25 Augustus 2019

God word verheerlik deur Jesus se selfopofferende liefde en dit verander jou lewe


25 Aug. 2019 - Nagmaal
Joh. 13 v 31 – 35



Geliefdes ons het die voorreg om vandag weer saam Nagmaal te gebruik. Die gevaar is egter dat ons so maklik net by die praktyk van Nagmaal gebruik vashaak en dat ons nie die diepere betekenis daarvan raaksien nie.

In ons teksgedeelte vir vandag berei Jesus sy dissipels voor vir sy kruisdood waarheen Hy op pad is en in hierdie voorbereiding maak Hy dit duidelik wat is die praktiese implikasie van sy kruisdood wat ons met Nagmaal herdenk.

Jesus lig hier vir sy dissipels drie faktore uit oor hoe 'n Christin se lewe anders is as die wêreld daar buite:
1) Hulle sal 'n Nuwe heerlikheid aanskou v 31 & 32
2) Hulle sal 'n situasie beleef V 33
3) Hulle moet 'n nuwe opdrag leef v 34 & 35

1. 'n Nuwe heerlikheid
In 1 Joh. 13 v 31 & 32 hoor ons:
Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik.

In Joh. 13 v 18 – 30 hoor ons hoe Jesus Judas as sy verraaier identifiseer. Vers 31 begin met Judas wat Jesus en die dissipels verlaat. Hier word die gebeure van Jesus se kruisiging aan die gang gesit. Judas is op pad om Jesus te verraai. Wat op die oog af na 'n nederlaag lyk, is inderwaarheid God se grootste oomblik. Judas wat die groep verlaat het sê vir ons dat die gebeure wat daartoe gaan ly dat God verheerlik gaan word is aan die gang gesit.

Die Vader word verheerlik omdat Jesus ten volle gehoorsaam is aan Hom en deur sy gehoorsaamheid word Jesus ook verheerlik. God se plan om verlore sondaars van die slawekettings van die sonde te verlos is aan die gang gesit.

Jesus het Homself verneder deur van sy Godheid afstand te doen om volledig mens te word. Hy word nou aan dieselfde versoekings as die mens onderwerp. Die enigste verskil is dat Hy sonder sonde was. Hy het die wet ten volle gehoorsaam. Hy was getrou aan die wet soos dit in die liefdes gebod opgesom word, naamlik liefde vir God en liefde vir die mens (sy naaste).

Sy liefde vir die Vader wys Hy deurdat Hy Homself ten volle aan die wil van die Vader onderwerp deurdat Hy die straf vir die sonde (die dood) ten volle op Hom geneem het toe Hy op die kruis gesterf het. Deurdat Hy bereid was om te sterf vir die sonde bewys Hy ook sy liefde vir 'n verlore mensdom.

2 'n Nuwe situasie.
In Joh. 13 v 33 hoor ons:
My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.
Sy dissipels moes die skokkende nuus hoor dat Jesus weggaan. Op daardie stadium het sy dissipels nog nie verstaan dat Hy moes sterf nie. Dit het vir hulle gelyk of Jesus verslaan is deur die vyand. Hulle moes leer dat dit wat vir hulle soos 'n nederlaag gelyk het, God se grootste oorwinning was.

Jesus noem sy dissipels hier “My kinders” en daarmee sê Hy vir hulle dat Hy hulle moet verlaat omdat Hy so lief is vir hulle. Hy verlaat hulle nie omdat Hy nie meer vir hulle omgee nie, nee, dit is uit liefde uit.

Hierdie boodskap aan sy dissipels is vandag nog vir ons ook relevant. Die lewe werk nie altyd uit soos ons dit wil hê nie. Ons moet God egter vertrou, al lyk dit of die lewe heeltemal in 'n verkeerde koers ingaan. God is steeds in beheer en Hy is steeds besig om sy ewige raadsplan uit te voer. Ons sien nie die einddoel, die groter prentjie waarmee Hy besig is nie, maar ons moet Hom vertrou.

Jesus sê vir sy dissipels dat Hy nog net 'n klein rukkie saam met hulle sal wees. Daarmee sê Hy: “koop die tyd uit.” Benut die tyd wat julle nou het. Hiermee sê God vir ons ook: “MOENIE UITSTEL NIE!” Ons leef so maklik met die gedagte gang dat “môre is nog 'n dag.” Nie een van ons weet of daar vir ons 'n môre gaan wees nie. Daarom, maak nou gebruik van die geleenthede om goed te doen wat God oor jou pad stuur.

