Wys tans plasings met die etiket verhoudings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verhoudings. Wys alle plasings

12 Maart 2015

God is lig. LEEF in sy lig

1 Joh. 1:1 – 2:2 Teksverse 1 Joh. 1:5-7
GKE – 8 Maart 2015
Ps. 148-1:1 & 5
Ps. 99-1:1, 4 & 5
Ps. 27-2:1, 2 & 8
Ps. 116-2:1, 5 & 10

Wat is die een ding in my lewe wat bepaal of ek gelukkig is of nie? Verhoudings. As ek in die verhoudings met my medemense om my ongelukkig is, is my lewe ongelukkig. Dink bietjie daaroor na. Jou hele lewe bestaan uit verhoudings. Daarom is die straf om iemand in afsondering toe te sluit so erg omdat jy geen kontak met jou medemens het nie. Selfs nie eens met die wag wat jou kos vir jou bring nie. Kontak met jou medemens so belangrik en dit bestaan uit verhoudings.

Hoekom is daar soveel elende in hierdie wêreld waarin ons leef? Is dit nie omdat mense in hul kontak met mekaar nie gesonde verhoudings uitleef nie? Wat is die oorsaak daarvan dat mense in soveel vyandskap met mekaar saamleef. Dit is omdat die mens se verhouding met God skeefgeloop het.

Die mens se opstand teen God se gesag in sy lewe is die bron oorsaak van skeefgetrekte verhoudings. God mag nie vir my sê wat goed en reg is nie. Ek sal self besluit. Hierdie vyandskap wat my opstandigheid teenoor God veroorsaak, kring uit na vyandigheid in my verhoudings met my medemens. Selfs mense wat baie na aan mekaar is, leef nie altyd in harmonie met mekaar saam nie. Die rede daarvoor is dat die mens se verhouding met God skeefgetrek is.

Is daar hoop vir hierdie droewige toestand van die wêreld? JA, geliefdes. Die Here sê vir ons hier in ons teksgedeelte daar is goeie nuus. Ons is nie maar net uitgelewer aan hierdie droewige en ellendige toestand van gebroke verhoudings in hierdie wêreld nie.

Hier in 1 Joh. hoor ons dat Jesus Christus die verhouding tussen God en die mens herstel het met sy dood en opstanding 2000 jaar gelede. Johannes wat hierdie boodskap bring verseker ons dat dit die waarheid is en die rede waarom hy dit bring is sodat die wat die boodskap van goeie nuus hoor en glo kan weet dat die skeefgetrekte verhouding tussen hulle en God herstel is soos ons hoor in 1 Joh. 1:3:
Hom wat ons gesien en gehoor het, verkondig ons aan júlle, sodat julle aan ons gemeenskap deel kan hê. En die gemeenskap waaraan ons deel het, is dié met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus.

Wat beteken dit om met die Vader en sy Seun, Jesus Christus gemeenskap te hê? Heel eenvoudig. Dit beteken dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met hulle kan saamleef.

In ons teksverse verduidelik die Here nou deur middel van beeldspraak oor Lig en donker wat dit beteken om in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom saam te leef. In 1 Joh. 1:5 hoor ons:
God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.
Lig verteenwoordig alles wat goed en mooi en reg is. Dit beskryf vir ons die heiligheid van God. Om heilig te wees beteken om sonder sonde te wees. Teenoor die lig is duisternis wat alles wat sleg en verkeerd is verteenwoordig.

In verse 6 en 7 sê die Here vir ons wat dit nie is om in ’n verhouding met Hom te leef nie en wat dit wel is:
6As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. 7Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.
Jy kan nie maar net sê dat jy in ’n intieme verhouding met God leef nie, jou lewe moet ’n getuienis daarvan wees. Die bewys dat ek ’n Christen is, is nie omdat ek so sê nie, maar wel omdat my lewe daarvan getuig.

Nou moet ons nie die fout maak om te dink dat ek met my goeie lewe vir God moet bewys dat ek goed genoeg is vir Hom nie. Nee, dit is die bloed van Jesus wat ons reinig. Beteken dit dat ons nou sondeloos is? Nee. In 1 Joh. 1:8 hoor ons tog:
As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie.
En in vers 10 hoor ons:
As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.

Hoe nou gemaak geliefdes? Ons is nog nie sondeloos nie, maar die sonde keer dat ons in God se lig wandel. In 1 Joh. 1:9 hoor ons die oplossing:
Maar as ons, ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons, ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Dit is sonde wat my verhouding met God skeeftrek en dit is die oorsaak dat my verhoudings met my medemens ook nie vlot is soos wat ek dit graag sal wil hê nie. God is Lig en daarom is dit in my belang dat ek met Hom in ’n intieme persoonlike verhouding saamleef. Met ander woorde ek moet in sy lig leef. Hoe doen ek dit prakties? Soos in enige verhouding is kommunikasie die sleutel tot groei in daardie verhouding. Ek moet na God luister en ek moet met Hom praat. Met ander woorde ek moet Bybel lees en ek moet bid. In die Bybel hoor ek wat is werke van die duisternis soos byvoorbeeld vyandskap, woede, rusies, verdeeldheid, afguns ens. ens. Kommunikasie in enige verhouding is luister en praat.

Ons moet egter mooi verstaan wat beteken dit om met God te praat. Gebed beteken nie dat ek daarmee God moet oortuig om sekere goed vir my te doen nie, want as my gebed net uit ’n inkopielys bestaan van wat ek wil hê, dan is dit ook maar net eenrigting kommunikasie. Ek praat en God moet luister. Die waarde van gereelde gebed is nie dat God ons moet hoor nie. Hy weet in elk geval. Dit lê daarin dat ons Hom sal hoor.

Dit is waar die Heilige Gees in my lewe na vore kom, wanneer ek Hom vra om my bewus te maak van sonde wat nog in my lewe teenwoordig is. Wanneer ek bewus word van my sonde dan bely ek dit met die versekering wat Hy gee dat dit in Jesus Christus vergewe is. Verder vra ek ook dat die Heilige Gees my help om teen daardie sonde te stry en dat ek dit doen met die sekere wete dat ek dit in God se krag kan oorwin.

Geliefdes, God wil hê dat ons in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom moet saamleef en dat ons moet groei in daardie verhouding. Ek groei in my verhouding met God wanneer ek besef dat sekere optredes van my, my verhoudings skade aandoen, met ander woorde dat dit sonde is en dat ek van daardie sonde in my lewe wil ontslae raak. Die manier hoe ek daarvan ontslae raak is om teenoor God te erken dat dit sonde in my lewe is en dat ek vir die Heilige Gees vra om my te help om dit uit my lewe weg te weer. Dat ek verder ook vas glo en vertrou dat ek deur die bloed van Jesus vergewe is.

Ons moet egter ook nie die fout maak om God se genade goedkoop te maak nie. Hoe maak ek sy genade goedkoop? As ek met die houding leef, dat dit nie saak maak as ek nou maar hierdie sondetjie pleeg nie, want na die tyd bely ek dit mos maar net en ek word weer vergewe. As dit ons houding is leef ons in die duister en nie in die lig nie. Ek leef in die lig wanneer ek ’n intense afkeur ontwikkel teenoor die sonde in my lewe en dat ek ten bloede toe daarteen stry met die wete dat ek as kind van God die sonde in sy krag kan oorwin.

God is Lig. LEEF in sy lig.

Amen