vir ons sê dat ons mekaar moet liefhê en dat ons vir mekaar moet omgee, doen Hy dit omdat Hy weet hoeveel vreugde mens ervaar wanneer jy liefde uitdeel en as gevolg daarvan weer liefde terugontvang.

Dit is die wonder van God se liefde. Hoe meer ons daarvan uitdeel, hoe meer ontvang ons terug. Dit is onmoontlik om al God se liefde uit te deel, want jy ontvang altyd meer terug as wat jy uitdeel. As jy egter in selfsug God se liefde net vir jouself wil hou, dan verdwyn God se liefde en het jy naderhand niks daarvan oor nie.

Nou kry ons ook ’n ander fokus op God en sy liefde. As God eerste in my lewe is, dan kan ek nie anders as om vir my naaste om te gee nie. Dan is dit nie vir my moeite om eredienste by te woon nie, maar eerder ’n vreugde omdat ek daar saam met my broers en susters in die geloof in die heerlike teenwoordigheid van ons Vader gaan wees. Dan lees ek Bybel omdat ek my Vader se stem wil hoor. Dan bid ek tot die HERE omdat ek graag met Hom wil praat. Dan dien ek die HERE omdat dit vir my ’n vreugde is en nie omdat dit ’n sware plig is nie.

Ons kom die HERE se gebooie en voorskrifte na omdat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed vir ons om die HERE en ons naaste lief te hê.

Samevatting

Geliefdes, wat verwag die HERE van ons?

Die HERE verwag dat ons Hom alleen moet eer deur niks of niemand in sy plek te stel nie. Ons eer die HERE wanneer ons sy gebooie en voorskrifte nakom deur God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê. Ons doen dit in die volle wete en vertroue dat dit tot ons voordeel strek om dit te doen want dit is goed om die HERE en ons naaste lief te hê.

Dien die HERE alleen deur jou volkome liefde en totale toewyding aan sy wil!

Amen

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking