Joh. 8:2-12 – Mat
5:13 – 16
teksverse
Joh. 8:12 & Mat 5:16
GKE
Son 25 Jan 2015
Laat julle lig so
voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in
die hemel is, verheerlik.”
Julle moet soos ’n
lig in hierdie pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade
sien dat julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en
goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”
Sing:
Ps.
107-1 v 1 & 10
Sb
9-3 v 1 & 2
Ps.
25-1 v 1 , 2 , 7 & 8
Sb
7-2 v 1 & 2
Gedurende 2012 se sinode is daar
besluit om studiedeputate te benoem wat indringend aandag moet gee aan soos dit
genoem is ’n omkeerstrategie. Daarmee het hulle maar net verder aandag gegee
aan ’n vraag wat reeds sedert 1994 op die sinode se tafel was: “hoekom daal die
lidmatetal van die GKSA en wat kan en moet ons daaromtrent doen?” In 1994 is
daar na die saak as “bewaring en vermeerdering” verwys en so het dit
verskillende benamings by die verskillende sinodes gehad soos byvoorbeeld
“opbou en uitbou”. In 2012 het hulle dit omkeerstrategie genoem met die
bedoeling dat die dalende tendens “omgekeer” moet word. In hulle rapport voor
2015 se sinode is aanbeveel dat daar eerder na die saak as “kerkgroei” verwys
moet word.
Verskillende name om na ’n baie
aktuele aspek van ons geloofslewe te verwys naamlik, “bekeer julle”. Dis die
boodskap wat Johannes die Doper verkondig het (vgl. Mat 3:2)
“Bekeer julle, want
die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
En dit is ook die boodskap waarmee
Jesus sy bediening begin het (vgl. Mat 4:17)
Van toe af het
Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het
naby gekom.”
Die woord bekering verwys na ’n
radikale koersverandering in ’n mens se lewe. ’n 180 grade terugdraai van die
pad waarop jy is. En dit is waar kerkgroei begin. By my persoonlik. Ons maak so
dikwels die fout om te dink dat kerkgroei maar net beteken om getalle te
vermeerder. Dit sluit dit ook in, maar daar is ’n belangrike aspek wat ons
dikwels miskyk. Kerkgroei begin heel eerste by die groei in my geestelike lewe.
Groei in my geestelike lewe vind plaas wanneer ek wegdraai van dit wat verkeerd
is na dit wat reg is. Dit is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie, maar iets wat
elke dag moet plaasvind.
Hier in Joh. 8 ontmoet ons ’n vrou
wat ook op ’n verkeerde pad was. Sy het owerspel gepleeg. Dit beteken sy wat ’n
getroude vrou was, het ’n verhouding aangeknoop met ’n ander man. Volgens die
wet moes so ’n paartjie wat owerspel gepleeg het met klippe doodgegooi word en
dit is waarop die Fariseërs nou aandring het wat met hierdie vrou moes
gebeur. Maar dan sê Jesus iets vir haar aanklaers wat hulle letterlik in
spore laat omdraai en met skaamte wegstap. (Vgl. Mat 8:7):
“Laat die een van
julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.”
Hiermee wys Jesus vir ons dat
elkeen skuldig staan voor God. In Joh. 8:11 sê Jesus vir haar wat om te doen om
weg te draai van haar verkeerde pad af:
Gaan maar en moet
van nou af nie meer sonde doen nie.
Met ander woorde, bekeer jou.
In Joh. 8:12 gee Jesus nou die
sleutel van hoe om jouself te bekeer:
“Ek is die lig
vir die wêreld . Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die
lig hê wat lewe gee.”
Hier word twee begrippe gebruik
wat lynreg teenoor mekaar staan. Lig en donker. Lig verteenwoordig alles wat
goed, mooi en rein is terwyl donker verwys na alles wat sleg, negatief en
afbrekend is. Jesus is die bron van lig, met ander woorde God se liefde.
