30 Desember 2018

Deur sy Skeppende Woord skep die Koning van die heelal sy koninkryk


Gen. 1v1 tot 2v3 (Teksvers Gen 1v1)
Son 30 Des 2018 GKE



Samevatting
Ons word ryklik getroos deur die wete dat God die almagtige, in beheer is van ons toekoms en daarom het ons niks te vrees vir die onsekerhede wat die toekoms vir ons inhou nie.

Woordverkondiging
Die einde van 2018 is in sig. Dit is ʼn jaar waarin baie dinge oor ons pad gekom het. Sommige goed en ander minder goed. Een ding wat duidelik uitstaan is God se genade in ons lewens. Wanneer ons terugkyk dan sien ons hoe Hy ons in die holte van sy hand gedra het deur die moeilike tye wat oor ons pad gekom het.

2018 is verby en 2019 is op pad. Ons wonder: “wat lê voor ons? Waarheen is op pad? Wat gaan 2019 vir ons inhou?” As ons so na die omstandighede om ons kyk, dan is daar inderdaad rede tot kommer.

Wat gaan gebeur met die grondonteiening sonder vergoeding? Wat hou 2019 se verkiesing vir ons in? Gaan die elektrisiteitstariewe nog verder styg? Wat gaan die styging in brandstofpryse wees en met hoeveel gaan die wisselkoers verder verswak? Die ekonomiese vooruitsigte is onseker. Ons politieke leiers boesem ook nie juis veel vertroue in nie. Ons leef tans in onseker tye. As daar ’n storm op die see dreig en die passasiers betwyfel die vermoëns van die stuurman, dan is daar nie juis veel vertroue in dit wat vir ons voorlê nie.

As ons so na die uitdagings vir die jaar wat voorlê kyk binne die huidige omstandighede, dan kan mens nogal angstig voel oor dit wat vir ons voorlê en daarom gaan ons vanoggend luister na wat God vir ons in Genesis 1 daaroor sê.

Ons moet versigtig wees om nie die verkeerde vrae te vra wat Genesis nie ten doel het om te antwoord nie. As ons dit doen, dan hoor ons nie die troosboodskap wat God in Genesis 1 vir ons gee nie. Genesis 1 het in die eerste plek ten doel om ’n troosboodskap aan Israel te gee wat dikwels groot onsekerhede in die gesig gestaar het. Israel was ook maar bang vir ’n onseker toekoms in onseker tye. In Egipte was hulle blootgestel aan onvoorspelbare afgode.

In Kanaän was daar weer ander afgode en terwyl hulle in Ballingskap was het hulle kennis gemaak met Marduk die sogenaamde skeppergod van Babilonië. Dink net hoe bang en onseker Israel moes gevoel het toe hulle met al hierdie afgode gekonfronteer was wat gedreig het om die God wat hulle aanbid te vervang. Daarom het hulle die troos van Genesis 1 nodig gehad om hulle te verseker dat daar net Een Ware God was wat Skepper was van die hemel en die aarde.

Die eerste hoofstukke in Genesis verskaf die agtergrond van die verhaal wat in die Bybel ontvou en kan inderdaad as die fondament beskryf word vir dit wat God in die res van die Bybel aan ons vertel. Hoofstuk een van Genesis dien dan ook as ’n inleiding vir die res van die verhale wat God in Genesis en die res van die Bybel aan ons vertel. In Genesis 1 hoor ons hoe die Koning van die Heelal deur sy skeppende Woord sy Koninkryk skep.

In hierdie eerste hoofstuk in die Bybel hoor ons baie duidelik dat God die Hoofkarakter in hierdie verhaal is. God skep deur slegs ’n Woord te spreek. Dit is net God wat iets uit niks kan skep. Wanneer die mens iets maak, dan vorm hy dit uit materiaal wat reeds bestaan. Daarteenoor is dit net God wat iets uit niks tot stand bring deur sy skeppende Woord. Israel was gekonfronteer deur ’n mengelmoes van afgode rondom hulle en daarom moes hulle die troosboodskap hoor: “Daar is net een ware God wat die hemel en die Aarde uit niks geskep het.”

Ons word vandag nie meer met die afgode van destyds gekonfronteer nie. Daar is deesdae ’n groter en meer vreesaanjaende afgod. Die mens en sy eie verstand! Israel moes aanhoor dat daar ander magtiger gode as die Here God was. Vandag gaan daar al hoe meer stemme op wat ons probeer oortuig dat daar geen god is nie. Dan hoor ons dat Godsdiens maar net verbeeldingsvlugte van die mens se verstand is. Die oorsaak van alles wat ons hier rondom ons sien, word aan die blinde noodlot toegeskryf.

Wanneer mens ’n onseker toekoms tegemoet gaan is die blinde noodlot meer vreesaanjaend as die afgode waarmee Israel gekonfronteer was. Daarom moet ons ook die troosboodskap hoor wat Israel gehoor het: “Daar IS ’n Ware God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het.” Ons is nie aan die blinde noodlot uitgelewer nie, want by God is daar GEEN toeval nie! Daarom hou ons ook vas aan ons belydenis in Sondag 10 van die Heidelbergse Kategismus (vraag en antwoord 28)
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

In Gen. 1 v 1-3 hoor ons van die skeppingswonder:
1 In die begin het God die hemel en die aarde geskep.
2 Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef
3 Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.
God se skeppende Woord is die oorsprong van alles wat ons hier rondom ons sien. God het die berge, die see, die bome en plante daarbuite geskep. God het die sterre in die hemel geskep. Niks het maar net toevallig tot stand gekom nie. Uit die chaos wat daar geheers het, het God orde geskep.

Die mikrobioloog staan verstom oor hoe fyn beplan die kleinste lewende selletjie is wat mens net deur ’n kragtige mikroskoop kan waarneem. Die sterrekundige staan verwonderd oor die fyn balans van die natuurkragte daar buite.

Neem bv. Swaartekrag wat die swakste natuurkrag is wat aan die mens bekend is. Tog bepaal swaartekrag in watter posisie die sterre en planete teenoor mekaar lê. As swaartekrag net ’n onmeetbare klein hoeveelheid sterker of swakker was, dan was dit onmoontlik vir die heelal om te bestaan en was lewe hier op aarde nie moontlik nie.

In alles wat ons in die wêreld en die natuur rondom ons waarneem is dit duidelik dat daar baie fyn beplanning en ontwerp by betrokke was. God het alles geskep en Hy is elke dag betrokke by sy skepping.

In Joh. 1 v 1-5 hoor ons weer dieselfde skeppingstaal van Gen. 1. Hier kry ons ’n duideliker prentjie van God wat die hemel en die aarde geskep het.
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
2 Hy was reeds in die begin by God.
3 Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
4 In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.
5 Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Deur Jesus Christus het God alles geskep. In Jesus Christus het die Magtige Skeppergod ’n slaaf geword ter wille van mense sodat die mense God kan ken.

In Joh. 1 v12-14 hoor ons hoe groot God se genade werklik is.
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
13  Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
14 Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
In Jesus Christus leer ons God op ’n baie intieme en persoonlike vlak ken as ons Vader.

God het nie net geskep nie. Hy het alles goed geskep. Ses keer hoor ons dat dit wat God geskep het goed was.
ü Die lig was goed
ü Die droë land was goed
ü Die plantegroei was goed
ü Die lig van die son, maan en sterre was goed
ü Die visse en die voëls was goed
ü Die landdiere was goed
En dan skep God mense en dan hoor ons weer vir ’n sewende keer:
Dit was baie goed.

God het die mens na sy beeld geskep om namens Hom hier op aarde oor sy skepping te heers. Alles wat God geskep het, vorm deel van sy Koninkryk. Ons as mense het nie maar net toevallig deur ’n proses van blinde evolusie ontstaan nie. As dit waar was, dan het ons ook nie werklik ’n doel gehad nie en sou die lewe sinneloos gewees het. Nee geliefdes, God het die mens na sy beeld geskep met ’n baie spesifiek doel om sy skepping namens Hom te bestuur soos ons ook in Gen. 2v15 hoor.
Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.

Hierin lê vir ons ’n groot troos wanneer ons vorentoe kyk na die nuwe jaar wat voorlê. Ons hoef nie bang te wees vir ekonomiese onsekerhede nie. Ons hoef nie bang te wees vir die onsekerheid wat die toekoms vir ons inhou nie, want God wat alles geskep het, is in beheer en dit is Hy wat saam met ons op pad is in die jaar wat voorlê.

Vertrou op God ons Vader. Hou vas aan die troos dat God die almagtige, in beheer is van ons toekoms en daarom het ons niks te vrees vir die onsekerhede wat die toekoms vir ons inhou nie.

Amen





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking