Wys tans plasings met die etiket lig. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket lig. Wys alle plasings

23 Desember 2018

ʼn Nuwe lig het opgekom oor ʼn volk wat in donkerte gewoon het.


Jes. 8:19 – 9:6
Teksverse Jes. 9:1 & 5












Kersfees is nie net ʼn fees vir Christene nie, dis ook ʼn wêreldse fees. Dit is ʼn tyd waar ons liggies opsit, familie bymekaar kom vir mekaar geskenke gee en waar ons uitreik na behoeftiges. Hierdie gebruike verryk mense se lewens en is nie in stryd met Christelike waardes nie.

Vir Christene kom die klem van lig in die duisternis uit die Christelike geloof dat hoop vir die wêreld van buite die wêreld kom. Die gee van geskenke herinner aan die alles opofferende geskenk wat Jesus gegee het toe Hy sy lewe vir ons afgelê het. Die uitreik na behoeftiges herinner dat Jesus uit ʼn eenvoudige arm gesin gebore is en nie uit ʼn aristokratiese familie nie. Die Koning van die heelal identifiseer met geringstes in die samelewing.

Die gevaar bestaan egter dat omdat die wêreld Kersfees herdenk ons as Christene maklik die fondament van wat Kersfees vir ons beteken kan vergeet. Daarom moet ons bly fokus op Jesus wat as Lig na die wêreld toe gekom het omdat die mensdom te geestelik blind is om hul eie weg te vind. Jesus het mens geword en gesterwe omdat ons so verderf geraak het dat ons op geen ander manier gered kon word nie.

Om die betekenis van Jes. 9 en wat dit met Kersfees te doen het te verstaan , is dit nodig dat ons moet verstaan dat die wêreld ʼn donker plek is en dat ons nooit ons weg daarin sonder Jesus sal vind nie. Toe Jesus die eerste keer in die openbaar begin optree het, het Hy Jes. 8:23-9:2 aangehaal om aan te toon dat Hy die Lig is wat na die wêreld toe gekom het. In Joh. 1:9-10 hoor ons dat Jesus die ware Lig is wat na die wêreld toe gekom het. Jesus is dus die vervulling van die profesie wat die profeet Jesaja gemaak het toe hy geprofeteer het:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.

wanneer die Bybel verwys na duisternis, verwys dit na boosheid en onkunde waarmee die wêreld gevul is. Die geweld, onreg, magsmisbruik, dakloosheid, vlugtelinge wat vlug vanaf onderdrukking, gesinne wat uitmekaar geskeur word en bodemlose hartseer wat in die tyd van Jesus teenwoordig was, is nog steeds met ons.

Die ander manier waarin die wêreld in duisternis verkeer, is dat daar niemand in die wêreld is wat dit kan red nie. Die volk wat in donkerte gewoon het vanweë die onreg in die wêreld kon hulself nie red nie. In Jes. 8:19 hoor ons van mense mediums en spiritiste raadpleeg. Met ander woorde hulle soek oplossings by die sogenaamde kundiges van hul tyd om die duisternis van die wêreld te oorkom. En dit is wat die mens vandag nog doen. Sommige mense kyk na die staat terwyl ander na die ekonomie kyk en ander na tegnologie kyk vir uitkoms.

Die moderne wêreld gebruik maar nog steeds die benadering van ouds wat die Israeliete gevolg het. Ja, die wêreld is donker, maar met ons intellek en slimmigheid kan ons dit regmaak. Dit is die boodskap wat die wêreld met Kersfees wil uitdra. Met ons liefde sal ons vrede en geluk in die wêreld herstel. Met ander woorde met die lig wat binne in ons is, kan ons die wêreld herstel en dit is die gees van Kersfees. Die werklikheid van die duisternis wat nog steeds in die wêreld teenwoordig is ontmasker die leuen van bogenoemde aanspraak.

Om die duisternis in die wêreld te oorwin, moet die mensdom terugdraai na God toe. Die ware boodskap van Kersfees is nie dat mense nie uit hulself vrede en eenheid kan bewerkstellig nie. Inteendeel met hierdie benadering net die wêreld net nog meer in duisternis gely. Die werklikheid van al die hartseer en pyn in die wêreld bevestig wat ons in Jes. 8 hoor dat as ons na die wêreld en die mensdom kyk vir uitkoms, gaan die wêreld net nog donkerder word. Die troostelose kersboodskap wat die wêreld bring is, “ons moet net almal saamwerk, dan sal die wêreld ʼn beter plek word.”

Teenoor dit is die kersboodskap wat Christene uitdra: “Dinge is regtig baie sleg en ons kan onsself nie genees of red nie. Die wêreld is regtig baie donker, maar tog is daar hoop. Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. Let daarop dat hierdie boodskap nie sê dat daar uit die wêreld ʼn lig gekom het nie. Die lig kom van buite die wêreld. Soos ons in Joh. 8:12 hoor is Jesus die lig vir die wêreld:
“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Teenoor duisternis wat dood verteenwoordig, verteenwoordig lig lewe. God is die bron van lewe. Fisiese lewe en ook geestelike lewe. God is die enigste ware bron van vrede en vreugde in die wêreld. As daar iets in die lewe is wat vir jou vreugde verskaf, dan kan net wees omdat God dit vir jou gegee het.

Hoe het die Lig na die wêreld toe gekom? In Jes. 9:5 hoor ons:
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Die vier titels wat hier aan die kind toegeken word is titels wat net op God van toepassing is. In al die godsdienste is dit net die Christelike godsdiens wat die aanspraak maak dat God as ʼn mens gebore is. Hy is die Almagtige God.

Dit beteken dat jy nie onverskillig teenoor Jesus kan staan nie. Jy kan nie net sê, “ek hou van Hom nie.” Die mense in die Bybel wat deur Jesus gekonfronteer was, was of bang of kwaad vir Hom of hulle het Hom aanbid. Geeneen van diegene wat Jesus ontmoet het, het gesê “ek hou van Hom. Hy het my regtig geïnspireer om ʼn goeie mens te wees.”

As die baba wat met Kersfees gebore is, waarlik die Almagtig God is, dan moet jy Hom volkome dien. Aan die anderkant is daar ook die troos dat as die Almagtige God werklik as mens gebore is, dan het die Christendom iets wat geen ander godsdiens het nie. Hy is ʼn God wat jou volkome verstaan. Dit beteken dat God verstaan wat jou lyding is, want Hyself het ook as mens gely. Hy weet wat dit beteken om deur vriende in die steek gelaat te word. Hy weet hoe dit voel wanneer jy verdruk word. Hy het volle begrip met jou swaarkry omdat Hy self mens was en ervaar het wat jy as mens ervaar.

Jesaja noem Hom Wonderbare Raadsman wat beteken Hy is wonderlik omdat Hy uit liefde vir jou aan ʼn vervloekte kruishout gely het. Daarom dien ons Hom nie net omdat ons verplig word nie. Ons dien Hom uit liefde omdat ons wil.

Jesus is die goddelike Lig van die wêreld omdat Hy nuwe lewe bring wat geestelike doodsheid met lewe vervang en ons genees van ons geestelike blindheid. Hy breek die slawebande waarmee sonde jou vasgeketting hou. Hy verbreek die houvas van mag, rykdom, verslawing in jou lewe. Hy het empatie met omdat Hyself deur die skadu van die dood gestap het en daarom sal Hy jou nooit in die steek laat nie. Jesus is die Lig vir jou wanneer al die ander ligte in jou lewe doodgegaan het.

Hoe deel jy in hierdie Lig? Ons hoor in Jes. 9:5:
Elke soldateskoen wat in die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand word, deur die vuur verteer word.
Dit sê vir ons dat die oorwinning van die boosheid nie ons krag sal benodig nie. Ons het nie soldateskoene, uniforms, skilde of swaarde nodig nie. Iemand anders sal die geveg namens ons veg. Wie?

Jes. 9 sê nie vir ons presies wie nie. Dis eers in Jes. 42-55 waar ons hoor van die Kneg wat vir ons oortredinge deurboor gaan word en dat ons deur sy wonde genees sal word. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die straf vir ons sondes gedra.

Wanneer jy glo dat Jesus namens jou vir jou sondes betaal het en nie op jou eie morele pogings staatmaak om geregverdig te word nie, vergewe God jou en Hy stuur die Heilige Gees om jou te vernuwe met die lewe wat Christus deur sy oorwinning oor die dood verwerf het. Hierdie verlossing is die Lig wat die duisternis uit jou lewe verdryf. Die enigste manier hoe jy dit kan ontvang, is om glo dat God dit vir jou as geskenk gee uit onverdiende genade.

Dit is lekker om geskenke te ontvang en dit is dan ook ʼn gebruik met Kersfees om vir mekaar geskenke te gee. Sommige geskenke is egter moeilik om te aanvaar. As iemand vir jou ʼn boek gee oor hoe om selfsug te oorwin en jy sê vir die persoon wat geskenk gegee het: “baie dankie,” erken jy dat jy sukkel met selfsug. Jy erken dat jy swakhede en foute het.

Die geskenk wat Jesus vir ons gee, verg van jou om jou trots te sluk en te erken, “ek lewe in duisternis en ek is so verlore dat ek myself nie kan red nie.” Om Jesus se geskenk te aanvaar moet jy erken dat niks minder as die dood van die Seun van God jou kan red nie. Met ander woorde jy moet die beheer van jou lewe aan God oorgee.

Die beloftes van Kersfees kan nie verstaan word tensy jy eers erken dat jy nie jouself kan red nie of dat jy dit kan weet sonder die Lig van God se onverdiende genade nie.

ʼn Nuwe lig het opgekom oor ʼn volk wat in donkerte gewoon het. Aanvaar die geskenk van Jesus se Lig om die duisternis in jou lewe te verlig.
Amen

12 Maart 2015

God is lig. LEEF in sy lig

1 Joh. 1:1 – 2:2 Teksverse 1 Joh. 1:5-7
GKE – 8 Maart 2015
Ps. 148-1:1 & 5
Ps. 99-1:1, 4 & 5
Ps. 27-2:1, 2 & 8
Ps. 116-2:1, 5 & 10

Wat is die een ding in my lewe wat bepaal of ek gelukkig is of nie? Verhoudings. As ek in die verhoudings met my medemense om my ongelukkig is, is my lewe ongelukkig. Dink bietjie daaroor na. Jou hele lewe bestaan uit verhoudings. Daarom is die straf om iemand in afsondering toe te sluit so erg omdat jy geen kontak met jou medemens het nie. Selfs nie eens met die wag wat jou kos vir jou bring nie. Kontak met jou medemens so belangrik en dit bestaan uit verhoudings.

Hoekom is daar soveel elende in hierdie wêreld waarin ons leef? Is dit nie omdat mense in hul kontak met mekaar nie gesonde verhoudings uitleef nie? Wat is die oorsaak daarvan dat mense in soveel vyandskap met mekaar saamleef. Dit is omdat die mens se verhouding met God skeefgeloop het.

Die mens se opstand teen God se gesag in sy lewe is die bron oorsaak van skeefgetrekte verhoudings. God mag nie vir my sê wat goed en reg is nie. Ek sal self besluit. Hierdie vyandskap wat my opstandigheid teenoor God veroorsaak, kring uit na vyandigheid in my verhoudings met my medemens. Selfs mense wat baie na aan mekaar is, leef nie altyd in harmonie met mekaar saam nie. Die rede daarvoor is dat die mens se verhouding met God skeefgetrek is.

Is daar hoop vir hierdie droewige toestand van die wêreld? JA, geliefdes. Die Here sê vir ons hier in ons teksgedeelte daar is goeie nuus. Ons is nie maar net uitgelewer aan hierdie droewige en ellendige toestand van gebroke verhoudings in hierdie wêreld nie.

Hier in 1 Joh. hoor ons dat Jesus Christus die verhouding tussen God en die mens herstel het met sy dood en opstanding 2000 jaar gelede. Johannes wat hierdie boodskap bring verseker ons dat dit die waarheid is en die rede waarom hy dit bring is sodat die wat die boodskap van goeie nuus hoor en glo kan weet dat die skeefgetrekte verhouding tussen hulle en God herstel is soos ons hoor in 1 Joh. 1:3:
Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Wat beteken dit om met die Vader en sy Seun, Jesus Christus gemeenskap te hê? Heel eenvoudig. Dit beteken dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met hulle kan saamleef.

In ons teksverse verduidelik die Here nou deur middel van beeldspraak oor Lig en donker wat dit beteken om in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom saam te leef. In 1 Joh. 1:5 hoor ons:
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Lig verteenwoordig alles wat goed en mooi en reg is. Dit beskryf vir ons die heiligheid van God. Om heilig te wees beteken om sonder sonde te wees. Teenoor die lig is duisternis wat alles wat sleg en verkeerd is verteenwoordig.

In verse 6 en 7 sê die Here vir ons wat dit nie is om in ’n verhouding met Hom te leef nie en wat dit wel is:
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
Jy kan nie maar net sê dat jy in ’n intieme verhouding met God leef nie, jou lewe moet ’n getuienis daarvan wees. Die bewys dat ek ’n Christen is, is nie omdat ek so sê nie, maar wel omdat my lewe daarvan getuig.

Nou moet ons nie die fout maak om te dink dat ek met my goeie lewe vir God moet bewys dat ek goed genoeg is vir Hom nie. Nee, dit is die bloed van Jesus wat ons reinig. Beteken dit dat ons nou sondeloos is? Nee. In 1 Joh. 1:8 hoor ons tog:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
En in vers 10 hoor ons:
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Hoe nou gemaak geliefdes? Ons is nog nie sondeloos nie, maar die sonde keer dat ons in God se lig wandel. In 1 Joh. 1:9 hoor ons die oplossing:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Dit is sonde wat my verhouding met God skeeftrek en dit is die oorsaak dat my verhoudings met my medemens ook nie vlot is soos wat ek dit graag sal wil hê nie. God is Lig en daarom is dit in my belang dat ek met Hom in ’n intieme persoonlike verhouding saamleef. Met ander woorde ek moet in sy lig leef. Hoe doen ek dit prakties? Soos in enige verhouding is kommunikasie die sleutel tot groei in daardie verhouding. Ek moet na God luister en ek moet met Hom praat. Met ander woorde ek moet Bybel lees en ek moet bid. In die Bybel hoor ek wat is werke van die duisternis soos byvoorbeeld vyandskap, woede, rusies, verdeeldheid, afguns ens. ens. Kommunikasie in enige verhouding is luister en praat.

Ons moet egter mooi verstaan wat beteken dit om met God te praat. Gebed beteken nie dat ek daarmee God moet oortuig om sekere goed vir my te doen nie, want as my gebed net uit ’n inkopielys bestaan van wat ek wil hê, dan is dit ook maar net eenrigting kommunikasie. Ek praat en God moet luister. Die waarde van gereelde gebed is nie dat God ons moet hoor nie. Hy weet in elk geval. Dit lê daarin dat ons Hom sal hoor.

Dit is waar die Heilige Gees in my lewe na vore kom, wanneer ek Hom vra om my bewus te maak van sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Wanneer ek bewus word van my sonde dan bely ek dit met die versekering wat Hy gee dat dit in Jesus Christus vergewe is. Verder vra ek ook dat die Heilige Gees my help om teen daardie sonde te stry en dat ek dit doen met die sekere wete dat ek dit in God se krag kan oorwin.

Geliefdes, God wil hê dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom moet saamleef en dat ons moet groei in daardie verhouding. Ek groei in my verhouding met God wanneer ek besef dat sekere optredes van my, my verhoudings skade aandoen, met ander woorde dat dit sonde is en dat ek van daardie sonde in my lewe wil ontslae raak. Die manier hoe ek daarvan ontslae raak is om teenoor God te erken dat dit sonde in my lewe is en dat ek vir die Heilige Gees vra om my te help om dit uit my lewe weg te weer. Dat ek verder ook vas glo en vertrou dat ek deur die bloed van Jesus vergewe is.

Ons moet egter ook nie die fout maak om God se genade goedkoop te maak nie. Hoe maak ek sy genade goedkoop? As ek met die houding leef, dat dit nie saak maak as ek nou maar hierdie sondetjie pleeg nie, want na die tyd bely ek dit mos maar net en ek word weer vergewe. As dit ons houding is leef ons in die duister en nie in die lig nie. Ek leef in die lig wanneer ek ’n intense afkeur ontwikkel teenoor die sonde in my lewe en dat ek ten bloede toe daarteen stry met die wete dat ek as kind van God die sonde in sy krag kan oorwin.

God is Lig. LEEF in sy lig.

Amen

06 Februarie 2015

Ek moet die lig van God se liefde laat skyn in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie

Joh. 8:2-12 – Mat 5:13 – 16
teksverse Joh. 8:12 & Mat 5:16
GKE Son 25 Jan 2015
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

Sing:
Ps. 107-1 v 1 & 10
Sb 9-3 v 1 & 2
Ps. 25-1 v 1 , 2 , 7 & 8
Sb 7-2 v 1 & 2

Gedurende 2012 se sinode is daar besluit om studiedeputate te benoem wat indringend aandag moet gee aan soos dit genoem is ’n omkeerstrategie. Daarmee het hulle maar net verder aandag gegee aan ’n vraag wat reeds sedert 1994 op die sinode se tafel was: “hoekom daal die lidmatetal van die GKSA en wat kan en moet ons daaromtrent doen?” In 1994 is daar na die saak as “bewaring en vermeerdering” verwys en so het dit verskillende benamings by die verskillende sinodes gehad soos byvoorbeeld “opbou en uitbou”. In 2012 het hulle dit omkeerstrategie genoem met die bedoeling dat die dalende tendens “omgekeer” moet word. In hulle rapport voor 2015 se sinode is aanbeveel dat daar eerder na die saak as “kerkgroei” verwys moet word.

Verskillende name om na ’n baie aktuele aspek van ons geloofslewe te verwys naamlik, “bekeer julle”. Dis die boodskap wat Johannes die Doper verkondig het (vgl. Mat 3:2)
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
En dit is ook die boodskap waarmee Jesus sy bediening begin het (vgl. Mat 4:17)
Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”

Die woord bekering verwys na ’n radikale koersverandering in ’n mens se lewe. ’n 180 grade terugdraai van die pad waarop jy is. En dit is waar kerkgroei begin. By my persoonlik. Ons maak so dikwels die fout om te dink dat kerkgroei maar net beteken om getalle te vermeerder. Dit sluit dit ook in, maar daar is ’n belangrike aspek wat ons dikwels miskyk. Kerkgroei begin heel eerste by die groei in my geestelike lewe. Groei in my geestelike lewe vind plaas wanneer ek wegdraai van dit wat verkeerd is na dit wat reg is. Dit is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar iets wat elke dag moet plaasvind.

Hier in Joh. 8 ontmoet ons ’n vrou wat ook op ’n verkeerde pad was. Sy het owerspel gepleeg. Dit beteken sy wat ’n getroude vrou was, het ’n verhouding aangeknoop met ’n ander man. Volgens die wet moes so ’n paartjie wat owerspel gepleeg het met klippe doodgegooi word en dit is waarop die Fariseërs nou aandring het wat met hierdie vrou moes gebeur. Maar dan sê Jesus iets vir haar aanklaers wat hulle letterlik in spore laat omdraai en met skaamte wegstap. (Vgl. Mat 8:7):
“Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
Hiermee wys Jesus vir ons dat elkeen skuldig staan voor God. In Joh. 8:11 sê Jesus vir haar wat om te doen om weg te draai van haar verkeerde pad af:
Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.
Met ander woorde, bekeer jou.

In Joh. 8:12 gee Jesus nou die sleutel van hoe om jouself te bekeer:
“Ek is die lig vir die wêreld . Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Hier word twee begrippe gebruik wat lynreg teenoor mekaar staan. Lig en donker. Lig verteenwoordig alles wat goed, mooi en rein is terwyl donker verwys na alles wat sleg, negatief en afbrekend is. Jesus is die bron van lig, met ander woorde God se liefde.

Hoe kry mens deel van die Lig? Jesus sê vir ons: “Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” In Joh. 1:12 hoor ons:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Wanneer jy glo dat Jesus jou Verlosser en Saligmaker is, deel jy in sy lig. Dit is wat Hy belowe in Joh. 8:12:
Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Wanneer jy die lig het wat lewe gee kan jy onmoontlik nog dieselfde mens wees wat jy was. Daardie vrou wat voor Jesus gesleep is, was nie meer dieselfde na haar ontmoeting met Jesus nie. Wanneer jy Jesus begin volg dan kan jy nie maar net op jou ou wee voortploeter nie.

In Mat 5:14 & 15 hoor ons ook dat elkeen wat God se lig ontvang daarmee saam ook ’n verantwoordelikheid ontvang. Wanneer jy in die donker is en jy ontvang ’n lig dan steek jy dit nie onder ’n maatemmer weg nie! Die lig moet tot almal se voordeel strek. Dink bietjie daaraan hoe dit in ’n groot vertrek vol mense is wat skielik in pikdonkerte gedompel word. Niemand kan sien waar hulle is en hulle loop in mekaar vas. Ander is bang. Die donkerte veroorsaak chaos! Dan gee iemand vir jou ’n hele houer vol flitse met die opdrag, vat vir jou een en deel die ander uit. Hoe meer flitse jy uitdeel hoe minder chaos heers daar. Daardie flitse brand egter nie vir altyd nie, dit moet daagliks herlaai word deur Jesus in geloof te volg.

Jesus gee vir ons die lig van God se liefde sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien maar daarmee saam gee Hy ook aan ons die opdrag: (Vgl. Mat 5:16)
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Hoe laat mens jou lig skyn? Jy laat God se lig skyn deur woord en daad. Jy vertel vir mense van die evangelie en jy leef op so ’n manier dat mense die evangelie in jou lewe raaksien. Om so te kan leef dat mense die evangelie in ons lewens raaksien is dit nodig dat ons, onself daagliks moet bekeer. Daagliks terug draai na die evangelie deur Jesus te volg.

In die Bybel vertel God vir ons wat dit beteken om jou lig te laat skyn. Daarom is dit nodig dat ons daagliks tyd moet spandeer met sy Woord. ’n Goeie voorbeeld van voete op die grond praktiese Christenskap Rom. 12:9-21; (lees gerus die gedeelte nadenkend by die huis deur). Daar sê die Here vir ons:
Wees lief vir mekaar. Moenie in julle toewyding verslap nie, dien die Here (daaglikse navolging van Jesus, deur gebed Bybellees). Hou aan hoop, staan vas wanneer julle verdruk word. Volhard in gebed. Help julle medegelowiges in nood. Wees lief vir jou vyande. Gee hom iets om te eet en drink wanneer hy honger of dors is. Moenie kwaad met kwaad vergeld deur self wraak te neem nie. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”

My taak as Christen is: ”Ek moet die lig van God se liefde laat skyn in ’n donker wêreld wat Hom nie ken nie” Kom ons bekeer ons van dit in ons lewens wat ons verhoed om ons lig te laat skyn. Kom die lig van God se liefde in hierdie pikdonker wêreld skyn sodat ander uit ons woorde en dade sien dat ons God van harte dien sodat hulle God sal eer en sy Naam grootgemaak word.

Amen

12 Januarie 2014

Wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld



12 Jan 2014 (GKE) Skriflesing: Mat 5:1 – 6:15 Teksverse Mat 5:13-15
Sing    Lofsang: Ps. 150-1:1 – 3
           Na wet:    Ps. 1-1 v 1  & 2
           Na gebed Ps. 119-2 v 18 & 26
           Slotsang  Ps. 119-1 v 1 & 2
Inleiding
Ons het verlede week gehoor dat ons op die Here moet vertrou sodat ons ’n seën vir die wêreld kan wees. Om ’n seën vir die wêreld te wees moet ons gehoorsaam wees aan Jesus se opdrag om die evangelie/goeie nuus uit te dra.

Vandag fokus ons daarop hoe om prakties die evangelie uit te dra. Met ander woorde hoe moet ons dit doen? Om die evangelie uit te dra behels baie meer as om net vir mense te vertel dat hulle in Jesus Christus moet glo en dat dit hulle lewe sal verander. Ons moenie net vir mense van die evangelie vertel nie, ons moet die evangelie leef. Met ander woorde, mense moet God in ons lewens raaksien en hulle moet die verskil agterkom wat dit veroorsaak of anders gestel: “jou lewe as Christin moet maak dat ongelowiges hul ongeloof in God bevraagteken!”

Die bergrede
In die Bybel verduidelik die Here baie duidelik vir ons hoe ons dit behoort te doen. In die bergrede (Mat. 5-7) veral, vind ons hoe burgers van die Koninkryk van God behoort te leef. Ons kan dit inderdaad die grondwet van die Koninkryk van God noem. Hierdie is egter nie net ’n stel reëls van moet en moenies nie. Jesus wys sy volgelinge hoe ’n mens behoort te lewe—nie net volgens ’n stel reëls nie, maar deur ’n innerlike verandering van lewenshouding.

Dit is ook baie belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie hier gaan oor ’n klomp voorwaardes oor hoe om kinders van God te word nie. Die genade van God bepaal wie sy kinders is soos ons ook hoor in Joh. 1:12 & 13:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore
Die Here sê tog baie duidelik vir ons in Rom. 10:9:
As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word

Die bergrede wys vir ons prakties hoe kinders hulle innige liefdesverhouding met hul hemelse Vader moet uitleef en hoe dissipels Christus moet navolg. In Mat. 5:3-12 hoor ons die seënuitsprake wat aantoon dat mense deur God geseën word omdat hulle deel het aan sy Koninkryk en daarom kan doen wat reg is.

In Mat 5:13 – 16 gebruik die Here twee beelde om aan ons te verduidelik waarom ons as sy kinders reg moet lewe.
13“Julle is die sout  vir die aarde. Maar as sout verslaan  het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.
14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15 ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Die eerste beeld wat Hy gebruik is die van sout. Sout word gebruik om smaak aan kos te gee, maar ook om kos te preserveer. Christus se dissipels dit wil sê sy volgelinge besit die kennis, wysheid en lewenswyse om die wêreld te bewaar teen die vernietigende praktyke van die wêreld. Hiermee saam kom ook die waarskuwing teen oneffektiewe dissipelskap. Net soos sout wat nie meer krag het nie, nie meer werk as preserveer- en smaakmiddel nie, word ons ook kragteloos wanneer ons God se leefwyse afwater en aanpas by wêreldse standaarde.

Die tweede beeld wat die Here gebruik is lig. Wanneer mens ’n lig aan skakel is die doel tog sodat dit moet lig verskaf en daarom is dit onsinnig om ’n lig met iets toe te maak wat die lig sal wegsteek. Navolgers van Jesus Christus besit die lig van God se waarheid. Wanneer God se waarheid nie sigbaar is in hul lewenswandel nie, is dit soos om ’n lig onder ’n emmer weg te steek.

Jesus se opdrag aan sy kerk is: “Wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld.” Hoe doen mens dit prakties? In die res van die bergrede beskryf Jesus prakties eenvoudig hoe ons dit moet doen. Dit is nie moontlik om by elkeen van die voorskrifte wat hier volg in detail te bespreek nie en daarom gaan ek dit net kortliks noem. In die loop van die jaar gaan ons weer daarna terugkom om in meer diepte daarop in te gaan.
       Mat 5:17 – 20
Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle, hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.
19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel.  20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”
In Mat 5:17 – 20 wys die Jesus vir ons daarop dat hierdie nie maar net ’n stel reëls is nie, maar dat dit ’n innerlike lewenshouding is wat ons navolg nie omdat dit van ons verwag word nie, maar omdat ons dit wil doen uit liefde God. As dit ons gesindheid is, dan eer ons God. Dan gaan dit nie oor my en my selfsugtige begeertes nie, maar oor God en sy eer in my lewe.

       Mat 5:21 – 26
21“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.
23“As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, 24laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.
25“As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en dié jou in die tronk sit nie. 26Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uitkom voordat jy die laaste sent betaal het nie.”
In Mat 5:21 – 26 wys Jesus vir ons dat moord reeds in ons gedagtes en gesindheid begin. Wanneer ek kwaad word en nie bereid is om te vergewe nie is ek reeds besig om moord te pleeg.

       Mat 5:27-32
Kuisheid
27“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ 28Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.
29“As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30Of as jou regterhand jou laat struikel, kap hom af en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland.”

Egskeiding
31“Daar is gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet aan haar ’n skeibrief gee.’ 32Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei behalwe oor owerspel, maak dat sy egbreuk pleeg, en iemand wat met die geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.”
In Mat 5:27-32 vertel Jesus vir ons dat ’n onkuise lewe reeds begin met die begeertes van ons hart en dat die nagevolge van ’n egskeiding baie hartseer meebring.

       Mat 5:33-37
Die aflê van ’n eed
33“Verder het julle gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie jou eed verbreek nie, en ’n eed in die Naam van die Here moet jy nakom.’  34Maar Ek sê vir julle: Moet glad nie ’n eed aflê nie, nie by die hemel nie, want dit is die troon van God; 35nie by die aarde nie, want dit is die rusplek vir sy voete; nie by Jerusalem nie, want dit is die stad van die groot Koning. 36Jy moet ook nie jou kop op die spel plaas as jy ’n eed aflê nie, want jy kan nie een haar wit of swart maak nie. 37Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”
In Mat 5:33-37 sê Jesus vir ons dat ons betroubaar moet wees. Dit moenie nodig wees dat ons iemand met eedswering moet oortuig dat ons betroubaar is nie. Ons lewenswyse moet mense daarvan oortuig.

       Mat 5:38-48
Vergelding
38“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’  39Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe. 40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

Liefde vir die vyand
43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?
48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
In Mat 5:38-48 sê Jesus vir ons dat liefde vir jou vyand baie groter waarde as vergelding het.

       Mat 6:1-4
As julle armes help
1 “Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
2“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 3Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, 4sodat jou goeie daad verborge kan bly. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
In Mat 6:1-4 sê Jesus vir ons dat ons opreg moet wees in ons hulp aan ander mense. As ek met ’n groot gebaar mense help sodat ander kan sien hoe goed ek is, is ek skynheilig. Wanneer ek behoeftige mense help behoort dit op so ’n manier plaas te vind dat niemand behalwe ek en die Here weet wie dit is nie.

       Mat 6:5-13
As julle bid
5“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.
7“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. 8Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.
9“So moet julle bid:
Ons Vader wat in die hemel is,
laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom;
laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.
11Gee ons vandag
ons daaglikse brood;
12en vergeef ons, ons oortredings
soos ons ook dié vergewe
wat teen ons oortree;
13en laat ons nie in versoeking kom nie
maar verlos ons van die Bose.
Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.
In Mat 6:5-13 sê Jesus vir ons hoe ons met God behoort te praat. Hier sien ons dat daar balans moet wees in ons gesprekke met God en dat my gebede nie net moet handel oor dit wat ek van God vra nie, maar dat dit in hoofsaak moet gaan om te vra na God se wil vir my lewe en dat ek nie voorskriftelik moet wees teenoor God nie.

       Mat 6:14-15
14“As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. 15Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
In Mat 6:14-15 keer Jesus weer terug na vergifnis toe. Vergifnis is een van die sentrale temas dwarsdeur die Bybel. As ons nie wil vergewe nie, sal ons ook nie God se vergifnis aan ons verstaan nie.

Slot
Dit help nie om net vir mense vertel om in God te glo en dat dit ’n verskil in hul lewens sal maak nie. Mense moet God en die verskil wat dit maak in ons lewens raaksien. Kom ons wees sout vir die aarde en die lig vir die wêreld. Kom ons leef so dat ongelowiges hul ongeloof in God bevraagteken.

Amen

Christus verander die donker wanhoop in my lewe na lig en hoop

Skriflesing:     Jes. 8v19 – 9v7 Teksvers Jes. 9v1
Liturgie  GKE 22 Des 2013
na Votum Ps. 66 v 1  (OAB)
Na Wet Ps. 32 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 86 v 6  (OAB)
Slotsang Sb. 3-1 v 1 – 3  (Die volk wat in donker wandel)

Die jaar is besig om ten einde te snel en Kersfees lê om die draai. Dit is daardie tyd van die jaar dat ons almal besig is om voor te berei vir die vakansie en daar is so ’n gevoel van feestelikheid in die lug. Dit is ’n tyd dat ons daarna uitsien om weer saam met ons geliefdes deur te bring. Vir baie mense is dit egter ook ’n tyd van eensaamheid en is dit ook so dat die aantal selfmoorde in hierdie tyd van die jaar toeneem. Hierdie tyd van die jaar is inderdaad ’n donker tyd vir baie mense. Kersfeestyd is nie vir almal altyd so vreugdevol soos wat ons gewoonlik dink nie. Dalk is dit omdat my kinders ver is of dalk is dit die eerste Kersfees wat ek sonder my geliefde moet deurbring. Daar is baie dinge in die lewe wat dit vir ons donker maak.

In ons teks sien ons dat Israel ook ’n donker tyd beleef het. In die tyd van Jesaja het Koning Tiglat-Pelser van Assirië reeds die Noordelike deel van Israel in Ballingskap weggevoer. Die gebiede Sebulon en Naftalie in die Noorde daar by die meer van Galilea was van die eerste gebiede wat deur Assirië oorval is. Die Israeliete wat in Ballingskap weggevoer was, het inderdaad donker tye beleef.

In Jes. 9v1 hoor ons egter dat daar hoop is vir Israel:
Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn.
Die profeet is so seker daarvan dat hy die verlede tyd praat asof dit reeds gebeur het. Israel sien net donkerte om hulle. Hulle land is verwoes. Hulle is ver van Jerusalem af en hulle het nie meer ’n tempel nie. Dit voel vir hulle of hulle heeltemal van God verwyder is. In Jes. 7v14 en 8v8 het die profeet reeds aan hulle die belofte van Immanuel gegee, God met ons. Nou gebruik die profeet die beeld van lig om die volk te bemoedig sodat hulle, hulle nie moet blindstaar teen die huidige donker omstandighede nie. Daar is hoop!