Hoe kry mens deel van die Lig?
Jesus sê vir ons: “Wie My volg, sal nooit in die
duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” In Joh. 1:12 hoor
ons:
Maar aan almal
wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van
God te word.
Wanneer jy glo dat Jesus jou
Verlosser en Saligmaker is, deel jy in sy lig. Dit is wat Hy belowe in Joh.
8:12:
Wie My volg, sal
nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Wanneer jy die lig het wat lewe
gee kan jy onmoontlik nog dieselfde mens wees wat jy was. Daardie vrou wat voor
Jesus gesleep is, was nie meer dieselfde na haar ontmoeting met Jesus nie. Wanneer
jy Jesus begin volg dan kan jy nie maar net op jou ou wee voortploeter nie.
In Mat 5:14 & 15 hoor ons ook
dat elkeen wat God se lig ontvang daarmee saam ook ’n verantwoordelikheid
ontvang. Wanneer jy in die donker is en jy ontvang ’n lig dan steek jy dit nie
onder ’n maatemmer weg nie! Die lig moet tot almal se voordeel strek. Dink bietjie
daaraan hoe dit in ’n groot vertrek vol mense is wat skielik in pikdonkerte
gedompel word. Niemand kan sien waar hulle is en hulle loop in mekaar vas.
Ander is bang. Die donkerte veroorsaak chaos! Dan gee iemand vir jou ’n hele
houer vol flitse met die opdrag, vat vir jou een en deel die ander uit. Hoe
meer flitse jy uitdeel hoe minder chaos heers daar. Daardie flitse brand egter
nie vir altyd nie, dit moet daagliks herlaai word deur Jesus in geloof te volg.
Jesus gee vir ons die lig van God
se liefde sonder dat ons iets hoef te doen om dit te verdien maar daarmee saam
gee Hy ook aan ons die opdrag: (Vgl. Mat 5:16)
Laat julle lig so
voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in
die hemel is, verheerlik.
Hoe laat mens jou lig skyn? Jy
laat God se lig skyn deur woord en daad. Jy vertel vir mense van die evangelie
en jy leef op so ’n manier dat mense die evangelie in jou lewe raaksien. Om so
te kan leef dat mense die evangelie in ons lewens raaksien is dit nodig dat
ons, onself daagliks moet bekeer. Daagliks terug draai na die evangelie deur
Jesus te volg.
In die Bybel vertel God vir ons
wat dit beteken om jou lig te laat skyn. Daarom is dit nodig dat ons daagliks
tyd moet spandeer met sy Woord. ’n Goeie voorbeeld van voete op die grond
praktiese Christenskap Rom. 12:9-21; (lees gerus die gedeelte nadenkend by die
huis deur). Daar sê die Here vir ons:
Wees lief vir mekaar. Moenie in
julle toewyding verslap nie, dien die Here (daaglikse navolging van Jesus, deur
gebed Bybellees). Hou aan hoop, staan vas wanneer julle verdruk word. Volhard
in gebed. Help julle medegelowiges in nood. Wees lief vir jou vyande. Gee hom
iets om te eet en drink wanneer hy honger of dors is. Moenie kwaad met kwaad
vergeld deur self wraak te neem nie. Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin
nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.
Julle moet soos ’n lig in hierdie
pikdonker wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat julle
God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot en goeie God is.
So word julle hemelse Vader se Naam regtig grootgemaak.”
My taak as Christen is: ”Ek
moet die lig van God se liefde laat skyn in ’n donker wêreld wat Hom nie ken
nie” Kom ons bekeer ons van dit in ons lewens wat ons verhoed om ons lig te
laat skyn. Kom die lig van God se liefde in hierdie
pikdonker wêreld skyn sodat ander uit ons woorde en dade sien dat ons God van
harte dien sodat hulle God sal eer en sy Naam grootgemaak word.
Amen