23 Desember 2018

ʼn Nuwe lig het opgekom oor ʼn volk wat in donkerte gewoon het.


Jes. 8:19 – 9:6
Teksverse Jes. 9:1 & 5












Kersfees is nie net ʼn fees vir Christene nie, dis ook ʼn wêreldse fees. Dit is ʼn tyd waar ons liggies opsit, familie bymekaar kom vir mekaar geskenke gee en waar ons uitreik na behoeftiges. Hierdie gebruike verryk mense se lewens en is nie in stryd met Christelike waardes nie.

Vir Christene kom die klem van lig in die duisternis uit die Christelike geloof dat hoop vir die wêreld van buite die wêreld kom. Die gee van geskenke herinner aan die alles opofferende geskenk wat Jesus gegee het toe Hy sy lewe vir ons afgelê het. Die uitreik na behoeftiges herinner dat Jesus uit ʼn eenvoudige arm gesin gebore is en nie uit ʼn aristokratiese familie nie. Die Koning van die heelal identifiseer met geringstes in die samelewing.

Die gevaar bestaan egter dat omdat die wêreld Kersfees herdenk ons as Christene maklik die fondament van wat Kersfees vir ons beteken kan vergeet. Daarom moet ons bly fokus op Jesus wat as Lig na die wêreld toe gekom het omdat die mensdom te geestelik blind is om hul eie weg te vind. Jesus het mens geword en gesterwe omdat ons so verderf geraak het dat ons op geen ander manier gered kon word nie.

Om die betekenis van Jes. 9 en wat dit met Kersfees te doen het te verstaan , is dit nodig dat ons moet verstaan dat die wêreld ʼn donker plek is en dat ons nooit ons weg daarin sonder Jesus sal vind nie. Toe Jesus die eerste keer in die openbaar begin optree het, het Hy Jes. 8:23-9:2 aangehaal om aan te toon dat Hy die Lig is wat na die wêreld toe gekom het. In Joh. 1:9-10 hoor ons dat Jesus die ware Lig is wat na die wêreld toe gekom het. Jesus is dus die vervulling van die profesie wat die profeet Jesaja gemaak het toe hy geprofeteer het:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.

wanneer die Bybel verwys na duisternis, verwys dit na boosheid en onkunde waarmee die wêreld gevul is. Die geweld, onreg, magsmisbruik, dakloosheid, vlugtelinge wat vlug vanaf onderdrukking, gesinne wat uitmekaar geskeur word en bodemlose hartseer wat in die tyd van Jesus teenwoordig was, is nog steeds met ons.

Die ander manier waarin die wêreld in duisternis verkeer, is dat daar niemand in die wêreld is wat dit kan red nie. Die volk wat in donkerte gewoon het vanweë die onreg in die wêreld kon hulself nie red nie. In Jes. 8:19 hoor ons van mense mediums en spiritiste raadpleeg. Met ander woorde hulle soek oplossings by die sogenaamde kundiges van hul tyd om die duisternis van die wêreld te oorkom. En dit is wat die mens vandag nog doen. Sommige mense kyk na die staat terwyl ander na die ekonomie kyk en ander na tegnologie kyk vir uitkoms.

Die moderne wêreld gebruik maar nog steeds die benadering van ouds wat die Israeliete gevolg het. Ja, die wêreld is donker, maar met ons intellek en slimmigheid kan ons dit regmaak. Dit is die boodskap wat die wêreld met Kersfees wil uitdra. Met ons liefde sal ons vrede en geluk in die wêreld herstel. Met ander woorde met die lig wat binne in ons is, kan ons die wêreld herstel en dit is die gees van Kersfees. Die werklikheid van die duisternis wat nog steeds in die wêreld teenwoordig is ontmasker die leuen van bogenoemde aanspraak.

Om die duisternis in die wêreld te oorwin, moet die mensdom terugdraai na God toe. Die ware boodskap van Kersfees is nie dat mense nie uit hulself vrede en eenheid kan bewerkstellig nie. Inteendeel met hierdie benadering net die wêreld net nog meer in duisternis gely. Die werklikheid van al die hartseer en pyn in die wêreld bevestig wat ons in Jes. 8 hoor dat as ons na die wêreld en die mensdom kyk vir uitkoms, gaan die wêreld net nog donkerder word. Die troostelose kersboodskap wat die wêreld bring is, “ons moet net almal saamwerk, dan sal die wêreld ʼn beter plek word.”

Teenoor dit is die kersboodskap wat Christene uitdra: “Dinge is regtig baie sleg en ons kan onsself nie genees of red nie. Die wêreld is regtig baie donker, maar tog is daar hoop. Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. Let daarop dat hierdie boodskap nie sê dat daar uit die wêreld ʼn lig gekom het nie. Die lig kom van buite die wêreld. Soos ons in Joh. 8:12 hoor is Jesus die lig vir die wêreld:
“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Teenoor duisternis wat dood verteenwoordig, verteenwoordig lig lewe. God is die bron van lewe. Fisiese lewe en ook geestelike lewe. God is die enigste ware bron van vrede en vreugde in die wêreld. As daar iets in die lewe is wat vir jou vreugde verskaf, dan kan net wees omdat God dit vir jou gegee het.

Hoe het die Lig na die wêreld toe gekom? In Jes. 9:5 hoor ons:
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Die vier titels wat hier aan die kind toegeken word is titels wat net op God van toepassing is. In al die godsdienste is dit net die Christelike godsdiens wat die aanspraak maak dat God as ʼn mens gebore is. Hy is die Almagtige God.

Dit beteken dat jy nie onverskillig teenoor Jesus kan staan nie. Jy kan nie net sê, “ek hou van Hom nie.” Die mense in die Bybel wat deur Jesus gekonfronteer was, was of bang of kwaad vir Hom of hulle het Hom aanbid. Geeneen van diegene wat Jesus ontmoet het, het gesê “ek hou van Hom. Hy het my regtig geïnspireer om ʼn goeie mens te wees.”

As die baba wat met Kersfees gebore is, waarlik die Almagtig God is, dan moet jy Hom volkome dien. Aan die anderkant is daar ook die troos dat as die Almagtige God werklik as mens gebore is, dan het die Christendom iets wat geen ander godsdiens het nie. Hy is ʼn God wat jou volkome verstaan. Dit beteken dat God verstaan wat jou lyding is, want Hyself het ook as mens gely. Hy weet wat dit beteken om deur vriende in die steek gelaat te word. Hy weet hoe dit voel wanneer jy verdruk word. Hy het volle begrip met jou swaarkry omdat Hy self mens was en ervaar het wat jy as mens ervaar.

Jesaja noem Hom Wonderbare Raadsman wat beteken Hy is wonderlik omdat Hy uit liefde vir jou aan ʼn vervloekte kruishout gely het. Daarom dien ons Hom nie net omdat ons verplig word nie. Ons dien Hom uit liefde omdat ons wil.

Jesus is die goddelike Lig van die wêreld omdat Hy nuwe lewe bring wat geestelike doodsheid met lewe vervang en ons genees van ons geestelike blindheid. Hy breek die slawebande waarmee sonde jou vasgeketting hou. Hy verbreek die houvas van mag, rykdom, verslawing in jou lewe. Hy het empatie met omdat Hyself deur die skadu van die dood gestap het en daarom sal Hy jou nooit in die steek laat nie. Jesus is die Lig vir jou wanneer al die ander ligte in jou lewe doodgegaan het.

Hoe deel jy in hierdie Lig? Ons hoor in Jes. 9:5:
Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word, deur die vuur verteer word.
Dit sê vir ons dat die oorwinning van die boosheid nie ons krag sal benodig nie. Ons het nie soldateskoene, uniforms, skilde of swaarde nodig nie. Iemand anders sal die geveg namens ons veg. Wie?

Jes. 9 sê nie vir ons presies wie nie. Dis eers in Jes. 42-55 waar ons hoor van die Kneg wat vir ons oortredinge deurboor gaan word en dat ons deur sy wonde genees sal word. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die straf vir ons sondes gedra.

Wanneer jy glo dat Jesus namens jou vir jou sondes betaal het en nie op jou eie morele pogings staatmaak om geregverdig te word nie, vergewe God jou en Hy stuur die Heilige Gees om jou te vernuwe met die lewe wat Christus deur sy oorwinning oor die dood verwerf het. Hierdie verlossing is die Lig wat die duisternis uit jou lewe verdryf. Die enigste manier hoe jy dit kan ontvang, is om glo dat God dit vir jou as geskenk gee uit onverdiende genade.

Dit is lekker om geskenke te ontvang en dit is dan ook ʼn gebruik met Kersfees om vir mekaar geskenke te gee. Sommige geskenke is egter moeilik om te aanvaar. As iemand vir jou ʼn boek gee oor hoe om selfsug te oorwin en jy sê vir die persoon wat geskenk gegee het: “baie dankie,” erken jy dat jy sukkel met selfsug. Jy erken dat jy swakhede en foute het.

Die geskenk wat Jesus vir ons gee, verg van jou om jou trots te sluk en te erken, “ek lewe in duisternis en ek is so verlore dat ek myself nie kan red nie.” Om Jesus se geskenk te aanvaar moet jy erken dat niks minder as die dood van die Seun van God jou kan red nie. Met ander woorde jy moet die beheer van jou lewe aan God oorgee.

Die beloftes van Kersfees kan nie verstaan word tensy jy eers erken dat jy nie jouself kan red nie of dat jy dit kan weet sonder die Lig van God se onverdiende genade nie.

ʼn Nuwe lig het opgekom oor ʼn volk wat in donkerte gewoon het. Aanvaar die geskenk van Jesus se Lig om die duisternis in jou lewe te verlig.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking