Gen. 2 v 18 – 3 v
23
Teksvers Gen. 2:18
11 Aug. 2019
Ons het die afgelope Vrydag nasionale Vrouedag herdenk.
Hoekom vind ons dit nodig om so 'n gedenkdag in te stel? In die geskiedenis van
die mensdom trek vroue aan die kortste end. In baie kulture word vroue as
tweedeklas burgers behandel. Deur die loop van die geskiedenis is vroue eerder
as mans se besittings behandel en nie as hulle gelykwaardige metgeselle nie. En
selfs in hierdie moderne eeu waarin ons leef is diskriminasie teen vroue steeds
'n probleem.
In 'n navorsingsverslag wat deur die Verenigde Nasies wat
in 2012 opgestel is, word die stelling gemaak dat ten spyte van vordering wat
gemaak is teen diskriminasie teen vroue, bly dit steeds 'n probleem dwarsoor
die wêreld. Die gevolg is dat vroue as gevolg van dit dikwels hulself as
minderwaardig beskou. As jy heeltyd hoor en beleef dat jy minderwaardig is dan
begin jy dit naderhand glo en dit veroorsaak dat jy die rol van 'n
minderwaardige persoon begin uitleef.
Die ironie is dat diskriminasie teen vroue ook in die
kerk teenwoordig is. In die geskiedenis van die kerk is die vrou as minder
belangrik beskou. Ek onthou byvoorbeeld 'n tyd nie so lank terug nie, dat vroue
in ons kerkverband nie stemreg gehad het nie wanneer daar in 'n
gemeentevergadering oor sake dmv stemming beslis is. Dit het by my die vraag
laat opkom, “hoekom word daar teen vroue op grond van hul geslag
gediskrimineer?”
Om 'n sinvolle antwoord te kry is dit nodig dat ons net
weer 'n slag kyk na wat die Bybel ons hieroor leer. As ons so deur die Bybel
blaai dan sien ons dat God 'n besondere plek aan vroue in sy Verlossingsplan toestaan.
Inderdaad is dit 'n onderwerp wat in baie teksgedeeltes na vore kom en dit is
baie wyer is as wat mens in een preek kan aanspreek. Ek het besluit om vir
vandag net stil te staan by die begin en wat die Here ons in Genesis daaroor
leer.
Reg in die begin sê God dat dit nie goed is dat daar nie
vroue is nie soos in Gen. 2:18 hoor.
Verder het die Here God gesê: “Dit
is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan
help, sy gelyke.”
In hierdie perfekte wêreld wat God geskep het, is daar
een ding wat nie goed is nie. Dis nie goed dat daar nie 'n vrou is nie. Neem in
ag dat dit nog was voordat die sondeval se verwoestende effek op die skepping
plaasgevind het. Binne die perfektheid van die skepping het daar iets geskort.
'n Vrou.
Toe God die vrou geskep het, het Hy dit op 'n besondere
manier gedoen. Toe Hy die man geskep het, het Hy hom uit die stof van die aarde
gemaak en sy lewensasem in sy neus geblaas. God gebruik egter 'n ribbebeen van
die man om die vrou te maak. Die besondere manier waarop God die vrou geskep
het, beteken dat sy nie 'n andersoortige wese as die man is nie. Sy is nie
minderwaardig nie want sy is van dieselfde materie as die man gemaak. Die feit
dat sy op so 'n unieke manier geskep is, wat anders is as al die ander
skepsels, beklemtoon dat sy baie besonders is in die oë van God. Sy is net soos
die man ook 'n beelddraer van God. God is nie minderwaardig nie en daarom kan
die vrou ook nie minderwaardig wees nie.
In Gen. 2 v 23 hoor ons hoe die man 'n liefdeslied sing
oor die vrou wat God vir hom gemaak het:
Toe sê die mens: “Hierdie keer is
dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”
Ons hoor hier die verwondering in hierdie lied, maar dis
nie verwondering oor haar skoonheid nie. Op drie verskillende maniere bevestig
die lied die eenheid van die man en vrou. Daar is geen twyfel oor die
verhouding tussen die man en die vrou nie. Dis 'n verhouding van gelyke status
met verskillende rolle.