Verder gebruik hy nog twee beelde om vir die volk hoop te gee binne hulle huidige donker omstandighede. Eers gebruik hy die beeld van vreugde tydens oestyd en ook die blydskap van soldate wanneer die veldtog verby is en hulle die buit verdeel soos ons in Jes. 9v2-4 hoor. Die resultaat is dat alle vyandighede teen die volk van God gestaak gaan word.

In Jes. 9v5 hoor ons die rede vir die hoop waarvan die profeet praat:
Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee;
Weereens stel die profeet dit in die verlede tyd om die absolute sekerheid aan te dui dat dit wel gaan gebeur. Alhoewel Jesaja nie die woord Messias gebruik nie, verwys hy hier na ’n Koning wat uit die geslag van Dawid sal kom wat deur God aangestel is en wat as verlosser van sy volk sal optree soos die Here aan Dawid belowe het in 2 Sam. 7. Die Hebreeuse woord wat gebruik word om na so ’n koning te verwys is Messias terwyl die Griekse woord Christus is. In Afrikaans gebruik ons beide Messias en Christus. Hier is dus ’n belofte van ’n Koning wat ’n ewige vrederyk tot stand gaan bring.

Die kroning van die Messiaskoning word vir ons hier beskryf. Uit Psalm 2 weet ons dat ’n nuwe koning by sy kroning as seun van God aangeneem word en dat hy by dié geleentheid ’n nuwe naam kry. Dit presies dit wat vir ons hier in Jes. 9v2-5 beskryf word. Eers bely die volk: “vir ons is ’n Seun gebore, en aan ons is ’n Seun gegee” en dit verwys na die Messiaskoning wat die troon bestyg. Nou heers hy en by sy troonbestyging kry hy vier name wat sy heerskappy beskryf:
·        Wonderbare Raadsman - hy sal geen raad van ander nodig hê nie, want God is sy raadsman.
·        Magtige God – die Messiaskoning is God se direkte verteenwoordiger op aarde. Wie hom sien, sien as’t ware vir God.
·        Ewige Vader – soos dit ’n koning betaam is hy vir sy onderdane ’n vader wat voortdurend vir hulle sorg.
·        Vredevors – onder sy heerskappy sal daar harmonie wees sodat elke mens ongehinderd vir God kan dien.

In Mat. 4v12 – 16 hoor ons hoe hierdie profesie in Jesus Christus vervul is:
12 Toe Jesus hoor dat Herodes vir Johannes in die tronk laat opsluit het, het Hy na Galilea toe gegaan. 13 Hy het nie in Nasaret gaan bly nie, maar Hom gaan vestig in Kapernaum by die see, in die gebied van Sebulon en Naftali. 14 So moes vervul word wat deur die profeet Jesaja gesê is:
15“Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon! 16 Die volk wat in duisternis woon, het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan.”

Watter troos hou hierdie profesie van ’n Messiaskoning wat 2000 jaar gelede gebore is vir ons in wat haastig op is na die einde van 2013? Vir elke donker oomblik in ons lewens is daar die hoop van Lig wat die duisternis sal verdryf. Ons is so geneig om tydens Kerstyd in die rooi Kersvaders wat ho ho ho sê vas te kyk. Hoe dikwels kyk ons net in die blink liggies en die reklame van Kerstyd vas en dan is ons verbaas omdat daar soveel donkerte in hierdie tyd is.
In Jes. 8v19 hoor ons:
Mense sê julle moet mediums en spiritiste raadpleeg wat fluister en mompel, maar moet ’n volk nie sy God raadpleeg nie? Waarom sou ’n mens dooies in belang van lewendes raadpleeg?
As ons op die dooie dinge van hierdie wêreld vertrou dan sal daar in ons lewens ook niks anders as benoudheid en donkerte nie wees nie. Met Kersfees sê die Here vir ons ook: in die land waar daar duisternis is, sal daar nie langer donkerte wees nie, want Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.

Geliefdes ons sien ook saam met Israel uit na ’n Koninkryk waar daar ewige vrede sal heers. Ons hou vas aan die belofte van die woonplek van God wat nou by die mense sal wees. Hy sal by ons bly; ons sal sy volke wees, en God self sal by ons wees as ons God. Hy sal al die trane van ons oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
(Open 21v3&4)
.

Geliefdes moenie in hierdie feestyd u vreugde in die dooie dinge van die wêreld soek nie. Daar is net een ware bron van vrede soos die Here ook in .Fil. 4:6 & 7 vir ons bevestig:
6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.
Hou vas aan die troos en vrede wat daar net by Jesus Christus te vinde is want Christus verander die donker wanhoop in ons lewe na lig en hoop.

Amen