Wys tans plasings met die etiket diskriminasie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket diskriminasie. Wys alle plasings

11 Augustus 2019

Vroue, julle is kosbaar


Gen. 2 v 18 – 3 v 23 
Teksvers Gen. 2:18
11 Aug. 2019



Ons het die afgelope Vrydag nasionale Vrouedag herdenk. Hoekom vind ons dit nodig om so 'n gedenkdag in te stel? In die geskiedenis van die mensdom trek vroue aan die kortste end. In baie kulture word vroue as tweedeklas burgers behandel. Deur die loop van die geskiedenis is vroue eerder as mans se besittings behandel en nie as hulle gelykwaardige metgeselle nie. En selfs in hierdie moderne eeu waarin ons leef is diskriminasie teen vroue steeds 'n probleem.

In 'n navorsingsverslag wat deur die Verenigde Nasies wat in 2012 opgestel is, word die stelling gemaak dat ten spyte van vordering wat gemaak is teen diskriminasie teen vroue, bly dit steeds 'n probleem dwarsoor die wêreld. Die gevolg is dat vroue as gevolg van dit dikwels hulself as minderwaardig beskou. As jy heeltyd hoor en beleef dat jy minderwaardig is dan begin jy dit naderhand glo en dit veroorsaak dat jy die rol van 'n minderwaardige persoon begin uitleef.

Die ironie is dat diskriminasie teen vroue ook in die kerk teenwoordig is. In die geskiedenis van die kerk is die vrou as minder belangrik beskou. Ek onthou byvoorbeeld 'n tyd nie so lank terug nie, dat vroue in ons kerkverband nie stemreg gehad het nie wanneer daar in 'n gemeentevergadering oor sake dmv stemming beslis is. Dit het by my die vraag laat opkom, “hoekom word daar teen vroue op grond van hul geslag gediskrimineer?”

Om 'n sinvolle antwoord te kry is dit nodig dat ons net weer 'n slag kyk na wat die Bybel ons hieroor leer. As ons so deur die Bybel blaai dan sien ons dat God 'n besondere plek aan vroue in sy Verlossingsplan toestaan. Inderdaad is dit 'n onderwerp wat in baie teksgedeeltes na vore kom en dit is baie wyer is as wat mens in een preek kan aanspreek. Ek het besluit om vir vandag net stil te staan by die begin en wat die Here ons in Genesis daaroor leer.

Reg in die begin sê God dat dit nie goed is dat daar nie vroue is nie soos in Gen. 2:18 hoor.
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”
In hierdie perfekte wêreld wat God geskep het, is daar een ding wat nie goed is nie. Dis nie goed dat daar nie 'n vrou is nie. Neem in ag dat dit nog was voordat die sondeval se verwoestende effek op die skepping plaasgevind het. Binne die perfektheid van die skepping het daar iets geskort. 'n Vrou.

Toe God die vrou geskep het, het Hy dit op 'n besondere manier gedoen. Toe Hy die man geskep het, het Hy hom uit die stof van die aarde gemaak en sy lewensasem in sy neus geblaas. God gebruik egter 'n ribbebeen van die man om die vrou te maak. Die besondere manier waarop God die vrou geskep het, beteken dat sy nie 'n andersoortige wese as die man is nie. Sy is nie minderwaardig nie want sy is van dieselfde materie as die man gemaak. Die feit dat sy op so 'n unieke manier geskep is, wat anders is as al die ander skepsels, beklemtoon dat sy baie besonders is in die oë van God. Sy is net soos die man ook 'n beelddraer van God. God is nie minderwaardig nie en daarom kan die vrou ook nie minderwaardig wees nie.

In Gen. 2 v 23 hoor ons hoe die man 'n liefdeslied sing oor die vrou wat God vir hom gemaak het:
Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’  genoem word; sy is uit die man geneem.”
Ons hoor hier die verwondering in hierdie lied, maar dis nie verwondering oor haar skoonheid nie. Op drie verskillende maniere bevestig die lied die eenheid van die man en vrou. Daar is geen twyfel oor die verhouding tussen die man en die vrou nie. Dis 'n verhouding van gelyke status met verskillende rolle.

Selfs in die naam wat die man vir haar gee word die gelykheid tussen hulle beklemtoon want in Hebreeus is die naam maar net die vroulike vorm van man. Man en vrou kan net werklik sielsgenote word wanneer hulle erken dat hulle gelyke status het en mekaar ook as sulks aanvaar en hul verskille sien as geleenthede om mekaar aan te vul.

In Gen. 2 v 24 hoor ons dat die man sy moeder en vader sal verlaat om een te word met sy vrou. Dit beteken nie dat die man sy ouers nou moet weggooi nie. Dit is die selfstandigmaking van die nuwe eenheid wat agting en aanvulling vir mekaar teweeg bring. Dit veroorsaak dat man en vrou mekaar totaal aanvaar wat ook al die verskille en gebreke is. Selfs wanneer hulle weerloos en kaal teenoor mekaar staan, is hulle nie skaam nie.

Die verhaal van die skepping van die man en vrou vertel vir ons dat God se doel is dat mans nie vrouens moet oorheers nie, maar dat hulle met respek en agting behandel moet word. Die sondeval het egter 'n struikelblok in die pad geplaas van die vervulling van hierdie doel. Direk na die sondeval kom daar 'n vervreemding tussen die man en vrou. Daar is nou onmin en 'n gebrek aan respek tussen die man en sy vrou. Nou verwys hy na haar as ‘die vrou’ eerder as ‘my vrou’ soos hy gedoen het in sy liefdeslied nadat God die vrou aan hom gegee het.

Wanneer God die man en vrou tot verantwoording roep, hoor ons wat die verskriklike gevolge is van die sondeval. Vir die vrou beteken dit dat daar nou teenoor haar gediskrimineer gaan word soos ons in Gen. 3 v 16 hoor ons:
Vir die vrou het die Here God gesê: “Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”
Die lewe na die sondeval is vol moeite en swaarkry. Diskriminasie is nou die vrou se voorland en dit sien ons ook in die geskiedenis van die mensdom.

Op die oog af is dit 'n droewige en troostelose vooruitsig, maar daar is ook die belofte van hoop. God stel vyandskap tussen die vrou en die bose en dat die vrou se nageslag die bose sal oorwin soos ons in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag.
   Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Hier direk na die sondeval kry ons die belofte van 'n Verlosser wat die bose sal oorwin. Die Hebreeuse woord wat hier met byt vertaal is, beteken letterlik “dodelik tref” en dit dui ook op die manier hoe die bose oorwin gaan word. Deur sy dood aan die kruis oorwin Christus die bose.

Die belofte van hoop vir die vrou is dat haar verdrukking en oorheersing aan die kruis oorwin sal word. Dis hoe kosbaar sy vir God is. Hy het sy Seun gestuur om te sterf sodat sy ook verlos kan word. Dit beteken dat God haar oorspronklike skeppingsdoel herstel.

Daarom mag ons as mans ook nie meer vashou aan die idee dat die man oor die vrou moet heers nie. In Christus is daar nie 'n onderskeid in terme van status tussen gelowiges op grond van geslag, ras of sosiale status nie. Voor God staan ons gelyk. Dwarsdeur die geskiedenis het God vroue ook gebruik in sy verlossingsplan en derhalwe mag ons as mans nie in God se pad staan waar Hy vroue wil gebruik nie.

Daarom vroue, weet dat julle kosbaar is in God se oë. So kosbaar dat Jesus sy lewe vir julle afgelê het. Julle is nie tweedeklas burgers in sy Koninkryk nie. Leef volgens die lewensdoel wat God reeds met die skepping vir vroue bepaal het. Mans, moenie neersien op vroue nie. Behandel hulle met respek en agting. Stry teen diskriminasie teen vroue. Beskerm haar, nie omdat sy swak is nie, maar omdat sy kosbaar is. Bestry dit dmv die evangelie want dit is net die evangelie wat die harte van mense kan verander.


Amen