31 Des 2017 GKE
2 Kor. 4 v 7 – 15
Teksverse 2 Kor. 4 v 8 & 9
Ons staan
hier aan die einde van 2017. Die nuwe jaar lê voor ons. Hoe lyk die lewenspad
wat jy gedurende die afgelope jaar geloop het? Was dit ’n mooi snelweg of was
dit ’n grondpad wat vol slaggate was? Daar was sekerlik dae wat glad verloop
het en dinge net reg in plek geval het, maar daar was ook dae wat jy oor die
klippe moes klouter om net op ’n beter plek te kom as gister. Daar was dae wat
ek op my knieë gekruip het omdat ek nie krag gehad het om te loop nie. Deur God
se genade was daar ook dae waar ek rustig sonder omkyk of omdraai kon loop.
As jy so
terugkyk na die jaar wat verby is en jy kon kies, sou jy kies dat dinge anders
in jou lewe gedurende 2017 verloop het? Of vind jy berusting daarin dat dit die
pad is wat God vir jou gekies het? Wat gaan die nuwe jaar vir ons inhou? Gaan
daar ook klippe wees om oor te klouter?
In ons
teksgedeelte kry ons perspektief oor die pad wat God besig is om met ons te
stap. Paulus kyk terug na die pad wat hy geloop om die evangelie te verkondig. Op
hierdie reispad was daar ook verskeie struikelblokke waaroor hy moes kom. Ons
hoor in 2 Kor. 1 v 8
Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die
provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons
kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.
Paulus fokus
egter nie op die swaarkry of op sy eie krag om dit te oorkom nie. Hy fokus op
God en hoe God hom deur dit gedra het. In 2 Kor. 4 v 7 hoor ons hoe Paulus
na homself verwys as ’n kleipot wat maklik breek, maar binne in is ’n skat van
onskatbare waarde. Die skat is God se krag wat in Jesus se dood en opstanding
openbaar word. Die soeklig is dus nie op Paulus se lyding nie, maar wel op God
wat hom dra in sy lyding.
In 2 Kor. v 8
& 9 hoor ons die erns van Paulus se lyding:
In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Paulus maak
egter nie of sy lyding niks ernstig is nie. Ons hoor hoe Paulus verdruk is. Die
Griekse woord wat met verdruk vertaal word beteken letterlik om styf saamgepers
te word. Hy word met ’n verlammende gewig van verdriet neergedruk. Hy word
saamgepers, maar hy word nie verpletter nie.
Op vier
verskillende maniere beskryf Paulus wat sy lyding aan hom doen, maar dat dit hom
nie vernietig nie. Die versekering dat God hom dra maak dit moontlik vir hom om
aan te gaan. Hy weet ook dat terwyl hy hier op aarde is, dat daar nog weer
swaarkry oor sy pad gaan kom. Dit wat tot nou toe gebeur het is nie die einde
nie, maar hy sien uit na ’n tyd wanneer hy volkome verlos gaan word wanneer hy
saam met Christus in ’n verheerlikte liggaam opgewek gaan word.
Al sy lyding
het hom nie vernietig nie, nie omdat hy so sterk was om dit kon verdra nie,
maar omdat hy veilig in die hande van God deur dit gedra is. Hy staar
verwerping in die gesig maar niks sal hom uiteindelik verslaan of vernietig nie
omdat God se liefde hom deur dit dra.
Sy lyding het
hom wel as ’n kleipot laat kraak, maar hy is nie uitmekaar gebreek nie. God se
krag hou dit aanmekaar en die lig wat deur hierdie krake skyn is niks anders as
die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus nie.
In 2 Kor. 4 v
10 hoor ons dat ons in ons lyding deel het aan die sterwe van Jesus sodat Jesus
deur ons sterflike bestaan sigbaar kan word. Deur Jesus se dood gee God lewe.
Hierin word ’n groot geheim geopenbaar. God werk met Paulus se gebrokenheid.
God se krag word in gebrokenheid sigbaar. Wanneer God hom gebruik en sy kragte
gee in dan vind hy dat dit nie sy krag is nie, maar God se krag wat hom dra.
Dit het Paulus gekeer om in sy eie krag die taak wat God hom gegee het aan te
pak. Dit het hom ook geleer dat wanneer hy iets aanpak dat hy nie sy eie krag
as maatstaf moet gebruik om te bepaal hoe groot hy moet dink nie.
In 2 Kor. 4 v
15 hoor ons dat die doel is om meer mense met God se genade te bereik. Dit gaan
oor Koninkrykswerk. Dit gaan daaroor dat mense wat God nie ken nie, Hom kan
leer ken. En deur dit alles ontvang God die eer.
Geliefdes,
wanneer jy so terugkyk oor die jaar wat verby is, wat sien jy raak? Sien jy die
donker valleie waardeur jy gestap het? Sien jy die kere toe jy heeltemal
moedeloos was? Sien jy jou prestasies raak? Is daar dinge wat jy anders sou wou
hê? Of sien jy raak hoe God se genade jou deur dit wat Hy oor jou pad gebring
het, jou gedra het? Kan jy ook saam met Paulus sê :
In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Elkeen van
ons het een of ander hou gekry wat ’n kraak of twee in die erdekruik veroorsaak
het. Vir elkeen is die houe wat jy ontvang net so ernstig as wat Paulus se
lyding vir hom was. Dit gaan nie hier daaroor om mee te ding wie se terugslae
was die ergste nie. Dit gaan oor jou persoonlike pad wat jy gestap het en hoe
jy die swaarkry gedeeltes daarvan ervaar het. Sien jy raak hoe God se krag jou
erdekruik aanmekaarhou? Sien jy dat die lig wat deur hierdie krake skyn niks
anders is as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van
Jesus nie?
Wat is jou
verwagting vir die nuwe jaar? Gaan jy 2018 met hoop tegemoet? Verwag jy dat die
nuwe jaar net voorspoed moet inhou? Of is die hoop wat jy koester in God se
liefde gevestig? Hou jy vas aan die wete dat net soos God jou deur 2017 gedra
het, dat Hy jou ook deur 2018 sal dra? Gee God se krag jou moed om groter dinge
aan te pak as dit waarvoor jy in eie krag voor kans sien? Gaan jy in 2018 die
wêreld vertel van God se liefde wat Hy in Jesus se lewe, sterwe en opstanding
uit genade aan ons geskenk het?
Die kleipot
van ons lewe word gekraak deur die stampe en stote van die lewe, maar dit kan
ons nie vernietig nie, want God se krag is die gom wat ons aanmekaar hou. Die lig
wat deur die krake skyn is sy genade in die lewe, sterwe en opstanding van
Jesus Christus. God het jou deur 2017 gedra en Hy sal jou ook deur 2018 dra!
Amen