25 Augustus 2019

Hoop in 'n wêreld wat met hopeloosheid gevul is.


Skriflesing: 1 Pet. 1 v 3 – 9
Teksverse: 1 Pet. 1 v 3 & 4



Hoop is die een ding in die lewe wat die lewe die moeite werd maak. Ons lewe in 'n tyd waar mense deur hopeloosheid oorweldig word. Daar word gesê dat 'n mens tot veertig dae sonder kos, ongeveer drie dae sonder water, agt minute sonder lug, maar net 'n sekonde sonder hoop kan leef.

Al hoe meer mense wil weens die huidige toestand in ons land emigreer. Geweld en misdaad vier hoogty. Byna daagliks hoor ons oor die nuus van optogte en skares wat goed en infrastruktuur aan die brand steek in sogenaamde protes optogte. Studente steek universiteitsgeboue aan die brand en maak dit onmoontlik om onderrig te gee. Byna daagliks word vragmotors beroof en aan die brand gesteek met verskeie vragmotorbestuurders wat aan brandwonde beswyk het.

Die politiek is deurmekaar en byna daagliks hoor ons oor die nuus van een of ander politikus wat opruiende toesprake maak wat onderlinge haat en verdeeldheid onder die mense aanvuur. Daar is soveel korrupsie en dit lyk of die skuldiges daarmee wegkom. Eskom is bankrot en ons wonder hoe lank gaan die ligte nog aanbly. Al hierdie dinge werk negatief op die ekonomie in. Die nuutste werkloosheids-syfer is op rekord hoogtes.

Die regering is besig om wetgewing deur te voer wat dit moontlik maak om eiendom sonder vergoeding te onteien. Verder is hulle besig om die gesondheids-sorg radikaal te verander en kenners waarsku dat dit tot die ineenstorting daarvan kan lei.

Geliefdes, voel u ook soms moedeloos wanneer u so na die nuus luister? Voel dit ook vir u of ons deur hopeloosheid oorweldig word? Die hopeloosheid wat ons tans in ons land beleef is egter nie uniek in die geskiedenis van die mensdom nie.

Die hoofoorsaak daarvan is natuurlik die sondeval, dit wil sê die mens se rebelse opstand teen God. Dit het veroorsaak dat liefde en omgee vir mekaar verruil is vir haat, selfsug en eie belang wat tot gevolg het dat mense mekaar onderdruk.

Petrus skryf hierdie brief aan 'n groep gelowiges wat geweldige lyding moes verduur vanweë ernstige verontregting om hulle te bemoedig, vertroos en om aan hulle hulle hoop te gee. In hierdie brief gee hy dan ook riglyne oor hoe om die verontregting te hanteer. Hierdie gelowiges wat na alle aanduiding Jode was het geen burgerregte gehad nie. Al wat hulle gehad het was verblyfreg en niks meer as dit nie. Hulle mag egter nie eiendom besit het nie en was dus as bywoners uitgelewer aan die burgers wat vir hulle as bywoners blyplek gegee het.

As vreemdelinge en bywoners het hulle ook geen politieke regte gehad nie en kon hulle, hul dus ook nie tot geregshowe beroep nie. In hierdie brief word hulle bemoedig met die lewende hoop dat die Here aan hulle 'n nuwe status gee. Hulle is uitverkorenes en hulle kan verseker weet dat hulle burgers is van die koninkryk van God.

Hierdie brief is egter nie net vir die gelowiges wat daar in Asië gewoon het nie. Dit is deel van die lewende woord van God en daarom is dit daar om aan gelowiges moed en hoop te gee in 'n wêreld wat heeltyd dreig om hulle met hopeloosheid te oorweldig. Die vraagstuk wat die brief aanspreek is, is net so van toepassing op ons as wat dit vir hulle was.

Hoe kry jy dit reg om te midde van die chaos en hopeloosheid wat die wêreld jou bied, steeds in liefde uit te reik na jou naaste? Wanneer jou lewe omgedop word en in gevaar gestel word, wanneer jou werk in gevaar is, jou huwelik uitmekaar wil val, jou gesondheid jou in die steek laat, hoe kan jy die krag hê om in liefde uit te reik na die mense om jou? Hoe kry jy dit reg wanneer jou lewe uitmekaar val? Menslik gesproke in eie krag is dit onmoontlik. Jy kan dit slegs doen met krag wat buite jouself is.

Dis menslik om wanneer jou lewe uitmekaar val, die nood van die mense om jou te ignoreer sodat jy op jou eie nood kan fokus. Dit is egter nie wat die Bybel en veral hierdie brief van Petrus vir ons sê om te doen nie. Hy sê inderdaad vir ons dat hoe moeiliker jou lewe word, hoe meer moet jy in liefde uitreik na die nood van die mense om jou.

