Wys tans plasings met die etiket kleipot. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kleipot. Wys alle plasings

31 Desember 2017

Gaan jy 2018 met hoop tegemoet?


31 Des 2017 GKE


2 Kor. 4 v 7 – 15
Teksverse 2 Kor. 4 v 8 & 9

Ons staan hier aan die einde van 2017. Die nuwe jaar lê voor ons. Hoe lyk die lewenspad wat jy gedurende die afgelope jaar geloop het? Was dit ’n mooi snelweg of was dit ’n grondpad wat vol slaggate was? Daar was sekerlik dae wat glad verloop het en dinge net reg in plek geval het, maar daar was ook dae wat jy oor die klippe moes klouter om net op ’n beter plek te kom as gister. Daar was dae wat ek op my knieë gekruip het omdat ek nie krag gehad het om te loop nie. Deur God se genade was daar ook dae waar ek rustig sonder omkyk of omdraai kon loop.

As jy so terugkyk na die jaar wat verby is en jy kon kies, sou jy kies dat dinge anders in jou lewe gedurende 2017 verloop het? Of vind jy berusting daarin dat dit die pad is wat God vir jou gekies het? Wat gaan die nuwe jaar vir ons inhou? Gaan daar ook klippe wees om oor te klouter? 

In ons teksgedeelte kry ons perspektief oor die pad wat God besig is om met ons te stap. Paulus kyk terug na die pad wat hy geloop om die evangelie te verkondig. Op hierdie reispad was daar ook verskeie struikelblokke waaroor hy moes kom. Ons hoor in 2 Kor. 1 v 8
Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

Paulus fokus egter nie op die swaarkry of op sy eie krag om dit te oorkom nie. Hy fokus op God en hoe God hom deur dit gedra het. In 2 Kor. 4 v 7 hoor ons hoe Paulus na homself verwys as ’n kleipot wat maklik breek, maar binne in is ’n skat van onskatbare waarde. Die skat is God se krag wat in Jesus se dood en opstanding openbaar word. Die soeklig is dus nie op Paulus se lyding nie, maar wel op God wat hom dra in sy lyding.

In 2 Kor. v 8 & 9 hoor ons die erns van Paulus se lyding:
In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.
Paulus maak egter nie of sy lyding niks ernstig is nie. Ons hoor hoe Paulus verdruk is. Die Griekse woord wat met verdruk vertaal word beteken letterlik om styf saamgepers te word. Hy word met ’n verlammende gewig van verdriet neergedruk. Hy word saamgepers, maar hy word nie verpletter nie.

Op vier verskillende maniere beskryf Paulus wat sy lyding aan hom doen, maar dat dit hom nie vernietig nie. Die versekering dat God hom dra maak dit moontlik vir hom om aan te gaan. Hy weet ook dat terwyl hy hier op aarde is, dat daar nog weer swaarkry oor sy pad gaan kom. Dit wat tot nou toe gebeur het is nie die einde nie, maar hy sien uit na ’n tyd wanneer hy volkome verlos gaan word wanneer hy saam met Christus in ’n verheerlikte liggaam opgewek gaan word.

Al sy lyding het hom nie vernietig nie, nie omdat hy so sterk was om dit kon verdra nie, maar omdat hy veilig in die hande van God deur dit gedra is. Hy staar verwerping in die gesig maar niks sal hom uiteindelik verslaan of vernietig nie omdat God se liefde hom deur dit dra.

Sy lyding het hom wel as ’n kleipot laat kraak, maar hy is nie uitmekaar gebreek nie. God se krag hou dit aanmekaar en die lig wat deur hierdie krake skyn is niks anders as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus nie.

In 2 Kor. 4 v 10 hoor ons dat ons in ons lyding deel het aan die sterwe van Jesus sodat Jesus deur ons sterflike bestaan sigbaar kan word. Deur Jesus se dood gee God lewe. Hierin word ’n groot geheim geopenbaar. God werk met Paulus se gebrokenheid. God se krag word in gebrokenheid sigbaar. Wanneer God hom gebruik en sy kragte gee in dan vind hy dat dit nie sy krag is nie, maar God se krag wat hom dra. Dit het Paulus gekeer om in sy eie krag die taak wat God hom gegee het aan te pak. Dit het hom ook geleer dat wanneer hy iets aanpak dat hy nie sy eie krag as maatstaf moet gebruik om te bepaal hoe groot hy moet dink nie.

In 2 Kor. 4 v 15 hoor ons dat die doel is om meer mense met God se genade te bereik. Dit gaan oor Koninkrykswerk. Dit gaan daaroor dat mense wat God nie ken nie, Hom kan leer ken. En deur dit alles ontvang God die eer.

Geliefdes, wanneer jy so terugkyk oor die jaar wat verby is, wat sien jy raak? Sien jy die donker valleie waardeur jy gestap het? Sien jy die kere toe jy heeltemal moedeloos was? Sien jy jou prestasies raak? Is daar dinge wat jy anders sou wou hê? Of sien jy raak hoe God se genade jou deur dit wat Hy oor jou pad gebring het, jou gedra het? Kan jy ook saam met Paulus sê :
In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie;
ons is oor raad verleë, maar nie radeloos nie;
ons word vervolg, maar nie deur God verlaat nie,
op die grond neergegooi, maar nie vernietig nie.

Elkeen van ons het een of ander hou gekry wat ’n kraak of twee in die erdekruik veroorsaak het. Vir elkeen is die houe wat jy ontvang net so ernstig as wat Paulus se lyding vir hom was. Dit gaan nie hier daaroor om mee te ding wie se terugslae was die ergste nie. Dit gaan oor jou persoonlike pad wat jy gestap het en hoe jy die swaarkry gedeeltes daarvan ervaar het. Sien jy raak hoe God se krag jou erdekruik aanmekaarhou? Sien jy dat die lig wat deur hierdie krake skyn niks anders is as die lig van God se genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus nie?

Wat is jou verwagting vir die nuwe jaar? Gaan jy 2018 met hoop tegemoet? Verwag jy dat die nuwe jaar net voorspoed moet inhou? Of is die hoop wat jy koester in God se liefde gevestig? Hou jy vas aan die wete dat net soos God jou deur 2017 gedra het, dat Hy jou ook deur 2018 sal dra? Gee God se krag jou moed om groter dinge aan te pak as dit waarvoor jy in eie krag voor kans sien? Gaan jy in 2018 die wêreld vertel van God se liefde wat Hy in Jesus se lewe, sterwe en opstanding uit genade aan ons geskenk het?

Die kleipot van ons lewe word gekraak deur die stampe en stote van die lewe, maar dit kan ons nie vernietig nie, want God se krag is die gom wat ons aanmekaar hou. Die lig wat deur die krake skyn is sy genade in die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. God het jou deur 2017 gedra en Hy sal jou ook deur 2018 dra!
Amen


12 Maart 2015

Ons is kleipotte wat maklik breek, maar dit is die skat van God se genade wat ons deur die lewe dra.


1 Maart 2015 - Nagmaal
Skriflesing 2 Kor. 4 : 1 – 15 en Mat 13:44 tot 46
Teksvers 2 Kor. 4:7
Ons het ’n skat wat kosbaarder is as enige iets anders in hierdie wêreld.
Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek; die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie.
2 Kor. 4:7
Wat is hierdie skat? In 2 Kor. 4:4-6 hoor ons dit is lig van die evangelie, met ander woorde die Goeie Nuus dat Jesus Christus vir ons aan ’n vervloekte kruishout gesterf het sodat ons verhouding met God weer herstel is. Die skat wat ons in ons dra is die sekere wete dat ons nie meer verlore is nie, maar dat ons aan God behoort. (Herhaal)

Dan hoor ons ook in vers 7 dat God die beeld van ’n kleipot wat maklik kan breek gebruik. Ons is soos daardie kleipot wat maklik breek, maar tog gebruik God ons om die skat van sy liefde in te bere. Met ander woorde, God sê vir ons dat ons nie nodig het om iets te doen om sy liefde te ontvang nie. Ek hoef nie vir God te bewys dat ek sterk genoeg en goed genoeg is voordat Hy sy liefde aan my gee nie. Dit is nie iets wat ek doen nie, maar dit gaan oor wat God doen.

Daarom moet ons ook nie die fout maak om dink dat ek eers my hart vir God moet gee voordat Hy my aanvaar nie. Ek gee nie my hartjie vir God nie, Hy vat my soos ek is, selfs al is ek ’n kleipot vol krake. Dan gee Hy vir my die geloof sodat ek kan weet Hy het my gevat en daarom glo ek dat ek ’n kind van God is. Daarom is die vraag nie “Is jy bereid om jou hart vir Jesus te gee nie?” NEE, die vraag is glo jy? Glo jy die evangelie? Glo jy die goeie nuus dat Jesus Christus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het?

Ons was vandag as getuies teenwoordig toe Mariska erken en bely het dat sy glo dat Jesus Christus vir haar sondes gesterf het en dat Hy daarmee haar verhouding met God herstel het. Die vraag aan elkeen van ons vandag is: “Glo jy die evangelie?” “Glo jy die goeie nuus dat Jesus met sy sterwe en opstanding jou verhouding met God herstel het?” Glo jy dit werklik???????

God weet dat ons maar net kleipotte is wat maklik breek en daarom gee Hy ook aan ons die sakrament van die Heilige Nagmaal sodat ons daardeur kan weet dat die krag wat alles oortref van Hom af kom en nie van ons. Die sigbare tekens van wyn en brood herinner ons dat ons aan Hom behoort en dat die Heilige Gees aan ons die geloof gee om dit te glo. Net soos wat brood en wyn ons liggame voed, net so word ons geloof deur die krag van die Heilige Gees in die Nagmaal gevoed.

Nabetragting:
Ons het nou met die gebruik van die Nagmaal weer bevestiging ontvang dat God die skat van sy genade en liefde aan ons gegee het. Die goeie Nuus dat Jesus deur sy sterwe en opstanding weer my verhouding met God herstel het.

Die vraag is nou geliefdes: “Wat gaan ek met daardie skat doen wat God aan my toevertrou het? Ek staan in ’n verhouding met God en ek moet myself afvra: “Hoe gaan ek optree in hierdie verhouding?”

Met die twee kort gelykenisse wat ons in Mat 13:44 -46 hoor verduidelik Jesus wat ons met ons skat behoort te doen. Wanneer ons na ’n gelykenis luister moet ons verstaan dat ’n gelykenis ’n spesifieke saak wil beklemtoon. Deur middel van ’n wêreldse storie verduidelik Jesus aan ons hoe ons die verhouding tussen ons en God moet troetel en bewaar.

Kom ons luister nou na hierdie twee gelykenisse in Mat 13:44-46
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.
45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ’n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

Die gelykenis van die skat wat die man in die saailand gevind het wys vir ons hoe bly hy was toe hy daardie skat gevind het. So bly was hy dat hy alles opgee het om daardie skat te beskerm. Dit word beklemtoon met die juwelier wat ’n kosbare pêrel gevind het. Hy was bereid om alles op te gee vir daardie pêrel.
God het die skat van sy liefde vir ons gegee en Hy het die waarheid daarvan ook vandag weer met die Nagmaal bevestig. Die vraag waarvoor ons nou te staan kom is: Wanneer ek hiervandaan uitgaan, wat gaan ons met daardie skat doen? Sien ek raak dat my verhouding met God so kosbaar is dat dit die belangrikste ding in my lewe moet wees? Is ek bereid om alles op te gee om hierdie skat, my verhouding met God te vertroetel en bewaar?

Is ek bereid om gereeld na God se stem te luister? Gaan ek moeite maak om gereeld na die woordverkondiging tydens eredienste te kom luister? Gaan ek bietjie my Bybel afstof en weer gereeld elke dag oopmaak vir persoonlike Bybelstudie? Gaan ek aktief betrokke wees binne die familie van die gemeente waar God my geroep het? Gaan ek my gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aanwend soos ek teenoor God beloof het? Gaan ek erns maak met Jesus se opdrag dat ons mekaar behoort lief te hê? Of gaan ek maar hierdie skat in ’n laai bere sodat dit daar kan stof opgaar terwyl ek aangaan met my lewe?

Ek sluit af met die volgende aanhaling oor iets wat kosbaar is.
As jy wil hê iets moet vir ewig hou, dan troetel jy dit met meer spesiale sorg. Jy beskut en beskerm dit. Jy verwaarloos of mishandel dit nooit nie. Jy maak dit nie gewoon of ordinêr nie. As dit sy glans verloor en begin verdof, dan poleer jy dit weer totdat dit sprankel soos nuut. Dan word dit spesiaal omdat jy dit so gemaak het en dit groei mooier as ooit vantevore en word kosbaarder soos die tyd aanstap.

Is dit wat ek met die skat gaan doen wat God aan my, sy kleipot toevertrou het?
Amen