Wys tans plasings met die etiket pyn. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket pyn. Wys alle plasings

29 Junie 2014

Kom na God toe wanneer dit alles donker is rondom jou

Sondag  29 Jun. 2014 GKE
Skriflesing Ps. 88 tv 2
Ps. 84-1:1 & 3
Sb 9-1:1 voor die wet
Sb 9-1:11 na die wet
Ps. 86-1:1,3,6 & 9
Sb. 10-1 : 1- 4 Gebed na woordverkondiging
Sb. 17-1:1 & 6

Inleiding
Ps. 88 is ’n donker Psalm. Baie mense beskou dit as die swaarmoedigste gebed in die hele Bybel. In wanhoop roep die Psalmdigter tot God. Die Psalm wissel tussen die Psalmdigter se noodroep tot die Here en die redes vir sy nood.

Eerste noodroep:- ’n Lewe sonder lig
In Ps. 88:2-3 hoor ons sy eerste noodroep:
Here, God van my verlossing, dag en nag roep ek tot U. Luister tog nou na my gebed; hoor my hulpgeroep. Want my lewe is vol ellende, en die dood kom al nader.
Dan gee hy die redes in Ps. 88:4-10. Sy lewe is sonder lig. Sy swaarkry het vir hom te veel geword. Hy sit in ’n donker put waar dit vir hom voel of God van hom vergeet het. Hy staan met sy voet in die graf en dit voel of God hom so straf dat selfs sy vriende hom vermy. Sy oë het dof geword van smart.

Tweede noodroep: Dood sonder hoop
In Ps. 88:10b hoor ons sy tweede noodroep:
Here, elke dag roep ek U om hulp, en sprei my hande uit na U in gebed.
Sy oproep om hulp word al hoe intenser. Hy is so bedruk dat hy herhaal dat hy die hele dag lank bid sodat God sy hulpgeroep moet hoor.

In Ps. 88:11-13 gee hy weer sy redes. Hy het geglo soos die mense van sy tyd dat as jy eers dood is met God se wraak wat op jou rus, dan is jou laaste kans op ’n wonder verby. As hy eers in donkerte van die dood is, kan hy nie meer die wondermag en redding van God ervaar nie.

Derde noodroep: Vrae sonder antwoorde.
In Ps. 88:14 hoor ons sy derde noodroep:
Maar ek roep na U om hulp, Here. Elke oggend is my gebed voor U.
Ons hoor hier hoe die roepstem van die Psalmdigter nog dringender word, want hy roep al van vroeg in die more af om hulp.

In Ps. 88:15-19 hoor ons weereens die redes. Hy vra waarom God hom verstoot? Van jongs af kry hy swaar en dit voel vir hom of God se toorn hom tref. Hy kry egter nie antwoord op sy vrae nie. Dan sluit die Psalm op hierdie donker noot af:
die duisternis van die dood is my enigste geselskap
Die digter se gebed eindig soos dit begin het met ’n noodroep, maar ons hoor nie of sy gebed verhoor is nie.

Daar is tog hoop
Waarom is hierdie swaar donker Psalm vir ons opgeteken? Hoekom vind die outeur nie vrede en 'n toevlug en troos aan die einde soos in die ander Psalms nie? Daar sal waarskynlik ook oënskynlike hopelose oomblikke in jou lewe voortkom. Daar sal tye kom wanneer jy ook maar net soos die Psalmdigter tot die slotsom kom dat die duisternis van die dood my enigste geselskap is. Elkeen van ons kry ook te doen met vriende of familie wat deur donker tye in die lewe gaan. Daardie tye in jou lewe wanneer dit vir jou voel of die lewe sy rug op jou gedraai het. Wanneer ons pynlik bewus gemaak word van die waarheid van Rom. 8:20
Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het.

Ons hoor nie wat die oorsaak van die digter se swaarkry is nie. Ek glo dat die rede daarvoor is dat elke mens se omstandighede verskil. Die omstandighede in die Psalmdigter se lewe wat hom tot die dieptes van wanhoop gedryf het sal heel waarskynlik nie by ons voorkom nie. Die gevolge is egter net so sleg soos wanneer ongeluk en teenspoed ons tref. Elke mens het sy eie omstandighede wat die lewe donker maak.

Waar vind ons hoop in hierdie donker Psalm? Kom ons luister weer na vers 2:
Here my God wat my altyd help , ek roep elke dag om hulp,
elke nag bid ek tot U.
Die Griekse woord wat hier met “altyd help” vertaal is, is met heil in die OAV vertaal. Dit beteken letterlik om mens te bevry of te verlos. Om jou in ’n posisie te plaas waar geen gevaar is nie.

Wat sê hierdie eerste hulproep van die Psalmdigter vir ons? Hy is ’n man wat in die verlede al verskeie kere ervaar het hoe God hom help. Dit is dan ook die rede waarom hy in die hede met sy nood na God toe kom. Hy weet dat hierdie God wat hom in die verlede gehelp het, hom ook in die toekoms kan help. Hieruit is dit duidelik dat hy dit glo al sê hy dit nie direk in die Psalm nie.

