Alles wat ons het,
het ons ontvang op grond van die genade van die Here. Met ander woorde niks wat
ons het, het ons gekry omdat ons dit verdien nie. Ons kan nie daarop aanspraak
maak nie. Die Here besluit in sy ewige raadsplan watter genadegawes Hy vir ons
gee.
Ook die kinders wat
die Here aan ouers se sorg toevertrou, gee Hy alleen op grond van sy genade
soos ons Ps. 127 v 3 hoor:
Seuns is geskenke van die
Here, kinders word deur Hom gegee.
Ps. 127 v 3 is die
middelpunt van hierdie Psalm en dit dui vir ons die fokus aan, die kinders wat
Hy aan die sorg van ouers toevertrou. Die eerste twee verse gebruik twee beelde
om vir ons te verduidelik dat sonder die Here alles tevergeefs is en die laaste
twee verse word die beeld van pyle in 'n pylkoker gebruik om aan ons te
verduidelik hoe die Here ons seën wanneer Hy die middelpunt van ons en ons
kinders se lewens is.
In Psalm 127 sê die
Here dus vir ons dat wanneer Hy kinders aan jou sorg toevertrou, dat Hy daarmee
saam ook aan jou 'n groot verantwoordelikheid gee.
Die
verantwoordelikheid wat Hy aan ons gee, is om ons kinders so groot te maak dat hulle
die Here ken. Kinders is vir die Here kosbaar en daarom moet ons die kinders
wat die Here aan ons toevertrou met soveel sorg en aandag grootmaak.
In hierdie Psalm hoor
ons van 'n baie belangrike beginsel wat ons moet onthou met die grootmaak van die
kinders wat die Here aan ons toevertrou. In Ps. 127 v 1 hoor ons:
As
die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie
beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm,
tevergeefs.
Hierdie teks gaan nie
oor die fisiese bou van huise of stede nie. Die verwysing na kinders wat
geskenke van die Here is in vers 3 verduidelik dat dit hier gaan oor die
geestelike huis en stad waarin ons woon. Jou gesinslewe en die groter gesin,
die gemeente waarvan jou gesin deel is.
In Ps. 127 v 2 hoor
ons:
Tevergeefs dat julle vroeg
opstaan en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te
maak.
Vir dié wat Hy liefhet, gee
die Here dit in hulle slaap.
As jy op jou eie krag
en insigte staatmaak is alles wat jy aanpak tevergeefs.
Die Afrikaanse woord
swoeg wat in die 83 vertaling gebruik is, gee die bedoeling van die Hebreeus
mooi weer. Dit dui op ’n tevergeefse gestoei wat geen resultate oplewer nie.
Absolute hartverskeurende moeitevolle arbeid wat geen resultaat lewer nie.
Wanneer mens hard
werk en jy bereik iets daarmee dan is dit vreugdevolle bevredigende arbeid. As
mens egter ten spyte daarvan dat jy alles gegee het, niks vir jou moeite bereik
nie, los dit ’n moedelose hopeloosheid by jou agter.
Die Psalmdigter beskryf
hier vir ons dat as die Here nie deel is van die proses nie, inderdaad as die
Here nie leiding neem nie, dan is alles tevergeefs. As die Here nie die
hoofinhoud van my lewe en my kinders se opvoeding is nie, dan kan ek dit maar
net sowel los.
In Mat. 19 v 14 hoor
ons:
Maar Jesus het gesê: “Laat
staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want
die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”
Die Here kan alleen
die hoofinhoud van my en my kinders se lewe word deur die soenverdienste van
Jesus omdat Hy vir ons sonde aan 'n vervloekte kruishout gesterf het.
Wanneer die opvoeding
wat ek vir my kinders gee, vrygemaak is van die mag van die sonde, kan dit
effektief verrig word. As Jesus Christus nie die middelpunt van my lewe is nie,
dan sal ook die opvoeding van my kinders tevergeefs wees. Wanneer Christus
egter die kern is waarom alles draai sal my opvoeding geseënd wees. Dan is dit
inderdaad nie meer moeite nie want vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit
in hulle slaap.
Die opvoeding van my kinders
is dat ek deur my lewe vir hulle moet wys wat dit beteken om die Here te ken.
Kinders leer deur dit wat hulle ons sien doen en nie deur dit wat ons vir hulle
sê om te doen nie.
Getuig jou lewe
daarvan dat jy naby God leef? Hoe lyk jou betrokkenheid met die lede van jou
gesin en is jy aktief deel van jou gemeente? Wys jy vir jou kinders deur jou
voorbeeld dat hulle aktief deel moet wees van die gemeente waarbinne die Here
julle geplaas het? Jy kan dit alleen doen wanneer jy glo dat Jesus jou
persoonlike Verlosser en saligmaker is.
In Ps. 127 v 4 hoor
ons:
Soos pyle in die hand van ’n
krygsman,
so is seuns wat gebore is
toe hulle vader nog jonk was.
Dit gaan goed met die man
wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te
vrees as hulle met die vyand
in die stadspoort
onderhandel nie.
Hier hoor ons hoekom
ons ons kinders moet grootmaak om die Here te ken. Die beeld van pyle in 'n
pylkoker word gebruik om te verduidelik dat ons, ons kinders moet uitstuur in
die wêreld om te leef vir Christus.
'n Pyl se doel is om
geskiet te word, om uit te gaan. As ons in die grootmaak van ons kinders hulle
leer om die Here te ken, dan sal hulle 'n verskil kan maak in die wêreld daar
buite.
Hiermee saam ontvang
ons 'n belofte van seën. Die seën van die ewige lewe en dat as ons, ons kinders
leer om die Here te ken dat hulle ook die ewige lewe sal ontvang.
Is dit nie ’n
wonderlike belofte wat die Here aan ons gee nie? Dis ook die belofte wat Hy met
die doop aan ons gee. Daarmee wys die Here vir ons op ’n sigbare wyse dat ons en
ons kinders aan Hom behoort. Ons en ons kinders is sy kosbare eiendom.
Ons kan nie op grond
van ons eie verdienste vergifnis van die sonde kry nie en ons kan dit ook nie
vir ons kinders doen nie. As ons dit sou probeer dan sal dit wees soos die
hartverskeurende moeitevolle arbeid wat die Psalmdigter hier vir ons beskryf.
Die troos is egter, dat ons dit nie hoef te doen. Vir die wat Hy liefhet gee
die Here vergifnis van die sonde in hul slaap.
Hoe kry ons deel
daaraan? Heel eenvoudig geliefdes. Ons moet die Evangelie glo. Ons moet die
Goeie Nuus glo dat Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout
gesterf het. Ons moet glo dat Hy die dood met sy opstanding oorwin het en dat
Hy daarmee vir ons die ewige lewe gee. ’n Lewe wat nie meer vasgebind is aan
die slawekettings van die sonde nie.
Dit is wat ons met
die doop bely. Ek bely dat die Evangelie op my van toepassing is en met die
doop van my kind bely ek dat ek die belofte van die Here glo dat die Evangelie
ook op my kind van toepassing is. Vandag sien ons met die sakrament van die
Doop dat Christus ons sondes afwas. Net soos water vuilheid afwas, net so reinig
Christus se bloed jou van die sonde. Volgende week met die sakrament van die
Nagmaal sien ons waarom die bloed van Jesus ons skoonwas van ons sondes. Jesus
het sy lewe afgelê en met sy opstanding die ewige lewe vir ons verdien.
Psalm 127 sluit dan
ook af met ’n wonderlike belofte. Die belofte dat ek oor die vyand sal seëvier.
Die vyand, dit wil sê die satan sal ons nie oorwin nie. Wanneer hy kom om jou
te probeer oortuig dat jy nikswerd is nie en dat jou kinders nie vir God
belangrik is nie, hou vas aan hierdie belofte van die Doop dat ons en ons
kinders vir God kosbaar is. So kosbaar dat Hy bereid was om sy lewe vir ons af
te lê.
Ons het egter ook ’n
verantwoordelikheid. Ons moet ons kinders leer wat die Evangelie is en hoe
hulle deel kan kry daaraan. Ons moet die belofte wat ons by die Doop maak
naamlik: “Ek beloof om my kinders, wanneer hulle tot hul verstand kom na die
beste van my vermoë te leer wat die Evangelie is. Ek belowe ook om hulle te
laat onderrig.”
Hier is twee dele in
hierdie belofte. My verantwoordelikheid om my kinders te leer en ook my
verantwoordelikheid om my kinders te bring dat hulle geleer kan word. Met ander
woorde ek belowe dat ek hulle na die eredienste en katkisasie sal bring sodat
hulle deur die Woord van God daar geleer kan word.
Geliefdes, kinders is
geskenke van die Here en daarom is hulle kosbaar. Glo die beloftes van die
Evangelie en glo dat hierdie beloftes ook vir u kinders bedoel is.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking