Wys tans plasings met die etiket geloofsvertroue. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloofsvertroue. Wys alle plasings

07 Junie 2020

Tema: - Moenie moed verloor nie

Datum: 7 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: 2 Kor. 4 v 7 - 18

Teksvers: 2 Kor. 4 v 17

 Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Facebook - Volledige erediens 2) YouTube - Preek alleen


Sing

Ps. 23-1 v 1 & 3

Ps. 20-1 v 1 & 4

Die lewe is vol moeilikhede. Dis een ding wat hierdie jaar sover net weereens beklemtoon het. Iemand het nou die dag gesê: “kan ons nie maar net 2020 se ‘reset’ knoppie druk sodat ons weer kan oor begin nie?” As ons net teen al ons probleme bly vaskyk, kan ons maklik moed verloor. Die Here gee vir ons vanoggend perspektief uit sy Woord om ons te help om nie moed te verloor nie.

Paulus gebruik hier 'n beeld uit die leefwêreld van Nuwe Testament. Die mense van destyds het kleipotte as alledaagse houers gebruik om goed in te bêre net soos wat ons deesdae gebruik maak van blikke of plastiese en glas houers. Net soos wat 'n glas houer sal breek as jy dit hard stamp of laat val, was die kleipotte ook maar breekbaar. Die beeld sluit ook iets kosbaars in wat binne in hierdie alledaagse kleipotte gebêre word.

Wat beteken hierdie beeld? Die skat is die kennis van die heerlikheid van God. Kennis van God se verlossingsplan in Jesus Christus om verlore mense weer met Hom te versoen. Elkeen wat glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dat jy die ewige lewe ontvang het omdat Jesus die dood oorwin het word 'n draer van hierdie skat.

Die kleipotte waarin hierdie skat is, is dan ook die gewone alledaagse feilbare mense wat in Jesus glo. Wanneer jy die evangelie as skat ontvang, ontvang daarmee saam ook die opdrag om daarmee uit te gaan en dit uit te deel. Dit is egter nie jy wat mense oortuig om in die evangelie te glo nie. Dit is God wat mense tot bekering bring. Die fokus is dus op die krag van die evangelie in mense se lewens.

Dan bevestig Paulus net weereens die waarheid dat die feit dat jy 'n Christin is nie beteken dat jy nie meer moeilikhede in hierdie wêreld gaan hê nie. Ons hoor nou wat dit beteken om 'n kleipot te wees wat die skat van die evangelie in hom dra. 2 Kor. 4 v 8 & 9:

In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Te midde van aanslae van die lewe sal jy deur die krag van God staande bly.

Wanneer jy 'n draer van hierdie skat is, deel jy in die lyding en sterwe van Jesus. En daardeur word die lewe van Jesus in jou sigbaar.

In ons teksverse gee die Here vir ons hoop sodat ons nie moedeloos moet word nie. Ons kry hier so 'n stukkie perspektief van God se groter ewige raadsplan. Ons kry swaar. Hierdie lewe is nie maklik nie. Ons moet baie uitdagings in die gesig staar.

Die verwysing in vers 16 na die uiterlike wat besig is om te vergaan is ons sterflike liggame (die kleipotte). Soos wat ons ouer word, gaan ons liggame agteruit totdat ons uiteindelik sterf. Die lewe is egter meer as net ons fisiese liggame. Die skat van die evangelie wat ons in ons dra gee vir ons die krag om deur dit te kom.

Die rede vir ons hoop vind ons in ons teksvers: 2 Kor. 4 v 17:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

In ons teksvers vind ons drie teenoorgesteldes wat met 'n werkwoord aan mekaar verbind word.

Die eerste is: “Ons swaarkry in hierdie lewe.” Dit sê vir ons dat dit alle swaarkry insluit soos byvoorbeeld wanneer jou oë swakker word, jy sukkel om te hoor, die algemene agteruitgang wat met ouderdom gepaard gaan, siektes soos hartprobleme, kanker. Verder is dit ook duidelik dat dit verwys na ons totale lewensduur hier op aarde waar ons ly. Elkeen weet wat jou swaarkry is en vir dit gee die Here vandag vir ons troos.

Teenoor hierdie swaarkry is die belofte van die heerlikheid van God wat so mooi deur Openbaring 21 v 3 & 4 uitgespel word:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Die tweede is dat die swaarkry maar gering is. En die derde is dat dit verby gaan. Teenoor dit is die heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat vir ewig bly.

Dit klink amper verkeerd! Hoe kan 'n hele lewe se swaarkry gering wees? Binne God se ewigheids-perspektief is ons tyd op aarde byna niks. As jy 'n lyn moes trek wat van die eenkant van die heelal na die anderkant strek, dan is ons tyd hier op aarde kleiner as 'n potloodpunt merkie op daardie lyn.

Die Griekse werkwoord wat hierdie groep teenoorgesteldes aan mekaar bind, is in Afrikaans vertaal met “loop vir ons uit.” Die letterlike betekenis van hierdie woord is, produseer, veroorsaak, berei voor. Ons sou dit dus ook kon vertaal met voorberei.

Die tydelike swaarkry wat gering en verbygaande is, berei ons voor vir heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Die swaarkry berei ons voor sodat dit uitloop op die ewige heerlikheid.

In ons swaarkry deel ons in die lyding van Christus toe Hy hier op aarde was en hierdie tydelike swaarkry berei ons voor vir 'n ewige heerlikheid saam met God.

Wanneer jy midde in moeilike omstandighede staan, lyk die prentjie donker. God troos ons vandag met sy Woord en Hy sê vir jou: “Moenie moed verloor nie.” In vergelyking met die heerlikheid; waar jy ewig saam met God sal wees; is hierdie swaarkry gering wat net vir 'n kort tydjie duur.

Die troos wat die Here ook hiermee saam gee, is dat ons nie alleen staan in ons swaarkry in die lewe nie. Daar waar jy met soveel moeite teen jou siekte stoei is God saam met jou. Hy hou jou vas terwyl Hy jou voorberei vir die ewige heerlikheid wat wag. Ons het nou reeds 'n voorsmakie van dit wat veel beter sal wees as wat ons ooit kan dink of droom.

Geliefdes, jy is nie alleen in jou swaarkry nie. God is by jou en Hy loop die pad saam met jou.

Moenie moed verloor nie.

Amen

 


25 Augustus 2019

Van Geloofstwyfel tot Geloofsvertroue


Joh. 20 v 19 – 31
Teksverse: Joh. 20 v 24, 25, 27 & 28


Geloofstwyfel. Dis iets wat elke gelowige op een of ander tyd in sy lewe ervaar. Dit gebeur gewoonlik wanneer jou lewe op 'n laagtepunt is. Wanneer jy op jou kwesbaarste is. Dan kom die ou duiwel en hy probeer jou oortuig dat God nie werklik vir jou omgee nie. Sy grootste aanslag is om jou te probeer oorreed dat God nie werklik bestaan nie.


Die verhaal van Tomas help om jou perspektief te gee wanneer jy in 'n geloofskrisis beland. Ons weet nie veel van Tomas nie en tog is hy alom bekend in die volksmond as ongelowige Tomas. In ons teks ontmoet ons Tomas in 'n tyd wat sy hele wêreld omgekeer is.

Sy Heer en Meester is dood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg as een van sy dissipels en nou het die owerhede Hom as 'n misdadiger gekruisig. Dit het hom en sy mededissipels se leefwêreld omgedop. Hierdie gebeure het Tomas in 'n geloofskrisis laat beland want sy sekerhede en ankers in die lewe is afgestroop. Met Jesus se sterwe het hy al sy hoop verloor.

In ons teks hoor ons hoe Jesus aan sy dissipels verskyn na sy opstanding. Hulle was almal skepties toe die vroue vir hulle kom vertel dat Jesus opgestaan het soos ons ook in
Luk 24 v 22 tot 24 hoor:
22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Dit is nie net Tomas wat skepties was nie. Al die dissipels was aanvanklik skepties. Hulle was almal oorweldig deur die gebeure van die vorige dae. In ons teks hoor ons wat die verskil maak wanneer mens geloofstwyfel beleef. 'n Ontmoeting met Jesus. Die dissipels wat daar was, is versterk in hul geloof en het die vrede van Jesus ervaar wat Hy oor hul uitgespreek het.

Vir een of ander rede was Tomas egter nie saam met die ander dissipels by daardie eerste ontmoeting nie. Ons weet nie wat die rede was hoekom hy nie daar was nie, maar wat wel duidelik is, is dat hy uitgemis het op die vrede, vertroosting en geloofsversterking wat die ander dissipels van Jesus ontvang het. Hier vind ons 'n baie belangrike rede waarom ons nie ons erediens bywoning moet afskeep nie.

Toe die ander dissipels vir Tomas vertel het van hul ontmoeting met Jesus was hy baie skepties soos ons ook in ons teks in
Joh. 19 v 25 hoor:
25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die gebrek aan gemeenskap met sy medegelowiges het bygedra tot sy ongeloof, want hy het nie die geloofsversterking en vrede ontvang wat die ander gekry het nie. Wanneer jy jou erediens bywoning afskeep, doen jy dit tot jou eie nadeel.

'n Week later het Jesus weer aan sy dissipels verskyn. Die verwysing na agt dae dui op die manier waarop die Jode getel het. Hulle het by die Sondag van Jesus se eerste verskyning begin tel tot en met die volgende Sondag wat agt dae is. Deesdae sou ons vanaf die Maandag tel wat op die Sondag volg wat dan sewe dae is.

Met hierdie tweede verskyning was Tomas ook teenwoordig en hier hoor ons wat se dramatiese verskil 'n ontmoeting met Jesus in Tomas se lewe gemaak het. Ons hoor ook hier van die deernis en geduld wat die Here met hom gehad het. Jesus verwyt hom nie, maar spreek tot sy ongeloof.

Tomas het gesê: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus kom na Tomas en sê vir hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Tomas was die mees skeptiese van al die dissipels, maar na sy ontmoeting met Jesus spreek hy die kragtige belydenis uit: “My Here en my God!” In hierdie belydenis van Tomas leer ons wat dit beteken om jouself in geloof aan Jesus te bind.

In die eerste plek maak hy dit persoonlik. My Here, My God.” Baie keer haak mense net op 'n intellektuele akademiese vlak met die evangelie vas. Dit is egter eers wanneer jy dit persoonlik maak dat die evangelie jou lewe verander.

In die tweede plek hoor ons hoe Tomas homself aan die soewereiniteit van Jesus onderwerp. “My Here.” Hy erken dat Jesus nou Koning is in sy lewe en dat hy homself aan Jesus onderwerp. Jy kan nie 'n dissipel van Jesus word as jy jouself nie aan sy gesag oor jou lewe onderwerp nie.

In die derde plek erken hy die Godheid van Jesus. “My God.” Jesus is nie maar net 'n goeie voorbeeld vir ons nie. Hy is die tweede persoon van God Drie-enig, Die Skepper van die hemel en die aarde. Die Heerser oor die heelal en sodoende ook oor elke aspek van ons lewens.

Na Tomas se belydenis sê Jesus vir hom:
“Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Geliefdes, ons kan Jesus nie meer fisies sien soos wat sy dissipels kon nie. Dit beteken egter nie dat ons nie die geloofsversterking, vertroosting, seën en vrede kan ontvang wat sy dissipels ontvang het nie.

Ons kan Jesus nie vanoggend fisies met ons oë sien nie, maar Hy is hier. Ons sien Hom nie met ons fisiese oë nie, maar wel met ons geloofsoë. Deur sy Woord en die woordverkondiging ontmoet ons Jesus net so seker as wat Jesus se dissipels Hom daardie Sondag ontmoet het 'n week na sy opstanding.

In Joh. 19 v 30 & 31 hoor ons wat die inhoud van die seëninge is wat ons ontvang wanneer ons Jesus ontmoet. Wanneer jy jou geloofsvertroue in Jesus stel ontvang jy die ewige lewe. Die ewige lewe is nie iets wat net daar in die verre toekoms gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds. Jy kan nou reeds die vrede beleef van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Tydens ons eredienste ontmoet ons Jesus en Hy herinner ons gedurig aan die kruis en sy opstanding wat lewensveranderd in ons lewe werk. Deur ons geloofsoë sien ons die merke van die spykers in sy hande en die spieswond in sy sy.

Wanneer jy begin twyfel in God se liefde, onthou die kruis waar Jesus sy lewe vir jou gegee het. Wanneer jy twyfel en vrees dat jy dalk in die hel mag beland, onthou sy wonde. Kyk deur jou geloofsoë na die merke van die spykers in sy hande en na die spieswond in sy sy en onthou dat Jesus jou deur sy bloed reinig van die sonde wat tussen jou en God staan.

Geliefdes, moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Amen.

20 Julie 2016

Ons kan alleen deur ’n ware geloof deel kry aan die verlossing van sondes deur Jesus Christus



17 Jul 2016 GKE
Heb. 11v1-12v3. Teksverse Heb. 11 v 17-19 & Son 7 HK
Sing       Lofsang: Ps. 31-1 v 1 & 3
              Na wet:    Ps. 25-1 v 1,3 & 5
              Na gebed Ps. 33-1 v 5 & 11
              Slotsang   Ps. 31-1 v 17 & 19

Heidelbergse Kategismus Sondag 7

20  Vraag:  Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Antwoord:  Nee;  (a);  maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).
(a) Matt 7:1422:14.  (b) Mark 16:16;  Joh 1:12;  3:16, 18, 36;  Jes 53:11;  Ps 2:12;  Rom 11:20;  3:22;  Heb 4:3;  5:9;  10:39;  11:6.
21  Vraag:  Wat is 'n ware geloof?
Antwoord:  'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.
(a) Jak 2:19.  (b) Heb 11:1, 7;  Rom 4:18-21;  10:10;  Ef 3:12;  Heb 4:16;  Jak 1:6.  (c) Gal 5:22;  Matt 16:17;  2 Kor 4:13;  Joh 6:29;  Ef 2:8;  Fil 1:19;  Hand 16:14.  (d) Rom 1:16;  10:17;  1 Kor 1:21;  Hand 10:44;  16:14.  (e) Ef 2:8;  Rom 3:24;  5:19;  Luk 1:77, 78.  (f) Rom 1:17;  Gal 3:11;  Heb 10:10, 38;  Gal 2:16.
22  Vraag:  Wat moet 'n Christen glo?
Antwoord:  Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
(a) Joh 20:31;  Matt 28:19;  Mark 1:15.
23  Vraag:  Hoe lui die artikels?
Antwoord:  (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.  (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;  (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;  (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;  (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;  (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.  (8) Ek glo in die Heilige Gees.  (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;  (10) die vergewing van sondes;  (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.

Inleiding

Hoe kan ek God leer ken? Dit is een van die belangrikste vrae waarop elkeen ’n antwoord moet kry! Die Bybel leer ons dat daar maar net een manier is: (vgl. Heb. 11v6b ) Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te ken. Glo, geloof, loop soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel. Daarom is dit ’n sentrale aspek van die Christelike godsdiens.

Wat beteken dit wanneer ons sê dat ons glo? Hoe doen mens dit prakties? Ons belydenis in Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus gee vir ons ’n duidelike verklaring daarvan. Ons kan ons belydenis in Sondag 7 soos volg opsom:
Ons kan alleen deur ’n ware geloof deel kry aan die verlossing van sondes deur Jesus Christus.
Die volgende drie aspekte kom in ons belydenis na vore:
1.   Ek moet glo
2.   Wat is ’n ware geloof?
3.   Wat moet ek glo?

Ek moet glo

Alle mense is verlore as gevolg van Adam se rebelse opstand teen God soos wat ons ook in Sondag 3 van die Heidelbergse Kategismus bely. In Sondag 6 bely ons dat Jesus Christus vir ons verlossing bewerk. Die vraag is nou of alle mense deur Christus verlos word? Die duidelike antwoord is NEE, alle mense word nie gered nie. In Joh. 3v36 sê die Here vir ons:
Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.
Daarom bely ons in Sondag 7 vraag en antwoord 20:
slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem
Dit is hieruit duidelik dat dit Geloof is wat die verskil maak of ’n mens gered word of verlore gaan. Alle mense word nie gered nie, net diegene wat glo word gered. God se genade kom hier duidelik na vore. Hy gee aan ons die opdrag om te glo (Joh. 14v1)
Glo in God; glo ook in My.
Tog is die aksie van geloof ook genade, want selfs die geloof wat God vra gee Hy ook aan ons (Ef. 2v8)
Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.
As ons gered wil word, dan is dit duidelik: Ons MOET glo soos die Here ook in Heb. 11v6 vir ons sê:
Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.
Wanneer ek my geloof bely, dan MOET ek glo!
As my geloof egter nie ’n ware geloof is nie dan help dit my egter niks nie soos die Here ons in Jak 2v19 leer:
Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook—en hulle sidder van angs.
 

Wat is ’n ware geloof?

Hier in Heb. 11 leer die Here ons wat ’n ware geloof is. In Heb. 11v1 sê die Here vir ons:
Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop , om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Hierin kom daar twee aspekte duidelik na vore. Ons het ’n hoop, dit wil sê ons moet weet wat ons hoop en ons moet seker wees, dit wil sê ons moet vertrou. Om te glo is dus om ’n verwagting te hê dat die hoop wat ons het verseker waar gaan word.

Daarom bly ons ook
'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk
In Heb. 11v1 verduidelik die Here vir ons die teorie van ’n ware geloof. Daarna gee Hy vir ons hele klomp voorbeelde uit die Ou Testament van mense wat geglo het. (’n Groot skare geloofsgetuies Heb12v1). Vanaf Kain en Abel reg deur tot by Moses en ook die profete in die Ou Testament. Een van die bekendste voorbeelde is Abraham wat Isak moes gaan offer het:
Heb. 11v17-19
17–18Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. 19Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het.

Dit is hier waar ons werklik sien wat beteken dit om werklik op die Here te vertrou! Abraham was bereid om vir Isak te offer omdat hy geweet het God is almagtig en omdat hy vertrou het dat God weer vir Isak uit die dood sou opwek. Hy het vertrou dat God hom ook in die moeilike tye sou kon help. Dit is waar ons geloofsvertroue ook prakties na vore kom. Dit is maklik om te glo en vertrou wanneer dit goed gaan in die lewe. Dit is egter ’n ander saak wanneer dit moeilik gaan in my lewe. Wanneer al die omstandighede om my daarop dui dat ek God nie kan vertrou. Dit is dan wanneer my geloof my dra. Ek het geleer dat God goed is en dat Hy net my beste belange op die hart dra. Ek het geleer dat God vir my net die beste wil hê en nou moet ek ook vertrou dat dit die waarheid is.

Hierdie geloof van ons is ook nie net op die hier en nou van toepassing nie. Dit het ook ewigheidswaarde. Abraham het nie nodig gehad om vir Isak te offer nie. God het egter sy Seun Jesus Christus aan die kruis geoffer sodat ons kan lewe. Daarom bely ons ook:
dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.

Geloof begin eers werklik betekenis kry wanneer dit persoonlik raak. Dit is maar redelik algemeen wanneer ons sê dat Jesus vir die sondaars gesterf het. Dit begin egter eers werklik betekenis kry wanneer ons op daardie punt kom wat ek dit my eie maak. Dit is nie net vir ander waar nie. Dit is vir MY waar. Ek word ook gered van die ewige dood. Jesus Christus het vir MY sondes aan die kruis gesterf. Dit is die geloofsanker waaraan ons moet vashou sodat ons staande kan bly wanneer die moeilike tye oor ons pad kom soos die Here ook vir ons sê in Heb. 12v3
Hou Hom (Jesus Christus) voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Wat moet ek glo?

Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

(1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. 
(2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; 
(3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; 
(4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en wat die angste van die hel tot die dood toe ondergaan het; 
(5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; 
(6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
(7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. 
(8) Ek glo in die Heilige Gees. 
(9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; 
(10) die vergewing van sondes; 
(I1) die opstanding van die liggaam
(12) en 'n ewige lewe.

Amen