Jes.
8:19 – 9:6
Teksverse
Jes. 9:1 & 5
Kersfees is nie net ʼn
fees vir Christene nie, dis ook ʼn wêreldse fees. Dit is ʼn tyd waar ons liggies
opsit, familie bymekaar kom vir mekaar geskenke gee en waar ons uitreik na
behoeftiges. Hierdie gebruike verryk mense se lewens en is nie in stryd met
Christelike waardes nie.
Vir Christene kom
die klem van lig in die duisternis uit die Christelike geloof dat hoop vir die
wêreld van buite die wêreld kom. Die gee van geskenke herinner aan die alles
opofferende geskenk wat Jesus gegee het toe Hy sy lewe vir ons afgelê het. Die
uitreik na behoeftiges herinner dat Jesus uit ʼn eenvoudige arm gesin gebore is
en nie uit ʼn aristokratiese familie nie. Die Koning van die heelal identifiseer
met geringstes in die samelewing.
Die gevaar bestaan
egter dat omdat die wêreld Kersfees herdenk ons as Christene maklik die
fondament van wat Kersfees vir ons beteken kan vergeet. Daarom moet ons bly
fokus op Jesus wat as Lig na die wêreld toe gekom het omdat die mensdom te
geestelik blind is om hul eie weg te vind. Jesus het mens geword en gesterwe
omdat ons so verderf geraak het dat ons op geen ander manier gered kon word
nie.
Om die betekenis
van Jes. 9 en wat dit met Kersfees te doen het te verstaan , is dit nodig dat
ons moet verstaan dat die wêreld ʼn donker plek is en dat ons nooit ons weg
daarin sonder Jesus sal vind nie. Toe Jesus die eerste keer in die openbaar
begin optree het, het Hy Jes. 8:23-9:2 aangehaal om aan te toon dat Hy die Lig
is wat na die wêreld toe gekom het. In Joh. 1:9-10 hoor ons dat Jesus die ware
Lig is wat na die wêreld toe gekom het. Jesus is dus die vervulling van die
profesie wat die profeet Jesaja gemaak het toe hy geprofeteer het:
Die volk wat in donkerte
geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n
lig geskyn.
wanneer die Bybel verwys
na duisternis, verwys dit na boosheid en onkunde waarmee die wêreld gevul is. Die
geweld, onreg, magsmisbruik, dakloosheid, vlugtelinge wat vlug vanaf onderdrukking,
gesinne wat uitmekaar geskeur word en bodemlose hartseer wat in die tyd van
Jesus teenwoordig was, is nog steeds met ons.
Die ander manier
waarin die wêreld in duisternis verkeer, is dat daar niemand in die wêreld is
wat dit kan red nie. Die volk wat in donkerte gewoon het vanweë die onreg in
die wêreld kon hulself nie red nie. In Jes. 8:19 hoor ons van mense mediums en
spiritiste raadpleeg. Met ander woorde hulle soek oplossings by die sogenaamde
kundiges van hul tyd om die duisternis van die wêreld te oorkom. En dit is wat
die mens vandag nog doen. Sommige mense kyk na die staat terwyl ander na die
ekonomie kyk en ander na tegnologie kyk vir uitkoms.
Die moderne wêreld
gebruik maar nog steeds die benadering van ouds wat die Israeliete gevolg het.
Ja, die wêreld is donker, maar met ons intellek en slimmigheid kan ons dit
regmaak. Dit is die boodskap wat die wêreld met Kersfees wil uitdra. Met ons
liefde sal ons vrede en geluk in die wêreld herstel. Met ander woorde met die
lig wat binne in ons is, kan ons die wêreld herstel en dit is die gees van
Kersfees. Die werklikheid van die duisternis wat nog steeds in die wêreld
teenwoordig is ontmasker die leuen van bogenoemde aanspraak.
Om die duisternis
in die wêreld te oorwin, moet die mensdom terugdraai na God toe. Die ware
boodskap van Kersfees is nie dat mense nie uit hulself vrede en eenheid kan
bewerkstellig nie. Inteendeel met hierdie benadering net die wêreld net nog
meer in duisternis gely. Die werklikheid van al die hartseer en pyn in die
wêreld bevestig wat ons in Jes. 8 hoor dat as ons na die wêreld en die mensdom
kyk vir uitkoms, gaan die wêreld net nog donkerder word. Die troostelose
kersboodskap wat die wêreld bring is, “ons moet net almal saamwerk, dan sal die
wêreld ʼn beter plek word.”
Teenoor dit is die
kersboodskap wat Christene uitdra: “Dinge is regtig baie sleg en ons kan
onsself nie genees of red nie. Die wêreld is regtig baie donker, maar tog is
daar hoop. Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor
dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn. Let daarop dat hierdie
boodskap nie sê dat daar uit die wêreld ʼn lig gekom het nie. Die lig kom van
buite die wêreld. Soos ons in Joh. 8:12 hoor is Jesus die lig vir die wêreld:
“Ek is die lig vir die
wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê
wat lewe gee.”
Teenoor duisternis
wat dood verteenwoordig, verteenwoordig lig lewe. God is die bron van lewe.
Fisiese lewe en ook geestelike lewe. God is die enigste ware bron van vrede en
vreugde in die wêreld. As daar iets in die lewe is wat vir jou vreugde verskaf,
dan kan net wees omdat God dit vir jou gegee het.
Hoe het die Lig na
die wêreld toe gekom? In Jes. 9:5 hoor ons:
Vir ons is ’n Seun gebore,
aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare
Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.
Die vier titels wat
hier aan die kind toegeken word is titels wat net op God van toepassing is. In
al die godsdienste is dit net die Christelike godsdiens wat die aanspraak maak
dat God as ʼn mens gebore is. Hy is die Almagtige God.
Dit beteken dat jy
nie onverskillig teenoor Jesus kan staan nie. Jy kan nie net sê, “ek hou van
Hom nie.” Die mense in die Bybel wat deur Jesus gekonfronteer was, was of bang
of kwaad vir Hom of hulle het Hom aanbid. Geeneen van diegene wat Jesus ontmoet
het, het gesê “ek hou van Hom. Hy het my regtig geïnspireer om ʼn goeie mens te
wees.”
As die baba wat met
Kersfees gebore is, waarlik die Almagtig God is, dan moet jy Hom volkome dien.
Aan die anderkant is daar ook die troos dat as die Almagtige God werklik as
mens gebore is, dan het die Christendom iets wat geen ander godsdiens het nie. Hy
is ʼn God wat jou volkome verstaan. Dit beteken dat God verstaan wat jou lyding
is, want Hyself het ook as mens gely. Hy weet wat dit beteken om deur vriende
in die steek gelaat te word. Hy weet hoe dit voel wanneer jy verdruk word. Hy
het volle begrip met jou swaarkry omdat Hy self mens was en ervaar het wat jy
as mens ervaar.
Jesaja noem Hom
Wonderbare Raadsman wat beteken Hy is wonderlik omdat Hy uit liefde vir jou aan
ʼn vervloekte kruishout gely het. Daarom dien ons Hom nie net omdat ons verplig
word nie. Ons dien Hom uit liefde omdat ons wil.
Jesus is die
goddelike Lig van die wêreld omdat Hy nuwe lewe bring wat geestelike doodsheid
met lewe vervang en ons genees van ons geestelike blindheid. Hy breek die
slawebande waarmee sonde jou vasgeketting hou. Hy verbreek die houvas van mag,
rykdom, verslawing in jou lewe. Hy het empatie met omdat Hyself deur die skadu
van die dood gestap het en daarom sal Hy jou nooit in die steek laat nie. Jesus
is die Lig vir jou wanneer al die ander ligte in jou lewe doodgegaan het.
Hoe deel jy in
hierdie Lig? Ons hoor in Jes. 9:5:
Elke soldateskoen wat in
die oorlog gebruik is, en elke uniform wat met bloed bevlek is, sal verbrand
word, deur die vuur verteer word.
Dit sê vir ons dat
die oorwinning van die boosheid nie ons krag sal benodig nie. Ons het nie
soldateskoene, uniforms, skilde of swaarde nodig nie. Iemand anders sal die
geveg namens ons veg. Wie?
Jes. 9 sê nie vir
ons presies wie nie. Dis eers in Jes. 42-55 waar ons hoor van die Kneg wat vir
ons oortredinge deurboor gaan word en dat ons deur sy wonde genees sal word.
Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy die straf vir ons sondes gedra.
Wanneer jy glo dat
Jesus namens jou vir jou sondes betaal het en nie op jou eie morele pogings
staatmaak om geregverdig te word nie, vergewe God jou en Hy stuur die Heilige
Gees om jou te vernuwe met die lewe wat Christus deur sy oorwinning oor die
dood verwerf het. Hierdie verlossing is die Lig wat die duisternis uit jou lewe
verdryf. Die enigste manier hoe jy dit kan ontvang, is om glo dat God dit vir
jou as geskenk gee uit onverdiende genade.
Dit is lekker om
geskenke te ontvang en dit is dan ook ʼn gebruik met Kersfees om vir mekaar
geskenke te gee. Sommige geskenke is egter moeilik om te aanvaar. As iemand vir
jou ʼn boek gee oor hoe om selfsug te oorwin en jy sê vir die persoon wat
geskenk gegee het: “baie dankie,” erken jy dat jy sukkel met selfsug. Jy erken
dat jy swakhede en foute het.
Die geskenk wat
Jesus vir ons gee, verg van jou om jou trots te sluk en te erken, “ek lewe in
duisternis en ek is so verlore dat ek myself nie kan red nie.” Om Jesus se
geskenk te aanvaar moet jy erken dat niks minder as die dood van die Seun van
God jou kan red nie. Met ander woorde jy moet die beheer van jou lewe aan God
oorgee.
Die beloftes van
Kersfees kan nie verstaan word tensy jy eers erken dat jy nie jouself kan red
nie of dat jy dit kan weet sonder die Lig van God se onverdiende genade nie.
ʼn Nuwe lig het
opgekom oor ʼn volk wat in donkerte gewoon het. Aanvaar die geskenk van Jesus se
Lig om die duisternis in jou lewe te verlig.
Amen