Wys tans plasings met die etiket kosbaar. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kosbaar. Wys alle plasings

15 Augustus 2025

Wat is die mens dan dat U aan hom dink?

 

Psalm 8

1Vir die koorleier: met musiek.

'n Psalm van Dawid.

2Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,

hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

3Kinders en suigelinge besing die magtige werk

wat U tot stand gebring het.

So word u teëstanders,

die vyande en wraakgieriges, tot swye gebring.

4As ek u hemel aanskou,

die werk van u vingers,

die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het,

5wat is die mens dan

dat U aan hom dink,

die mensekind dat U na hom omsien?

6U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon,

7U laat hom heers oor die werk van u hande,

U het alles aan hom onderwerp:

8skape en beeste, alles;

selfs die diere in die veld,

9die voëls in die lug,

en die visse in die see

wat die oseane deurkruis.

10Here, ons Here,

hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!


Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

Wanneer mens na die grootsheid van God se Skepping kyk, dan bring dit die gedagte na vore dat die mens nietig en onbelangrik is.

Wanneer ons kyk na hoe glansryk alles is wat God in die hemelruim geplaas het, dan sien ons die grootsheid van God se almag.

In vergelyking met die grootte van ons son is die aarde maar net ’n klein kolletjie. Ons son is maar een van ongeveer 200 biljoen sterre binne die melkweg sterrestelsel. Binne die sigbare heelal; met ander woorde dit wat ons kan waarneem; is daar bereken dat daar ongeveer 2000 triljoen sterre stelsels is wat elkeen biljoene sterre in het. Dis maar net wat ons kan waarneem met die beste teleskope wat ons tans het.

Maar daar is nog meer as dit. Buiten dit wat ons kan waarneem, strek die heelal in oneindigheid uit. In vergelyking met die ondenkbare groot hoeveelheid sterre en planete in die heelal is die aarde nie eers ’n stofdeeltjie nie.

As ons die hemel aanskou, die werk van die Here se vingers, die maan en die sterre waaraan Hy 'n plek gegee het, kan ons inderdaad saam met Dawid vra:

“wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?”

Die antwoord van die sekulêre denke van ons tyd op hierdie vraag is dat die aarde en die mens geen spesiale betekenis op die groot kosmiese skaal het nie, en inderdaad staan die heelal onverskillig teenoor ons bestaan.

Met ander woorde, binne die groter skema van dinge het jou lewe volgens die sekulêre denke, geen betekenis nie. Wat ’n troostelose boodskap is dit vir jou oor die betekenis van jou eie lewe? Wat ’n troostelose boodskap is dit vir iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het?

Teenoor hierdie troostelose boodskap van die wêreld sê die Here vir ons:

U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp:

Psalm 8 begin met lofprysing vir die Here wat hierdie ondenkbare groot en wonderbaarlike heelal waarin ons woon, geskep het. En dit sê vir ons dat God groter is as die verbysterende groot skepping.

In vergelyking met die grootsheid van God en sy skepping is die mens niks. Maar dit is juis hierin waarin ons troos vind in die wonder van God se genade dat Hy juis aan sulke mense dink en na hul omsien.

Dieselfde mens wat niks is nie, beklee ’n ereplek binne God se skepping. God het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak. Hy kroon hom met aansien en eer. Hy maak ons nietige mensies konings en Hy stel ons aan om namens Hom te regeer.

Dit sê vir ons iets van hoe spesiaal die neerbuigende liefde en goedheid van God teenoor die mens is.

In die Nuwe Testament word Psalm 8 ook op verskeie plekke aangehaal om te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is en hoe diep sy liefde werklik vir ons strek. Byvoorbeeld in Heb. 2:5-9 hoor ons:

5Dit is nie aan engele dat Hy die toekomstige wêreld, waarvan ons praat, onderwerp het nie. 6Inteendeel, iemand het êrens getuig en gesê:

“Wat is 'n mens dat U aan hom dink,

'n mensekind dat U na hom omsien?

7U het hom 'n kort tydjie minder as die engele gemaak; U het hom met heerlikheid en eer gekroon;

8U het alles aan hom onderwerp.”

By die onderwerping van alle dinge aan die mens is niks uitgesluit nie. Alles is aan hom onderwerp. Nou sien ons nog nie dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met eer en heerlikheid gekroon op grond van sy lyding en dood. Hy is 'n kort tydjie minder gemaak as die engele, sodat Hy deur die genade van God vir almal sou sterwe.

In sy oorspronklike konteks verwys Psalm 8 na die mensdom in die algemeen, as God se verteenwoordiger op aarde. As gevolg van die sonde het hierdie verhouding skipbreuk gely.

Christus vervul die oorspronklike roeping van die mens om oor die skepping te heers en deur sy lyding herstel Hy die mens se waardigheid en roeping.

Psalm 8 vra: “Wat is die mens dat U aan hom dink?” In Hebreërs 2:8&9 is die antwoord: “Kyk na Jesus.” Hy is die volmaakte mens, die ware beeld van God, en deur Hom word ons roeping en waardigheid herstel.

Ons hoor hier dat ons so spesiaal vir God is dat Hy Homself in die persoon van Jesus Christus verneder het tot die status van ’n nietige mens sodat ons, ons roeping kan vervul waarvoor God ons geskep het.

In 1 Kor. 15:25-27 word Psalm 8 ook aangehaal om nog verder vir ons te wys hoe spesiaal ons werklik vir God is:

25Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het. 26Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. 27Daar staan immers geskrywe: “Alles het Hy aan Hom onderwerp.

Die dood is die finale vyand van God se skepping en van die mens en daarom hou dit vir ons so ’n verskrikking in.

Hier hoor ons dat Christus deur sy opstanding die mag van die dood gebreek het en daarom hoef gelowiges nie meer bang te wees vir die dood nie. Deur ons geloof in Jesus Christus heers ons saam met Hom oor die dood. Selfs die dood kan ons nie van die liefde van Christus skei nie.

Vir diegene wat God verwerp, is die dood inderdaad ’n droewige troosteloosheid. Maar vir diegene wat glo dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het is daar hoop. Die Here sê vir ons in 1 Tess. 4:14 dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.

Die wonderlike troos wat die Here hier vir ons gee, is dat die dood nie die einde is nie. Dit is slegs ’n deurgang na die ewige heerlikheid saam met God. Daarom treur ons nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Wanneer ons vir ’n geliefde moet groet, is ons hartseer want hulle plekkie in ons lewens is leeg.

Dit is egter nie ’n moedelose hopeloosheid waarmee ons treur nie. Die Here troos ons met die wete dat daar lewe anderkant die dood is. Om net ’n idee te gee van die ewige lewe saam met God wil ek die volgende illustrasie gebruik. Dink aan ’n potloodstreep wat in die oneindigheid in strek. Ons lewe hier op aarde is slegs ’n potlood kolletjie op daardie lyn.

Elkeen wat in Jesus Christus glo is vir God so kosbaar dat Hy die ewigheid saam met hom wil spandeer.

Wat is die mens dan dat U aan hom dink?

Teenoor die wêreld daarbuite wat vir ons sê dat ons maar net ’n produk is van blote toeval wat geen betekenis het nie, sê God vir ons dat ons oneindig kosbaar is vir Hom.

Die troos van Psalm 8 is dat elkeen wat in Jesus Christus glo SO kosbaar is dat God ’n ewigheid saam met hulle wil spandeer.

Amen



07 Junie 2020

Tema: - Moenie moed verloor nie

Datum: 7 Jun. 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds. George van der Walt

Skriflesing: 2 Kor. 4 v 7 - 18

Teksvers: 2 Kor. 4 v 17

 Die preek is ook in video formaat beskikbaar by:

1) Facebook - Volledige erediens 2) YouTube - Preek alleen


Sing

Ps. 23-1 v 1 & 3

Ps. 20-1 v 1 & 4

Die lewe is vol moeilikhede. Dis een ding wat hierdie jaar sover net weereens beklemtoon het. Iemand het nou die dag gesê: “kan ons nie maar net 2020 se ‘reset’ knoppie druk sodat ons weer kan oor begin nie?” As ons net teen al ons probleme bly vaskyk, kan ons maklik moed verloor. Die Here gee vir ons vanoggend perspektief uit sy Woord om ons te help om nie moed te verloor nie.

Paulus gebruik hier 'n beeld uit die leefwêreld van Nuwe Testament. Die mense van destyds het kleipotte as alledaagse houers gebruik om goed in te bêre net soos wat ons deesdae gebruik maak van blikke of plastiese en glas houers. Net soos wat 'n glas houer sal breek as jy dit hard stamp of laat val, was die kleipotte ook maar breekbaar. Die beeld sluit ook iets kosbaars in wat binne in hierdie alledaagse kleipotte gebêre word.

Wat beteken hierdie beeld? Die skat is die kennis van die heerlikheid van God. Kennis van God se verlossingsplan in Jesus Christus om verlore mense weer met Hom te versoen. Elkeen wat glo dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dat jy die ewige lewe ontvang het omdat Jesus die dood oorwin het word 'n draer van hierdie skat.

Die kleipotte waarin hierdie skat is, is dan ook die gewone alledaagse feilbare mense wat in Jesus glo. Wanneer jy die evangelie as skat ontvang, ontvang daarmee saam ook die opdrag om daarmee uit te gaan en dit uit te deel. Dit is egter nie jy wat mense oortuig om in die evangelie te glo nie. Dit is God wat mense tot bekering bring. Die fokus is dus op die krag van die evangelie in mense se lewens.

Dan bevestig Paulus net weereens die waarheid dat die feit dat jy 'n Christin is nie beteken dat jy nie meer moeilikhede in hierdie wêreld gaan hê nie. Ons hoor nou wat dit beteken om 'n kleipot te wees wat die skat van die evangelie in hom dra. 2 Kor. 4 v 8 & 9:

In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie; ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie, op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Te midde van aanslae van die lewe sal jy deur die krag van God staande bly.

Wanneer jy 'n draer van hierdie skat is, deel jy in die lyding en sterwe van Jesus. En daardeur word die lewe van Jesus in jou sigbaar.

In ons teksverse gee die Here vir ons hoop sodat ons nie moedeloos moet word nie. Ons kry hier so 'n stukkie perspektief van God se groter ewige raadsplan. Ons kry swaar. Hierdie lewe is nie maklik nie. Ons moet baie uitdagings in die gesig staar.

Die verwysing in vers 16 na die uiterlike wat besig is om te vergaan is ons sterflike liggame (die kleipotte). Soos wat ons ouer word, gaan ons liggame agteruit totdat ons uiteindelik sterf. Die lewe is egter meer as net ons fisiese liggame. Die skat van die evangelie wat ons in ons dra gee vir ons die krag om deur dit te kom.

Die rede vir ons hoop vind ons in ons teksvers: 2 Kor. 4 v 17:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

In ons teksvers vind ons drie teenoorgesteldes wat met 'n werkwoord aan mekaar verbind word.

Die eerste is: “Ons swaarkry in hierdie lewe.” Dit sê vir ons dat dit alle swaarkry insluit soos byvoorbeeld wanneer jou oë swakker word, jy sukkel om te hoor, die algemene agteruitgang wat met ouderdom gepaard gaan, siektes soos hartprobleme, kanker. Verder is dit ook duidelik dat dit verwys na ons totale lewensduur hier op aarde waar ons ly. Elkeen weet wat jou swaarkry is en vir dit gee die Here vandag vir ons troos.

Teenoor hierdie swaarkry is die belofte van die heerlikheid van God wat so mooi deur Openbaring 21 v 3 & 4 uitgespel word:

Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

Die tweede is dat die swaarkry maar gering is. En die derde is dat dit verby gaan. Teenoor dit is die heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat vir ewig bly.

Dit klink amper verkeerd! Hoe kan 'n hele lewe se swaarkry gering wees? Binne God se ewigheids-perspektief is ons tyd op aarde byna niks. As jy 'n lyn moes trek wat van die eenkant van die heelal na die anderkant strek, dan is ons tyd hier op aarde kleiner as 'n potloodpunt merkie op daardie lyn.

Die Griekse werkwoord wat hierdie groep teenoorgesteldes aan mekaar bind, is in Afrikaans vertaal met “loop vir ons uit.” Die letterlike betekenis van hierdie woord is, produseer, veroorsaak, berei voor. Ons sou dit dus ook kon vertaal met voorberei.

Die tydelike swaarkry wat gering en verbygaande is, berei ons voor vir heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Die swaarkry berei ons voor sodat dit uitloop op die ewige heerlikheid.

In ons swaarkry deel ons in die lyding van Christus toe Hy hier op aarde was en hierdie tydelike swaarkry berei ons voor vir 'n ewige heerlikheid saam met God.

Wanneer jy midde in moeilike omstandighede staan, lyk die prentjie donker. God troos ons vandag met sy Woord en Hy sê vir jou: “Moenie moed verloor nie.” In vergelyking met die heerlikheid; waar jy ewig saam met God sal wees; is hierdie swaarkry gering wat net vir 'n kort tydjie duur.

Die troos wat die Here ook hiermee saam gee, is dat ons nie alleen staan in ons swaarkry in die lewe nie. Daar waar jy met soveel moeite teen jou siekte stoei is God saam met jou. Hy hou jou vas terwyl Hy jou voorberei vir die ewige heerlikheid wat wag. Ons het nou reeds 'n voorsmakie van dit wat veel beter sal wees as wat ons ooit kan dink of droom.

Geliefdes, jy is nie alleen in jou swaarkry nie. God is by jou en Hy loop die pad saam met jou.

Moenie moed verloor nie.

Amen

 


11 Augustus 2019

Vroue, julle is kosbaar


Gen. 2 v 18 – 3 v 23 
Teksvers Gen. 2:18
11 Aug. 2019



Ons het die afgelope Vrydag nasionale Vrouedag herdenk. Hoekom vind ons dit nodig om so 'n gedenkdag in te stel? In die geskiedenis van die mensdom trek vroue aan die kortste end. In baie kulture word vroue as tweedeklas burgers behandel. Deur die loop van die geskiedenis is vroue eerder as mans se besittings behandel en nie as hulle gelykwaardige metgeselle nie. En selfs in hierdie moderne eeu waarin ons leef is diskriminasie teen vroue steeds 'n probleem.

In 'n navorsingsverslag wat deur die Verenigde Nasies wat in 2012 opgestel is, word die stelling gemaak dat ten spyte van vordering wat gemaak is teen diskriminasie teen vroue, bly dit steeds 'n probleem dwarsoor die wêreld. Die gevolg is dat vroue as gevolg van dit dikwels hulself as minderwaardig beskou. As jy heeltyd hoor en beleef dat jy minderwaardig is dan begin jy dit naderhand glo en dit veroorsaak dat jy die rol van 'n minderwaardige persoon begin uitleef.

Die ironie is dat diskriminasie teen vroue ook in die kerk teenwoordig is. In die geskiedenis van die kerk is die vrou as minder belangrik beskou. Ek onthou byvoorbeeld 'n tyd nie so lank terug nie, dat vroue in ons kerkverband nie stemreg gehad het nie wanneer daar in 'n gemeentevergadering oor sake dmv stemming beslis is. Dit het by my die vraag laat opkom, “hoekom word daar teen vroue op grond van hul geslag gediskrimineer?”

Om 'n sinvolle antwoord te kry is dit nodig dat ons net weer 'n slag kyk na wat die Bybel ons hieroor leer. As ons so deur die Bybel blaai dan sien ons dat God 'n besondere plek aan vroue in sy Verlossingsplan toestaan. Inderdaad is dit 'n onderwerp wat in baie teksgedeeltes na vore kom en dit is baie wyer is as wat mens in een preek kan aanspreek. Ek het besluit om vir vandag net stil te staan by die begin en wat die Here ons in Genesis daaroor leer.

Reg in die begin sê God dat dit nie goed is dat daar nie vroue is nie soos in Gen. 2:18 hoor.
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
In hierdie perfekte wêreld wat God geskep het, is daar een ding wat nie goed is nie. Dis nie goed dat daar nie 'n vrou is nie. Neem in ag dat dit nog was voordat die sondeval se verwoestende effek op die skepping plaasgevind het. Binne die perfektheid van die skepping het daar iets geskort. 'n Vrou.

Toe God die vrou geskep het, het Hy dit op 'n besondere manier gedoen. Toe Hy die man geskep het, het Hy hom uit die stof van die aarde gemaak en sy lewensasem in sy neus geblaas. God gebruik egter 'n ribbebeen van die man om die vrou te maak. Die besondere manier waarop God die vrou geskep het, beteken dat sy nie 'n andersoortige wese as die man is nie. Sy is nie minderwaardig nie want sy is van dieselfde materie as die man gemaak. Die feit dat sy op so 'n unieke manier geskep is, wat anders is as al die ander skepsels, beklemtoon dat sy baie besonders is in die oë van God. Sy is net soos die man ook 'n beelddraer van God. God is nie minderwaardig nie en daarom kan die vrou ook nie minderwaardig wees nie.