Wanneer Jesus vir sy dissipels sê “julle sal my soek”, sê Hy vir hulle dat daar 'n nuwe situasie gaan wees. Jesus gaan nie meer fisies persoonlik met hulle wees nie. Hulle moet nou self aangaan om sy opdragte uit te voer. Hy laat hulle egter nie soos weeskinders alleen agter nie soos ons in Joh. 14:18 hoor. Hy stuur die Heilige Gees in sy plek.

Dit sê vir ons dat alhoewel ons Jesus nie meer persoonlik kan sien en hier fisies saam met Hom wees nie, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is steeds met ons en daarmee sê Jesus dan ook dat die fisiese kameraadskap verander na 'n geestelike saamwees.

Jesus sê ook vir sy dissipels dat hulle Hom nie kan volg nie. Die pad deur die dood om sonde te oorwin is iets wat Net Hy kan doen. Niemand kan Hom daarmee help nie. Dit sê ook vir ons dat Jesus die enigste weg is na verlossing van die sonde. Dis nie iets wat ons kan doen nie. Dis net Jesus wat dit kan doen.

Jesus sê ook hiermee, dat hulle Hom nie kan volg nie, want daar is nog werk vir hulle om te doen. Die taak wat ons ook opgelê is. “Gaan dan heen en maak dissipels, (dit wil sê volgelinge van Jesus) en leer hulle om my bevele (God se liefdes gebod) te gehoorsaam.


3 Nuwe Opdrag
Noudat u geloof versterk is met die gebruik van die Nagmaal, luister nou na Jesus se nuwe opdrag.

In Joh. 13 v 34a hoor ons:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê.
Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
Hier hoor ons die nuwe opdrag wat saam met 'n ou gebod saamgaan. Ons het immers vanoggend reeds in Lev. 19 v 18 gehoor dat God ons beveel: “jy moet jou naaste soos jouself liefhê.”

Hoe is dit dan nou 'n nuwe opdrag? Jesus maak die verskil. In die opdrag van die wet word 'n maatstaf gestel waarteen jy gemeet word. Is jy gehoorsaam aan die opdrag? Die wet het egter geen mag om jou aan die opdrag gehoorsaam te maak nie.

Met Jesus se kruisdood en opstanding het daar 'n nuwe dimensie bygekom. Daardeur het Jesus die mag van die sonde gebreek. Jesus stel ons in staat om aan sy opdrag gehoorsaam te wees. Nou is dit nie meer jy in jou sondige menslike natuur wat die opdrag moet gehoorsaam nie.

Jou verlossing en die teenwoordigheid van die Heilige Gees in jou lewe gee aan jou goddelike mag om teen die sonde te baklei. Daar waar jou sondige natuur nog geneig is om God en jou naaste te haat, plant God sy liefde in jou en deur die hulp van die Heilige Gees is jy nou in staat om jou naaste lief te hê.

Jesus is dan ook die voorbeeld wat ons moet navolg. Dit is wel so dat ons in hierdie bedeling nooit Jesus se perfekte voorbeeld sal kan navolg nie, maar dit is waarna ons streef. Hoe meer jy in jou geloof groei, hoe nader kom jy daaraan. Daar waar jy reeds gehoorsaam is aan die gebod, sien raak dat dit God se liefde is wat in jou werk.

In Joh. 13 v 35 hoor ons:
As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Die nuwe opdrag begin by die binnekring binne in die gesin (gemeente) waar God jou geplaas het. Die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het, is ook die voorbeeld wat ons aan die wêreld moet wys. Ons sal nie buitestaanders oortuig van God se liefde as hulle dit nie in ons verhouding met nekaar raaksien nie. Mense hoor nie wat ons sê nie. Hulle hoor dit wat hulle ons sien doen.

Geliefdes, u het nou vanoggend in die tekens van brood en wyn gesien hoe Christus ons van ons sondes bevry het en ook hoe die Heilige Gees ons geloof versterk om as dissipels van Jesus uit te gaan en vir die wêreld te wys hoe lyk God se liefde.

Wanneer u hier weggaan terug in die wêreld in, gaan leef die nuwe lewe waar die slawekettings van die sonde wat jou so vasgebind het nou gebreek is deur Christus. Wys vir die wêreld daar buite hoe lyk God se liefde.
Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking