25 Augustus 2019

Van Geloofstwyfel tot Geloofsvertroue


Joh. 20 v 19 – 31
Teksverse: Joh. 20 v 24, 25, 27 & 28


Geloofstwyfel. Dis iets wat elke gelowige op een of ander tyd in sy lewe ervaar. Dit gebeur gewoonlik wanneer jou lewe op 'n laagtepunt is. Wanneer jy op jou kwesbaarste is. Dan kom die ou duiwel en hy probeer jou oortuig dat God nie werklik vir jou omgee nie. Sy grootste aanslag is om jou te probeer oorreed dat God nie werklik bestaan nie.


Die verhaal van Tomas help om jou perspektief te gee wanneer jy in 'n geloofskrisis beland. Ons weet nie veel van Tomas nie en tog is hy alom bekend in die volksmond as ongelowige Tomas. In ons teks ontmoet ons Tomas in 'n tyd wat sy hele wêreld omgekeer is.

Sy Heer en Meester is dood. Vir drie jaar het hy Jesus gevolg as een van sy dissipels en nou het die owerhede Hom as 'n misdadiger gekruisig. Dit het hom en sy mededissipels se leefwêreld omgedop. Hierdie gebeure het Tomas in 'n geloofskrisis laat beland want sy sekerhede en ankers in die lewe is afgestroop. Met Jesus se sterwe het hy al sy hoop verloor.

In ons teks hoor ons hoe Jesus aan sy dissipels verskyn na sy opstanding. Hulle was almal skepties toe die vroue vir hulle kom vertel dat Jesus opgestaan het soos ons ook in
Luk 24 v 22 tot 24 hoor:
22En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ’n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”

Dit is nie net Tomas wat skepties was nie. Al die dissipels was aanvanklik skepties. Hulle was almal oorweldig deur die gebeure van die vorige dae. In ons teks hoor ons wat die verskil maak wanneer mens geloofstwyfel beleef. 'n Ontmoeting met Jesus. Die dissipels wat daar was, is versterk in hul geloof en het die vrede van Jesus ervaar wat Hy oor hul uitgespreek het.

Vir een of ander rede was Tomas egter nie saam met die ander dissipels by daardie eerste ontmoeting nie. Ons weet nie wat die rede was hoekom hy nie daar was nie, maar wat wel duidelik is, is dat hy uitgemis het op die vrede, vertroosting en geloofsversterking wat die ander dissipels van Jesus ontvang het. Hier vind ons 'n baie belangrike rede waarom ons nie ons erediens bywoning moet afskeep nie.

Toe die ander dissipels vir Tomas vertel het van hul ontmoeting met Jesus was hy baie skepties soos ons ook in ons teks in
Joh. 19 v 25 hoor:
25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Die gebrek aan gemeenskap met sy medegelowiges het bygedra tot sy ongeloof, want hy het nie die geloofsversterking en vrede ontvang wat die ander gekry het nie. Wanneer jy jou erediens bywoning afskeep, doen jy dit tot jou eie nadeel.

'n Week later het Jesus weer aan sy dissipels verskyn. Die verwysing na agt dae dui op die manier waarop die Jode getel het. Hulle het by die Sondag van Jesus se eerste verskyning begin tel tot en met die volgende Sondag wat agt dae is. Deesdae sou ons vanaf die Maandag tel wat op die Sondag volg wat dan sewe dae is.

Met hierdie tweede verskyning was Tomas ook teenwoordig en hier hoor ons wat se dramatiese verskil 'n ontmoeting met Jesus in Tomas se lewe gemaak het. Ons hoor ook hier van die deernis en geduld wat die Here met hom gehad het. Jesus verwyt hom nie, maar spreek tot sy ongeloof.

Tomas het gesê: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”
Jesus kom na Tomas en sê vir hom: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

Tomas was die mees skeptiese van al die dissipels, maar na sy ontmoeting met Jesus spreek hy die kragtige belydenis uit: “My Here en my God!” In hierdie belydenis van Tomas leer ons wat dit beteken om jouself in geloof aan Jesus te bind.

In die eerste plek maak hy dit persoonlik. My Here, My God.” Baie keer haak mense net op 'n intellektuele akademiese vlak met die evangelie vas. Dit is egter eers wanneer jy dit persoonlik maak dat die evangelie jou lewe verander.

In die tweede plek hoor ons hoe Tomas homself aan die soewereiniteit van Jesus onderwerp. “My Here.” Hy erken dat Jesus nou Koning is in sy lewe en dat hy homself aan Jesus onderwerp. Jy kan nie 'n dissipel van Jesus word as jy jouself nie aan sy gesag oor jou lewe onderwerp nie.

In die derde plek erken hy die Godheid van Jesus. “My God.” Jesus is nie maar net 'n goeie voorbeeld vir ons nie. Hy is die tweede persoon van God Drie-enig, Die Skepper van die hemel en die aarde. Die Heerser oor die heelal en sodoende ook oor elke aspek van ons lewens.

Na Tomas se belydenis sê Jesus vir hom:
“Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”
Geliefdes, ons kan Jesus nie meer fisies sien soos wat sy dissipels kon nie. Dit beteken egter nie dat ons nie die geloofsversterking, vertroosting, seën en vrede kan ontvang wat sy dissipels ontvang het nie.

Ons kan Jesus nie vanoggend fisies met ons oë sien nie, maar Hy is hier. Ons sien Hom nie met ons fisiese oë nie, maar wel met ons geloofsoë. Deur sy Woord en die woordverkondiging ontmoet ons Jesus net so seker as wat Jesus se dissipels Hom daardie Sondag ontmoet het 'n week na sy opstanding.

In Joh. 19 v 30 & 31 hoor ons wat die inhoud van die seëninge is wat ons ontvang wanneer ons Jesus ontmoet. Wanneer jy jou geloofsvertroue in Jesus stel ontvang jy die ewige lewe. Die ewige lewe is nie iets wat net daar in die verre toekoms gaan gebeur nie. Dit begin nou reeds. Jy kan nou reeds die vrede beleef van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Tydens ons eredienste ontmoet ons Jesus en Hy herinner ons gedurig aan die kruis en sy opstanding wat lewensveranderd in ons lewe werk. Deur ons geloofsoë sien ons die merke van die spykers in sy hande en die spieswond in sy sy.

Wanneer jy begin twyfel in God se liefde, onthou die kruis waar Jesus sy lewe vir jou gegee het. Wanneer jy twyfel en vrees dat jy dalk in die hel mag beland, onthou sy wonde. Kyk deur jou geloofsoë na die merke van die spykers in sy hande en na die spieswond in sy sy en onthou dat Jesus jou deur sy bloed reinig van die sonde wat tussen jou en God staan.

Geliefdes, moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.
Amen.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking