1
Joh. 1:1 – 2:2 Teksverse 1 Joh. 1:5-7
GKE
– 8 Maart 2015
Ps.
148-1:1 & 5
Ps.
99-1:1, 4 & 5
Ps.
27-2:1, 2 & 8
Ps.
116-2:1, 5 & 10
Wat is die een ding in my
lewe wat bepaal of ek gelukkig is of nie? Verhoudings. As ek in die verhoudings
met my medemense om my ongelukkig is, is my lewe ongelukkig. Dink bietjie
daaroor na. Jou hele lewe bestaan uit verhoudings. Daarom is die straf om
iemand in afsondering toe te sluit so erg omdat jy geen kontak met jou medemens
het nie. Selfs nie eens met die wag wat jou kos vir jou bring nie. Kontak met
jou medemens so belangrik en dit bestaan uit verhoudings.
Hoekom is daar soveel
elende in hierdie wêreld waarin ons leef? Is dit nie omdat mense in hul kontak
met mekaar nie gesonde verhoudings uitleef nie? Wat is die oorsaak daarvan dat
mense in soveel vyandskap met mekaar saamleef. Dit is omdat die mens se
verhouding met God skeefgeloop het.
Die mens se opstand teen
God se gesag in sy lewe is die bron oorsaak van skeefgetrekte verhoudings. God mag
nie vir my sê wat goed en reg is nie. Ek sal self besluit. Hierdie vyandskap
wat my opstandigheid teenoor God veroorsaak, kring uit na vyandigheid in my
verhoudings met my medemens. Selfs mense wat baie na aan mekaar is, leef nie
altyd in harmonie met mekaar saam nie. Die rede daarvoor is dat die mens se
verhouding met God skeefgetrek is.
Is daar hoop vir hierdie
droewige toestand van die wêreld? JA, geliefdes. Die Here sê vir ons hier in
ons teksgedeelte daar is goeie nuus. Ons is nie maar net uitgelewer aan hierdie
droewige en ellendige toestand van gebroke verhoudings in hierdie wêreld nie.
Hier in 1 Joh. hoor ons
dat Jesus Christus die verhouding tussen God en die mens herstel het met sy
dood en opstanding 2000 jaar gelede. Johannes wat hierdie boodskap bring
verseker ons dat dit die waarheid is en die rede waarom hy dit bring is sodat
die wat die boodskap van goeie nuus hoor en glo kan weet dat die skeefgetrekte
verhouding tussen hulle en God herstel is soos ons hoor in 1 Joh. 1:3:
Hom wat
ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons
gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die
Vader en met sy Seun, Jesus Christus.
Wat beteken dit om met die
Vader en sy Seun, Jesus Christus gemeenskap te hê? Heel eenvoudig. Dit beteken
dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met hulle kan saamleef.
In ons teksverse
verduidelik die Here nou deur middel van beeldspraak oor Lig en donker wat dit
beteken om in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom saam te leef. In 1 Joh.
1:5 hoor ons:
God is
lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Lig verteenwoordig alles
wat goed en mooi en reg is. Dit beskryf vir ons die heiligheid van God. Om
heilig te wees beteken om sonder sonde te wees. Teenoor die lig is duisternis
wat alles wat sleg en verkeerd is verteenwoordig.
In verse 6 en 7 sê die
Here vir ons wat dit nie is om in ’n verhouding met Hom te leef nie en wat dit
wel is:
6As ons beweer dat ons aan
Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens
die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig
is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van
Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
Jy kan nie maar net sê dat
jy in ’n intieme verhouding met God leef nie, jou lewe moet ’n getuienis
daarvan wees. Die bewys dat ek ’n Christen is, is nie omdat ek so sê nie, maar
wel omdat my lewe daarvan getuig.
Nou moet ons nie die fout
maak om te dink dat ek met my goeie lewe vir God moet bewys dat ek goed genoeg
is vir Hom nie. Nee, dit is die bloed van Jesus wat ons reinig. Beteken dit dat
ons nou sondeloos is? Nee. In 1 Joh. 1:8 hoor ons tog:
As ons
beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in
ons nie.
En in vers 10 hoor ons:
As ons
beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord
nie in ons nie.
Hoe nou gemaak geliefdes?
Ons is nog nie sondeloos nie, maar die sonde keer dat ons in God se lig wandel.
In 1 Joh. 1:9 hoor ons die oplossing:
Maar as
ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en
reinig ons van alle ongeregtigheid.
Dit is sonde wat my
verhouding met God skeeftrek en dit is die oorsaak dat my verhoudings met my
medemens ook nie vlot is soos wat ek dit graag sal wil hê nie. God is Lig en
daarom is dit in my belang dat ek met Hom in ’n intieme persoonlike verhouding
saamleef. Met ander woorde ek moet in sy lig leef. Hoe doen ek dit prakties?
Soos in enige verhouding is kommunikasie die sleutel tot groei in daardie
verhouding. Ek moet na God luister en ek moet met Hom praat. Met ander woorde
ek moet Bybel lees en ek moet bid. In die Bybel hoor ek wat is werke van die
duisternis soos byvoorbeeld vyandskap, woede, rusies, verdeeldheid, afguns ens.
ens. Kommunikasie in enige verhouding is luister en praat.
Ons moet egter mooi
verstaan wat beteken dit om met God te praat. Gebed beteken nie dat ek daarmee
God moet oortuig om sekere goed vir my te doen nie, want as my gebed net uit ’n
inkopielys bestaan van wat ek wil hê, dan is dit ook maar net eenrigting
kommunikasie. Ek praat en God moet luister. Die waarde van gereelde gebed is
nie dat God ons moet hoor nie. Hy weet in elk geval. Dit lê daarin dat ons Hom
sal hoor.
Dit is waar die Heilige
Gees in my lewe na vore kom, wanneer ek Hom vra om my bewus te maak van sonde
wat nog in my lewe teenwoordig is. Wanneer ek bewus word van my sonde dan bely
ek dit met die versekering wat Hy gee dat dit in Jesus Christus vergewe is.
Verder vra ek ook dat die Heilige Gees my help om teen daardie sonde te stry en
dat ek dit doen met die sekere wete dat ek dit in God se krag kan oorwin.
Geliefdes, God wil hê dat
ons in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom moet saamleef en dat ons moet
groei in daardie verhouding. Ek groei in my verhouding met God wanneer ek besef
dat sekere optredes van my, my verhoudings skade aandoen, met ander woorde dat
dit sonde is en dat ek van daardie sonde in my lewe wil ontslae raak. Die
manier hoe ek daarvan ontslae raak is om teenoor God te erken dat dit sonde in
my lewe is en dat ek vir die Heilige Gees vra om my te help om dit uit my lewe
weg te weer. Dat ek verder ook vas glo en vertrou dat ek deur die bloed van
Jesus vergewe is.
Ons moet egter ook nie die
fout maak om God se genade goedkoop te maak nie. Hoe maak ek sy genade
goedkoop? As ek met die houding leef, dat dit nie saak maak as ek nou maar
hierdie sondetjie pleeg nie, want na die tyd bely ek dit mos maar net en ek
word weer vergewe. As dit ons houding is leef ons in die duister en nie in die
lig nie. Ek leef in die lig wanneer ek ’n intense afkeur ontwikkel teenoor die
sonde in my lewe en dat ek ten bloede toe daarteen stry met die wete dat ek as kind
van God die sonde in sy krag kan oorwin.
God is Lig. LEEF in sy
lig.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking