Wys tans plasings met die etiket kinder opvoeding. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kinder opvoeding. Wys alle plasings

25 Augustus 2019

Kinders is geskenke van die HERE.

Ps. 127 tv Ps. 127 v 3




Alles wat ons het, het ons ontvang op grond van die genade van die Here. Met ander woorde niks wat ons het, het ons gekry omdat ons dit verdien nie. Ons kan nie daarop aanspraak maak nie. Die Here besluit in sy ewige raadsplan watter genadegawes Hy vir ons gee.

Ook die kinders wat die Here aan ouers se sorg toevertrou, gee Hy alleen op grond van sy genade soos ons Ps. 127 v 3 hoor:
Seuns is geskenke van die Here, kinders word deur Hom gegee.

Ps. 127 v 3 is die middelpunt van hierdie Psalm en dit dui vir ons die fokus aan, die kinders wat Hy aan die sorg van ouers toevertrou. Die eerste twee verse gebruik twee beelde om vir ons te verduidelik dat sonder die Here alles tevergeefs is en die laaste twee verse word die beeld van pyle in 'n pylkoker gebruik om aan ons te verduidelik hoe die Here ons seën wanneer Hy die middelpunt van ons en ons kinders se lewens is.

In Psalm 127 sê die Here dus vir ons dat wanneer Hy kinders aan jou sorg toevertrou, dat Hy daarmee saam ook aan jou 'n groot verantwoordelikheid gee.

Die verantwoordelikheid wat Hy aan ons gee, is om ons kinders so groot te maak dat hulle die Here ken. Kinders is vir die Here kosbaar en daarom moet ons die kinders wat die Here aan ons toevertrou met soveel sorg en aandag grootmaak.

In hierdie Psalm hoor ons van 'n baie belangrike beginsel wat ons moet onthou met die grootmaak van die kinders wat die Here aan ons toevertrou. In Ps. 127 v 1 hoor ons:
As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs. As die Here die stad nie beskerm nie,
waak dié wat dit beskerm, tevergeefs.

Hierdie teks gaan nie oor die fisiese bou van huise of stede nie. Die verwysing na kinders wat geskenke van die Here is in vers 3 verduidelik dat dit hier gaan oor die geestelike huis en stad waarin ons woon. Jou gesinslewe en die groter gesin, die gemeente waarvan jou gesin deel is.

In Ps. 127 v 2 hoor ons:
Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap
om met moeite ’n bestaan te maak.
Vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.
As jy op jou eie krag en insigte staatmaak is alles wat jy aanpak tevergeefs.

Die Afrikaanse woord swoeg wat in die 83 vertaling gebruik is, gee die bedoeling van die Hebreeus mooi weer. Dit dui op ’n tevergeefse gestoei wat geen resultate oplewer nie. Absolute hartverskeurende moeitevolle arbeid wat geen resultaat lewer nie.

Wanneer mens hard werk en jy bereik iets daarmee dan is dit vreugdevolle bevredigende arbeid. As mens egter ten spyte daarvan dat jy alles gegee het, niks vir jou moeite bereik nie, los dit ’n moedelose hopeloosheid by jou agter.

Die Psalmdigter beskryf hier vir ons dat as die Here nie deel is van die proses nie, inderdaad as die Here nie leiding neem nie, dan is alles tevergeefs. As die Here nie die hoofinhoud van my lewe en my kinders se opvoeding is nie, dan kan ek dit maar net sowel los.

In Mat. 19 v 14 hoor ons:
Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

Die Here kan alleen die hoofinhoud van my en my kinders se lewe word deur die soenverdienste van Jesus omdat Hy vir ons sonde aan 'n vervloekte kruishout gesterf het.

Wanneer die opvoeding wat ek vir my kinders gee, vrygemaak is van die mag van die sonde, kan dit effektief verrig word. As Jesus Christus nie die middelpunt van my lewe is nie, dan sal ook die opvoeding van my kinders tevergeefs wees. Wanneer Christus egter die kern is waarom alles draai sal my opvoeding geseënd wees. Dan is dit inderdaad nie meer moeite nie want vir dié wat Hy liefhet, gee die Here dit in hulle slaap.

Die opvoeding van my kinders is dat ek deur my lewe vir hulle moet wys wat dit beteken om die Here te ken. Kinders leer deur dit wat hulle ons sien doen en nie deur dit wat ons vir hulle sê om te doen nie.

Getuig jou lewe daarvan dat jy naby God leef? Hoe lyk jou betrokkenheid met die lede van jou gesin en is jy aktief deel van jou gemeente? Wys jy vir jou kinders deur jou voorbeeld dat hulle aktief deel moet wees van die gemeente waarbinne die Here julle geplaas het? Jy kan dit alleen doen wanneer jy glo dat Jesus jou persoonlike Verlosser en saligmaker is.

In Ps. 127 v 4 hoor ons:
Soos pyle in die hand van ’n krygsman,
so is seuns wat gebore is toe hulle vader nog jonk was.
Dit gaan goed met die man wat sy pylkoker so gevul het!
Sulke mense het niks te vrees as hulle met die vyand
in die stadspoort onderhandel nie.
Hier hoor ons hoekom ons ons kinders moet grootmaak om die Here te ken. Die beeld van pyle in 'n pylkoker word gebruik om te verduidelik dat ons, ons kinders moet uitstuur in die wêreld om te leef vir Christus.

'n Pyl se doel is om geskiet te word, om uit te gaan. As ons in die grootmaak van ons kinders hulle leer om die Here te ken, dan sal hulle 'n verskil kan maak in die wêreld daar buite.

Hiermee saam ontvang ons 'n belofte van seën. Die seën van die ewige lewe en dat as ons, ons kinders leer om die Here te ken dat hulle ook die ewige lewe sal ontvang.

Is dit nie ’n wonderlike belofte wat die Here aan ons gee nie? Dis ook die belofte wat Hy met die doop aan ons gee. Daarmee wys die Here vir ons op ’n sigbare wyse dat ons en ons kinders aan Hom behoort. Ons en ons kinders is sy kosbare eiendom.

Ons kan nie op grond van ons eie verdienste vergifnis van die sonde kry nie en ons kan dit ook nie vir ons kinders doen nie. As ons dit sou probeer dan sal dit wees soos die hartverskeurende moeitevolle arbeid wat die Psalmdigter hier vir ons beskryf. Die troos is egter, dat ons dit nie hoef te doen. Vir die wat Hy liefhet gee die Here vergifnis van die sonde in hul slaap.

Hoe kry ons deel daaraan? Heel eenvoudig geliefdes. Ons moet die Evangelie glo. Ons moet die Goeie Nuus glo dat Jesus Christus vir ons sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het. Ons moet glo dat Hy die dood met sy opstanding oorwin het en dat Hy daarmee vir ons die ewige lewe gee. ’n Lewe wat nie meer vasgebind is aan die slawekettings van die sonde nie.

Dit is wat ons met die doop bely. Ek bely dat die Evangelie op my van toepassing is en met die doop van my kind bely ek dat ek die belofte van die Here glo dat die Evangelie ook op my kind van toepassing is. Vandag sien ons met die sakrament van die Doop dat Christus ons sondes afwas. Net soos water vuilheid afwas, net so reinig Christus se bloed jou van die sonde. Volgende week met die sakrament van die Nagmaal sien ons waarom die bloed van Jesus ons skoonwas van ons sondes. Jesus het sy lewe afgelê en met sy opstanding die ewige lewe vir ons verdien.

Psalm 127 sluit dan ook af met ’n wonderlike belofte. Die belofte dat ek oor die vyand sal seëvier. Die vyand, dit wil sê die satan sal ons nie oorwin nie. Wanneer hy kom om jou te probeer oortuig dat jy nikswerd is nie en dat jou kinders nie vir God belangrik is nie, hou vas aan hierdie belofte van die Doop dat ons en ons kinders vir God kosbaar is. So kosbaar dat Hy bereid was om sy lewe vir ons af te lê.

Ons het egter ook ’n verantwoordelikheid. Ons moet ons kinders leer wat die Evangelie is en hoe hulle deel kan kry daaraan. Ons moet die belofte wat ons by die Doop maak naamlik: “Ek beloof om my kinders, wanneer hulle tot hul verstand kom na die beste van my vermoë te leer wat die Evangelie is. Ek belowe ook om hulle te laat onderrig.”

Hier is twee dele in hierdie belofte. My verantwoordelikheid om my kinders te leer en ook my verantwoordelikheid om my kinders te bring dat hulle geleer kan word. Met ander woorde ek belowe dat ek hulle na die eredienste en katkisasie sal bring sodat hulle deur die Woord van God daar geleer kan word.

Geliefdes, kinders is geskenke van die Here en daarom is hulle kosbaar. Glo die beloftes van die Evangelie en glo dat hierdie beloftes ook vir u kinders bedoel is.

Amen