Selfs in die naam wat die man vir haar gee word die
gelykheid tussen hulle beklemtoon want in Hebreeus is die naam maar net die
vroulike vorm van man. Man en vrou kan net werklik sielsgenote word wanneer
hulle erken dat hulle gelyke status het en mekaar ook as sulks aanvaar en hul
verskille sien as geleenthede om mekaar aan te vul.
In Gen. 2 v 24 hoor ons dat die man sy moeder en vader
sal verlaat om een te word met sy vrou. Dit beteken nie dat die man sy ouers
nou moet weggooi nie. Dit is die selfstandigmaking van die nuwe eenheid wat
agting en aanvulling vir mekaar teweeg bring. Dit veroorsaak dat man en vrou
mekaar totaal aanvaar wat ook al die verskille en gebreke is. Selfs wanneer
hulle weerloos en kaal teenoor mekaar staan, is hulle nie skaam nie.
Die verhaal van die skepping van die man en vrou vertel
vir ons dat God se doel is dat mans nie vrouens moet oorheers nie, maar dat
hulle met respek en agting behandel moet word. Die sondeval het egter 'n
struikelblok in die pad geplaas van die vervulling van hierdie doel. Direk na
die sondeval kom daar 'n vervreemding tussen die man en vrou. Daar is nou onmin
en 'n gebrek aan respek tussen die man en sy vrou. Nou verwys hy na haar as ‘die
vrou’ eerder as ‘my vrou’ soos hy gedoen het in sy liefdeslied nadat God die
vrou aan hom gegee het.
Wanneer God die man en vrou tot verantwoording roep, hoor
ons wat die verskriklike gevolge is van die sondeval. Vir die vrou beteken dit
dat daar nou teenoor haar gediskrimineer gaan word soos ons in Gen. 3 v 16
hoor ons:
Vir die vrou het die Here God gesê:
“Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders
in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.”
Die lewe na die sondeval is vol moeite en swaarkry.
Diskriminasie is nou die vrou se voorland en dit sien ons ook in die
geskiedenis van die mensdom.
Op die oog af is dit 'n droewige en troostelose
vooruitsig, maar daar is ook die belofte van hoop. God stel vyandskap tussen
die vrou en die bose en dat die vrou se nageslag die bose sal oorwin soos ons
in Gen. 3 v 15 hoor:
Ek stel vyandskap tussen jou en die
vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”
Hier direk na die sondeval kry ons die belofte van 'n Verlosser
wat die bose sal oorwin. Die Hebreeuse woord wat hier met byt vertaal is,
beteken letterlik “dodelik tref” en dit dui ook op die manier hoe die bose
oorwin gaan word. Deur sy dood aan die kruis oorwin Christus die bose.
Die belofte van hoop vir die vrou is dat haar verdrukking
en oorheersing aan die kruis oorwin sal word. Dis hoe kosbaar sy vir God is. Hy
het sy Seun gestuur om te sterf sodat sy ook verlos kan word. Dit beteken dat
God haar oorspronklike skeppingsdoel herstel.
Daarom mag ons as mans ook nie meer vashou aan die idee
dat die man oor die vrou moet heers nie. In Christus is daar nie 'n onderskeid
in terme van status tussen gelowiges op grond van geslag, ras of sosiale status
nie. Voor God staan ons gelyk. Dwarsdeur die geskiedenis het God vroue ook
gebruik in sy verlossingsplan en derhalwe mag ons as mans nie in God se pad
staan waar Hy vroue wil gebruik nie.
Daarom vroue, weet dat julle kosbaar is in God se oë. So
kosbaar dat Jesus sy lewe vir julle afgelê het. Julle is nie tweedeklas burgers
in sy Koninkryk nie. Leef volgens die lewensdoel wat God reeds met die skepping
vir vroue bepaal het. Mans, moenie neersien op vroue nie. Behandel hulle met
respek en agting. Stry teen diskriminasie teen vroue. Beskerm haar, nie omdat
sy swak is nie, maar omdat sy kosbaar is. Bestry dit dmv die evangelie want dit
is net die evangelie wat die harte van mense kan verander.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking