Skriflesing:
1 Pet. 1 v 3 – 9
Teksverse:
1 Pet. 1 v 3 & 4
Hoop is die een ding in die lewe wat die lewe die moeite
werd maak. Ons lewe in 'n tyd waar mense deur hopeloosheid oorweldig word. Daar
word gesê dat 'n mens tot veertig dae sonder kos, ongeveer drie dae sonder
water, agt minute sonder lug, maar net 'n sekonde sonder hoop kan leef.
Al hoe meer mense wil weens die huidige toestand in ons
land emigreer. Geweld en misdaad vier hoogty. Byna daagliks hoor ons oor die
nuus van optogte en skares wat goed en infrastruktuur aan die brand steek in
sogenaamde protes optogte. Studente steek universiteitsgeboue aan die brand en
maak dit onmoontlik om onderrig te gee. Byna daagliks word vragmotors beroof en
aan die brand gesteek met verskeie vragmotorbestuurders wat aan brandwonde
beswyk het.
Die politiek is deurmekaar en byna daagliks hoor ons oor
die nuus van een of ander politikus wat opruiende toesprake maak wat onderlinge
haat en verdeeldheid onder die mense aanvuur. Daar is soveel korrupsie en dit
lyk of die skuldiges daarmee wegkom. Eskom is bankrot en ons wonder hoe lank
gaan die ligte nog aanbly. Al hierdie dinge werk negatief op die ekonomie in.
Die nuutste werkloosheids-syfer is op rekord hoogtes.
Die regering is besig om wetgewing deur te voer wat dit
moontlik maak om eiendom sonder vergoeding te onteien. Verder is hulle besig om
die gesondheids-sorg radikaal te verander en kenners waarsku dat dit tot die
ineenstorting daarvan kan lei.
Geliefdes, voel u ook soms moedeloos wanneer u so na die
nuus luister? Voel dit ook vir u of ons deur hopeloosheid oorweldig word? Die
hopeloosheid wat ons tans in ons land beleef is egter nie uniek in die
geskiedenis van die mensdom nie.
Die hoofoorsaak daarvan is natuurlik die sondeval, dit
wil sê die mens se rebelse opstand teen God. Dit het veroorsaak dat liefde en
omgee vir mekaar verruil is vir haat, selfsug en eie belang wat tot gevolg het
dat mense mekaar onderdruk.
Petrus skryf hierdie brief aan 'n groep gelowiges wat
geweldige lyding moes verduur vanweë ernstige verontregting om hulle te
bemoedig, vertroos en om aan hulle hulle hoop te gee. In hierdie brief gee hy
dan ook riglyne oor hoe om die verontregting te hanteer. Hierdie gelowiges wat
na alle aanduiding Jode was het geen burgerregte gehad nie. Al wat hulle gehad
het was verblyfreg en niks meer as dit nie. Hulle mag egter nie eiendom besit
het nie en was dus as bywoners uitgelewer aan die burgers wat vir hulle as
bywoners blyplek gegee het.
As vreemdelinge en bywoners het hulle ook geen politieke
regte gehad nie en kon hulle, hul dus ook nie tot geregshowe beroep nie. In
hierdie brief word hulle bemoedig met die lewende hoop dat die Here aan hulle
'n nuwe status gee. Hulle is uitverkorenes en hulle kan verseker weet dat hulle
burgers is van die koninkryk van God.
Hierdie brief is egter nie net vir die gelowiges wat daar
in Asië gewoon het nie. Dit is deel van die lewende woord van God en daarom is
dit daar om aan gelowiges moed en hoop te gee in 'n wêreld wat heeltyd dreig om
hulle met hopeloosheid te oorweldig. Die vraagstuk wat die brief aanspreek is,
is net so van toepassing op ons as wat dit vir hulle was.
Hoe kry jy dit reg om te midde van die chaos en
hopeloosheid wat die wêreld jou bied, steeds in liefde uit te reik na jou
naaste? Wanneer jou lewe omgedop word en in gevaar gestel word, wanneer jou
werk in gevaar is, jou huwelik uitmekaar wil val, jou gesondheid jou in die
steek laat, hoe kan jy die krag hê om in liefde uit te reik na die mense om jou?
Hoe kry jy dit reg wanneer jou lewe uitmekaar val? Menslik gesproke in eie krag
is dit onmoontlik. Jy kan dit slegs doen met krag wat buite jouself is.
Dis menslik om wanneer jou lewe uitmekaar val, die nood
van die mense om jou te ignoreer sodat jy op jou eie nood kan fokus. Dit is
egter nie wat die Bybel en veral hierdie brief van Petrus vir ons sê om te doen
nie. Hy sê inderdaad vir ons dat hoe moeiliker jou lewe word, hoe meer moet jy in
liefde uitreik na die nood van die mense om jou.
Christus het vir ons gely en vir ons daarmee die
voorbeeld gestel hoe om op tree in die krisis tye in jou lewe. Hoe moet ons dit
regkry? In 1 Pet. 1 v 3 kry ons die belofte van 'n lewende hoop.
Maar wat is hierdie lewende hoop? Om die vraag te
beantwoord gaan ons nou stilstaan by die volgende drie vrae:
1. Wat is lewende hoop?
2. Hoe kry ek deel daaraan?
3. Hoe verander lewende hoop my lewe?
1. wat
is lewende hoop?
Lewende hoop is anders as wêreldse hoop. Wêreldse hoop
het 'n onsekere uitkoms. Die volgende voorbeeld kan dit verduidelik. Wanneer
die bokke die naweek speel hoop ons dat hulle gaan wen. Daar is egter 'n kans
dat hulle nie gaan wen nie. Die uitkoms van wêreldse hoop is onseker.
Lewende hoop daarteenoor is die sekere wete dat die
uitkoms wat ons graag wil hê vir seker sal gebeur. Lewende hoop gee vir my die
waarborg dat ek 'n burger is in die koninkryk van God en dat ek deel het aan al
die voordele wat daarmee gepaard gaan soos ons in 1 Pet. 1 v 9 hoor:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle
reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is.
Die lewende hoop wat ek ontvang is 'n sekere wete dat God
die krag het om 'n verandering in my lewe teweeg te bring.
2. Hoe
kry ek deel daaraan?
In 1 Pet. 1 v 3 hoor ons:
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al
die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die
opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die
onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir
julle in bewaring gehou word.
Christus het die dood oorwin en daarmee ook die
sondigheid van die mens. Dit is hier waar ons dit persoonlik moet maak.
Christus het my sondes oorwin en sy opstanding uit die dood is die waarborg dat
Hy vir my 'n nuwe lewe gee. God gee vir my die versekering dat my selfsugtige
sondige natuur nie meer my lewe beheer nie. Lewende hoop is die evangelie, die
goeie nuus van Jesus Christus.
In 1 Pet. 1 v 23 hoor ons:
Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie,
maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.
Deur Woordverkondiging hoor jy die evangelie. Dan word jy
deur die Heilige Gees weergebore om die evangelie boodskap wat jy gehoor het,
te glo.
In 1 Pet. 1 v 9a hoor ons:
Deur in Hom te glo,
al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die
einddoel van julle geloof is.
Ons kry deel aan dit wanneer die Heilige Gees d.m.v. sy
geïnspireerde woord die goeie nuus van Jesus Christus aan ons vertel.
Die Heilige Gees maak jou verstand oop sodat jy dit verstaan
en Hy gee aan jou die geloof om te glo dat die evangelie vir jou waar is.
Wanneer jy dus die goeie nuus hoor dat Jesus vir jou
sondes gesterf het en dat Hy die dood oorwin het en daarmee vir jou 'n nuwe
lewe gee en jy glo dat dit vir jou waar is, het jy lewende hoop.
3. Hoe
verander lewende hoop my lewe?
Die lewende hoop wat Jesus gee en wat ons deur geloof ons
eie maak, laat ons anders na die wêreld
kyk. In 1 Pet. 1 v 5 hoor ons:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God
veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die
tyd geopenbaar te word.
Wanneer jou lewe uitmekaar val en die wêreld dreig om jou
met hopeloosheid te oorval kan jy nie in eie krag met liefde na jou naaste
uitreik nie. Jy het krag buite jouself nodig en hier hoor ons dat God vir ons
die krag gee. Dit is nou nie meer in eie krag wat ons die wêreld moet aandurf
nie. Die Krag van God, die Heilige Gees stel ons in staat om die wêreld aan te
durf.
In 1 Pet. 1 v 6 hoor ons:
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n
kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid
van julle geloof getoets kan word.
Daar gaan beproewings oor ons pad kom en dit is die
lewende hoop wat God gee wat ons in staat stel om daardie beproewings te bowe
te kom.
Rom. 5 v 3 – 5 verduidelik so bietjie meer hoe dit werk:
Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet:
swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid
van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons
harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.
Omdat die Heilige Gees teenwoordig is in jou lewe, kyk jy
anders na die wêreld want jy het nou 'n lewende hoop.
In 1 Pet. 1 v 9 hoor ons:
Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle
reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit
vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.
Dit is nie jou omstandighede wat bepaal of jy vrede in
jou lewe het of nie. Dit is die teenwoordigheid van God in jou lewe wat vir jou
ware vrede gee.
Lewende hoop is 'n geskenk van God en dit is 'n geskenk
wat ons met die wêreld moet deel wat in hopeloosheid vasgevang is.
Geliefdes, moenie teen die hopeloosheid van die wêreld
vaskyk nie. Vind jou lewende hoop in die evangelie van Jesus Christus en deel
die lewende hoop uit aan die wêreld wat in hopeloosheid vasgevang is.
Amen