12 Maart 2015

Ons is kleipotte wat maklik breek, maar dit is die skat van God se genade wat ons deur die lewe dra.


1 Maart 2015 - Nagmaal
Skriflesing 2 Kor. 4 : 1 – 15 en Mat 13:44 tot 46
Teksvers 2 Kor. 4:7
Ons het ’n skat wat kosbaarder is as enige iets anders in hierdie wêreld.
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
2 Kor. 4:7
Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6 hoor ons dit is lig van die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat Jesus Christus vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf het sodat ons verhouding met God weer herstel is. Die skat wat ons in ons dra is die sekere wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort. (Herhaal)

Dan hoor ons ook in vers 7 dat God die beeld van ’n kleipot wat maklik kan breek gebruik. Ons is soos daardie kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy liefde in te bere. Met ander woorde, God sê vir ons dat ons nie nodig het om iets te doen om sy liefde te ontvang nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sterk genoeg en goed genoeg is voordat Hy sy liefde aan my gee nie. Dit is nie iets wat ek doen nie, maar dit gaan oor wat God doen.

Daarom moet ons ook nie die fout maak om dink dat ek eers my hart vir God moet gee voordat Hy my aanvaar nie. Ek gee nie my hartjie vir God nie, Hy vat my soos ek is, selfs al is ek ’n kleipot vol krake. Dan gee Hy vir my die geloof sodat ek kan weet Hy het my gevat en daarom glo ek dat ek ’n kind van God is. Daarom is die vraag nie “Is jy bereid om jou hart vir Jesus te gee nie?” NEE, die vraag is glo jy? Glo jy die evangelie? Glo jy die goeie nuus dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het?

Ons was vandag as getuies teenwoordig toe Mariska erken en bely het dat sy glo dat Jesus Christus vir haar sondes gesterf het en dat Hy daarmee haar verhouding met God herstel het. Die vraag aan elkeen van ons vandag is: “Glo jy die evangelie?” “Glo jy die goeie nuus dat Jesus met sy sterwe en opstanding jou verhouding met God herstel het?” Glo jy dit werklik???????

God weet dat ons maar net kleipotte is wat maklik breek en daarom gee Hy ook aan ons die sakrament van die Heilige Nagmaal sodat ons daardeur kan weet dat die krag wat alles oortref van Hom af kom en nie van ons. Die sigbare tekens van wyn en brood herinner ons dat ons aan Hom behoort en dat die Heilige Gees aan ons die geloof gee om dit te glo. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, net so word ons geloof deur die krag van die Heilige Gees in die Nagmaal gevoed.

Nabetragting:
Ons het nou met die gebruik van die Nagmaal weer bevestiging ontvang dat God die skat van sy genade en liefde aan ons gegee het. Die goeie Nuus dat Jesus deur sy sterwe en opstanding weer my verhouding met God herstel het.

Die vraag is nou geliefdes: “Wat gaan ek met daardie skat doen wat God aan my toevertrou het? Ek staan in ’n verhouding met God en ek moet myself afvra: “Hoe gaan ek optree in hierdie verhouding?”

Met die twee kort gelykenisse wat ons in Mat 13:44 -46 hoor verduidelik Jesus wat ons met ons skat behoort te doen. Wanneer ons na ’n gelykenis luister moet ons verstaan dat ’n gelykenis ’n spesifieke saak wil beklemtoon. Deur middel van ’n wêreldse storie verduidelik Jesus aan ons hoe ons die verhouding tussen ons en God moet troetel en bewaar.

Kom ons luister nou na hierdie twee gelykenisse in Mat 13:44-46
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

Die gelykenis van die skat wat die man in die saailand gevind het wys vir ons hoe bly hy was toe hy daardie skat gevind het. So bly was hy dat hy alles opgee het om daardie skat te beskerm. Dit word beklemtoon met die juwelier wat ’n kosbare pêrel gevind het. Hy was bereid om alles op te gee vir daardie pêrel.
God het die skat van sy liefde vir ons gegee en Hy het die waarheid daarvan ook vandag weer met die Nagmaal bevestig. Die vraag waarvoor ons nou te staan kom is: Wanneer ek hiervandaan uitgaan, wat gaan ons met daardie skat doen? Sien ek raak dat my verhouding met God so kosbaar is dat dit die belangrikste ding in my lewe moet wees? Is ek bereid om alles op te gee om hierdie skat, my verhouding met God te vertroetel en bewaar?

Is ek bereid om gereeld na God se stem te luister? Gaan ek moeite maak om gereeld na die woordverkondiging tydens eredienste te kom luister? Gaan ek bietjie my Bybel afstof en weer gereeld elke dag oopmaak vir persoonlike Bybelstudie? Gaan ek aktief betrokke wees binne die familie van die gemeente waar God my geroep het? Gaan ek my gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aanwend soos ek teenoor God beloof het? Gaan ek erns maak met Jesus se opdrag dat ons mekaar behoort lief te hê? Of gaan ek maar hierdie skat in ’n laai bere sodat dit daar kan stof opgaar terwyl ek aangaan met my lewe?

Ek sluit af met die volgende aanhaling oor iets wat kosbaar is.
As jy wil hê iets moet vir ewig hou, dan troetel jy dit met meer spesiale sorg. Jy beskut en beskerm dit. Jy verwaarloos of mishandel dit nooit nie. Jy maak dit nie gewoon of ordinêr nie. As dit sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dan word dit spesiaal omdat jy dit so gemaak het en dit groei mooier as ooit vantevore en word kosbaarder soos die tyd aanstap.

Is dit wat ek met die skat gaan doen wat God aan my, sy kleipot toevertrou het?
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking