Joh. 13:1-17
Teksvers Joh. 13:8b en 14
GKE
15 Mar 2015-03-13
Sing:
Ps.
9-1 : 1 & 7
Ps.
1-1: 1 & 4
Sb
15-7 : 1 & 4
Sb
2-4 : 1 – 3
Geliefdes, wat sal jy
bereid wees om te doen om ’n eens hegte verhouding wat iemand met jou verbreek
het te herstel. Veral as mens in gedagte hou dat hierdie voormalige vriend jou
in die rug gesteek het. Hierdie vriend het nou so sleg geword dat hy die
doodstraf gekry het. Sal jy bereid wees om in die plek van hierdie gewese
vriend te sterf? Onthou hierdie voormalige vriend of vriendin het absolute
verraad teenoor jou gepleeg en het nou sy rug op jou gedraai. Hy of sy wil niks
met jou te doen hê nie! Hierdie is eintlik die tipe vriend vir wie die
spreukwoord “met sulke vriende het mens nie vyande nodig nie” gemaak is. Dit is
wat ons as gevolg van ons sondes met God gedoen het. Hy dra net ons beste
belange op die hart en Hy wil vir ons alles gee wat goed is, maar ons het al sy
goedheid as te ware gevat en in sy gesig teruggegooi. Ons het ons rug op Hom
gedraai.
Dit is die toestand van
ons verhouding met God gewees voordat Hy ingegryp het om dit te verander. In
ons teksgedeelte hoor ons wat God bereid was om te doen om die gebroke
verhouding tussen Hom en ons te herstel. Ons sien hier so ietsie van die ware
karakter van God. Jesus wys vir ons sy diepe besorgheid oor die mens wat op ’n
pad van selfvernietiging loop. As Hy nie ingegryp het nie was die hele mensdom
op pad na ’n totale ramp waar hulle vir ewig sonder God sou wees.
In hierdie verhaal wat vir
ons beskryf hoe Jesus sy dissipels se voete gewas het, hoor ons ’n dieper
betekenis as wat dit op die oog af mag klink. Ons kan so maklik die fout maak
om te dink dat die Here ons hier wil leer om gaaf teenoor mekaar te wees. As
ons egter mooi luister sal ons gou agterkom dat dit hier om baie meer as dit
gaan. Soos in so baie plekke in die Bybel gebruik die Here hier ook ’n
alledaagse praktiese aspek van die mens se lewe om ’n dieper geestelike
beginsel te verduidelik. Hy gee aan ons die opdrag dat ons mekaar behoort lief
te hê. Liefde is egter een van daai begrippe wat baie moeilik is om te
verduidelik. Dit is egter maklik om te demonstreer wat liefde is en dit is wat
Jesus hier doen.
Om egter hierdie voorbeeld
wat Jesus vir ons gee te verstaan is dit nodig dat ons net weer gaan kyk
waaroor voetewas in die Bybelse tyd gegaan het. Vandag klink dit eintlik vreemd
dat iemand ’n ander persoon se voete was. Ons moet onthou dat die leefwêreld
van destyds baie anders was as eie ons leefwêreld. Die mense van daardie tyd
het nie BMW’s , Mercedese of 4 x 4 bakkies gehad waarin hulle kon ry nie.
Daarom moes hulle maar stap na waarheen hulle ook al op pad was. Hulle het ook
nie teerpaaie of geplaveide sypaadjies gehad nie. Dit was alles maar stofstrate.
Die skoene van destyds was oop sandale en derhalwe het hulle voete so deur die
loop van die dag vuil geword.
Verder het hulle ook nie
op stoele aangesit by ’n tafel soos wat ons vandag doen nie.
Die gebruik
daardie tyd was ’n lae tafel met kussing om die tafel waarop die mense op hul sy gelê het.
Die gevolg was dus dat die een se gesig nie ver van die ander se voete was nie
en daarom was dit belangrik dat hulle voete voor ete gewas word. Net soos wat
ons vandag geleentheid aan gaste gee om voor ete te gaan hande was het ’n
gasheer destyds ’n slaaf gehad wat die gaste se voete gewas het voor ete.
Tydens hierdie ete van
Jesus en sy dissipels was daar egter nie ’n slaaf beskikbaar nie en het Jesus
begin om die dissipels se voete te was. Wat dit so merkwaardig maak is die feit
dat dit gewoonlik die mees onbelangrikste slaaf was wat hierdie taak moes
verrig. ’n Joodse slaaf kon ook nie gedwing word om dit te doen nie. As daar
Joodse slawe en nie Joodse[1]
slawe was, dan moes een van die nie Joodse slawe die werk doen. Nie een van die
dissipels was bereid om hierdie vernederende werk te doen nie. Inteendeel hulle
het nog net kort vantevore onder mekaar geredekawel oor wie van hulle die
belangrikste is.
Dit is teen hierdie
agtergrond wat ons moet verstaan hoe buitegewoon dit was dat Jesus sy dissipels
se voete gewas het. Hy wat die hoogste in aansien onder hulle was het die werk
gedoen van die mees onbelangrikste persoon. Daarom is dit ook verstaanbaar
hoekom Petrus so heftig reageer soos ons hoor in Joh. 13:8a hoor:
Maar
Petrus sê vir Hom: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!”
Hy wil nie meedoen aan
iets wat sy meester so verneder nie.
In Jesus se antwoord is
dit egter duidelik dat hierdie handeling van Hom nie oor eer en oneer gaan nie,
maar dat dit wat Hy besig is om te doen ’n baie diepere betekenis het (Joh.
13:8b):
Daarop
sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
Petrus moet begryp dat dit
nie net om die uiterlike was van die voete gaan nie, maar wat Jesus doen, dui op
die reiniging van die sonde. Die opoffering wat Jesus aan die kruis gedoen het
om ons van ons sondes skoon te was. Jesus wat God is het gekom om te dien.
Petrus verstaan nou dat
die voetewas eintlik gaan oor ’n verbondenheid met Jesus, maar hy verstaan nog
nie so mooi nie. Hy spring nou van een uiterste na die ander uiterste, nie net
sy voete nie, maar sommer sy hande en gesig ook. Petrus dink dat sy
verbondenheid oor die uiterlike was gaan terwyl Jesus dit net as ’n voorbeeld
gebruik om ’n dieper geestelike begrip te verduidelik. Jesus antwoord Petrus
met verdere beeldspraak: iemand wat na ’n fees gaan, bad eers tuis. Hy is dus
skoon. By sy aankoms hoef net sy voete gewas te word, dan is hy “heeltemal
skoon”. Hiermee verduidelik Jesus oor hoe hy ons skoonwas van die sonde deur sy
bloed. Wie eenmaal deur Christus gereinig (gered) is, bly skoon (gered). Tog
kom hy daagliks met die sonde in aanraking en het hy daagliks reiniging nodig
(daaglikse bekering). Daarom leer Jesus sy volgelinge om te bid: “vergeef ons,
ons oortredinge, soos ons ook dié vergewe wat teenoor ons oortree”
Hierdie gedeelte wys vir
ons dat ons versigtig moet wees om nie meer te maak van die beeldspraak as wat
Jesus daarmee bedoel nie. Dit gaan nie hier oor letterlik voetewas nie. As ons
dus vandag ’n ritueel sou inbring dat ons elke Sondag mekaar se voete moet was
voor of na die diens want dit is wat die Bybel ons beveel om te doen (vgl. Joh.
13:14
As Ek,
wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle
ook mekaar se voete te was.
dan sal ons heeltemal die
punt mis van hierdie verhaal.
Wat sê die Here vir ons
hier in vers 14? Hy bedoel beslis nie hier ’n letterlike gebruik van voetewas
soos destyds nie. Met vers 14 sê Hy vir ons dat daar ’n dubbele betekenis is
aan dit wat Hy hier met voetewas gedemonstreer het. In die eerste plek wys dit
daarop dat Hy met sy kruisiging en opstanding ons van ons sondes skoongewas (gered)
het. Verder wys dit ook hoe ons teenoor mekaar moet optree uit dankbaarheid dat
ons skoongewas is van ons sondes.
Hy bedoel nie letterlik
dat ons mekaar se voete moet was nie. Hy bedoel wel dat ons vir mekaar moet
omgee. Dat ons, onself nie te belangrik moet ag nie. Die wêreld bekommer
hulself oor wie is belangrik en wie moet status en eer ontvang. Burgers van die
koninkryk van God doen dit egter nie. Vir ons gaan dit nie oor status en eer
nie. Vir ons moet dit gaan oor omgee vir mekaar. As ons werklik mekaar se
belange op die hart dra, dan was ons mekaar se voete.
Geliefdes, Jesus wys sy
liefde deur die kruis en sy voorbeeld van nederigheid vir ons. Kom ons dank Hom
daarvoor deur mekaar te dien in nederigheid.
Amen
[1] Joodse slawe het gewoonlik in die posisie beland vanweë skuld wat
hulle nie kon betaal nie en daarom het hulle hulself as slaaf aangebied. Na
sewe jaar moes hulle egter vrygelaat word.
Hey,
AntwoordVee uitnice post Jesus wys sy liefde deur die kruis en sy voorbeeld van nederigheid .
Online Smm Service