Waar kom hierdie sekerheid van die Psalmdigter vandaan? Van God se liefde. God se liefde wat Hy vir ons in Jesus Christus wys. Want Jesus het ook op ’n keer in doodsbenoudheid tot God gebid, maar sy gebed is nie verhoor nie. In bange Godsverlatenheid het Hy uitgeroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?” Dit beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” soos ons hoor in Mark 15:34. Hy het dit gedoen want God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Geliefdes, as jy dus vandag soos die digter voel – asof God en mens jou verstoot het. As dit vir jou voel of jy in ’n put sit waaruit jy nooit sal kom nie. Wanneer dit vir jou voel of jou lewe sonder lig is en asof net die dood vir jou oorbly. Kom met jou pyn en jou wanhoop na Hom toe wat al soveel kere in die verlede gehelp het. Luister weer na sy uitnodiging wat Hy in Mat 11:28-30 aan ons rig:
“Kom  na My toe, almal wat uitgeput  en oorlaai  is, en Ek sal julle rus  gee. Neem  my juk  op julle en leer  van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.”

Bring jou pyn en hartseer na God toe wanneer dit alles donker is rondom jou.
Amen



12 Januarie 2014

God beantwoord die hartseer en pyn wat ons sonde veroorsaak met genade

29 Des. 2013 (GKE) Gen. 6:1-8  & Heb. 12:1-3 Teksv. Gen. 6:8
Sing    Lofsang: Ps. 100-1:1 - 4 
           Na wet:    Ps. 1-1 v 1  & 4
           Na gebed Ps. 112-2 v 1 - 3
           Slotsang  Sb. 14-1 v 1
Inleiding
Hier teen die einde van die jaar kyk mense gewoonlik terug na die gebeure van die afgelope jaar. Radio en TV programme neem die afgelope jaar se nuus in oënskou en lewer kommentaar daarop. Dit is goed dat ons so bietjie terugkyk, want dit help ons om te verstaan waar ons nou is.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe God ook terugkyk na die geskiedenis van die mensdom wat Hy geskep het en dit wat Hy sien is nie ’n mooi prentjie nie. Adam en Eva se rebelse opstand. Kain wat vir Abel vermoor het. Lameg wat dreig met geweld en so word dit net al hoe erger. Tog is daar ook uitsonderings. Henog het naby God geleef en hierin sien ons reeds God se genade. Hierdie ligpuntjie word egter heeltemal oorskadu deur die geweldige gevolge van die sonde wat net van krag tot krag gaan.

Verdorwenheid van die mens
Dit bring ons by Gen. 6 met ’n baie vreemde vertelling van hemelwesens wat na die dogters van die mense toe gekom het. Hierdie is ’n gedeelte wat baie maklik misverstaan kan word indien ons die konteks daarvan ignoreer. Ons vind hier dat ’n standpunt beskryf word wat in die antieke wêreld geheers het. Daar is geglo dat reuse, sterk mense en manne van naam nie bloot net gewone mense is nie. Hulle is beskou as ’n verbintenis tussen mense en hemelwesens.

Hierdie gedagtes druis egter teen alles in wat God in die res van die Bybel oor Homself en hemelwesens vir ons leer. Die verkeerdheid van bogenoemde siening word vir ons hier in Gen. 6:1-4 duidelik uitgewys. Eers word die sondige standpunt in Gen. 6:1 & 2 aangetoon
Toe die mense baie begin word het op die aarde en daar vir hulle dogters gebore is, 2het die hemelwesens gesien die dogters van die mense is mooi en het hulle getrou met die dogters van hulle keuse.
en dan weer in Gen. 6:4 herhaal.
4In daardie tyd was daar reuse op die aarde, en ook daarna wanneer die hemelwesens na die dogters van die mense toe gekom en kinders by hulle gehad het. Hulle was die sterk mense van die ou tyd, die manne van naam.

Die twee herhalings vou as te ware soos ’n toebroodjie om Gen. 6:3 wat dit weerspreek.
3Toe sê die Here: “My Gees sal nie meer so lank in die mens bly nie, want hy is sterflik. Sy lewensduur sal nou honderd en twintig jaar wees.”
Dit is ’n skryfstyl in Hebreeus wat dikwels in die Bybel gebruik word om ’n saak te beklemtoon. Die sondigheid van die mens se opstand teen God word uitgewys terwyl God se oordeel daaroor beklemtoon word.

Ons sien hier die verdere gevolge van die sonde (die mens se rebelse opstand teen God) waar mense hulself as gode begin beskou. Die mens wat nie tevrede is om homself aan God se gesag te onderwerp nie word vir ons hier uitgelig. Ons sien hier hoe die mens self god wil wees! So is hierdie vertelling net deel van die groter prentjie oor die geskiedenis van die mensdom en soos ons reeds gesien het, is dit nie ’n mooi prentjie nie!

Droefheid en pyn van die sonde
In verse 5-7 kry ons so ’n kykie na die pyn in God se hart wat deur die sonde veroorsaak is. Wanneer die Here terugkyk oor sy skepping sien Hy hoe groot die mens se opstand teen God geword het. In Gen. 6:5 hoor ons:
Toe die Here sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, .......
Terwyl God goeie dinge vir die mens doen, antwoord die mens met slegte dinge. Die mens sien egter net die “goed” in sy eie optrede raak, soveel so dat die mens homself as ’n godheid begin sien, maar God sien die ware toestand van sake raak.

In Gen. 6:6 hoor ons wat dit aan God doen:
....... die Here was bedroef daaroor dat hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief.
Die Hebreeuse woord wat hier met bedroef vertaal is, beskryf vir ons God se onsteltenis. Ons hoor hier ’n noodkreet uit God se hart oor sy skepping. Dit is ’n emosionele pyn soortgelyk aan wat ’n ouer ervaar wanneer ’n kind waarvoor jy lief is, ondanks al jou waarskuwings steeds verkeerde keuses in die lewe maak wat verwoestende gevolge dra.

Die Hebreeuse woord wat hier met diep gegrief vertaal is beteken letterlik “sy hart was vol smart.” Dieselfde woord word in Gen. 3:16 gebruik om die pyn waarmee die vrou kinders in die wêreld bring te beskryf en in Gen. 3:17 die swaarkry van die man om ’n bestaan te maak. Hier sien ons hoe die pyn en swaarkry van die mens na God toe oorspoel. Die mens se pyn en swaarkry vanweë sy verkeerde keuses het God se pyn en swaarkry geword, net soos wat ’n kind se lyding ook sy ouers se lyding word.

Kyk terug na 2013
Wat sien ons wanneer ons terugkyk na 2013? Sien ons ook soos die mense van destyds dat ons eintlik nie so sleg gevaar het nie? Inteendeel as ons kyk na die vername dinge wat die mens bereik het, is ons nogal heel oraait! Ons noem nou wel nie die belangrike mense meer gode nie, maar ons behandel hulle so. Dan is dit natuurlik nogal maklik om myself met die mense om my te vergelyk. Ek is darem nie so korrup soos party van ons volksgenote nie! Ons is darem nie deel van die kultuur van selfverryking en selfsug nie! En hoe meer ons na ons goeie hoedanighede kyk, hoe meer kom ons tot die slotsom dat ek eintlik glad nie so sleg is nie! Ons vergeet so maklik dat ons beste werke so met sonde besmet is dat dit soos ’n vuil stuk lap is waaraan mens nie eers met ’n stok wil raak nie.

Wat sien God wanneer Hy terugkyk na 2013? Is Hy nog steeds bedroef en sy hart met smart gevul? Gen. 6:7 beskryf vir ons die verskriklike gevolge wat sonde inhou:
Die Here het gesê: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, wegvee van die aarde af; mens en dier, ook dié wat kruip, en die voëls, want Ek is bedroef daaroor dat Ek hulle gemaak het.”
Ons is so geneig om die gevolge van sonde ligtelik op te neem, maar die verskriklike werklikheid van sonde is dat die gevolge daarvan die dood is!

Ons het gesien dat die pyn wat sonde veroorsaak soortgelyk is aan die pyn wat ’n ouer voel wanneer sy kind verkeerde keuses in die lewe maak. Daar is egter ’n verskil. Wanneer ons en ons kinders keuses maak is daar nie eintlik iets wat ons kan doen om die gevolge om te keer nie. In Gen. 6:8 hoor ons dat God wel iets kon doen en gedoen het:
Maar Noag is deur die Here begenadig.

God se genade kos Hom egter baie duur! In plaas daarvan dat ons die prys (dit wil sê die dood) moet betaal het God sy Seun gestuur om Mens te word sodat Hy die prys in ons plek kon betaal soos ons hoor in 1 Joh. 4:9-19:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Diegene wat egter God se genade verwerp, dra self die gevolge van sonde, naamlik die ewige dood. Deur geloof het Noag genade ontvang soos ons hoor in Heb. 11:7
Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

Deur geloof kry ons ook deel aan God se genade soos ons hoor in Heb. 12:1 & 2
Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding  hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.  Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

Slot
Wanneer ons terugkyk oor die afgelope jaar moet ons God se genade raaksien en nie ons eie menslike prestasies nie. Sien God se genade raak in die mooi dinge wat ons beleef het. Sien sy genade raak ook in die slegte dinge, veral daar waar ons deur verkeerde keuses van die spoor af geloop het, God beantwoord die hartseer en pyn wat ons sonde veroorsaak met genade.

Kom ons gryp vas aan sy genade sodat ons vir die pad vorentoe vir Christus voor oë kan hou soos ons hoor in Heb. 12:3:
Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.

Amen