In Gen. 2 v 23 hoor ons hoe die man 'n liefdeslied sing oor die vrou wat God vir hom gemaak het:
Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’  genoem word; sy is uit die man geneem.”
Ons hoor hier die verwondering in hierdie lied, maar dis nie verwondering oor haar skoonheid nie. Op drie verskillende maniere bevestig die lied die eenheid van die man en vrou. Daar is geen twyfel oor die verhouding tussen die man en die vrou nie. Dis 'n verhouding van gelyke status met verskillende rolle.

Selfs in die naam wat die man vir haar gee word die gelykheid tussen hulle beklemtoon want in Hebreeus is die naam maar net die vroulike vorm van man. Man en vrou kan net werklik sielsgenote word wanneer hulle erken dat hulle gelyke status het en mekaar ook as sulks aanvaar en hul verskille sien as geleenthede om mekaar aan te vul.

In Gen. 2 v 24 hoor ons dat die man sy moeder en vader sal verlaat om een te word met sy vrou. Dit beteken nie dat die man sy ouers nou moet weggooi nie. Dit is die selfstandigmaking van die nuwe eenheid wat agting en aanvulling vir mekaar teweeg bring. Dit veroorsaak dat man en vrou mekaar totaal aanvaar wat ook al die verskille en gebreke is. Selfs wanneer hulle weerloos en kaal teenoor mekaar staan, is hulle nie skaam nie.

Die verhaal van die skepping van die man en vrou vertel vir ons dat God se doel is dat mans nie vrouens moet oorheers nie, maar dat hulle met respek en agting behandel moet word. Die sondeval het egter 'n struikelblok in die pad geplaas van die vervulling van hierdie doel. Direk na die sondeval kom daar 'n vervreemding tussen die man en vrou. Daar is nou onmin en 'n gebrek aan respek tussen die man en sy vrou. Nou verwys hy na haar as ‘die vrou’ eerder as ‘my vrou’ soos hy gedoen het in sy liefdeslied nadat God die vrou aan hom gegee het.

Wanneer God die man en vrou tot verantwoording roep, hoor ons wat die verskriklike gevolge is van die sondeval. Vir die vrou beteken dit dat daar nou teenoor haar gediskrimineer gaan word soos ons in Gen. 3 v 16 hoor ons:
Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”
Die lewe na die sondeval is vol moeite en swaarkry. Diskriminasie is nou die vrou se voorland en dit sien ons ook in die geskiedenis van die mensdom.

Op die oog af is dit 'n droewige en troostelose vooruitsig, maar daar is ook die belofte van hoop. God stel vyandskap tussen die vrou en die bose en dat die vrou se nageslag die bose sal oorwin soos ons in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag.
   Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Hier direk na die sondeval kry ons die belofte van 'n Verlosser wat die bose sal oorwin. Die Hebreeuse woord wat hier met byt vertaal is, beteken letterlik “dodelik tref” en dit dui ook op die manier hoe die bose oorwin gaan word. Deur sy dood aan die kruis oorwin Christus die bose.

Die belofte van hoop vir die vrou is dat haar verdrukking en oorheersing aan die kruis oorwin sal word. Dis hoe kosbaar sy vir God is. Hy het sy Seun gestuur om te sterf sodat sy ook verlos kan word. Dit beteken dat God haar oorspronklike skeppingsdoel herstel.

Daarom mag ons as mans ook nie meer vashou aan die idee dat die man oor die vrou moet heers nie. In Christus is daar nie 'n onderskeid in terme van status tussen gelowiges op grond van geslag, ras of sosiale status nie. Voor God staan ons gelyk. Dwarsdeur die geskiedenis het God vroue ook gebruik in sy verlossingsplan en derhalwe mag ons as mans nie in God se pad staan waar Hy vroue wil gebruik nie.

Daarom vroue, weet dat julle kosbaar is in God se oë. So kosbaar dat Jesus sy lewe vir julle afgelê het. Julle is nie tweedeklas burgers in sy Koninkryk nie. Leef volgens die lewensdoel wat God reeds met die skepping vir vroue bepaal het. Mans, moenie neersien op vroue nie. Behandel hulle met respek en agting. Stry teen diskriminasie teen vroue. Beskerm haar, nie omdat sy swak is nie, maar omdat sy kosbaar is. Bestry dit dmv die evangelie want dit is net die evangelie wat die harte van mense kan verander.


Amen