Christus het vir ons gely en vir ons daarmee die voorbeeld gestel hoe om op tree in die krisis tye in jou lewe. Hoe moet ons dit regkry? In 1 Pet. 1 v 3 kry ons die belofte van 'n lewende hoop.

Maar wat is hierdie lewende hoop? Om die vraag te beantwoord gaan ons nou stilstaan by die volgende drie vrae:
1. Wat is lewende hoop?
2. Hoe kry ek deel daaraan?
3. Hoe verander lewende hoop my lewe?

1. wat is lewende hoop?
Lewende hoop is anders as wêreldse hoop. Wêreldse hoop het 'n onsekere uitkoms. Die volgende voorbeeld kan dit verduidelik. Wanneer die bokke die naweek speel hoop ons dat hulle gaan wen. Daar is egter 'n kans dat hulle nie gaan wen nie. Die uitkoms van wêreldse hoop is onseker.

Lewende hoop daarteenoor is die sekere wete dat die uitkoms wat ons graag wil hê vir seker sal gebeur. Lewende hoop gee vir my die waarborg dat ek 'n burger is in die koninkryk van God en dat ek deel het aan al die voordele wat daarmee gepaard gaan soos ons in 1 Pet. 1 v 9 hoor:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.
Die lewende hoop wat ek ontvang is 'n sekere wete dat God die krag het om 'n verandering in my lewe teweeg te bring.

2. Hoe kry ek deel daaraan?
In 1 Pet. 1 v 3 hoor ons:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Christus het die dood oorwin en daarmee ook die sondigheid van die mens. Dit is hier waar ons dit persoonlik moet maak. Christus het my sondes oorwin en sy opstanding uit die dood is die waarborg dat Hy vir my 'n nuwe lewe gee. God gee vir my die versekering dat my selfsugtige sondige natuur nie meer my lewe beheer nie. Lewende hoop is die evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus.

In 1 Pet. 1 v 23 hoor ons:
Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
Deur Woordverkondiging hoor jy die evangelie. Dan word jy deur die Heilige Gees weergebore om die evangelie boodskap wat jy gehoor het, te glo.

In 1 Pet. 1 v 9a hoor ons:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.
Ons kry deel aan dit wanneer die Heilige Gees d.m.v. sy geïnspireerde woord die goeie nuus van Jesus Christus aan ons vertel.

Die Heilige Gees maak jou verstand oop sodat jy dit verstaan en Hy gee aan jou die geloof om te glo dat die evangelie vir jou waar is.

Wanneer jy dus die goeie nuus hoor dat Jesus vir jou sondes gesterf het en dat Hy die dood oorwin het en daarmee vir jou 'n nuwe lewe gee en jy glo dat dit vir jou waar is, het jy lewende hoop.

3. Hoe verander lewende hoop my lewe?
Die lewende hoop wat Jesus gee en wat ons deur geloof ons eie maak, laat ons anders na die wêreld  kyk. In 1 Pet. 1 v 5 hoor ons:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
Wanneer jou lewe uitmekaar val en die wêreld dreig om jou met hopeloosheid te oorval kan jy nie in eie krag met liefde na jou naaste uitreik nie. Jy het krag buite jouself nodig en hier hoor ons dat God vir ons die krag gee. Dit is nou nie meer in eie krag wat ons die wêreld moet aandurf nie. Die Krag van God, die Heilige Gees stel ons in staat om die wêreld aan te durf.

In 1 Pet. 1 v 6 hoor ons:
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word.
Daar gaan beproewings oor ons pad kom en dit is die lewende hoop wat God gee wat ons in staat stel om daardie beproewings te bowe te kom.

Rom. 5 v 3 – 5 verduidelik so bietjie meer hoe dit werk:
Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Omdat die Heilige Gees teenwoordig is in jou lewe, kyk jy anders na die wêreld want jy het nou 'n lewende hoop.

In 1 Pet. 1 v 9 hoor ons:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Dit is nie jou omstandighede wat bepaal of jy vrede in jou lewe het of nie. Dit is die teenwoordigheid van God in jou lewe wat vir jou ware vrede gee.

Lewende hoop is 'n geskenk van God en dit is 'n geskenk wat ons met die wêreld moet deel wat in hopeloosheid vasgevang is.

Geliefdes, moenie teen die hopeloosheid van die wêreld vaskyk nie. Vind jou lewende hoop in die evangelie van Jesus Christus en deel die lewende hoop uit aan die wêreld wat in hopeloosheid vasgevang is.
Amen




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking