1 Maart 2015 - Nagmaal
Skriflesing 2 Kor. 4 : 1 – 15 en
Mat 13:44 tot 46
Teksvers 2 Kor. 4:7
Ons het ’n skat wat kosbaarder is
as enige iets anders in hierdie wêreld.
Ons wat hierdie
skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles
oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
2 Kor. 4:7
Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6
hoor ons dit is lig van die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat
Jesus Christus vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf het sodat ons
verhouding met God weer herstel is. Die skat wat ons in ons dra is die sekere
wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort. (Herhaal)
Dan hoor ons ook in vers 7 dat God
die beeld van ’n kleipot wat maklik kan breek gebruik. Ons is soos daardie
kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy liefde in
te bere. Met ander woorde, God sê vir ons dat ons nie nodig het om iets te doen
om sy liefde te ontvang nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sterk genoeg
en goed genoeg is voordat Hy sy liefde aan my gee nie. Dit is nie iets wat ek
doen nie, maar dit gaan oor wat God doen.
Daarom moet ons ook nie die fout
maak om dink dat ek eers my hart vir God moet gee voordat Hy my aanvaar nie. Ek
gee nie my hartjie vir God nie, Hy vat my soos ek is, selfs al is ek ’n kleipot
vol krake. Dan gee Hy vir my die geloof sodat ek kan weet Hy het my gevat en
daarom glo ek dat ek ’n kind van God is. Daarom is die vraag nie “Is jy bereid
om jou hart vir Jesus te gee nie?” NEE, die vraag is glo jy? Glo jy die
evangelie? Glo jy die goeie nuus dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n
vervloekte kruishout gesterf het?
Ons was vandag as getuies
teenwoordig toe Mariska erken en bely het dat sy glo dat Jesus Christus vir
haar sondes gesterf het en dat Hy daarmee haar verhouding met God herstel het.
Die vraag aan elkeen van ons vandag is: “Glo jy die evangelie?” “Glo jy die
goeie nuus dat Jesus met sy sterwe en opstanding jou verhouding met God herstel
het?” Glo jy dit werklik???????
God weet dat ons maar net
kleipotte is wat maklik breek en daarom gee Hy ook aan ons die sakrament van
die Heilige Nagmaal sodat ons daardeur kan weet dat die krag wat alles oortref
van Hom af kom en nie van ons. Die sigbare tekens van wyn en brood herinner ons
dat ons aan Hom behoort en dat die Heilige Gees aan ons die geloof gee om dit
te glo. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, net so word ons geloof deur
die krag van die Heilige Gees in die Nagmaal gevoed.
Nabetragting:
Ons het nou met die gebruik van
die Nagmaal weer bevestiging ontvang dat God die skat van sy genade en liefde
aan ons gegee het. Die goeie Nuus dat Jesus deur sy sterwe en opstanding weer
my verhouding met God herstel het.
Die vraag is nou geliefdes: “Wat
gaan ek met daardie skat doen wat God aan my toevertrou het? Ek staan in ’n
verhouding met God en ek moet myself afvra: “Hoe gaan ek optree in hierdie
verhouding?”
Met die twee kort gelykenisse wat
ons in Mat 13:44 -46 hoor verduidelik Jesus wat ons met ons skat behoort te
doen. Wanneer ons na ’n gelykenis luister moet ons verstaan dat ’n gelykenis ’n
spesifieke saak wil beklemtoon. Deur middel van ’n wêreldse storie verduidelik
Jesus aan ons hoe ons die verhouding tussen ons en God moet troetel en bewaar.
Kom ons luister nou na hierdie
twee gelykenisse in Mat 13:44-46
44“Met die
koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die
grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy
skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die
koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie
pêrels. 46As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy
alles wat hy het, en koop die pêrel.
Die gelykenis van die skat wat die
man in die saailand gevind het wys vir ons hoe bly hy was toe hy daardie skat
gevind het. So bly was hy dat hy alles opgee het om daardie skat te beskerm. Dit
word beklemtoon met die juwelier wat ’n kosbare pêrel gevind het. Hy was bereid
om alles op te gee vir daardie pêrel.
God het die skat van sy liefde vir
ons gegee en Hy het die waarheid daarvan ook vandag weer met die Nagmaal
bevestig. Die vraag waarvoor ons nou te staan kom is: Wanneer ek hiervandaan
uitgaan, wat gaan ons met daardie skat doen? Sien ek raak dat my verhouding met
God so kosbaar is dat dit die belangrikste ding in my lewe moet wees? Is ek
bereid om alles op te gee om hierdie skat, my verhouding met God te vertroetel
en bewaar?
Is ek bereid om gereeld na God se
stem te luister? Gaan ek moeite maak om gereeld na die woordverkondiging tydens
eredienste te kom luister? Gaan ek bietjie my Bybel afstof en weer gereeld elke
dag oopmaak vir persoonlike Bybelstudie? Gaan ek aktief betrokke wees binne die
familie van die gemeente waar God my geroep het? Gaan ek my gawes gewillig en
met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aanwend soos ek teenoor God
beloof het? Gaan ek erns maak met Jesus se opdrag dat ons mekaar behoort lief
te hê? Of gaan ek maar hierdie skat in ’n laai bere sodat dit daar kan stof
opgaar terwyl ek aangaan met my lewe?
Ek sluit af met die volgende
aanhaling oor iets wat kosbaar is.
As jy wil hê iets moet vir ewig
hou, dan troetel jy dit met meer spesiale sorg. Jy beskut en beskerm dit. Jy
verwaarloos of mishandel dit nooit nie. Jy maak dit nie gewoon of ordinêr nie.
As dit sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit
sprankel soos nuut. Dan word dit spesiaal omdat jy dit so gemaak het en dit
groei mooier as ooit vantevore en word kosbaarder soos die tyd aanstap.
Is dit wat ek met die skat gaan
doen wat God aan my, sy kleipot toevertrou het?
Amen